Teks: Psalm 23:1 – ‘Die Here is my Herder . . .’

Psalm 23 volg ná Psalm 22 wat met die wanhoopskreet begin: ‘My God, my God, waarom het U my verlaat . . .?’ Teenoor gevoelens van godverlateneheid, gevoelens van ‘n afwesige God wat geen ag slaan op die psalmis se smekinge en gebede nie, belewe die digter van Psalm 23 die Here as naby, betrokke in sy lewe, en is daar om in al sy behoeftes te voorsien. Psalm 23 is ‘n wonderlike psalm van vertroue en vertroosting.

Die psalmdigter beeld die Here se versorging op twee maniere uit. Eers stel hy die Here as sy Herder voor, en hy, die digter is die skaap. ‘Niks sal my ontbreek nie,’ skryf hy in vers 1. In digterlike taal teken hy vir ons ‘n prentjie van groen weivelde en rustige waters waarheen die Herder sy skapie lei sodat sy hele wese verkwik en verfris kan word.

Selfs as die lewe gevaarlik word, en die skaap deur ‘n ‘dal van doodskaduwee’ moet gaan, is die Herder daar met sy vertroostende stok en staf (v 4). Herders in die antieke wêreld het twee apparate gehad: ‘n kort stok en ‘n lang stok. Die korte was ‘n soort knuppel waarmee hulle wilde diere verjaag het, en die lange was die kenmerkende herderstaf wat ‘n die haak aan die einde gehad het. Hiermee het die herder homself balanseer as hy oor rotsagtige en moeilike paaie agter sy skape moes aanloop, maar hy het dit ook gebruik om die stoute skapies nader te trek as hulle probeer afdwaal het.

Die tweede beeld wat die digter gebruik, is die Here as Gasheer. Hy sien homself as iemand wat by ‘n tafel aansit en vir wie geen moeite ontsien word nie. ‘n Oorvloed van spys en drank word vir hom voorgesit terwyl sy teenstanders toekyk. Ook dit is ‘n beeld uit die antieke wêreld. Nadat ‘n koning die oorwinning behaal het, het hy by ‘n feesmaal aangesit en sy vyande is dikwels aan die tafelpote vasgebind om alles magteloos gade te slaan.         

Die psalmdigter is egter aan die ontvangkant van die Here se versorging en beskerming, en die psalm eindig met die versekering van ‘n ewige verblyf in die Here se huis.

Dit wil lyk asof Psalm 23 ‘n boodskap wil gee van vaste en bykans blindelingse vertroue op ‘n God wat in die mens se kleinste behoefte voorsien, en hom selfs in doodsgevaar beskerm. Maar ongelukkig weet ons dat die lewe ook vir diep gelowige mense nie altyd so maklik verloop nie. Die noodlot tref ieder en elk: hartseer, ‘n ongeneeslike siekte, teleurstelling, gewelddadige dood. En dan is dit baie moeilik om Psalm 23 op te sê – veel eerder wil ons Psalm 22 se woorde uitroep: ‘My God, my God, waarom het U my verlaat . . .?’

Die metafoor van die Here as Herder en die voorstelling van die Here as Gasheer, kan ons dalk help. Die digter gebruik beelde uit die alledaagse lewe: ‘n herder met ‘n stok en ‘n staf wat sy skape beskerm, en ‘n gasheer wat sy gas soos ‘n koning trakteer met kos, olie en wyn. Die Here se teenwoordigheid en versorging breek soms deur en word sigbaar in die dinge van elke dag. Alledaagse dinge word simbole van God se omgee en betrokkenheid in my lewe

Maar nie net dinge nie, ook mense. ‘n Herder en ‘n gasheer is mense. Die Here word in menslike beelde as Herder en Gasheer voorgestel. Deur alledaagse mense wat by die lief en leed van ‘n medemens betrokke is, word God se teenwoordigheid nie net sigbaar nie, maar ook voelbaar in ons lewens. So help ons mekaar om nie eendag in die huis van die Here te kom nie, maar om elke dag in sy huis te kan lewe en sy sorg en besorgdheid te ervaar.

Gebed: Here, soos wat U my Herder is, help my om ook vir ander ‘n herder te wees. Amen.   

Share this / Deel hierdie: