Almal ken die een of ander simfonie, opera-aria, klavier- of vioolkonsert wat mooi is en waarna ons graag luister en waaroor ons praat. Gewoonlik hoor en geniet ons dit en dan raak die klanke weer vergete. Byna nooit vorm dié musiek ons denke of word dit deel van ons teologie nie. By Karl Barth was dit anders. Mozart het iets aan hom gedoen en daarom spreek Mozart se musiek ook plek-plek in sy teologie mee. Mozart was vir Barth nie blote lekker luistermusiek nie, maar iets wat sy lewe en teologie geslyp en gevorm het.

Mozart het Barth oorrompel
Karl Barth se liefde vir Mozart is oorbekend. Dit was nogal (soos in die Ou Testament) ‘n eksklusiewe liefde want Beethoven kon hy nie eintlik verduur nie en Bach was te prekerig. Beethoven se musiek was meer ‘n ‘persoonlike belydenis’ en Bach wou ‘n boodskap oordra, maar Mozart wou net wondermooie klanke voortbring en deur sy musiek mense betower. Hy wou niks op die hoorder afdwing nie, maar wou eerder iets oor God en menswees sê (Barth 1986:19-23).

Barth was vyf of ses toe hy Mozart die eerste keer gehoor het. Sy pa, die bekende Nuwe Testamentikus Fritz Barth, het ‘n paar mate uit die ‘Towerfluit’ op die klavier gespeel en dít het Barth geroer. ‘n Lewenslange verbintenis met Mozart het begin en nou nog val die Mozartportret in Barth se studeerkamer die besoeker aan die Barth-huis op. Eintlik moet ‘n mens sê: die portrette van Calvyn en Mozart wat op dieselfde hoogte hang. Barth het graag ook na dié twee portrette wat ewe hoog gehang het, verwys (Busch 1976:519). Twee reuse, maar albei op dieselfde vlak; die een nie hoër as die ander nie; die een nie ‘n teoloog en die ander net ‘n musikus nie. Albei hang op dieselfde hoogte want Mozart hoort by die teologie en praat saam met die ander grotes soos Calvyn. Selfs die plek waar die Mozartplate in Barth se studeerkamer gestoor is, het ‘n teologiese kleur gehad. Dit is klaarblyklik doelbewus op die rak direk onder die Weimaruitgawe van Luther se werke geplaas (Bush 1976:363).

In die winter van 1948-49 het Barth se vriendskap met die Rooms-Katolieke teoloog, Hans Urs von Balthasar, opgeleef en hulle het op ‘n stadium meer as twintig uur na plate met Mozart se musiek geluister. Barth is so hierdeur begeester dat hy vir hom ‘n platespeler en ‘n klomp Mozartplate aangeskaf het. In ‘n brief aan sy seun Christoph op 15 Februarie 1949 vertel Barth dat hy so deur Mozart se musiek vermurwe is dat hy eintlik ‘n spesiale ekskurs oor hom in KD III/3 geskryf het (sien hieronder). Elke werksoggend is met ‘n stukkie Mozart begin en ook deur die dag is Mozart se musiek gehoor. Mozart het naderhand so ‘n fokuspunt in sy lewe gevorm dat hy Bach bloot as ‘n voorloper soos Johannes die Doper beskou het en Beethoven iets van ‘n ‘randfiguur’ soos Origenes of die Pastor van Hermas (Bush 1976:362, 536-537).

Die skepping se lig- en donkerkant
Soos gesê, het Barth iets oor Mozart in KD III/3 geskryf. In hierdie band van sy Kirchliche Dogmatik het hy sy skeppingsleer verwoord en deel daarvan is ‘n lang bespreking van die groot Niks of die Nietigheid. Volgens Barth het die skepping sowel ‘n lig- as ‘n donkerkant. Genesis 1 se onderskeiding tussen dag en nag, lig en donkerte bevestig juis dié dubbelkantigheid van God se skepping. Barth beklemtoon egter oor en oor dat hierdie donkerte nie aan die ‘Nietigheid’ of die groot ‘Niks’ gelyk is nie. Hy worstel in sy skeppingsleer wel met ‘n teëspraak (‘Widerspruch’) en ‘n teenstand (‘Widerstand’) teen God en sy skepping wat hy die ‘Nietigheid’ (‘das Nichtige’) noem, maar dit het niks met die skepping se donkerkant te make nie (Barth 1961:327). Soms grens die donkerte van die lewe wel aan dié Nietigheid, maar is en was nooit deel daarvan nie. Donkerte is ‘n wesensdeel van die skepping, maar die Nietigheid nie (Barth 1961:327-334).

Die lewe het dus sy skadukante, sy ellendes en sy groot lewensvrae, maar dít beteken nog nie ‘n fundamentele teëspraak (‘Widerspruch’) en teenstand (‘Widerstand’) teen God nie. Soms herinner die donkerkant wel aan die Nietigheid, maar teenspoed en lewensverdriet beteken nog nie dat mens en wêreld in die Nietigheid versink het nie.

Vir Barth is dit dus belangrik dat in die één skepping lig en donker, ‘ja’ en ‘nee’ as ‘t ware in balans gehou moet word. Die een kan nie sonder die ander nie. Die een impliseer die ander. In die lewe is daar dus nie net hoogtepunte nie, maar ook diepe ellendes; nie net klaarheid nie, maar ook onbegrip, onduidelikheid, onverklaarbaarheid; nie net vordering en vooruitgang nie, maar ook probleme en beperkthede en lewensgrense; nie net wasdom nie, maar ook mislukking en verlies; nie net rykdom nie, maar ook geweldige armoede; nie net skoonheid nie, maar ook afgryslikheid; nie net ‘n begin nie, maar ook ‘n einde; nie net waardevolle dinge nie, maar sinloosheid (Barth 1961:336).

In elke mens se lewe is daar die mooi, helder oomblikke, maar ook die donker ure, dae en jare; is daar sukses, maar ook talle mislukkings; is daar telkens ‘n traan by die lag; is daar by die jonkwees ook ‘n ouerword; is daar naas die wen ook die verlies; is daar naas gebore-word ook die langsaam sterwe. Om alles te vererger tref die ellende nie almal eweredig nie (Barth 1961:334-342).

Besonder merkwaardig is egter die mense lof aan God. Al ervaar die gelowige sy donkerste oomblikke prys hy God nog. Al ervaar iemand geweldige laagtepunte kan sy God nog loof. Gelowiges se lof tydens swaarkry is soms baie meer eg, dieper as in hulle voorspoed. Vir Barth is dit die bewys dat die lewe se donkerkant nog nie Nietigheid is nie; dat selfs die absurdste of die mees sinnelose lyding die mens en die wêreld nog nie deur die Nietigheid ingehaal en oorval is nie (Barth 1961:336).

Mozart het alles goed verstaan
In Mozart se tyd was daar in Lissabon ‘n groot aardbewing en mense het eindeloos oor die teodiseeprobleem gestry. Vele het probeer om God se betrokkenheid te ontken of dit te regverdig, maar sonder veel sukses. Mozart was nooit deel van dié diskussies nie en tog het sy musiek soveel gesê en getroos (Kupisch 1972:147-151). Hy het mense iets van die skepping se suiwer harmonie laat hoor; ‘n skepping waar donkerte is, maar geen ewige duisternis nie; waar pyn is, maar alles tog nie in sinloosheid verbrokkel nie; waar skadu’s is, maar wat deur die lig verdryf word; waar die dood ‘n werklikheid is, maar sonder dat dit gevrees hoef te word. (Barth 1961:337)

Met ‘n fyn aanvoeling het Mozart hierdie dubbelkantigheid musikaal verwoord. Belangrik volgens Barth is dat hy albei kante konkreet gehoor het. Lig en donker se felheid het hy werklik gevoel, maar het die positiewe toon van die skepping net skerper, helder laat klink. Sy musiek wou dus nie ‘n ‘statement’ of ‘n persoonlike belydenis maak nie, maar slegs God se stem in die goeie skepping (met sy teenstrydighede en al) opvang en verwoord (Barth 1961:338)

In sy musiek was daar egter nooit ‘n ewewig tussen ‘ja’ en ‘nee’ nie, maar telkens ‘n meesterlike verstoring van die balans. Soos ‘n sonsopkoms wat die donkerte verdryf sonder dat die duisternis verdwyn; soos vreugde wat leed oorwin sonder dat pyn ooit ophou om te bestaan; soos wanneer die ‘ja’ sterker klink, maar die ‘nee’ altyd aanwesig is. Kortom: Mozart se musiek wou die werklike lewe met sy gespletenheid en al verklank en die voortdurende beweging van donker na die lig (en nooit omgekeerd nie) musikaal verwoord. Híérin het die onweerstaanbare sjarme van Mozart gelê (Barth 1961:339)

Mozart se eie lewe was egter anders. Min oomblikke van lig, maar baie donkerte. Hy het in armoede gesterf, is by die armes begrawe en tot vandag toe is sy graf onbekend. En tog troos sy musiek nou nog. So is die Adagio van sy heellaaste voltooide werk, die Klarinetkonsert in A, K 622, so aangrypend dat ‘n mens skaars daaroor kan praat. Dié weemoedige klanke van die klarinet roer ‘n mens so diep dat jy niks kan sê nie en net iets van wat Barth gesê het, voel. Mozart het die onaf-kant van die lewe geproe, maar aan die einde het hy ons musiek ‘gegee’ wat ons kan help om anderkant die ellende van die lewe en die dood te kyk (Barth 1986:25-41)

Slot
Karl Barth sal altyd ‘n voorbeeld bly. Sy diepgaande eksegese, sy gebruik van die kerkgeskiedenis en die navorsingsgeskiedenis is maar net ‘n paar dinge wat ‘n mens uitdaag en aanspoor. En dan is daar nog iets: die gebruik van die kuns om te kan sê wat ons nie kán sê nie. Na ‘n lewenslange omgang met Mozart het sy musiek gepraat waar Barth se woorde tekort geskiet het.

Teologie kan dus moeilik sonder die kuns oor God, mens en wêreld praat.

Bibliografie
Busch, E 1976. Karl Barth. His life from letters and autobiographical texts. London: SCM Press.
Barth, K 1961. Die Lehre von der Schöpfung, KD, III/3. Zürich: EVZ-Verlag.
Barth, K 1986. Wolfgang Amadeus Mozart. Grand Rapids: William B. Eerdmans.
Barth, K 1972. Protestant Theology in the Nineteenth Century. London: SCM Press.
Kupisch, K 1972. Karl Barth. Baarn: Ten Have.

Share this / Deel hierdie: