(en iets meer oor Jahwe en sy Asjera)

Inleiding

Deuteronomium 6:4 stel dit baie duidelik: Luister Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here. Met hierdie woorde word Israel aan die enigste ware God verbind. Vanaf die begin was Hy daar. Hy was die God wat Abraham geroep het en aan hom ‘n land en ‘n groot nageslag belowe het. Die vervulling van die landsbelofte word ‘n bietjie op die ys gesit as die nageslag hulself in Egipte bevind, maar selfs hier bly God getrou: in die persoon van Moses word die volk uit die huis van slawerny bevry en kan hulle uiteindelik die beloofde land binnegaan. Daar is egter ‘n voorwaarde: op Sinaï ontvang Moses die Tien Gebooie. Solank die Israeliete hierdie voorskrifte gehoorsaam, is hul verblyf in die land gewaarborg. As hulle afdwaal, verloor hulle alles. En namate die storie ontvou, is dit presies wat gebeur. Israel word deur die afgodspraktyke van die buurvolke verlei, hulle verloën hul eie God Jahwe, en dan word Hy kwaad. Hy straf die volk oor hul ongehoorsaamheid deur eers die Noordryk in die hande van die Assiriërs te laat val (721 vC), en daarna die Suidryk in ballingskap na Babilonië te laat wegvoer (586 vC). God wreek Hom op menslike ontrou.

   As ‘n mens die verhaal van Israel naatloos laat harmoniseer, is dit wat gebeur het. Maar is dit so eenvoudig?

 

Argeologiese getuienis van Khirbet el Qom en Kuntillet Ajrud

Daar was ‘n tyd in die middel van die negentiende tot die vroeg twintigste eeu toe die hoop op argeologiese ontdekkings gevestig is om die Bybel as geskiedkundig ‘waar’ te bewys. Hierdie hoop het toenemend beskaam. Bittermin Bybelse ‘feite’ het opgeduik, maar die vele artifakte en potskerwe het tog interessante oorblyfsels van die alledaagse sosiale en kulturele praktyke opgelewer. Maar argeologiese ontdekkings in die laat-sestigerjare van die vorige eeu, sou opspraakwekkende getuienis lewer. Dit het te make met opgrawings wat op twee argeologiese terreine gedoen is: Khirbet el Qom, en Kuntillet Ajrud. Teen die mure en op potskerwe is inskripsies gevind wat dateer uit die agtste tot sewende eeu vC.

   Khirbet el Qom is ‘n klein dorpie, iewers tussen Lagis, Tel Beit Mirsim en Hebron. Gedurende die herfs van 1967 het William Dever hier ‘n ekspedisie gelei en hulle het op enkele graftombes afgekom. Inskripsies en natuurlik graffiti was volop. Maar wat die argeoloë laat steier het, was sekere woorde teen ‘n pilaar. Iemand het een of ander gestorwene die seën toegebid in die naam van ‘JHWH en [sy] Asjera’.

   Twee jaar later word opgrawings by Kuntillet Ajrud gedoen, ‘n terrein ongeveer 50 km suid van Kadesh Barnea. Gedurende die agtste – sewende eeu vC het moeë handelsreisigers hier soms vir die nag uitgespan en ook hul diere laat rus. Die doel van die opgrawings was aanvanklik om vas te stel waar die grens tussen Juda en Egipte in die voor-eksiliese tyd gelê het, maar heeltemal iets anders het opgeduik. Nog meer eksplisiet as by die graftombes, was die woorde op twee potskerwe: iemand wens ‘n ander die seën toe in die naam van ‘JHWH en [sy] Asjera’. 

 

Wie of wat was A/asjera?

Die debat oor bogenoemde inskripsies is nog lank nie uitgewoed nie. Oor die grammatika en presies waarna ‘asjera’ verwys, word baie hare gekloof – want die inskripsies is oud en verweer, en die navorser se interpretasie en verbeelding speel geen geringe rol nie! Maar terwyl argeoloë en linguiste vuisslaan oor die interpretasiemoontlikhede van die ontdekkings, besin Bybelwetenskaplikes opnuut oor die teenwoordigheid van Asjera in die Hebreeuse Bybel.
Die Hebreeuse Bybel verwys op ‘n hele aantal plekke na die godin Asjera, en doen dit op ‘n neerhalende, veroordelende wyse. Ek noem enkele tekste:

  • 1 Konings 15:13 – Asa onttroon sy ouma Maäka omdat sy ‘n Asjera-beeld gemaak het (vgl 2 Kron 15:16);
  • 1 Konings 18:19 – Elia teen die 450 profete van Baäl en die 400 profete van Asjera wat van Isebel se tafel af eet;
  • 2 Konings 13:6 – Israel volhard in hul sonde en laat ‘n Asjera-beeld in Samaria bly staan;
  • 2 Konings 17:16 – onder andere word ‘n Asjera-beeld as rede gegee waarom die volk in ballingskap gegaan het;
  • 2 Konings 21:3, 7 – Manasse se dwaling sluit ook Asjera-beelde in (vgl 2 Kron 33:3 wat na dieselfde voorval verwys, maar ipv Asjera-beeld, noem die skrywer dit ‘n ‘gewyde paal’);
  • 2 Konings 23:4, 7 – Josia se hervorming. Hy vernietig die wydingsobjekte van Baäl en Asjera, en laat die manlike prostitute se kamers by die tempel afbreek waarin die vroue klere vir die diens van Asjera geweef het (vgl 2 Kron 34:4 – ook hier gebruik die skrywer ‘gewyde pale’ ipv Asjera).

Die laaste twee tekste wat ek aangedui het, belig ‘n ander probleem: die probleem van vertaling. ‘Asjera’ word ook elders in die Hebreeuse Bybel vermeld, en word dan slegs met ‘gewyde paal’ vertaal (vgl Deut 16:21; Rig 6:25; 1 Kg 14:23; 2 Kg 18:4;). Geleerdes is dit redelik eens dat die gode en godinne in die Ou Nabye Ooste ook deur simbole voorgestel kon word, en dat die sogenaamde ‘gewyde paal’ ‘n simbool of verteenwoordiging van die godin Asjera is. Maar wat heeltemal verwarrend is, is Asjera se koppeling met die god Baäl.

   Volgens Kanaänitiese teologie, was Asjera die gade van El, die hoofgod van die Kanaänitiese panteon. Baäl het op die tweede vlak van die hiërargie gelê met sy eie twee vroue/susters, Anat en Astarte. Wat verder uiters vreemd is, is dat Anat aan Baäl se sy ‘n hoofrol in die Kanaänitiese mitologie speel en Astarte se aandeel eintlik minimaal is; Astarte is egter die een wat haar plek in die Hebreeuse Bybel vind, maar Anat word nie een keer genoem nie. Waarom die verwarring?

   Die moontlikheid bestaan dat die skrywers van die Hebreeuse Bybel Asjera met opset wou minag deur haar met ‘n mindere god in verband te bring. Maar dit is ook moontlik dat die Kanaänitiese El en die Hebreeuse Elohim met mekaar verwar kan word: dit is immers enkelvoud en meervoud van dieselfde woord! Daarom swyg die Hebreeuse Bybel oor El, die hoofgod van die Kanaäniete, en kies Baäl as dié god wat die Israeliete keer op keer laat struikel.     

  

Godsdiens van die volk

Die getuienis van Khirbet el Qom en Kuntillet Ajrud dui verder daarop dat die hele idee van ‘n ‘suiwer godsdiens’ naas ‘afgodsdiens’ in Israel herbedink moet word. Inskripsies soos ‘JHWH en sy Asjera’, en tekste soos 2 Konings 21 en 23 wat Asjera se teenwoordigheid ten nouste met die tempel in Jerusalem verbind, laat die vermoede ontstaan dat daar ‘n wydverspreide kultus van Asjera in Ou Israel was. Argeologiese opgrawings het onder andere ook beeldjies van godinne (wat duidelik met vrugbaarheid verband hou) opgelewer. Ook dit kan nie summier as oorblyfsels van ‘n vreemde vrugbaarheidskultus afgemaak word nie. Na alle waarskynlikheid was die godsdiens van Ou Israel, net soos dié van hul bure, politeïsties van aard.

    Die werklike godsdiens van Ou Israel was alles wat die latere skrywers van die Hebreeuse Bybel veroordeel het. ‘n Mens sou dit as ‘volksgodsdiens’ of ‘familiegodsdiens’ kon beskryf, en dit het te make gehad met alledaagse behoeftes: kos, klere, kinders, landbou ensovoorts. Daarom was daar meerdere gode wat in die mense se meerdere behoeftes kon voorsien. Klein families het hulle eie familiegode gehad, en dit was nie afgode nie. El, Baäl en heel waarskynlik Jahwe ook, was aanvanklik familiegode wat heel gemaklik naas mekaar bestaan het en aanbid is. Later, tydens die monargie, is Jahwe tot nasionale God verhef, maar dit het nie beteken dat familiegodsdiens opgehou het nie. Wat die latere skrywers van die Hebreeuse Bybel as ‘afgodery’ veroordeel, het Ou-Israel nie van Kanaän geleen nie, maar was inheems aan eie godsdienstige praktyke.

   Die tempel ten tye van Salomo se regering was ‘n kragtige religieuse simbool, maar was in die eerste plek ‘n koninklike onderneming, ‘n bouprojek wat uit regeringskringe van stapel gestuur is. Hier is nie openbare religieuse rituele uitgevoer nie, hier het alles om die kultus van die koninklike familie gedraai, en die belangrikste funksie was om die outoriteit van die koning te legitimeer as Jahwe se aangewese verteenwoordiger. Vir die alledaagse lewens, die godsdienstige oortuiginge en praktyke van die oorgrote meerderheid van die bevolking was die tempel-teologie nie regtig relevant nie. Baie mense het nie in Jerusalem gebly nie en het die stad boonop selde besoek. Hierdie relevansie het nog verder gekrimp toe die Ryk skeur. Familiegodsdiens het bly voortbestaan tot die Noordryk in 721 vC van die toneel verdwyn het, en die Suidryk in 587 vC in ballingskap gegaan het. 

 

Monoteïsme

Die belangrikste mense, die koning, die adel, die priesters en skrifgeleerdes is weggevoer na ‘n vreemde land, en die armstes van die armes het agtergebly. Maar daar ver, weg van eie bodem, word die eerste fondamente vir ware monoteïsme gelê. Dit is tog ironies dat die eerste geredigeerde weergawe van die Hebreeuse Bybel nie ‘n produk van die glorieryke dae van die Jerusalemse tempel is nie, maar uit ‘n ervaring van gebrokenheid van wanhoop in ‘n vreemde land gebore is. Monoteïsme kry gestalte in die periode van die ballingskap, gedurende die sesde eeu vC.

   Hoe het dit gebeur? Redelik gesproke moes alle gode, JHWH inkluis, as gevolg van die ramp sterf, niks moes die katastrofe oorleef het nie. Nòg familiegodsdiens, nòg familiegode kan die ramp en die behoeftes wat as gevolg daarvan ontstaan, hanteer. Maar midde-in ervarings van verlatenheid, twyfel en wanhoop, begin geleerdes rasionaliseer. Godsdienstige leiers (soos Esra en Nehemia) begin teologiese formulerings kodifiseer en kom tot die slotsom: die ballingskap is JHWH se straf op die ontrouheid van sy volk.

   Monoteïsme is ‘n teologiese antwoord op ‘n tragiese gebeure. Dit het nie uit volksgodsdiens of familiegodsdiens ontwikkel nie, maar vanuit teologiese nadenke oor ‘n grootskaalse katastrofe. Vanuit die ballingskap kyk geleerdes terug op die geskiedenis van Israel, maar interpreteer die feite volgens ‘n unieke teologiese raamwerk. Hulle herskryf die hele verhaal om vir ‘n verpletterde volk ‘n nuwe identiteit te skep, om vir mense wat geen hoop oor het nie, ‘n nuwe bestemming te gee. En so word ‘n ‘Nuwe Israel’ in die lewe geroep, ‘n Israel wat in Jesaja 60:1-3 op aangrypende wyse beskryf word.

   Die hele Hebreeuse Bybel word gestempel deur nadenke oor ‘n ervaring van verlies en rampspoed. Uit hierdie toestand word gebore wat ons vandag ‘Bybelse geloof’ in een God noem.

 

Bronne

 

  • Albertz, R 1994. A History of Israelite Religion in the Old Testament Period. Vol I&II. Kentucky: Westminster John Knox Press.
  • Becking, B & Dijkstra M (reds) 1998. Een God alleen …? Kampen: Uitgeverij Kok.
  • Binger, T 1997. Asherah. Goddesses in Ugarit, Israel and the Old Testament. Sheffield: Sheffield Academic Press.
  • Dever, WG 2005. Did God have a Wife? Archaeology and Folk Religion in Ancient Israel. Cambridge: William B. Eeerdmans Publishing Co.
  • Hadly, J 2000. The cult of goddess in andvient Israel and Judah: The evidence for Asherah. New York: Cambridge University Press.
  • Handy, LK 1994. Among the Host of Heaven. The Syro-Palestinian Pantheon as Bureaucracy. Winona Lake: Eisenbrauns.
  • Olyan, SM 1988. Asherah and the Cult of Yahweh in Israel. Atlanta: Scholars Press.                
  • Van der Toorn, K 1996. Family Religion in Babylonia, Syria and Israel. Leiden: EJ Brill.
Share this / Deel hierdie: