Geagte Vriende en Kollegas, en die Dekaan, Prof Cas Vos

Baie, baie dankie aan NG Kerk-kuratorium vir hierdie geleentheid; dit is iets wat vir my in my klein menswees veel beteken. Baie dankie ook aan my vriende wat teenwoordig is en vir al hulle ondersteuning en aanmoediging oor baie jare.

Om af te tree, is nie lekker nie. Dit is selfs mensonwaardig. Iets buite jou, iets waaroor jy geen beheer het nie, te wete jou ouderdom, word genadeloos teen jou gebruik en jy word sonder medelye uit jou vertroude wêreld van die akademie, boeke, studente en kollegas geruk. Genadeloos word die werk waaraan jy jou ‘n leeftyd gewy het sommer netso uit jou hande geneem en vir iemand anders in die Kaap gegee. En skielik gaan die salarisstrokie wat ek klokslag elke maand ontvang het, maar nooit oopgemaak het nie, ook nie meer daar wees nie. Aftrede staan dus in die teken van verval, van agteruitgang, van droefheid selfs.

En tog ook nie. Dit vul ‘n mens ook met ontsettende dankbaarheid. In die winter van negentien twee en sestig het die universiteit se beroepsvoorligter net hieronder, direk hieronder waar ons nou sit, vir my gesê om nooit universiteit toe te kom nie. My skoolrekord en matriekpunte was te swak en ek sou volgens hom nooit Grieks, Hebreeus en Latyn kon baasraak nie. En nou sewe en veertig jaar later het ek vandag die onuitspreeklike voorreg om op ‘n lang en lewensvervullende akademiese pad terug te kyk. Dit vervul my met soveel blydskap dat dit die verskrikking van die aftrede eintlik temper en plek-plek wegdryf.

As ek terugkyk, deel ook ek Israel se mees basiese ervaring van God. En dit is dat Hy ‘n mens met erbarming troos, jou help as jy nie meer verder kan nie, jou bemoedig as dit sleg gaan en jou in donker tye met deernis omvou. En daarom loof ek Hom vir die pad wat ek sedert daardie wintersdag in twee en sestig tot vandag toe kon geloop het. 

Ek dank Hom ook vir hulle wat die naaste aan my is en wat hierdie oomblikke saam met ons is. My vrou wat my ‘n akademiese lewe gegun het en dit moontlik gemaak het om te doen wat ek die graagste wou doen. As sy dit nie gedoen het nie, was ek vandag nie hier nie. Vir haar liefde, aanmoediging asook die waardes van deeglikheid, deursettingsvermoe, volharding sal ek haar ewig dankbaar bly.

Vir my kinders, Lizelle en Jurné, het ek nie genoeg dankiesêwoorde nie. Hulle is ons alles en vir die opvoediging wat hulle my gegee het, is ek oneindig dankbaar. Deur hulle oë het ek God en die wêreld anders leer ken, het ek die kerk en die Ou Testament op ander maniere begin verstaan, maar ek het ook geleer dat die akademie nutteloos sonder die liefde van ‘n kind is en vir hulle liefde, deernis en erbarming is ek ewig en opreg dankbaar. 

My akademiese loopbaan het destyds by Unisa begin. Volgende jaar Augustus sal dit presies veertig jaar gelede wees dat ek een oggend bangerig by Jan Stoop se kantoor in Visagiestraat vir ‘n doktorsgraad in kerkgeskiedenis gaan aanklop het. Kort daarna het ek ‘n tydelike lektor geword en so het my akademiese lewe begin. Die Unisa en die Fakulteit Teologie van die sewentiger en tagtiger jare van die vorige eeu was ‘n ongelooflike plek. Daar was nêrens elders so ‘n intellektuele ruimte nie, of so het ons dit in elk geval gevoel. Die allerbestes was daar saamgetrek en soms het dit gevoel asof die teologiese son net om ons Unisamense draai. Waarskynlik sal daar in die geskiedenis van die teologiese wetenskap in Suid-Afrika nooit weer so ‘n era wees nie en ek is dankbaar dat ek dít kon voel, smaak en proe.

Dáár het ek egter iets geleer wat my tot vandag toe gevorm het. En dit is die hoogte en die diepte van die wetenskap; die lengte en die breedte van navorsing, nadenke, vakmanskap. Amper dertig jaar gelede het ek die titel van ‘professor’ dáár gekry, maar tot vandag toe druk dié titel swaar op my, skeur dit soms my skouer en daarom gebruik ek dit omtrent ook nooit nie. Niemand is ‘n professor nie, jy moet dit elke dag word en ek, wel ek is nog oppad.

As ek oor die Universiteit van Pretoria wil praat, skiet woorde my tekort. Vir my het hierdie universiteit ‘n ruimte geword waarin ek kon leef, kon asemhaal, teen die massas kon skuil, as wetenskapsmens kon gedy en as akademikus kon ontwikkel. Dit het vir my die plek geword waar drome waar kon word; waar ek as mens deur ander mense, deur studente, deur kollegas kon groei; waar ek ongelooflike geleenthede gebied is om as vakmens ryp te word; waar ek  projekte kon aanpak wat ek nie elders sou kon doen het nie; waar ek vir tien jaar lank met ‘n bekende Duitse Ou Testamentikus so kon saamwerk dat dit ook ander vakgenote van ander universiteite kon verryk. As ek dus vir die Universiteit van Pretoria wil dankie sê, weet ek ‘dankie’ is ‘n dun woord wat nooit kan sê wat ek regtig voel nie.

Vir my was die kerk, die Nederduitse Gereformeerde Kerk, van my begin af die moeder. Die moeder (om met die vroeë kerk saam te praat) wat my teen haar borste vasgedruk en met die melk van die Ou en Nuwe Testament gevoed het; die moeder wat my ‘n gevoel van geborgenheid laat ervaar het. Dit is die kerk wat my drie en twintig jaar gelede hierheen gebring het en wie ek net met die mooiste vrugte van die wetenskap, die Ou-Testamentiese wetenskap wou dien. Ek is jammer as ons pad hier en daar die afgelope jare soms ‘n bietjie stamperig was, maar uiteindelik is ek ongelooflik trots op dít wat die Nederduitse Gereformeerde Kerk hier verrig het; en dit is my diepste wens dat dié kerk vir altyd híér by die Universiteit van Pretoria ‘n tuiste in die akademie sal vind.

Vir die kerk om egter híér te bly, vra onder andere ‘n sekere ingesteldheid teenoor geleerdheid en die akademie, en as ek dalk iets vir my geliefde kerk kan sê, dan is dit om die wetenskap nie primêr na die konteks, die konkrete, die sosiale om te buig nie, maar om die wetenskap in al sy volheid so te omhels, te verinnerlik en eie te maak, sodat die Nederduitse Gereformeerde Kerk (soos die afgelope honderd en vyftig jaar) steeds ‘n simbool van voortreflike intellektuele vorming vir die bediening, uitnemende wetenskap en uitstekende teologie sal wees.

Ek sal ook graag iets oor die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika wil sê. Ek is diep bewus van dié kerk se enorme bydrae tot hierdie fakulteit en tot die intellektuele vorming van jong studente vir die bediening. Ek het groot waardering vir die Hervormde Kerk en ek sê ook baie dankie vir die voorreg om hulle studente te kon onderrig.

For the past ten years it was also a great privilege to experience the students of the Uniting Presbyterian Church of South Africa. And I would also like to thank the Prebyterian church for this opportunity. And for them I also wish that the University of Pretoria will forever remain their spiritual and intellectual home.

Oor die jare het ek onder voortreflike dekane gewerk, maar vergun my ‘n woord oor Cas Vos. Dit is vyf en veertig jaar lank dat ek hom ken en as maar net kon, sou ek ‘n vers oor hom wou maak. Maar, helaas, het die muse by my verbygegaan. En daarom sê ek maar net baie, baie dankie. As dit nie vir hom was nie, was daar geen elektroniese aktiwiteite nie, het teo.co.za nie bestaan nie, het ons nie elke week ses duisend nuusbriewe uitgestuur nie, het Pro Pent al vroeg gesterf, was Eckart Otto nooit ‘n honorêre professor nie en het geen kontrak met die fakulteit teologie van die Ludwig Maximilans Universität van München, daardie ‘Excellenz Universität’ van München ooit bestaan nie. Cas, baie dankie vir jou wonderlike vriendskap oor baie jare en jou ontsaglike hulp om ten minste my lewe hier aan die fakulteit aangenaam en ‘n wonderlike akademiese hoogtepunt te maak.

Vir my kollegas sê ek baie dankie. By hulle het ek altyd tuisgevoel, baie geleer en lekker gekuier. Ek besef nou dat ek te min vir my kollegas gedoen het en daaroor is ek jammer.

Teenoor my departementshoof, Piet Venter, is ek baie dank verskuldig. Hy het my baie swakhede geken en enorme geduld daarmee gehad. Vir die ekstra las wat ek hom geplaas het, is ek jammer, maar ek is dankbaar vir die ruimte wat hy my gegee het.

Nooit sal ek my twee jonger kollegas Dirk Human en Alphonso Groenewald vir hulle enorme lojaligteit, vriendskap en hulp kan bedank nie. Hulle hulp en hulle omgee het my dikwels diep geroer en ek sê opreg baie dankie daarvoor.

Alphonso en Gerda baie, baie dankie vir die jare wat ons saam by teo kon werk. Al die enorme harde werk (waarvan helaas net ons weet), al die saampraat en gastronomiese genietinge het van teo-werk ‘n hoogtepunt in my akademiese lewe gemaak. 

Nou vriende, baie mense het ek uitgelaat, maar die tyd haal ons in. Ek sou oor Carla, wat ek hier kom kry het en Elize nog veel wou sê, en daarom sê ek maar net dankie.

Ek sal La Pat (die restaurant) mis en ook al die studente wat voortdurend kom vra het wat ek lees en of dit nodig is om sulke dik boeke te lees of waarom ‘n mens Hebreeus moet ken of soos iemand my laasweek kom sê-vra het, ‘Vat jy nie die Ou Testament darem te ernstig op nie. Hoekom “relax” jy nie ‘n bietjie meer nie?’. Dat ek die studente gaan mis, is gewis. En hoe ek dit gaan verwerk, weet ek nog nie.

Dikwels vra mense my wat ek na een dertig desember vanjaar gaan doen en my antwoord is tweërlei: Primo, ek gaan my toenemend in my eie wêreld toeskulp. My wêreld van my gesin aan wie ek dit ook verskuldig is en sonder wie ek nie kan bestaan nie. My wêreld van besondere vriende sonder wie ek nie die steil bulte van die lewe kan uitklim nie. My wêreld van die musiek, die letterkunde, die kuns. Sedert my kinderdae het Schubert se ‘Lieder’ my geboei en met die jare ook getroos en bemoedig, en daarom sal ek met hom nog ver op die pad van note en woorde wil loop. Al Karel Schoeman se werk sal ek weer en in sommige gevalle vir die eerste keer wil lees want ek deel met hom die lewenservaring dat ons gisters soos ‘n ander land is wat ons nooit kan bereik nie.

Daar is ook iets anders wat ek graag sal wil doen en dit is om te werk, te werk en te werk totdat die dood my inhaal. En ek hoop dat die fakulteit teologie en die Universiteit van Pretoria ook nog iets van die vrug van hierdie arbeid sal smaak.

Aan almal baie, baie dankie. En mag die Here u almal seën.

 

Dit is vir die redaksie aangenaam om aan te kondig dat Jurie le Roux nog vir ‘n ruk lank by teo betrokke sal bly. (Gerda de Villiers, Redakteur).

Share this / Deel hierdie: