SAM_0064

Inleiding

Laat ek eerlik wees, tot onlangs het ek nog nooit van Metéora gehoor nie. Toe prof Evangelia Daphni my vra of ek belang stel om ná afloop van die kongres in Thessaloniki ‘n ekskursie na Metéora mee te maak, het ek ‘ja’ gesê. Want waarom nie, en wanneer kom ek nou weer in Griekeland, in Thessaloniki of Metéora, wat dit ookal mag wees? Op daardie stadium het ek gedink dat dit iets met ‘n meteoriet te doene het wat dalk miljarde jare gelede die aarde getref het, en dat ons niks meer as ‘n buitengewone diep gat gaan besigtig nie. Hoe verkeerd was ek!

Aankoms

Metéora beteken iets soos ‘hangende in die lug’, ‘in die middel van die lug’ of ‘in die hemel daarbo’. Dit is in sentraal-Griekeland op die Vlakte van Thessalië geleë, en sowat drie, drie-en-‘n-half ure se ry vanaf Thessaloniki. Al langs die Pineios-rivier kronkel ons deur die Griekse platteland, gaan deur klein gehuggies, verlaat die waters vir ‘n oomblik om teen ‘n steil bergpas op te sukkel, en skielik is ons weer daar – op gelyk aarde en langs die rivier. Dit voel asof die rit nooit gaan eindig nie.

En daar sien ons dit. Iets soos uit wetenskap-fiksie. Die bus stop net buite die naaste dorp, Kalambaka, om ons tyd te gee om onsself vir ‘n wyle te vergaap. Magtige toringtanse wat uit die aarde uitgroei en met reuse rotsvingers na die hemel toe reik. En vir ‘n oomblik paniekerig, wonder ek, hoe op aarde gaan óns daar kom? Ek sien jong energieke bergklimmers, toegerus met rugsakke en stapskoene, en my moed sak in my skoene: dis nie vir my nie! Maar verwondering kry die oorhand: selfs as die kruin my nie beskore is nie, is dit genoeg om van ‘n afstand te beskou.

Blykbaar is hierdie reuse spits rotsformasies omtrent 60 miljoen jaar gelede gedurende die Paleogenetiese tydperk gevorm. Die jong en skommelende aarde het die bodem van die oersee boontoe forseer, en ‘n soort plato het ontstaan. Geleidelik het die see teruggetrek, en aardbewings, uiterste klimaatsomstandighede en ongure weer het daartoe bygedra dat die saamgepakte sandsteenformasies lyk soos wat hulle vandag lyk.

‘One may well imagine that this could be the battle field of enuma elish,’ sê prof Eckart Otto vir my, en ek stem honderd persent met hom saam. Hier lê die bewyse van die stryd tussen Marduk en Tiamat, die lang en bloedige stryd tussen oermagte en kragte wat uiteindelik aan die skepping geboorte gegee het.

Ons word aangesê om in die bussie terug te klim, en ek slaak ‘n sug van verligting: die bus gaan die klimwerk doen. Nie dat ek heeltemal ontspan nie – die paadjie is nou, en ‘n mens moet liewers nie afkyk nie, net vertrou dat die busbestuurder weet wat hy doen! Maar weereens is my verwondering groter as my vrees, want namate ons boontoe beweeg, sien ons die kloosters. Ongelooflik is hulle, verrys hulle aan die punte van die magtige hemelse kolomme se rotsvingers, so hoog dat ons hulle van daaronder nie eers kon raaksien nie.

Geskiedenis

Deur die loop van die eeue het talle holtes en skeure in die dik lae sandsteen van die rotsformasies gevorm. Bewyse van Neandertal-lewe sowel as primitiewe nedersettings van Homo Sapiens is in die nabye omgewing gevind, maar gedurende die negende eeu vC het ‘n groep asketiese kluisenaar-monnike hulself in die verborge ruimtes van die reuse toringtranse onttrek. Hulle was werklik asketies en het in eensaamheid en hoë afsondering gelewe. Slegs op Sondae of ander heilige dae het hulle bymekaar gekom om te aanbid in ‘n klein kapel wat een of ander tyd tydens hul bestaan aan die voet van een van die berge gebou is. Tot in die elfde eeu het sulke kluisenaar-monnike hier gelewe, en dit was ideaal vir die soort bestaan wat hulle gevoer het: die hoogte en steilte van die kloofhange het die meeste besoekers wat buitendien onwelkom sou wees, weggehou.

Dis is nie heeltemal duidelik wanneer die eerste kloosters gebou is nie, waarskynlik laat teen die einde van die elfde eeu, of vroeg in die twaalfde eeu. Maar rondom die kerk wat nou nog bestaan, die ‘kerk van Theotokos’ (moeder van God) het daar gedurende hierdie tyd ‘n basiese soort kloosterwese vorm begin aanneem. Met ander woorde, dit was nie nou meer slegs individuele asketiese monnike wat hulself in die klein holtes van die berge onttrek het nie, maar asketiese gemeenskappe het hulle daar gevestig en geboue begin oprig om in die behoeftes van sulke groter groepe te voorsien. Teen die einde van die twaalfde eeu was daar ‘n elementêre kloostergemeenskap wat as die ‘Skete van Stagoi’ bekend gestaan het.

In 1344 het ene Athanasius Koinovitis van Mt Athos, die grootste gevestigde kloostergemeenskap van die tyd (en steeds vandag), ‘n groep van sy volgelinge na Metéora toe gebring. Tussen 1356 en 1372 word die eerste werklike groot klooster op een van die rotse, die ‘Breë Rots’ gebou, en spoedig sou meer volg. Gedurende die veertiende eeu is meer as twintig kloosters op die pieke van die rotse gebou, en vir die monnike was dit ideaal. Hulle was ver weg en veilig van politieke onrus, en hulle het volledige beheer oor die ingang van hul kloosters gehad. Die enigste manier om daar te kom, was met ‘n lang leer, of soms ‘n paar lang lere wat aan mekaar vasgebind was, en die monnike kon die lere enige oomblik optrek wanneer hulle bedreig gevoel het. Anders het hulle ook groot nette of mandjies gebruik om mense sowel as gebruiksgoedere op te hys. As jy van hierdie metode gebruik wou maak, moes jy letterlik ‘n reuse sprong in die geloof waag, want daar word vertel dat die monnike gesê het dat hulle die toue vervang ‘slegs wanneer die Here dit laat breek . . .’ Tot en met die sewentiende eeu was toue en mandjies die enigste manier waarop mense na die kloosters kon kon.

Aan die einde van die veertiende eeu het die agthonderd-jaar oue Bizantynse Ryk van Noord Griekeland ‘n groot bedreiging in die gesig gestaar: die Turke het ook hul oog op die vrugbare vlakte van Thessalië gehad en die gebied begin plunder. In hierdie tyd het die kloosters van Metéora ‘n uiters belangrike rol gespeel, en ‘n toevlugsoord geword nie net vir kluisenaar-monnike nie, maar ook kunstenaars, filosowe, digters en ander diep denkers het hier kom skuil. Tereg word daar gesê dat die kloosters die Hellenistiese kultuur en kultuurskatte in ‘n tyd van groot bedreiging bewaar en aan die lewe gehou het. Vandag sien ‘n mens nog ikone en manuskripte wat uit die elfde en twaalfde eeue dateer, en ek het ervaar: hier loop ek op heilige grond.

Metéora vandag

Gelukkig, sedert 1920 is trappe in die rotse ingekap en ook brûe tussen die plato’s gebou wat besoek vir die hedendaagse toeris meer toeganklik maak. Van die twintig kloosters wat in die veertiende eeu gebou is, bestaan daar vandag nog ses: vier word deur monnike en twee deur nonne bewoon, en daar is nie meer as tien inwoners in ‘n klooster nie.

Toegang is betreklik goedkoop, vanjaar (2015) was dit nog 2 euro per persoon. En anders as byvoorbeeld die Vatikaan, word Metéora nog nie deur massas toeriste oorval nie. Vir die monnike en nonne wat daar bly, is dit steeds ‘n plek van afsondering, meditasie en gebed, en ‘n mens moet dit respekteer. Jy moet sag praat, selfone moet af, en die ikone en ander objekte binne die klooster mag nie met ‘n kamera of selfoon afgeneem word nie. Tussen eenuur en drie-uur die middag is die kloosters toe, en geen besoek na vyf in die middag nie.

Jy moet ook behoorlik geklee wees. ‘Shorts’ is verbode – vir mans en vroue. Kaalarms is verbode – vir mans en vroue. Kort rokkies en langbroeke is vir vroue verbode. Gelukkig verbied hulle ‘n mens nie sommer toegang nie, jy kry wel lappe by die ingang om die nodige te bedek en jou sonde van onkunde te verbloem. Omdat ek ‘n langbroek gedra het, was so ‘n lap telkens my voorland. Ek was verleë weens my gebrek aan respek vir hierdie heilige gemeenskap, ek moes van beter geweet het. My verskoning dat dit so bitterkoud was, was nie geldig nie. Dit is die kloosters van Metéora, en ek is die besoeker wat my by hul reëls moet hou.

Heeltemal onkommersieel is dit tog ook nie. By elke klooster is daar die onvermydelike ‘souvenier shops’ – winkeltjies waar jy allerlei snuisterye kan koop. Van kruise tot kerse tot slaaibakke en slaailepels, gedroogde kruie, spesiale Metéora wyn, en selfs asbakkies vir die rokers. Ek was geamuseerd deur die pakkies ‘wonderwerke’, dit is saamgestelde pakkies met bottletjies salf en olie wat enige kwint of kwaal van jou sal genees, hetsy brandwonde, insektebyt, droë lippe, aambeie . . . daar is pakkies van vier, agt of twaalf wondermiddels, afhangende van hoe siek jy is. En hierdie snuisterye is helaas nie goedkoop nie.

‘n Laaste basiese opmerking, en dit geld die heel basiese behoefte van die mens: wees bedag daarop dat hulle in hierdie deel van Griekeland nie toilette ken nie. Hulle het wat ons ‘hurkhuise’ noem. Soms word daar nie onderskeid tussen mans en vroue gemaak nie, en die deure sluit ook nie altyd dig nie. Partykeer is daar nie deure nie. Wees voorbedag en voorbereid vir wat op jou in jou oomblik van nood wag . . .

Slot

UNESCO het Metéora as ‘n wêrelderfenisgebied verklaar, en dis baie duidelik waarom. Hier is die natuur onnatuurlik, hier het die mens eeue gelede die transendente ervaar, en steeds vandag oorweldig ‘n gevoel van ‘n onverklaarbare grootsheid selfs die mees sekulêre besoeker. Ikone hou jou woordeloos en stil in die skemerdonker kloosterkapelle dop en vertel hul eeue-oue stories van geloof. Enkele monnike en nonne, geklee in die tradisionele swart van die Grieks-Ortodokse kerk, gaan geruisloos, byna onopsigtelik hul daaglikse gang.

Metéora is werklik ‘hangende in die lug’, ‘in die middel van die lug’ en so na as moontlik as wat ‘n mens op hierdie aarde ‘in die hemel daarbo’ sal kom.

Share this / Deel hierdie: