‘Ek is verneder, hulle dryf die spot met my, en ek wil hulle terugkry.’

Psalm 137 is een van die hartseerste en ontstellendste psalms in die psalmbundel. Dit beskryf die donkerste tyd in Israel se geskiedenis: die ballingskap. Die Babiloniërs het gekom, gesien, en oorwin. Hulle het die leiers van die volk òf om die lewe gebring, òf in ballingskap weggevoer. Die oorlewendes, die ballinge, beskryf hul ervaringe: verdriet, verlies. Hulle het alles verloor wat kosbaar was. Jerusalem, hul stad, is in puin gelê. Die tempel, wat op die heilige berg Sion gestaan het, is verwoes. Waar hulle in ‘n vreemde land sit, in die land van die oorwinnaars, vloei hul trane onophoudelik as hulle aan die gebeure dink. Hulle hang hul musiekinstrumente aan die bome op, die lied het gestol (vv 1-2). Hulle is stom van droefheid.

Dit lyk asof die oorwinnaars hulle in die situasie verlekker. Hulle vra ‘n vrolike lied in ‘n oomblik van die grootste droefheid (v 3). Hoe is dit moontlik? Hoe kan die oorwinnaars verwag dat ‘n mens die hartseer van die verlede in ‘n vrolike lied moet omskep? Hoe kan ‘n mens vergeet? Onder sulke omstandighede, hoe kan ‘n mens die lied van die Here sing (v 4)? Die psalmdigter spreek as’t ware ‘n vloek oor homself uit, as hy aan hierdie druk sou toegee. Mag sy hand wat die musiekinstrument bespeel, verlam raak, en mag sy tong, wat die lied sing, aan sy verhemelte vaskleef (vv 5-6).

Dit was egter nie net die Babiloniërs wat vir hierdie droefheid en vernedering verantwoordelik was nie. Die Edomiete, hulle wat Israel se bloedfamilie was, het hul broers nie in die moeilike tyd ondersteun nie, maar het hulle aan die kant van die vyand geskaar. Edom was bly oor Jerusalem se ondergang, hulle het die verwoesting aangehits totdat die stad tot op haar fondamente afgebreek is (v 7). By die riviere van Babel ervaar die ballinge ‘n dubbele vernedering: oorwinning deur die vyand, verraad deur ‘n broer.

Dan volg ‘n ontstellende wens: dat Babel verwoes sal word, en dat die een wat haar kinders gryp en teen ‘n rots verpletter, gelukkig mag wees (vv 8-9). Ons wil met hierdie laaste paar verse van die psalm wegdoen. Dit hoort nie in die Bybel nie. ‘n Mens mag nie so dink nie, jy mag so ‘n verskriklike ding ‘n ander nie toewens nie.

Is dit egter nie eg-menslik nie? Wie van ons, in oomblikke van vernedering en verraad, gaan nie wraakgedagtes en verwensinge koester nie? Is ons werklik daarbo verhewe? Wil hierdie psalm ons dalk tot die rou eerlikheid van menswees ruk? Dit is nie ‘reg’ as ‘n mens iemand anders wat jou tenagekom het, wil terugkry nie, maar dis eerlik. Die psalmdigter se verwensing word nie in die Hebreeuse Bybel veroordeel of goedgekeur nie, dit word net emosioneel verwoord.

Dit is bevrydend.

Gebed: Here, help my om in my eie seerkry nie verder seer te maak nie.

Amen.