Al wat vir my oorbly, is ‘n treurlied op die lier, ‘n lied van trane op die fluit (Job 30:31)

Die boek Job is nie ‘n boek wat ons graag lees nie. Dit is amper te donker vir woorde.

  Ons ken Job se storie. Job, ‘n ryk en vroom man se lot verander handomkeer as die Here Satan se weddenskap aanvaar: vat Job se voorspoed en sy gesondheid weg, en kyk wat word van sy geloof! En vanaf daardie oomblik tref die een ramp na die ander vir Job. Binne ‘n oogwink verloor hy alles wat vir hom kosbaar was, pynlike swere slaan op sy lyf uit, en dan gaan sit hy maar op ‘n ashoop en krap homself met ‘n potskerf.

  Tog gebeur daar iets wat hom sou bemoedig. Sy vriende kom van ver, en hulle gaan sit langs Job, vir sewe dae en sewe nagte sonder om ‘n woord te praat (2:13). Ons wil Job se vriende maar al te gou uitmaak as ‘Jobstroosters’, maar hierdie beskrywing verdien hulle eers as die pratery begin! Job en sy vriende voer ellelange gesprekke. Eers praat hulle in sirkels, dan praat hulle heeltemal by mekaar verby. Trouens, hulle luister glad nie na mekaar nie. Almal probeer ‘n antwoord vind op die ‘waarom’-vraag, net om agter te kom, nie een van die ‘daaroms’ werk nie. Alle argumente vou. En naderhand raak Job se geduld  heeltemal op! 

  Vandag sukkel ons ook daarmee. Wat sê ‘n mens vir iemand wat bykans bomenslike lyding verduur? Fisiese lyding, ja, maar psigiese lyding kan selfs pynliker wees, Wat is die antwoord op ‘waarom’ – my eie waarom, my vriend of vriendin se waarom?  

  Hoe meer almal gepraat het, hoe minder het hulle gehoor wat Job sê. Totdat hy moedeloos uitroep: ‘Luister goed na my woorde, so sal julle my die beste troos’ (21:2). Maar al die woorde het die vriende net al verder van Job af weggedryf. Hy voel homself van God en mens verlate, hy ervaar die jakkalse en volstruise as sy enigste bondgenote (30:29). Musiekinstrumente wat tradisioneel vir lofprysing gebruik word, bring nou net klanke van droefheid voor: ‘So het my dan my siter ‘n rouklag geword en my fluit ‘n stem van die wat ween (vers 31, Ou Vertaling).

  ‘Waarom’  het Job nooit uitgevind nie, nie eers aan die einde toe dinge vir hom goed uitwerk nie. Vandag is een van die pynlikste vrae sekerlik ook die ‘waarom’-vraag van sinlose lyding. Oorsaak en gevolg maak net nie sin nie, nie vir Job nie, ook nie vir ons nie. En miskien is dit dan die sinvolste ding wat ons kan doen: om stil te luister terwyl ‘n vriend sy lied van trane laat hoor.

Here, laat ons tog die treurlied van ‘n vriend hoor.

Share this / Deel hierdie: