Die Here het haar laat ly oor haar baie sonde; haar kinders het ballinge geword, deur die vyand wegg

‘n Mens wonder dikwels hoeveel gelowiges al die moed en krag gehad het om deur die boek Klaagliedere te worstel. Dit is nie ‘n baie lang boek nie, maar net so vyf hoofstukke, maar dit is ‘n uitputtende boek om te lees. Dit mergel jou uit en tap jou energie, want dit is so verskriklik donker. Sommer met die eerste vers al hoor ons van die stad wat verlate is soos ‘n weduwee en die volgende vers vertel van die einste weduwee wat die hele nag deur huil. Trane loop oor haar wange. En so in hierdie trant gaan die boek aan.
Die trane wat loop in hierdie boek is nie trane wat ligtelik gestort word nie. Dit is trane wat gebore is uit egte lyding. Ons weet wat die lyding was. Dit was die val van Jerusalem onder die Babiloniërs in die jaar 586 v.C. Die mense van Juda het nie gedink dit gaan gebeur nie. Hulle het gereken dat die God van Juda en die God van Dawid hulle sou red “nog voor die môre kom” soos Psalm 46:6 sê. Hulle het soos baie gelowiges vandag sou sê “aan God se beloftes vasgehou”, maar dit het niks gehelp nie. Die stad het geval, baie mense is doodgemaak en ander is weggevoer in ballingskap na Babel. Die bekende Psalm 137:1 vertel ook van hierdie trane: “By die riviere van Babel, daar het ons gesit en ons trane het gevloei as ons aan Sion dink.”
Ek dink nie regtig dat ons ons vandag in hierdie mense se skoene kan indink nie. Miskien sal mense wat vandag ook geweldadige trauma beleef iets hiervan ervaar. Maar vir Juda was dit nog erger, want al die tekens van hulle geloof is ook weggeneem. Die tempel is vernietig. Die mure van die Sionstad is afgebreek. Die koning, die afstammeling van Dawid, se oë is uitgesteek en hy is weggevoer in ballingskap. (Die laaste ding wat hy gesien het, was hoe sy seuns voor hom doodgemaak is.) Alles waarin Juda geglo het, was weg!
As ‘n mens vandag terugdink aan wat destyds gebeur het dan is daar veral een gedagte wat by my vassteek: Hoe is dit moontlik dat die geloof in die God van Israel hierdie ding oorleef het? Vandag verstaan ons dat groot dele van ons Ou Testament geskryf is in reaksie op hierdie trauma. Maar dit vra ons verwondering: Uit hierdie pyn is die fondamente van ons geloof gebore!

Gebed:Here, dankie vir die verwondering van geloof. Maak ons opnuut verwonderd oor die feit dat ons in U kan glo.

Share this / Deel hierdie: