‘n Besondere kongres

Vanaf 24 April tot 26 April 2012 het ‘n  besondere kongres in Pretoria plaasgevind: dit was die eerste Augustinuskongres wat nog ooit in Suid-Afrika plaasgevind het. Dit is deur die Universiteit van Pretoria se Departement Kerkgeskiedenis aangebied en prof Hans van Oort was die intellektuele krag agter hierdie Augustinusdae. Prof Van Oort is buitengewone professor aan die Universiteit van Pretoria en ‘n internasionaalbekende Augustinuskenner. Sy proefskrif (vgl 1995) oor Augustinus se ‘Stad van God’ het al vele herdrukke beleef en hy lewer steeds gesaghebbende werk oor Augustinus.

Die datum 24 April is nogal goed gekies want dit was dan presies 1625 jaar gelede dat Augustinus deur Ambrosius van Milaan gedoop is. Destyds was die doop nogal ‘n groot saak en is deur intesiewe katkisasie voorafgegaan. Augustinus het hom in dié tyd intens op die doop voorberei want hy het hom saam met ‘n paar vriende na Cassiciacum, ‘n landgoed naby Milaan, teruggetrek om oor die geloof te besin. ‘n Stenograaf het alles wat Augustinus gesê het, neergeskryf en dit is later in ‘n paar boeke verwerk (vgl Sizoo 1957:75-81).

Die Augustinuskongres was in die tipe Christendom voor Augustinus se doop geïnteresseerd asook die invloed wat dit op sy hele teologie gehad het. Augustinus was nege (of tien) jaar lank ‘n Manicheër en dit het ‘n groot invloed op hom gehad en die Augustinuskongres wou hierdie invloed nader identifiseer, omskryf en beskryf. Hans van Oort het toe ‘n groep uitstaande en internasionale Augustinuskenners in laaste dae van April in Pretoria bymekaar laat kom wat intens oor hierdie invloed besin het. Amptelik was die tema, ‘Augustine and Manichaean Christianity’.

‘n Belangrike kenmerk van hierdie kleingroep Augustinusgeleerdes was die fokus op primêre tekste. Elke spreker het met groot kundigheid Augustinus se Latynse tekste hanteer en hulle beskouinge daarop gegrond. Elke spreker het wyd oor Augustinus en die antieke wêreld gepubliseer en was inderdaad vakspesialiste. Van die sprekers was (behalwe Hans van Oort) Annemaré Kotzé van die Universiteit van Stellenbosch, Jason BeDuhn, van die Universiteit van Arizona, Therese Fuhrer van die Vrye Universiteit in Berlyn, Majella Franzmann van die Universiteit van Curtin in Perth, Australië, Andreas Hoffmann van die Universiteit van Siegen, Duitsland, Nils Pedersen van die Universiteit van Aarhus, Denemarke. Verder het ‘n jong predikant en ‘n kenner van die Manicheërs, Jacob Albert van den Berg, van Groningen, Nederland ‘n referaat gelewer en het ‘n ander Nederlander, Gijs Martijn van Gaans, ons oor sy navorsing oor die Manicheër, Faustus van Milevis, se konfrontasie met Augustinus ingelig. Ongelukkig kon Iain Gardner van die Universiteit van Sydney, Australië nie die kongres bywoon nie, maar sy lesing is voorgelees.

Die kern van die Augustinuskongres was dus die Manicheërs se invloed op Augustinus. Of anders gestel: Augustinus se geestelike en teologiese verwerking van sy Manichese jare. Om dit te verduidelik, let ons eers op ‘n baie kort lewensskets van Augustinus.

 

Biografiese inligting

Augustinus is op 13 November 354 in Thagaste in Noord-Afrika gebore. Soos alle kinders is hy skool toe en op sestien is hy Kartago toe om Retoriek te bestudeer. Augustinus was baie slim en het hom as jongman met oorgawe aan die antieke filosofie en ander wetenskappe gewy (Drobner 1994:326-328).
Sy vrome ma, Monnica, het hom op ’n manier nog aan die kerk gebind en hy was ten minste ’n ruk lank ’n ‘katechumeen’ of ’n katkisant. Dit het nie veel vir hom beteken nie en hy het dit weer gelos. In Kartago was die meisies mooi en Augustinus het hom aan losbandigheid oorgegee.  Op ‘n stadium het hy saam met ’n vrou geleef en later het hulle ’n seun, Adeodatus, gehad (Mühlenberg 1998:959-967). Vanweë sy ma kon hy die Christelike geloof nie sommer los nie. Vir nege jaar (373-382) was hy toe lid van die Manicheërs. ’n Sekte wat die katolieke kerk (of hoofstsroom kerk) op verskillende maniere ondemyn het. In 383 het hy dosent in retoriek in Milaan geword en die bekende Ambrosius (339-397) ontmoet (vgl Confessiones V 13, 23). In Augustus van die jaar 386 het sy beroemde bekering toe plaasgevind. ‘Beroemd’ omdat hy daarvan in sy ewe-beroemde ‘Confessiones’ (‘Confessions’/ ‘Belydenisse’) vertel het en is dit oor die jare selfs ‘n bietjie geromantiseer is (vgl Confessiones VIII 2, 3-4).

Op 24 April 387 is Augustinus in Milaan deur Ambrosius gedoop. Kort daarna het die groot terugtog na Afrika begin en aan die einde van 387 was die Augustinusfamilie in die hawestad Ostia en het op ‘n geleentheid na Afrika gewag (vgl Geybels 2005:146).

          Die Augustinuskongres was in die periode vanaf 373-382 en die nawerking van dié era op Augustinus geïnteresseerd. Dít was die tyd toe hy ‘n Manicheër was en uit sy werke wou die kongreslede sy teologiese worsteling verstaan (vgl Schindler 1979:645-698).

 

Die Manicheërs: die gnostiese wêreldkerk

Die Manicheër het hulle bestaan na ‘n man genaamd Mani (217-276) teruggevoer. Mani het homself ‘n ‘apostel van Jesus Christus, deur die wil van God, die Vader van alle waarheid’ genoem (Van Oort 2005:23). Hy was deel van ‘n breë religieuse beweging wat ons die ‘Gnostiek’ noem. En kennis van die Gnostiek help ons ook om die Manicheërs te verstaan. Oor die herkoms van hierdie groep bestaan groot onsekerheid. Op ‘n stadium was daar net ‘n groep wat klem op kennis (‘gnosis’) laat val het. Dit was belangriker as geloof. Daar was ‘n sekere soort kennis wat ‘n mens kon salig maak; ‘n soort kennis wat ‘n mens in die geheime van die lewe en die kosmos kon inlei; kennis wat die geheime sleutel tot die saligheid was; kennis wat net by die gnostici en die gnostiese gemeentes beskikbaar was. In die proses het hulle gemeen materie is boos: daarom was die liggaam boos; die belangrikste van ‘n mens is sy ‘siel’ of ‘gees’; die siel is vasgevang in die bose kerker van die liggaam; Jesus was ook nie materie of liggaam nie, maar net gees; Hy het nie na die liggaam gely nie; sy hooftaak was om die mens van al die bande van die liggaamlike, die materie te bevry; Jesus se werk was dus bloot geestelik, dit het bloot konsekwensies vir die siel/gees gehad en niks vir die liggaam nie; Hy het die mens iets van ‘n ‘goddelike vonk’ gegee om hom aan sy hemelse oorsrprong te herinner. Teen hierdie breë agtergrond moet ons ook die Manicheërs probeer verstaan (vgl Jonas 1969).

 

En toe word Augustinus deel van hulle

Waarom? Augustinus was nooit dolgelukkig by hulle nie en hy kon ook nooit verder as ’n ‘auditor’ of ’n hoorder vorder nie (Van der Meer 1957:16-26). Waarom was hy dan vir nege jaar vanaf 373 tot 382 ‘n Manicheër. Daar moes iets gewees het wat Augustinus geboei het. Dalk was dit hulle ‘vermoë’ om antwoorde op die groot lewensvrae te gee. Augustinus was slim en het met vrae oor die bestaan van God en die oorsprong van alle kwaad geworstel (vgl Confessionses III,7,12), en die Manicheërs het antwoorde verskaf. Hulle kon die ontstaan en bestaan van die wêreld en die mens verklaar; hulle kon die wentelbaan van sterre en planete verduidelik en gesaghebbend oor die geskiedenis, die moraal en die toekoms praat. Geen wonder dat die Manicheërs se omvattende gnosis die weetgierige Augustinus beïndruk het nie. Veral omdat Christus so sentraal in hulle sisteem gestaan het (Van Oort 2005:21). Of soos Van Oort dit verwoord: ‘Niet minder aansprekend is en blijft voor hem, dat in hun religie de (hemelse, eeuwige, docetische, ware gnosis gevende) Christus in het middelpunt staat’ (Van Oort 2005:23). En Christus verlig die mens en skenk die ware kennis. Sy gnosis of kennis bevry die mens van verganklikheid en die dood.

Nege jaar lank was hy lid van hierdie gnosties-Christelike beweging en na sy bekering het hy ‘n katolieke Christen geword. Dit is belangrik om daarop te let dat Augustinus nie van die heidendom na die Christendom bekeer is nie, maar van die een vorm van die Christendom (die gnostiek of die kerk van Mani) na ‘n ander (die katolieke Christendom). Anders gestel: die beweging van heiden na Christen is dus foutief.

Trouens, iets van die Manicheërs het in Augustinus oorgebly. Julianus van Aeclanum het Augustinus inderdaad verwyt dat hy steeds nog ‘n Manicheër was en dat net so min as ‘n luiperd die vlekke op sy vel kan verwyder so min kon Augustinus die ‘vlek’ van die Manicheërs verwyder (Lamberigts 2012:113). En dit is die punt wat die Augustinuskongres juis wou maak: die ‘vlek’ is inderdaad dáár. Anders gestel: die nawerking van die Manicheërs se teologie op Augustinus is onmiskenbaar; dit is ‘n belangrike sleutel waarmee Augustinus se teologie ontsluit kan word.

In al die lesings tydens die Augustinuskongres is hierdie Manichese ‘vlek’ baie skerpsinnig ontleed. Die veelvoud van teologiese drade tussen Augustinus en sy vorige geloofsgenote kan nie meer in enige toekomstige Augustinusstudie ontken word nie. Tydens die Augustinuskongres is vele van hierdie teologiese drade ‘uitgewys’ en ons noem net een: Augustinus se gebruik van die Ou Testament.

 

Het Augustinus die Ou Testament gered?

Sommige sal so voel. Mani is deur Marcion, wat die Ou Testament verwerp het, beïnvloed (vgl Von Harnack 1990) en die Manicheërs het hierdie anti-Ou- Testament-houding voortgesit. Augustinus het die Ou Testament egter op verskillende maniere nuut verstaan. Die Manichese Christus-gesentreerdheid het Augustinus tot ‘n besondere verstaan van byvoorbeeld die psalms gelei. ‘n Mens sien dit veral in sy gebruik van die ‘totus Christus’ in die verklaring van die psalms. Augustinus se klem op die ‘totus Christus’ , die ‘hele Christus’ is nou nog besonder waardevol.  Hiervolgens het die psalms nie net oor Christus gepraat nie, maar ook oor sy hele liggaam (of die kerk). Volgens Augustinus wou Christus nooit sonder die kerk, sonder ons wees nie en daarom het die psalms nie net op Christus betrekking nie, maar ook op al die gelowiges wat daaruit lees; die gelowige se verbondenheid met Christus veroorsaak dat die enkele individu ook in die Christologiese uitleg tot sy reg moet kom. Nog anders gestel: die psalms vertel nie net van Christus nie, maar ook van die kerk, van die individuele gelowige; die liggaam van Christus, die kerk is by hierdie Christus van die psalms inbegrepe en daarom kon die gelowige elke psalm toe-eien (vgl Augustinus, In Johannis, 1,1-5).  Soos wat die aardse Jesus deur sy liggaam op die aarde was, so is die verrese Heer deur ons in die wêreld: ‘Wij zijn niet met Christus verenigd “alsof” wij zijn lichaam waren, maar wij behoren werkelijk tot Christus omdat zijn leven het onze geworden is’ (Van Bavel 1970:93).

Kortom: as ‘n mens Augustinus se teologiese reaksie op Manicheër ook in sy verklaring van die Ou Testament raaksien, word nuwe dimensies geopen.

 

Die sin van die kongres

Daar was wel diegene wat oor die sin van so ‘n Augustinuskongres gewonder het. Die onmiddellike antwoord is natuurlik dat die kongres nuwe perspektiewe op die Augustinus se werk geopen het en dit opsigself regverdig al die kongres. Daar is egter nog ‘n rede en dit is dat teologie ‘n tekswetenskap is. Die outentieke stem van die kerk hoor jy net in die studie van primêre bronne

Tydens die jare 1930-1950 het die ‘nouvelle théolgie’ ontstaan en groot geleerdes soos Jean Daniélou, Henri de Lubac en Hans Urs Balthasar was deel van hierdie nuwe beweging. Hulle doel was om die diepte van die Christelike tradisie aan die hand van primêre tekste te herontdek. So is van Henri de Lubac gesê: ‘(he aimed) to recover Christianity in its fullness and purity … (by) returning to its sources, attempting once more to seize it within its periods of explosive vitality’ (Wood 1998:5). En dít was ook die doel van die afgelope Augustinuskongres: die herontdekking van ons Christelike tradisie, die herbelewenis van die vroeë kerk en Augustinus se geloofskrag, die onontbeerlikheid van die patristiek vir kerk en teologie. En dít kon net deur middel van deeglike bronnestudie gebeur.

 

Bronnelys

  • ·   Ackroyd, P R & Evans, C F 1989. The Cambridge history of the Bible. Cambridge: Cambridge University Press,541-563.
  • · · Adam, A 1965. Lehrbuch der Dogmengeschichte. Gütersloh: Gerd Mohn.
  • · · Altaner, B 1951. Patrologie. Freiburg: Verlag Herder.
  • · · Augustinus, A 1956. Enarrationes in psalmos. Corpus Christianorum, Corpus Latina, 38. Turnhout: Typographi Brepols editores pontificii.
  • · · Augustinus, A 1968. De trinitate. Corpus Christianorum, Corpus Latina, 50-50A. Turnhout: Typographi Brepols editores pontificii.
  • · · Augustinus, A 1995. De doctrina Christiana, in Green, 1-293.
  • · · Bakhuizen van den Brink, J N 1965. Handboek der kerkgeschiedenis. Den Haag: Bert Bakker.
  • · · Bonner, G 1989. Augustine as Biblical scholar’, in Ackroyd & Evans (eds), 548.
  • · · Drobner, H R 1994. Lehrbuch der Patrologie.  Freiburg: Herder.
  • · · Green, R P H 1995. Augustine – De doctrina Christiana. Oxford: Clarendon Press.
  • · · Hebgin, S & Corrigan, F 1960. St Augustine on the Psalms. New York: Newman Press.
  • ·   Jonas, H 1969. Het Gnosticisme. Utrecht: Spectrum.
  • · · Le Roux, J H 1976. Die paasbeskouing van Gaudentius van Brixia. Pretoria.
  • · · Mühlenberg, E 1998. Augustin. RGG 1, 959-967.
  • · · Pelican, J 1971. The Christian tradition. Chicago: University Press.
  • · · Reventlow, H G 1994.  Epochen der Bibelauslegung. München: C.H. Beck.
  • · · Rutten, T 2005. Augustinus en de spiritualiteit van de Psalmen, in P van Geest & J van Oort, Augustiniana Neerlandica. Peters: Leuven,113-130.
  • · · Schaff, P (ed) 1887. A select library of the Nicene and Post-nicene fathers, 3 Edinburgh: T&T Clark.
  • · · Schaff, P (ed) 1974. A select library of the Nicene and Post-nicene fathers,8. Edinburgh: T&T Clark.
  • · · Schindler, A 1979. Augustin. TRE 1, 645-698.
  • ·   Sizoo,A 1957. Augustinus. Leven en werk. Kampen: Kok;
  • · · Van  Bavel, T 2005. ‘Wij moeten leren het onuitspreekbare op onuitsprekelijke wijze te zien’, in P van Geest & J van Oort, AugustinianaNeerlandica.   Peters: Leuven, 165-185.
  • · · Van der Meer, F 1957. Augustinus de zielzorger. Utrecht: Het Spectrum.
  • · · Van Oort, J 1995. Jeruzalem en Babylon.  Zoetermeer: Uitgeverij Boekcentrum.
  • · · Von Balthasar, H U 1936. Aurelius Augustinus – Über die Psalmen. Leipzig: Jakob Hegner.
  • ·   Von Harnack, A 1990. Marcion. The Gospel of the alien God. Durham: The Labyrinth Press.
  • · · Wright, D F 1996. Augustine: His exegesis and hermeneutics, in Saebo, M (ed), Hebrew Bible/ Old Testament. The history of interpretation. Göttingen: V&R.
  • ·   Wood, S K 1998. Spiritual Exegesis and the church in the theology of Henri de Lubac. Edinburgh: T&T Clark.
Share this / Deel hierdie: