Moenie die dag van klein dingetjies gering ag nie (Sag 4:10).

Dawid moes ‘n koninkryk bou en daarom al die brute krag en geweld. Tye het egter verander en in die jaar 520 vC is ander eise gestel. Teen Augustus van daardie jaar het Haggai gevra dat die mense van Jerusalem die tempel moes herbou. Daar was al vantevore sulke versoeke, maar tevergeefs. Nebukadnesar het dit ‘n klompie jare gelede verwoes en intussen het niks gebeur nie. Die onooglike ruïnes het daar gelê en klaarblyklik was niemand daaroor begaan nie. Tot op ‘n dag dat Haggai hulle sover gekry om te begin bou.

          Niemand was lus daarvoor nie want dit was ‘n groot werk en die bouers sou baie moes opoffer. Hulle het meer in die opbou van hulle eie lewens en huise belanggestel. ‘n Mens kan dit ook verstaan. Nebukadnesar het die stad en die stadsmure verwoes en hulle moes alles van die grond af herbou. Vir tempelbou was daar net nie tyd nie.

          Tempelbou was dus nie vir hulle ‘n prioriteit nie: ‘Hierdie volk sê dit is nie nou die tyd om die tempel te herbou nie’ (Hg 1:2). Dalk lê daar ook ‘n stuk ontnugtering in hierdie woorde opgesluit. Skaars ‘n geslag gelede het hulle ouers nog Jerusalem se verwoesting en onbeskryflike menslike lyding beleef en daar was baie mense wat dít net nooit verwerk kon kry nie. In dié omstandighede was tempelbou die allerlaaste ding waaraan hulle gedink het.

          Nadat die bouery uiteindelik begin het, het ‘n diepe moedeloosheid hulle gou oorweldig. Alles het so verskriklik sinloos gelyk. Al hulle tyd was tot nog toe aan die opruim van die tempelterrein en die wegsleep van bourommel gewy. En wat hulle beplan het, was so onbenullig. Hulle geboutjie (wat tot vandag toe as die ‘tweede tempel’ bekend staan), was so beteuterd klein teen Salomo se magtige tempel dat dit amper nie die moeite werd was om eers te begin nie.

          Haggai en sy tydgenoot, Sagaria, moes mooi praat en die heeltyd aanmoedig. Alles het nou wel nutteloos gelyk het, maar dít was wat die jaar 520 van hulle gevra het. Al was dit nie altyd lekker of opwindend nie, moes hulle net elke dag getrou gewerk het.

          Hierdie bouers het egter nie die grootsheid van hulle werk besef nie. Hulle het gedink dit is sinloos, maar as hulle dit nie gedoen het nie, sou Israel moeilik kon voortbestaan.

Here, alles wat ons doen, lyk so sinloos. Troos ons met die wete dat alles in U groot plan sin maak en betekenis het.

Share this / Deel hierdie: