Troos, troos my volk, sê julle God (Ou Vertaling)

In die donkerste tyd van Israel se geskiedenis – die ballingskap – kom ‘n onbekende profeet aan die woord. Hy het geen getuigskrif nie. Sy naam, sy herkoms, sy gesig verberg hy agter die geskiedenis van sy volk. Hy word genoem ‘Deutero-Jesaja’ na aanleiding van die gedeelte van die Jesaja-boek wat aan sy pen toegeskryf word: hoofstukke 40-55. Hierdie anonieme profeet  se boodskap is egter alles behalwe onduidelik. Klokhelder laat hy dit weergalm, trouens, sy openingswoorde is die kern van sy boek in ‘n neutedop: Troos, troos … ’ Troos op troos word as’t ware opgestapel (vgl bv 49:13; 51:3, 12, 19; 52:9, 54:11), die volk in ballingskap het genoeg van oordeel en gerig gehad, wat hulle nou meer as enigiets anders nodig het, is troos.

Hoe lyk hierdie troos?

In die Ou Testament lees ons van verskillende maniere hoe mense vir mekaar kon wys dat hulle omgee. Jy kon vir iemand wat treur ‘n stukkie brood of iets te drinke aanbied (Jeremia 16:7). As dit ‘n baie goeie vriend of familielid was, het jy soos Job se vriende gemaak – jou klere geskeur, as op jou kop gegooi en hard gehuil (Job 2:11-12). Opregte troos het egter uit die hart gekom. Dit was meer as uiterlike blyke van meegevoel of om die regte ding op die regte tyd te doen. Troos vanuit die hart is die troos waarvan Deutero-Jesaja vertel. Dit is God se troos. Vir sy volk waar hulle langs die riviere van Babel sit en ween as hulle aan Sion dink (Psalm 137), vir Jerusalem wat verneder is en geen trooster het nie (Klaagliedere 1:2, 9), bied God troos wat uit sy hart kom. Roerend sou Deutero-Jesaja se opvolger dit heelwat later aan die einde van die Jesajaboek verwoord: ‘Soos iemand wat deur sy moeder getroos word, so sal ek julle troos; en julle sal in Jerusalem getroos word’ (Jesaja 66:13 – Ou Vertaling). Met God se troos, kon Juda uit die Ballingskap terugkeer en die werklikheid, wat nie altyd rooskleurig was nie, in die oë kyk.

Opregte troos wat uit die hart kom, wil ‘n onstuimige hart tot rus bring. Dit het het alles veil en doen alles wat moontlik is om te kalmeer, gerus te stel en te help om selfs in die donkerste situasie nuwe moontlikhede raak te sien. Dit is die troos waarmee God sy volk getroos het. Dit is die troos waarmee ouers en kinders, vriende, geliefdes mekaar troos.

 

Gebed: Here, skenk ons u troos sodat ons mekaar kan troos. Amen.

Share this / Deel hierdie: