Inleiding

Mite: waar of vals? Staan mite teenoor waarheid? In hierdie teo-bydrae wil ek mite as ‘religieuse narratief’ voorstel, en na aanleiding van ‘n artikel van Shwana Dolanski (2016:18; 60) die veelvuldige waarhede van mites bespreek.

Wat is mite?

Die woord ‘mite’ ontlok verskillende response by verskillende mense, reaksies op die vraag wat onder ‘mite’ verstaan kan word, wissel van baie negatief, na neutraal toe, tot heel positief. Daardie wonderlike dieet wat toe nie gewerk het nie, al daardie mooi beloftes van die politici wat toe nooit realiseer het nie, word as ‘mites’ afgemaak. Mites kan ook bloot as ‘primitiewe wetenskap’ bestempel word. Die antieke volke het nie die natuurwetenskaplike insigte gehad wat ons vandag het nie, en het daarom het hulle stories uitgedink om te vertel waarom seisoene verander, of waarom daar donderweer en bliksem, oorstromings of vulkaniese uitbarstings is. Op ‘n heel positiewe noot, kan mite egter ook as ‘n literêre genre gesien word, verhale wat ‘n bepaalde kulturele verstaan van die wêreld meedeel, en die belangrikste waardes van so ‘n kultuur ondersteun. Dit geld veral religieuse mites, mites wat oor die doen en late van gode en godinne gaan. Sulke mites kan as religieuse narratief bestempel word. Uiteraard is dit die soort mites wat op antieke samelewings van toepassing is, maar wat van die Bybel? As ons die Bybel ook as ‘relgieuse narratief’ kan beskryf, is die implikasie dat dit ook ‘mites’ bevat, of stuit ons teen die komplekse waar/vals digotomie wat ons dwing om vir òf die een òf  die ander te kies?

Mites oor die skepping as voorbeeld

Die Mesopotamiese mite van Atrahasis vertel dat die god Ea vir die godin Mami verduidelik het hoe om mense van ‘n mengsel van klei en die bloed van gode te vorm. Enuma elisj, die sogenaamde Babiloniese Skeppingsverhaal eindig ook met ‘n skepping: die god Mardoek het Tiamat, godin van die chaos van die oerwaters, verslaan. Hy kloof haar liggaam middeldeur en vorm hemel en aarde uit die twee dele. Daarna vertel hy vir Ea van sy plan om die mens uit die bloed van Tiamat se verslane generaal Kingu, te vorm. Antieke Egipte het ook meerdere skeppingsmites. In sommige mites is daar net een skeppergod Atum wat tegelyk manlik en vroulik is, en deur wie die hele skeppingsproses tot by die mens ontstaan. Dan is daar die god Ptah wat alles skape bloot deur ‘n woord te spreek. Knum, die ramgod, vorm die mens en sy ‘ka’ (die mens se onsterflike spirituele dubbelganger) op sy potterswiel.

Vir die moderne mens is hierdie mites nie net vreemd nie, maar laat ook die vraag ontstaan: nou watter een het die antieke mense dan geglo? Was Mami of Ea die Mesopotamiërs se skeppergod of godin? Het die Egiptenare vir Atum, Ptah of Knum as ‘n skeppergod beskou? Ons wil graag een mite uitkies en dit tot ‘n waarheid verhef of ons probeer om sulke verskillende mites te sintetiseer en aan te toon dat daar wel ‘n onderliggende sinkronie bestaan. ‘n Goeie voorbeeld is die twee skeppingsverhale heel aan die begin van die Hebreeuse Bybel. Selfs vandag nog bestaan is sommige gelowiges onwillig om te aanvaar dat Genesis 1 en 2 nie net twee verskillende verhale oor die ontstaan van die aarde en die mens vertel nie, maar ook dat die twee verhale mekaar heeltemal weerspreek!

Maar … is Israel se skeppingsverhale mites, of is dit die waarheid?

Net soos die ander antieke volke, het Israel ook meerdere skeppingsverhale vertel. Die meeste van ons is met bogenoemde twee skeppingsverhale in Genesis 1 en 2 vertroud, maar dit is nie die enigste tekste in die Hebreeuse Bybel wat oor die skepping handel nie. In Psalm 74:13-14 lees ons van God wat die ‘koppe van die seemonsters verbreek’ en die ‘Leviatan’ verbrysel; in Psalm 89:11 is dit ‘Rahab’ – nog ‘n soort seemonster – wat vernietig word. Jesaja 27:1 verwys ook na die ‘Leviatan’, die draak, die vinnige en kronkelende slang wat in die groot water is, en Jesaja 51 is dit die seemonster Rahab wat in die dae van die voortyd deurboor is. In Genesis se skeppingsverhale is daar geen sprake van ‘n stryd tussen die Here en enige ander monsters nie, maar in die Psalm- en Jesaja-tekste is daar, net soos in ‘enuma elisj’, wel spore van ‘n geveg tussen God en mitologiese chaosmonsters te vinde, ‘n geveg wat voor die grondlegging van die aarde plaasgevind het. Net soos die antieke volke nie hul skeppingsverhale probeer harmonsieer het nie, het Israel dit ook nie probeer doen nie, maar die verskillende tradisies in dieselfde Bybel opgeteken.

Ons wonder: wat het die antieke volke werklik gedink oor die skepping, die ontstaan van die hemel en die aarde, en die mens en dier wat daarop woon? Maar, sê Dolansky (2016:18), miskien moet ons die vraag anders formuleer: wie het hierdie vrae gevra, en waarom is dit gevra?

Die Babiloniese ‘enuma elisj’ se belangrikste vraag handel nie oor die skepping van die aarde of die mens nie, dit wil iets anders verduidelik. In die sewende eeu vC was Babilonië die opkomende wêreldmoondheid in die ou Nabye Ooste. Net soos die ander volke in Mesopotamië, het hulle dieselfde klassieke gode van die panteon aanbid, maar Mardoek was ‘n god wat slegs in Babilonië vereer is. Met Babilonië se oorhand oor die ander volke, het die voorheen onbekende Mardoek ook die belangrikste god in die panteon geword en oor al die ander gode in die panteon triomfeer. ‘n Mens kan dus sê dat ‘enuma elisj’ minder van ‘n skeppingsmite is, en veel eerder as politieke propaganda verstaan moet word. Mardoek se voortreflikheid word die belangrikste komponent in hierdie mite; Babilon se heerskappy oor die res van die antieke wêreld, weerspieël ook die gebeure wat in die hemel ten tye van die skepping van die wêreld afgespeel het.

Die konsep van ‘tyd’, as lineêre gebeure soos wat ons dit vandag verstaan, speel dus nie ‘n rol nie. Die genre van mite wil die teenswoordige wêreld verstaan. Die eerste skeppingsverhaal in Genesis 1 wil gebeure voorstel van ‘n hemel en aarde wat tot stand gekom het sonder dat dit nodig vir die Here God was om enige mitologiese chaosmagte te oorwin. Teenoor ‘enuma elisj’ waar mens geskape word om as slaaf vir die gode te werk, word die mens in Genesis 1 as ‘imago Dei’ – beeld van God – geskape. Genesis 2 spreek eksistensiële vrae aan: waarom is daar dood in die wêreld; waarom moet mense hard werk om te leef; waarom ervaar vroue pyn by geboorte; waarom is die lewe moeilik en vol van gebrokenheid? Die Jesaja-tekste wil vir Israel ná die tydperk van die Ballingskap en boetedoening ook weer nuwe hoop gee. Posteksiliese Israel was ‘n onstabiele gemeenskap vol onsekerhede: was daar iets of Iemand waarop hulle kon vertrou? Hierdie vrae vanuit die hede het hulle na die oertyd terug geprojekteer, en ‘n antwoord gevind in die orde wat reeds aan die begin van die skepping vasgelê is – deur die Here, die God van Israel wat die chaosmagte vernietig het.

Slot

Soms staar ons onsself vas teen die kompleksiteit van mites wat dikwels neig om mekaar te weerspreek: was Mami, Ea, Mardoek, Atum, Ptah, Knum of die Here God ‘n skeppergod? Hoe presies en wanneer is die hemel, die aarde, en die mens geskape? Was daar ‘n goddelike stryd of nie? Maar ons vergeet dat hierdie stories – al die verskillende mites – eintlik bedoel was om verskillende ‘waarhede’ te beklemtoon. Die skeppingsverhale in die Bybel was nooit bedoel om die vraag te beantwoord wat wat regtig ‘aan die begin’ van tyd gebeur het nie. Mites van die antieke tye, soos ook die religieuse narratiewe wat in die Bybel opgeteken is, vertel vir ons van mense se vrees, hoop, en die waardes en beginsels waarmee hulle op ‘n bepaade tydstip in hul geskiedenis geworstel het. Relgieuse narratief – mite – kan nie tot een enkelvoudige ‘waarheid’ verskraal word nie. Mites is veelvoudige waarhede wat op verskillende maniere sin gee aan die mens se bestaan op verskillende tye en op verskillende plekke. Mites is nie ‘die waarheid’ nie; mites is waarhede waarby mense leef, en wat sin aan hul bestaan verskaf.

Bron

Dolansky, Shawna 2016. ‘The Multiple Truths of Myths.’ Biblical Arcaheology Review, January/February 42 (1): 18, 60.

Share this / Deel hierdie: