‘Is die Here by ons of nie?’ (Eks 17:7b)

‘n Groot angs pak die Israeliete beet. Hulle is in die middel van die woestyn, en daar is geen oase in sig nie! ‘n Mens kan dae sonder kos gaan, maar sonder water, veral sonder water in ‘n dor wêreld wat deur die son geskroei word, gaan jy dit nie lank maak nie. ‘n Erge dors is veel erger as ‘n erge honger! Paniek lei tot woede. Iemand moet die skuld kry en daardie iemand is Moses.

Dit is nie die eerste keer nie. Skaars is hulle deur die Rietsee, of hulle kom by Mara – daar is die water bitter (Eks 15:23). Nie lank daarna nie, verlang hulle terug na die vleispotte van Egipte (Eks 16:3). Elke keer word Moses vir die ellende verantwoordelik gehou. Elke keer wend hy hom na die Here, en elke keer voorsien die Here vir die Israeliete in hul nood. By Mara werp Moses ‘n stuk hout op die bitter water en dit word soet (Eks 15:25); as hulle in die Sinai-woestyn oor honger kla, stuur die Here vir hulle manna en kwartels uit die hemel (Eks 16). In Eksodus 17 vorder hulle tot by Refidim, en hier duik ‘n weer ‘n waterkrisis op: erger as bitter water, is geen water!

Wanneer die volk met Moses rusie maak, vermaan hy hulle dat hulle die Here se geduld op die proef stel. Waarom doen hy dit?

Die geskiedenis van die Here se verhouding met die volk Israel begin met Moses se roeping. Terwyl hulle bitter swaar in Egipte kry, hoor die Here hul gekerm en dink aan sy verbond met die aartsvaders. Hy sien hul nood en neem dit ter harte (Eks 2:24-25). Vanuit  die brandende bos gee Hy Moses opdrag om sy volk van hul ellende te bevry, en wanneer Moses wonder hoe hy hierdie God aan die Israeliete moet bekend stel, sê die Here: ‘Ek is wat Ek is. Jy moet vir die Israeliete sê:  “Ek is” het my na julle toe gestuur’ (Eks 3:14).

Sedertdien was ‘Ek is’ nog die hele tyd daar. Hy help Moses en Aäron om die towerkunsies van die amptenare aan die farao se hof te oortref (Eks 7:10-12), daarna stuur Hy die tien plae (Eks 7:14-12:30), en wis boonop die die magtige farao se hele leër uit sonder dat die Israeliete ‘n vinger verroer. ‘Bly julle maar kalm Die Here sal vir julle veg,’ verseker Moses die volk (Eks 14:14).

By Refidim kyk Moses terug op die reeks gebeure van die verlossing uit Egipte, die krisisse waaruit die Here die Israeliete gehelp het, en maan hulle oor hul opstand. Ten spyte daarvan, gee die Here weer uitkoms. Nog ‘n wonderwerk volg: Moses stap saam met die leiers van die volk voor almal verby, en met die einste kierie waarmee hy die waters van die Nyl geslaan het, slaan hy die rots by Horeb (Eks 17:5). Hy gee die plek ‘n naam: Massa beteken ‘op die proef stel’, en Meriba beteken ‘rusie maak’. Op hierdie plek het uiterste ongeduld egter nie slegs tot rusie en beproewing gelei nie, maar ook tot die tergende vraag: ‘Is “Ek is” by ons of nie?’

Ons ken die gevoel. In diepe nood smag ons na ‘n uitkoms – nou, en nou dadelik. Magteloos om self iets aan die situasie te doen, beskuldig ons en maak ons rusie met mense rondom ons, dikwels hulle wat ons eintlik kan en wil help. Ons bid, en as die situasie nie spoedig verander nie, vra ons, ‘Waar is God?’

Paniek het Israel verblind om raak te sien dat ‘Ek is’ die hele tyd by hulle was – vandat Hy Moses geroep het tot nou. In ‘n eksistensiële krisis het hulle perspektief verloor.

Dis die groot uitdaging: om perspektief te behou as dinge begin skeefloop. Nee, ons gaan nie noodwendig water uit ‘n rots ontvang nie. Maar miskien gaan ons die situasie anders beskou, en weet dat ‘Ek is’ die hele tyd teenwoordig is.

 

Gebed: Here, laat U teenwoordigheid my help om perspektief te behou, selfs in oomblikke van groot paniek. Amen.

Share this / Deel hierdie: