Die Ou Testament en vroeë kerk se noue band is ’n historiese gegewe. Dit kon ook nie anders nie want van die begin af was die Ou Testament die boek van die kerk; dit het die vroeë Christene gehelp het om hulself te verstaan en hulle plek in die wêreld van Jode, gnostici en ander te bepaal. ’n Mens sou dit ook sterker kon stel: sonder die Ou Testament of Israel was daar nie ’n kerk nie en sou die dissipels na die paasgebeure nie geweet het wie hulle was nie. Te midde van swaarkry en ellende het die vroeë kerk aan die Ou Testament vasgehou want daardeur het hulle elke dag hulle identiteit ontdek, hulself in die gemeenskap georiënteer, hulle andersheid verwoord, hulle teologie begrond en hulle geloof gevoed.

Hierdie Joodse skakel was egter nie altyd maklik nie. Eerstens, het hulle dwase verset teen Rome tot die Eerste Joodse Oorlog in 66 nC asook die ondergang van Jerusalem (in 70), die vernieting van die Massadarebelle (in 73) en eindelose pyn en ellende gelei. Dit het ook die einde van die Jerusalemse gemeente en die Christene se vlug na Pella beteken. In 135 nC het Bar Kogba weer probeer, maar alle Joodse weerstand is finaal vernietig en Jerusalem is hernoem na Colonia Aelia Capitolina (vgl Flavius Josephus 2,254vv). Dít alles het geweldige konsekwensies vir die kerk asook die verstaan van die Ou Testament gehad.

Tweedens, was die Jode nie altyd maklike geloofsvennote nie. Baie vroeë Christene het hulle nuwe geloof bloot as ’n voortsetting van die oue gesien. Iets nuut het in hulle lewe gebeur en die oue het hulle gehelp om inhoud daaraan te verleen. Die gebruik van ‘Moses en die profete’ in kerk was egter nie altyd maklik nie want die spanning met die Joodse Christene het soms breekpunt bereik. ‘n Knellende probleem was die vraag na die kontinuïteit tussen Judaïsme en Christendom. Hoeveel van die ou geloof kon/moes nog in die nuwe konteks gehandhaaf word. So wou die Nasareërs byvoorbeeld die voorskrifte van Moses navolg en ook nog die Christelike geloof aanhang en deel van die gemeente vorm (Justinus Dial 47.2). Volgens Handelinge 15:6-21 is dié saak op die spits gedryf, het die Paulusparty ‘gewen’ en is die breuk tussen kerk en sinagoge net verder bestendig (Dassmann 2000:63-70). Soos wat die Christendom egter meer uit die heidendom gegroei en minder uit Joodse geledere gekom het, het dié probleem se skerpte getaan.  

Alles was egter nie net sleg nie. Die Jodendom in die eerste eeu voor Christus het ook iets gedoen wat geweldig tot die Ou Testament se voortbestaan en verstaan bygedra het. Een was die vertaling van die Hebreeuse Bybel in Grieks (die Septuagint) en die ander was die aanvaarding van die allegoriese metode. Die eerste was die gevolg van die Joodse verstrooiing of diaspora. Sedert die val van Jerusalem in 586 vC is die mense van Juda oor die wêreld versprei. Talle het in Jerusalem agtergebly, maar daar was ’n groep wat in ballingskap weggeneem is en hulle invloed in Babilonië was baie intenser as wat ons soms dink (Berlejung 2006:149-159). Volgens die Murasu-argief blyk dit dat die ballinge mettertyd finansieel sterk geword het en dat dit ook die rede is waarom nie almal in 538 vC wou teruggaan nie (Stolper 1985:1-100; 1989:283-305). Dan was daar ook ’n groep wat Egipte toe is. Na die val van Jerusalem het die Babiloniërs Gedalja aangestel om die land te regeer, maar hy is gou vermoor en ’n groep het uit vrees vir vergelding Egipte toe gevlug en ’n teensinnige Jeremia saamgeneem (Berlejung 2006:170-171).

Hierdie diaspora-Jode het op ’n besondere wyse tot die Ou Testament se behoud in die laat-Jodendom en die vroeë kerk bygedra. Veral na die wêreldwye oorwinning van Aleksander die Grote en die proses van hellenisering het al hoe minder Jode Hebreeus geken. Grieks het alles geword; die wêreldtaal en die kultuurtaal; almal wou Grieks praat en kinders, ook Joodse kinders, is in Griekse skole geplaas en mettertyd het die Jode heeltemal vergrieks. Baie sleg was hulle verlering van Hebreeus en hulle latere onvermoë om die Hebreeuse Ou Testament te lees en uit te lê. En so het die Griekse vertaling van die Ou Testament of die Septuagint (LXX) stadig maar seker gestalte begin kry en die Hebreeuse Ou Testament verdring. Hieruit het egter ook goeie gevolge gespruit: die Ou-Testamentiese geloof is behou en kon aan die Grieks-Joodse wêreld bemiddel word, dit het die boek geword waaruit die vroeë kerk in die vergrieksde wêreld gepreek het, en dit het ‘n belangrike basisbron vir gesprekke met Grieke geword.  

Hierdie vergrieksde Jode het ook iets anders gedoen wat vir die verstaan van die Ou Testament belangrik was: die oorname van die allegoriese metode. Via die Hellenistiese Jodendom is hierdie Griekse manier van teksuitleg aan die vroeë kerk bemiddel en het dit die interpretasie en verstaan van die Ou Testament eeu lank radikaal gevorm. Dié metode is deur die Grieke gebruik om Homerus lewend, aktueel te hou (Siegert 1996: 130-198). Opsigself het die allegorie dus die moontlikheid ingehou om tydperke, kulture en kontekste te oorbrug. In die Stoa is Homeros eeue na sy tyd so gelees en vergeestelik dat die kloof tussen toe en nou oorbrug is, en is Homeros op dié maner eeue lank lewend gehou en ‘vir-vandag’ relevant gemaak (De Knijff 1980:12-13).

Selfs die ‘kommentaar-genre’ wat in die Christelike teologie so geweldig ontwikkel en uitgebou is, en ‘n onontbeerlike bron vir die teologie geword het, het by die Grieke ontstaan. In 86 vC het Sulla Athene ingeneem en die groot filosofieskole is vernietig. Die enigste manier waarop Plato of Aristoteles se denke voortgeleef het, was deur middel van kommentare. Hulle werk is gelees en vir die nuwe geslag uitgelê; en elke nuwe kommentaar het op die voriges verbeter en só het die denke van Plato en andere voortgeleef. Kortom: ‘Commentary came to be the vehicle, in pagan circles no less than in the catechetical school at Alexandria, of theological reflection and spiritual instruction’ (Procopé 1996:459-460).

Om terug te keer na die allegorie: In Aleksandrië en Pergamum het die Jode hierdie metode oorgeneem en uiters bekwaam en spitsvondig op die Ou Testament en Moses toegepas (vgl Daniélou 1977:383-390). Veral in Aleksandrië het die Jode hard gewerk om die Grieke daarvan te oortuig dat hulle boek met die beste elemente in die Hellenistiese (Griekse) kultuur vergelyk kan word. Filo, ’n hoogsgekultiveerde Aleksandrynse Jood en ’n tydgenoot van Jesus, het sover gegaan om te sê dat die Ou-Testamentiese profete voor die Griekse filosowe geleef het en daarom het laasgenoemde uit die insigte van eersgenoemde geput. En hy het dit reggekry deur die aanwending van die allegorie of die vergeestliking van die Ou Testament. Met dieselfde metode kon hy krapperighede in die teks en historiese onduidelikhede diepsinnig verklaar want wat daar in die teks staan, het eintlik nie daar gestaan nie. Dit het ‘n dieper, geestelike betekenis gehad wat allegories ontsluit moes word (Dassmann 2000:66-67).

Soos ons nog sal sien, kan die waarde van die allegorie vir die vroeë kerk se toe-eiening en verstaan van die Ou Testament nooit oorbeklemtoon word nie. Deur middel van dié metode is die Ou Testament vir die vroeë kerk ‘gered’. So kon die Barnabasbrief, wat tussen die eerste (66-73) en tweede (135) Joodse oorlog ontstaan het, baie duidelik stel dat alle voorskrifte oor offers, feeste, besnyding, voedsel, die tempel, ensovoorts nooit letterlik verstaan moet word nie. Alles moes anders, geestelik, allegories verstaan word (Markschies 2006:94-104).

Origenes van Aleksandrië (waarby ons nog gaan kom) het sy groot werk, ‘De Principiis’, triomfantelik begin. Volgens hom het diegene wat die nuwe lewe in Christus ontdek het ook van sy woorde gelewe (Schütz 1984:62-72). Nie net die woorde wat Jesus self gesê het nie, maar ook dit wat in die Ou Testament oor Hom staan. Voordat Hy mens geword het, het Christus, die Woord van God, al in Moses en die profete gewerk en deur hulle gespreek (Von Harnack 1964:684-697). Omdat Christus as ‘t ware die woorde van die Ou Testament gespreek het, het hulle geweet hoe om van sy koms te vertel. Moses en die profete kon al oor Christus gepraat omdat hulle vol van sy woorde en sy Gees was (Origenes Prefatio,1). En wat het Origenes en die ander lede van die Aleksandrynse skool gehelp om so oor die Ou Testament te praat: die allegoriese metode wat hulle in Aleksandrië by die geestelike nasate van Filo geleer het.

Daar was egter ook ‘n ander kant van die munt. Nie almal was so optimisties oor die Ou Testament nie en veral in die tweede sou ‘n harde stryd nog voorlê. Ons verneem iets hiervan by Eusebius van Caesarea. In sy groot werk oor die kerkgeskiedenis het Eusebius onder andere oor die tweede eeu geskryf. Volgens hom was daar oor die hele wêreld kerke wat soos helder sterre geskitter het. Oral was daar mense wat met vreugde hulle geloof in Jesus bely het. Die Satan was egter altyd teenwoordig. Hy het die kerk en die gelowiges voortdurend aangeval en probeer vernietig. Vroeër het hy die geweld van vervolging gebruik, maar nou (in die tweede eeu) het hy mense binne-in die kerk gebruik. Hulle het groot verwarring onder die gelowiges gesaai en hulle uitmekaar gedryf. En die Ou Testament het weereens in die brandpunt van die stryd gestaan (Frend 1984:194).

Hieroor volgende keer meer.

 

  • Adam, A 1965. Lehrbuch der Dogmengeschichte. Gütersloh: Gerd Mohn.
  • Berlejung, A 2006. Geschichte und Religionsgeschichte des antiken Israel, in Berlejung, A & Schmid, K (reds), Grundinformation Altes Testament. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht 59-192.
  • Daniélou, J 1977. The origins of Latin Christianity. London: Darton, Longman & Todd.
  • Dassmann, E 1999. Kirchengeschichte, vol II/2. Stuttgart: Verlag W Kohlhammer.
  • De Knijff, H W 1980. Sleutel en slot. Kampen: Kok.
  • Drobner, H R 1994. Lehrbuch der Patrologie. Freiburg: Herder.
  • Flavius Josephus, De Bello Judaico.
  • Frend, W H C 1984. The rise of Christianity. London: Darton, Longman & Todd.
  • Koetschau, P 1913. Die Griechischen Christlichen Schriftsteller der ersten drei Jahrhunderte. Berlin.
  • Markschies, C 2006. Das Antike Christentum. München: C H Beck. 
  • Meijering, E P 1985. Die Hellenisierung des Christentums im Urteil Adolf von Harnacks. Amsterdam: North-Holland Publishing Company.
  • Origenes, De Principiis. GCS 22, in Koetschau.
  • Pelikan, J 1971. The emergence of the catholic tradition. Chicago: University of Chicago Press.
  • Pelikan, Jr1971. The emergence of the catholic tradition.  Chicago: The University of Chicago Press.  11-27
  • Procopé, J F 1996. Greek philosophy, hermeneutics and Alexandrian understanding, in Sæbø,M (red), Hebrew Bible/Old Testament. The History of its Beginnings, vol 1/1, 451-477. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht.
  • Seeberg, R 1965. Lehrbuch der Dogmengeschichte. Darmstadt: WBG.
  • Siegert, F 1996. Early Jewish interpretation in a Hellenistic style, in Sæbø,M (red), Hebrew Bible/Old Testament. The History of its Beginnings, vol 1/1, 130-198. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht
  • Stolper, M W 1985. Enterpreneurs and empire. The Murasu archive, the Murasu firm and the Persian rule in Babylonia, UNHAII 54, Leiden.
  • Stolper, M W 1989. The Governer of Babylon and Across-The-River in 486 BC. JNES 48, 283-305.
  • Von Harnack, A 1964. Lehrbuch der Dogmengeschicte. Darmstadt: WBG.
Share this / Deel hierdie: