Inleiding
‘Daar lê ‘n blink nuwe toekoms voor,’ is woorde wat die Westerling van die een en twintigste eeu al te optimisties uitspreek. Na twee wêreldoorloë, 11 September 2001, die dreigende ekologiese krisis en die spanning in die Midde-Ooste, kan hierdie optimisme met reg krities bejeën word. Nietemin, die Westerling is toekomsgerig, en sien eerder die moontlikhede raak dat medici tog wel geneesmiddels teen vigs en kanker gaan ontwikkel, dat daar internasionale toekennings erkenning veral op die gebied van sport ingepalm gaan word, en op individuele vlak, dat môre ‘n beter dag as vandag gaan wees, en dat ek eendag die erkenning gaan kry wat ek verdien. Kortom, ons kyk liewers vorentoe as terug.
Die mens van die Ou Nabye Ooste het dinge egter vanuit ‘n ander perspektief beskou, en vandag wil ek meer hierop uitbrei.

Die mens as middelpunt
Die ontdekking van die teleskoop het die mens in staat gestel om die heelal in al sy grootsheid waar te neem, om van meer en meer sonnestelsels bewus te raak, en om te ontdek dat hy uiteindelik nie die spil is waarom alles draai nie. En tog is dit ook nie die waarheid nie. Die kosmos bestaan nie uit die geofisiese wêreld ‘daarbuite’ nie, maar word gekonstrueer deur menslike ervaring en menslike verbeelding. Ten spyte van alle wonderlike ontdekkings, bly die mens deur al die eeue heen die middelpunt van sy wêreld.
Hoe het die Ou Nabye Oosterse mens sy wêreld konstrueer?

Die horisontale asse
Net soos die mens in die een en twintigste eeu, het die Ou Nabye Oosterse mens sy wêreld deur subjektiewe ervaringe geskep. Alle ervaringe begin by die ‘self’, naamlik, die ervaring van die ‘self’ as middelpunt. Deur hierdie ‘self’ loop twee horisontale asse en een vertikale as. Die horisontale asse loop van oos na wes, en van suid na noord. Die vertikale as loop vanselfsprekend van bo na onder. [Die vertikale as het te make met die drievlakkige wêreldbeeld van die antieke tyd, en is reeds in ‘n vorige teo-artikel bespreek.]

… oos-wes
Die basiese oriëntasie van die antieke mens was na die ooste, met ander woorde, hy het met sy gesig na die ooste toe gekyk. Op die oog af lyk dit heel vanselfsprekend – ‘n oostelike rigting word immers geassosieer met die opkomende son, en wek positiewe gevoelens, dus is dit logies dat ‘n mens in die rigting sal kyk. Die Ou Nabye Oosterse mens het egter nie sy toekoms nie, maar sy verlede gesien.
Dit klink uiters vreemd: ‘n mens wil tog jou toekoms sien? Maar die antieke mens het sy wêreld nie na aanleiding van sy toekoms konstrueer nie, maar wel na aanleiding van sy verlede. Die verlede is iets wat hy kan sien, iets waarna hy kan kyk. As hy oos kyk, kyk hy na sy verlede.
Die toekoms is iets wat hy nie kan sien nie, en dis iets wat agter sy rug lê. Daarom staan hy met sy rug na die toekoms – na die weste. Dus, anders as ons hedendaagse toekomsgerigte lewensuitkyk, staan die Ou Nabye Oosterse met met sy gesig na die verlede en sy rug na die toekoms. Sy gesig is na die ooste – sy verlede – en sy rug is na die weste – sy toekoms. Sy verlede kan hy sien, sy toekoms is duister, is wes.

… suid-noord
Suid lê aan die regterkant en impliseer presies wat die woord sê: dit wat reg en korrek is. Gevolglik het dit ook te make met gevoelens van sekuriteit en welbehae. Die mens weet wat om te doen om goed te wees vir sy ‘self’. Hier gaan dit nie om gevoelens van selfsug of optrede in eiebeang nie, maar om die regte dinge te doen wat die ‘self’ as middelpunt in stand hou.
Noord lê in die teenoorgestelde rigting, uiteraard na links – na die ‘verkeerde’ kant. Namate die mens noord beweeg, beweeg hy al verder van sy ‘self’, en toenemend in gevaarlike en onheilspellende gebiede.

Hoe het dit in die praktyk gebeur?
Teen hierdie tyd behoort dit duidelik te wees dat oos, wes, suid en noord nie fisiese geografiese windrigtings is nie, maar dat dit metafories betrekking het op die mens se ‘self’ as sentrum vanwaar hy sy werklikheid konstrueer. Dit behoort ook duidelik te wees dat suid-noord op ‘n morele as lê, en oos-wes op ‘n temporele as.

… moreel (suid-noord)
In die Ou Nabye Ooste was morele kodes minder ‘n saak van die individu se persoonlike gewete, en veel meer afgestem op die kultus. Die morele as – suid-noord – word dus veral in die kultiese ruimte waargeneem. Die kultus maak duidelik wat ‘reg’ en wat ‘verkeerd’ is, en gee reëls en voorskrifte waarvolgens die mens moet lewe. Uiteraard speel rites in hierdie verband ook ‘n belangrike rol. Rites wat op ‘n gereelde basis uitgevoer word, help die mens om nie te vergeet nie. Elke keer as hy offer, vas of bid, is hy op die regte pad, suidwaarts.
Die boek Jeremia verwys na die ‘volke van die noorde’ (25:9). Met die eerste oogopslag kan dit natuurlik letterlike nasies wees wat noord van Juda geleë was en wat met Babilonië saamgespan het om die volk te verwoes. ‘n Mens kan egter nie anders as om die suid-noord, heil-onheil teenstalling raak te sien nie. In die vierde regeringsjaar van  koning Jojakim van Juda beskuldig die Here sy volk deur sy profeet Jeremia dat hulle verkeerd gelewe het. Hulle het nie die gebooie gehoorsaam nie, en die Here met allerlei afgodsbeelde getart. Met ander woorde, hulle het ‘noord’ van die kultus begin afdwaal. Daarom gaan Hy ‘die volke van die noorde’ en sy dienaar koning Nebukadnesar van Babel gebruik om Juda te verwoes (vers 9). Op metaforiese vlak is die ‘volke van die noorde’ gevaarlike volke, volke wat die Here nie ken nie, en wat bedreiging op alle gebiede inhou.

… temporeel (oos-wes)
Met sy gesig na die ooste (onthou, hy kyk na sy verlede) het die Ou Nabye Oosterse mens stappie vir stappie op ‘n tydlyn terugbeweeg, dus, na sy toekoms. Met ander woorde, in plaas van vorentoe na die toekoms het hy agteruit sy toekoms ingegaan. Maar deurentyd het hy oos bly kyk, na sy verlede. En die verlede gaan om onthou, om herinnering.
Herinneringe is sekerlik die mees basiese ervaring van elke mens. Jy onthou daardie dinge wat jou geskaaf en geskuur en geslyp het om jou lewe te vorm en van jou die mens gemaak het wat jy is. En jy leer uit jou foute. Herinneringe gee jou dus ook riglyne vir jou lewe.
Herinneringe vervaag egter met verloop van tyd. Dinge wat lank-lank gelede gebeur het, word vergeet, en meer onlangse gebeure word onthou. Die verre verlede raak in die vergetelheid.
In die antieke tyd het die verlede en herinneringe ‘n baie groter rol as vandag gespeel. Maar, vir die Ou Nabye Oosterse mens gaan dit om meer as net individuele lewenservaringe. Net soos wat hy sy morele lewe met die gemeenskap deel, loop hy ook nie alleen op sy tydlyn nie. Die gemeenskap loop saam met hom, hul ervaringe en herinneringe is deel van sy lewensloop. Hierdie herinneringe is egter nie slegs daardie dinge wat sy tydgenote, die lewendes onthou nie, maar sluit ook herinneringe van die voorgeslagte uit die verre verlede in.
Hoe gebeur dit?
Herinneringe word verhale wat oor en oor vertel word, wat neergeskryf word sodat die nageslag dit kan hoor, kan lees en deel maak van hul eie herinneringe. So verdwyn die voorvaders se herinneringe nie in die verre verlede se vergetelheid nie, maar word hulle in die hede ingetrek en vorm deel van elke mens se eie herinneringe, slyp en vorm hom, en gee riglyne vir die hede.
Die verhale van die voorvaders is die mites en die geskiedenis van ‘n volk.

Hoe kom dit alles bymekaar?
Al vier rigtings – oos-wes, suid-noord kom op ‘n treffende wyse na vore in die boek Deuteronomium. Von Rad was die eerste om die oos-wes as raak te sien in die sogenaamde ‘credo’ wat Israel se geskiedenis in ‘n neutedop saamvat: ‘My vader was ‘n Arameër wat van plek tot plek getrek het. Hy het na Egipte toe gegaan en met min mense daar as vreemdeling gaan woon. Daar het hy ‘n groot, sterk en talryke nasie geword. Die Egiptenaars het ons sleg behandel. Hulle het ons verdruk en ons harde werk laat doen. Ons het na die Here, die God van ons voorvaders geroep en Hy het ons gehoor. Hy het ons ellende en ons swaarkry raakgesien en hoe ons verdruk word. Die Here het ons uit Egipte laat wegtrek deur magtige dade, kragtige groot dade wat vrees ingeboesem het, tekens en wonders. Hy het ons in hierdie plek gebring en hierdie land aan ons gegee, ‘n land wat oorloop van melk en heuning’ (26:5-9).
Tussen die uittog en die intog staan die tien gebooie. Moses, een van voorvaders is aan die woord. Wanneer hy die tien gebooie aan Israel voorhou, sê hy vir hulle: ‘Jy moet daaraan dink dat jy in Egipte ‘n slaaf was en dat die Here jou God jou deur sy groot krag en met magtige dade daaruit bevry het’ (5:15). En ‘n bietjie later voeg hy by: ‘Hierdie gebooie wat ek jou vandag gegee het, moet in jou gedagtes bly. Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan. Jy moet dit as herinneringsteken vasbind aan jou hande, en dit moet ‘n merk op jou voorkop wees. Skryf dit op jou deurkosyne en op jou stadspoorte’ (6:6-9).

Slot
‘n Mens sou kon sê dat die ganse Ou Testament ‘n getuienis van Israel se beweging op die temporele as van oos na wes is, en wat terselfdertyd ook ‘n goeie suid-noord kompas insluit. In die Ou Testament is herinneringe opgeteken, Israel se herinneringe aan die pad wat God met hulle geloop het. Op hierdie manier bly die geskiedenis lewend in hul geheue, maar nie net die geskiedenis nie, ook God. Die God van die Ou Testament is ‘n lewende God in ‘n lewende geskiedenis.
Dit pas ons dus vandag om vir ‘n oomblik stil te staan en ons rigting te bepaal. Waarheen is ons op pad? Maak ons erns met die herinneringe van die voorgeslagte? Is Ou-Israel se geskiedenis vir ons van enige waarde? Is God deel van ons verhaal?
Of storm ons die toekoms in met die rug op die verlede … ?

 Bronne:
Hierdie artikel is hoofsaaklik gebaseer op die teorie van Nicolas Wyatt, Space and Time in the Religious Life of the Near East. Sheffield: Sheffield Academic Press (2001).
Sien ook: Von Rad, Gerhard 1966. Old Testament Theology. Skotland: Oliver & Boyd.

Share this / Deel hierdie: