Tema: Ons leef voor God tussen die “Hot Gates” en die Nuwe Jerusalem

Hot Gates
Londen. Parys. Rome. Berlyn. Barcelona. Washington …

Groot stede. Hoofstede van internasionale moonthede.

Stede waarin geskiedenis gemaak is en kulture gevorm is.

Stede waarin mense gebore en gevorm is. En misvorm is.

In elkeen van die plekke wat in Christopher Torr se lied, Hot Gates, genoem word, het dinge gebeur wat individue, gesinne en daarom ook die mensdom geraak het.

In elkeen van hierdie plekke is die geskiedenis beïnvloed.

In elkeen van hierdie plekke het God gesien wat mense aan mekaar doen.

In elkeen van dié plekke het mense tot God geroep.

 

Elkeen van die plekname wat in die lied voorkom het ‘n spesifieke betekenis. Dis nie net internasionaal waar die geskiedenis gevorm word nie, maar ook plaaslik.

Ja, ons weet van die “fiery, fiery glow” oor Hirosjima en ons treur daaroor, maar dis oor en vir óns dogters en seuns wat ons bid wanneer ons die ruiters swaard-in-die-hand op hul perde aangejaag sien kom.

Dit wat by Waterloo, Gettysburgh en Auschwitz gebeur het raak ons, maar het nie onder ons vel kom lê nie.

Amajuba en Heilbron lê nader aan ons, maar ons kry nie nagmerries daaroor nie.

 

Dis oor Sebokeng, Sharpeville en Boipatong waaroor ons nagmerries moet kry. Dis oor wat híér en in Mitchell’s Plain gebeur het wat ons nagmerries moet gee. Ons moet hieroor ten hemele skree. Ons moet oor ons dogters en seuns wat hier gely het ween en bid dat dit nooit weer gebeur nie.

 

Tussen al die lyding en leed deur is daar hoop.

Ons sien dit veral by die destydse Hot Gates van Thermopolye, toe koning Leonidas en sy Spartane die “barbare” teruggehou het totdat die Grieke die destydse beskawing kon red.

Regdeur die lied loop ‘n fyn refrein wat ook hoop bring:

Daar is ‘n ander lied wat gesing sal word

Daar is ‘n ander klok wat moet beier

Daar’s nóg ‘n stad waarvan ons vertel word;

‘n stad waarvan die paaie gelê is met goud

 

In die nuwe Jerusalem sal ons almal tuiskom.

Dan sal ons besef die woonplek van God is by die mense (Openb 21:3).

In Betlehem is oor ‘n seun wat gebore is geglimlag.

God se spore en vingerafdrukke is nie net hier gesien nie, maar ook by Jerigo (met die landsinname van die Israeliete) en in Babilon (na die verlossing uit die ballingskap).

By Armagedon – so glo baie – sal Hy na die finale veldslag as oorwinnaar staan. Maar ons weet dat die oorwinning reeds behaal ís. In Jerusalem, omtrent tweeduisend jaar gelede.

 

In Polokwane, Pretoria, Pofadder en Perth kan ons daarom sing: “Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God. Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie” (Openb 21:3-4).

 

Nie die konings, veggeneraals, handelaars of aandeelhouers van die New York’s, die godsdienstige whacko’s van Waco of toesmeerders van Chappaquiddick nie, maar die Een wat op die troon sit, sê: “Kyk, Ek maak alles nuut.” Ons kan dit glo, want hierdie woorde is betroubaar en waar.” “Dit het klaar gebeur”, het Hy gesê. Hý is “die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde.” Al word ons vermink en vermoor in die stede van die heersers (Openb 13), sal Hy aan elkeen wat dors het, te drinke gee uit die fontein met die water van die lewe, verniet. (Openbaring 21:3-6).

 

Ons hoop lê nie by die heil wat ons in die stede vind nie, maar by Hóm wat geëer word met orrelspel en kerkklokke. Vir selfs langer as wat ons dit kan hoor.

Dis nie die 300 Spartane en húlle koning wat in die Hot Gates van Thermopolye gestaan het en gesneuwel het, wat die beskawing beskerm nie, maar ons “Stadsheer”. Al voel dit asof die stadslewe ons vandag verswelg, lê ons krag nie in onsself nie, maar in Hóm. Ander as Leonidas se dapper volgelinge vég ons nie om ‘n oorwinning nie, maar dien ons soos die Kindjie van Betlehem … in elke stad en oord. Ons geskiedenis word omvou deur Sy geskiedenis.

 

Daar is ‘n ander lied wat gesing sal word

Daar is ‘n ander klok wat moet beier

Daar’s nóg ‘n stad waarvan ons vertel word;

‘n stad waarvan die paaie gelê is met goud.

Ons lewe tussen die “Hot Gates” en die Nuwe Jerusalem.

Mag jy tussen jou trane deur, in jou nood en terwyl jy worsteling met die probleme wat dreig om jou te oorweldig, die koel water van die lewe proe.

Hy wat op die troon sit, die Alfa en die Omega, maak alles nuut: ook vir jou.

Hý waarborg jou tuiskoms. Hy begelei jou op jou reis. Nou en altyd.

Share this / Deel hierdie: