Die geskiedenis van die Ou Testament se uitleg raak ons eksistensieel. Soos twee duisend jaar se kerk- of teologiegeskiedenis nie maar iets is wat ver en vreemd is nie, maar deel van ons is, is ons ook onafskeidelik deel van die eeue lange verstaan en verklaring van die Ou Testament. En hierdie eksegetiese tradisie het ons teologie baie meer as wat ons dink, gevorm. Ons (die kerk, die teologie) is in die een en twintigste eeu wat ons is omdat die teologiegeskiedenis ons so geslyp het. Alhoewel Latyn en Grieks (ongelukkig!) nie meer so ‘n integrale deel van ons teologiese wêreld vorm nie, bly ons nog onlosmaaklik deel van hierdie geskiedenis van die interpretasie en verstaan van die Ou Testament. Geloof bind ons dus nie net aan die voorgeslagte nie, maar ook aan die manier waarop hulle geteologiseer en eksegese gedoen het.

Van die begin af was die Ou Testament die bron waaruit die vroeë kerk geleef, gedink, gepreek het; elke geslag het die Ou Testament probeer verstaan, dit gepreek en vir die gewone lewe relevant gemaak. In die volgende maande wil ons iets van hierdie proses van Skrifverstaan en –uitleg verwoord. Een rede hiervoor is omdat die Bybel so sentraal gestaan het dat kerkgeskiedenis al as die geskiedenis van Skrifuitleg beskou is. Anders gestel: die manier waarop die Bybel (lees: Ou Testament) oor die eeue geïnterpreteer is en hoe dit neerslag in mense se lewens gevind het, raak ons ook. Ebeling se siening van ‘Kirchengeschichte als Geschichte der Auslegung der Heiligen Schrift’ het met verloop van jare baie gewild geword en is mettertyd op verskilende maniere verwoord en gebruik (Ebeling 1975:80). En omdat ‘geskiedenis’ nie in die eerste plek ‘n kroniek van feite is nie, maar ‘n herbelewenis van die verlede is (of: ‘the re-enactment of the past in the mind’), is ons nie net deel van die geskiedenis van die interpretasie nie, maar ontdek ons onsself ook telkens daarin (Collingwood 1994:441-422). Wat Augustinus dus in die vroeë kerk, Bernardus van Clairvaux in die middeleeue, Luther aan die begin van die reformasie, Wellhausen in die negentiende en Von Rad in die twintigste eeue wou doen, doen ons ook elke dag. Ons almal wou/wil die Ou Testament verstaan, uitlê, toepas, preek en só word ons met die voorgeslagte een (Gadamer 1957:44-56; 1970:184-198; 1985:350-361; 1990:112-113).

Vir ‘n lewenskragtige teologie is die luister na outentieke stemme in die geskiedenis onontbeerlik. En een manier om dié stemme te hoor, is deur die geskiedenis van die eksegese. Elke stukkie eksegese is ‘n stem, ‘n lewende stem uit ‘n ou verlede. En dié stemme hoor ‘n mens net deur die studie van die oorspronklike tekste in Latyn of Grieks of watter taal ook al. Vertalings en sekondêre werk het hulle plek, maar dit is onvoldoende om die outentieke stemme van die verlede te hoor. Kortom, die weg na ‘n lewende teologie loop nie deur sekondêre werke nie, maar deur die moeisame studie van oorspronklike bronne (De Lubac 1998:Preface).  

Daar is nie reg of verkeerd in hierdie geskiedenis van die interpretasie nie. In plaas van regter te wees wat die verlede krities afmaak, moet ons eerder probeer verstaan. Elkeen in sy eie unieke, individuele konteks probeer verstaan. Augustinus begin byvoorbeeld sy uitleg van Psalm 1 met ‘n onmiddellike verwysing na Christus. Hy verklaar die woorde, ‘Gelukkig is die mens wat nie die raad van die goddeloses volg nie’, soos volg: ‘Hierdie woorde verwys na onse Here Jesus Christus, wat Heer en mens is’. Hierdie is ‘n vrye vertaling van Augustinus se woorde: ‘de Domino nostro Iesu Christo, hoc est homine Dominico, accipiendum est’. Augustinus het dit doelbewus so uitgelê omdat ‘n Christologies lees van die psalms deel van sy tradisie was. Daar was ook ‘n ander rede: hy wou die gelowige help om ‘n ‘greep’ op die psalms te kry deur dit as ‘n profesie aangaande Christus te lees. In sy verklaring van Psalm 56 sê Augustinus dan ook dat elke vers van Christus spreek; in elke vers klink Christus se woorde deur middel van die psalmskrywer (Drobner 1994:349). So ‘n verklaring is eintlik nie moontlik nie, maar in plaas daarvan om dit af te maak, moet ons eerder probeer om die unieke, die anderse van Augustinus se psalmverklaring te verstaan en her te beleef. En wanneer dit gebeur word die band met gister en eergister se mense net sterker.

Die beginpunt van so ‘n geskiedenis van die eksegese is nogal problematies. Miskien moet ons by die Ou Testament begin want vroeëre gedeeltes is telkens in die lig van nuwe kontekste geherinterpreteer en uitgebou. In die vaktaal word dit ‘inner-Biblical exegesis’ genoem (Fishbane 1996:33-48). Dieselfde het in die Nuwe Testament gebeur: die Ou Testament is in die eerste eeu nuut en anders verstaan (Hübner 1996:332-372). Ons begin egter by die vroeë kerk. Die indeling van die kerkgeskiedenis in historiese tydperke is nie so maklik nie en ons sou ook elders kon begin, maar vir ons doel vertel ons die verhaal vanaf die vroeë kerk (Markschies 2006:34-49). Dit was die tyd van die ‘vaders’ of die ‘patres’ en waarskynlik die beslissendste eeue in die geskiedenis van die kerk. Tot aan die vierde eeu se einde is dié term slegs in verband met die biskoppe gebruik, maar in die vyfde eeu is priesters (soos Hieronymus) en diakens (soos Efraim van Sirië) ook ‘vader’ genoem (Drobner 1994:1). Hierna volg die opwindende middeleeue en die era van die veelvuldige Skrifsin. Rondom 1330 het Nicholas van Lyra in ‘n brief hierdie era se eksegetiese taak verwoord: ‘Littera gesta docet, quid credas allegoria. Moralis quid agas, quo tendas anagogia’. Hierdie beroemde woorde het ‘n tydperk se manier van Skrifuitleg saamgevat: die letter vertel wat gebeur het; die allegorie wat ‘n mens moet glo; die morele (of etiese) betekenis dui op wat gedoen en hoe geleef moet word; en die anagogiese element dui weer op die toekoms of die hemelse werklikheid (De Lubac 1998:1-6). Dié benadering was ‘n wonderlike poging om die verskillende betekenismoontlikhede van die Ou Testament te ontsluit en die gelaagdheid van die teks (soos ons dit vandag noem) te ontgin (De Knijff 1980:28-38).

Die laat-middeleeue (Heussi 1960:263-268) vloei in die reformasie voort en Luther se psalmuitleg (veral die 1517-kommentaar op die boetepsalms) help ons om iets van die oorgang te verstaan (vgl Dassmann 1999:154-198). Calvyn se Skrifverstaan is in vele opsigte belangrik want hy wou die geheel uit die onderdeel verstaan en hy wou los van die tradisie die Bybelskrywer se woorde begryp. Op die reformasie volg die gereformeerde ortodoksie en ook een van die donkerste tye in die verstaan van die Ou Testament. Die Ou en Nuwe Testament is toe in die keurslyf van die dogma ingedruk en tot ‘n bewysbron vir die suiwere leer verding. Uit die ortodoksie het twee ‘bewegings’ gekom: die piëtisme en die Aufklärung (of verligting). Die piëtisme het na die lewende geloof van die reformasie teruggegryp en die gevoel beklemtoon. Die Aufklärung wou dit anders doen en daarom het die rede belangrik geword. Een van die Aufklärung se gevolge was die opkoms van die historiese bewussyn: enersyds die ervaring dat daar ‘n kloof tussen verlede en hede, toe en nou bestaan en andersyds die poging om alles histories te verstaan. Veral in die negentiende eeu het hierdie historiese bewussyn tot volheid geblom en het dit die verstaan van die Ou Testament radikaal beïnvloed. ‘n Mens sien dit besonder mooi in die lyn vanaf De Wette, oor Wellhausen en Gunkel tot by Von Rad en ander twintigste eeuse Ou-Testamentici (Kraus 1969:102-300). Dit was asof die ideaal van die Antiocheense skool (en mense soos Theodorus van Mopsuestia) eers in die negentiende en twintigste eeue ‘n werklikheid geword het (Dassmann 1999:1-100).

Ons geskiedenis word afgesluit met ‘n oorsig oor die Suid-Afrikaanse eksegetiese toneel. Sedert Maart 1971 het die Bybelwetenskap die gesig van ons teologie verander. Dit was die begin van talle indringende teksstudies wat oral (ook internasionaal) respek afgedwing het en wat as ’t ware die gewete van die teologie geword het. Die stem van die teologiese gewete wat altyd sal vra of die teks ernstig geneem is, of daar indringend genoeg eksegese gedoen is en of daar selfs met die kleinste deeltjies in teks geworstel is. Dít is die erfenis van die Suid-Afrikaanse Bybelwetenskap (Le Roux 1993:350-353).

In die geskiedenis van die Ou Testament se uitleg kan ons dalk daardie spore ontdek wat ons weer met nuwe oë na die kerk van alle eeue sal laat kyk. En in die eindelose proses van detail-eksegese kan ons dalk net hegter aan gister en eergister se eksegete gebind word.

 

Bibliografie

  • ·    Augustinus, Enarrationes in Psalmos 1-59.
  • ·    Collingwood, R G 1994. The Idea of History. Oxford: University Press.
  • ·         Dassmann, E 1999. Kirchengeschichte, vol II/2. Stuttgart: Verlag W Kohlhammer.
  • De Knijff, H W 1980. Sleutel en slot. Kampen: Kok.
  • De Lubac, H 1998. Medieval exegesis, vol 1. Grand Rapids: William B Eerdmans.
  • Drobner, H R 1994. Lehrbuch der Patrologie. Freiburg: Herder.
  • Ebeling, G 1975. Studium der Theologie. Eine enzyklopädische Orientierung. Tübingen.
  • Fishbane, M 1996. Inner-Biblical Exegesis, in Sæbø, M(ed), Hebrew Bible/Old Testament. The History of its Beginnings, vol 1/1, 33-48. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht.
  • Gadamer, H-G 1957. Was ist Wahrheit, in Gesammelte Werke, vol 2, 44-56. Tübingen: J.C.B. Mohr.
  • Gadamer, H-G 1970. Sprache und Hermeneutik, in Gesammelte Werke, vol 2, 184–198. Tübingen: J.C.B. Mohr.
  • Gadamer, H-G 1976. Philosophical hermeneutics. Berkeley: University of California Press.
  • Gadamer, H-G 1985. Grenzen der Sprache, in Gesammelte Werke, vol 8, 350–361. Tübingen: J.C.B. Mohr.
  • Gadamer, H-G 1990. Wahrheit und Methode. Tübingen: JCB Mohr.
  • Gadamer, H-G 1993. Hermeneutik II. Tübingen: JCB Mohr.
  • Heussi, K 1960. Kompendium der Kirchengeschichte. Tübingen: J C B Mohgr (Paul Siebeck).
  • Hübner , H 1996. New Testament interpretation of the Old Testament, in Sæbø,M (ed), Hebrew Bible/Old Testament. The History of its Beginnings, vol 1/1, 332-372. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht.
  • Körtner, H J 2006. Einführung in die theologische Hermeneutik, Darmstadt 2006, 11-15.
  • Kraus, H–J 1969. Geschichte der historisch–kritischen Erforschung des Alten Testaments. Neukirchen: Neukirchener Verlag.
  • Le Roux, J H 1993. A story of two ways. Pretoria: Verba Vitae.
  • Le Roux, J H 2004. Augustine, Gadamer and the Psalms, in Human, D J & Vos, C J A (eds), Psalms and Liturgy, 123-130. New York: T&T Clark.
  • Markschies, C 2006. Das Antike Christentum. München: C H Beck.
  • Oftestad, T 2008. Further developments of reformation hermeneutics, in Sæbø,M(ed), Hebrew Bible/Old Testament. The History of its Beginnings, vol 2, 602-616. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht.
  • Opitz, P 2008. The exegetical and hermeneutical work of John Oecolampaius, Huldrych Zwingli and John Calvin, in Sæbø,Moses (ed), Hebrew Bible/Old Testament. The History of its Beginnings, vol 2, 407-451. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht.
  • Reventlow, H.G. 1997. Epochen der Bibelauslegung. Renaissance, Reformation, Humanismus, vol 3. München: C.H. Beck.
  • Welker, M 2008. Sola Scriptura. Die Autorität der Bibel in pluralistischen Umgebungen, in Hamm, B & Welker, M 2008. Die Reformation. Potentiale der Freiheit. Tübingen: Mohr Siebeck. 91-120.
Share this / Deel hierdie: