Marcion was dalk nie iemand met wie ons graag sou wou vriende wees nie. Hy was ‘n moeilikheidmaker en waarskynlik ‘n ongure mens. Iemand wat so oortuig was van sy eie saak dat hy mense oorrompel het en andersdenkendes nie geduld het nie. En tog word hy tot vandag toe onthou as die man wat dit so ampertjies reggekry het om die Ou Testament uit die kerk te ban.

Marcion was geensins dom nie en sy denke oor die Ou Testament was helder en klaar. Daar was logika in wat hy gesê het en sy besware teen die Ou Testament klink ten minste op die oog af so oortuigend dat ons nou nog daarmee moet worstel.

 

Alles het in die tweede eeu gebeur

In die jaar 178 het Celsus sy beroemde boek oor (of liewer: téén) Christene geskryf. In sy skerp aanvalle op die Christendom het Celsus veral na die binnegevegte in die kerk verwys. Hy het tussen die ‘groot kerk’ en ‘n veeltal sektes onderskei. Die sektes was ‘n verskriklike groep. Hulle het mekaar gehaat en die allerverskriklikste dinge van mekaar gesê. Hulle het niks gedoen om mekaar te verstaan of om eenheid te bewerkstellig nie. En van die sektename wat hy noem, was Marcion en sy groep, die Marcioniete (Origenes, Contra Celsum V.62-63).

In die tweede eeu het Marcion die ‘groot kerk’ uitgedaag (Altaner 1951:106-109; Seeberg 1965:312-321). Hy het die fondamente van die kerk geskud, die geloofsgemeenskap met hulle eie teologiese tekortkominge gekonfronteer en die Ou Testament, die bron van hulle geloof, aangetas.

Marcion het van Sinope aan die Swartsee gekom waar sy pa ‘n biskop was en waar hy vir die eerste keer sy standpunt oor die Ou Testament gestel het. Die mense het nie daarvan gehou nie en hy is gou in die pad gesteek. Ten einde raad is hy Klein Asië toe waar hy erkenning en aanvaarding probeer soek het, maar oral verwerp is. Daar is selfs gesê dat hy die vrome Policarpus, biskop van Smirna en ‘n vroeë martelaar, gaan opsoek het, maar dat dié hom as die eersgeborene van die Satan afgemaak het (Hoffmann 1984:37-39).

Uiteindelik is hy in 139 Rome toe waar hy vyf jaar gebly het. Hy het die gemeente oorweldig en hulle ‘n groot klomp geld gegee. Daar in Rome het Marcion in alle waarskynlikheid sy ‘Bybel’ en sy beroemde ‘Teenstellinge’ voltooi. In Rome het sy siening in verband met die radikale skeiding tussen Ou en Nuwe Testament ook tot groter klaarheid geryp.

Hy het hard probeer om die kerkleiers asook die gelowiges van Rome van sy standpunte te oortuig, maar dit het misluk. Hulle het sy sieninge verwerp, al sy skenkings teruggegee en uiteindelik vir die Ou Testament gekies (Bakhuizen van den Brink 1965:97-98). In Julie 144 het hy Rome druipstert verlaat en is waarskynlik in 160 oorlede (Drobner 1994:91-92).

In die geskiedenis van die Ou Testament se bestaan en voortbestaan is Julie 144 een van die baie belangrike datums. Tóé het die kerk van Rome onomwonde vir die Ou Testament gekies en só die Ou Testament se behoud as boek van die kerk verseker.  

 

Wat het die mense dan so kwaad gemaak?

Volgens Tertullianus was Marcion se hooftaak die skeiding van wet en evangelie bestaan: ‘Separatio legis et evangelii proprium et principale opus est Marcionis’ (I.19.4). Vanweë hierdie kontras tussen wet en evangelie is daar ook tussen die God van die wet en die God van die evangelie onderskei (vgl Nowak 2001:228-237).

Teenoor die Ou Testament was hy dus uiters negatief en hy het dit geheel en al verwerp. Belangrik is egter dat Marcion se teologie egter op sowel die Ou as die Nuwe Testament gebou is. En volgens Adolf von Harnack was Marcion ‘the first one in Christianity to find his support in two major collections of books; it is his contention, however, that they do not belong together but that the second refutes the first’ (Von Harnack 1990:65).

 

Sy manier van eksegese doen, het hom gepootjie

Dit was sy manier van eksegese doen wat hom so radikaal gemaak het. Die wyse waarop hy die teks van die Ou Testament benader het, het sy hele verstaan van die Ou Testament bepaal. Om te begin, het hy allegorie of vergeesteliking ten gunste van ‘n historiese of letterlike verklaring verwerp. Dít opsigself was goed, maar soos Amos sou sê, hy het vir ‘n beer weggehardloop en toe hardloop hy hom in ‘n leeu vas. 

Sy ‘historiese verstaan’ was nie soos ons tekste sedert die negentiende eeu lees en begryp nie, maar eerder ‘n bereidheid om die probleme in die Ou Testament (vgl hieronder) in die oë kyk en dit nie deur middel van allegorisering weg te redeneer nie. Allegoriese eksegete het volgens Macrion allerlei verbeeldingryke dinge in die teks ingelees en vir al hierdie tierlantyntjies het hy geen oog gehad nie (Tertullianus III.5.1-6).

Volgens hom moes die teks ten alle koste letterlik of histories gelees word: ‘The text of the Old Testament had to be read in a literal manner: the straightforward and plain meaning of the text had to be sought for with a direct mind’ (Lietzmann 1967:251). Gebeure in die Ou Testament moes dus nie vergeestelik word nie. Dit moes gelees word soos wat dit letterlik (of histories) dáár stáán. Meestal het so ‘n letterlike of historiese lees van die teks tot ‘n afkeur van die Ou Testament gelei, maar volgens Marcion moes ons nie daarvoor terugdeins nie. En veral moes ons dit nooit vergeestelik het nie (Altaner 1951:106-108).

Dit is so belangrik dat ons dit weer wil herhaal. Marcion het ‘n kru vorm van historiese lees gehad. In die tweede eeu kon die kerk nog nie werklik tekste binne historiese kontekste lees nie. Hulle het toe nog nie die wetenskaplike vaardighede of insigte gehad om tekste binne teologies-historiese samehange te verstaan nie. Dít het ons eers in die negentiende eeu baasgeraak. En intussen het die kerk gelees wat daar letterlik staan en Marcion het dit net geradikaliseer. Dié manier van Skrifverklaring het hom toe die totale nutteloosheid van die Ou Testament laat insien en hom die baie skerp teenstelling tussen die wet en die evangelie laat formuleer het (Tertullianus I.19.2-5).

 

Oorweldig deur die liefde van God

Marcion was nie so boosaardig soos wat die vroeë kerk hom gemaak het nie. Hy was ‘n opregte gelowige vir wie die geloof in Christus besondere betekenis gehad het. Hy is deur God se liefde en genade oorweldig (vgl Tertullianus IV.25.8-11;IV.26.7). Vir die evangelie het hy ‘n allesoorheersende liefde gehad en die evangelieboodskap het hom sprakeloos gelaat. Oor die andersheid, grootsheid en onvergelykbaarheid van die evangelie het Marcion elke dag verwonderd gestaan. Volgens hom was die redding van die mens deur die genade so ingrypend, so oorweldigend dat dit nooit in woorde uitgedruk kon word nie (Tertullianus I.19.4). Kortom: Marcion het vir die evangelie (teenoor die wet) gekies omdat hy deur die liefde van God oorrompel is, omdat hy die genade van God intens ervaar het.

Nou verwant aan bogenoemde was die nuutheid van die evangelie (Von Harnack 1990:59). Woorde soos ‘nuut’, ‘nuutheid’ en ‘nuwe’ kom dikwels by Marcion voor. Verwysings word gemaak na die ‘nuwe God’ (Tertullianus I.9.9-10; IV.20.1); die ‘nuwe koninkryk’, die ‘nuwe koninkryk waarvan nog nooit gehoor is nie’ (Tertullianus III.24.3-4); die ‘nuwe leer van die nuwe Christus’ (Tertullianus IV.28.1-4); die ‘nuwe werke van Christus’ (Tertullianus III.3.1-4.); die ‘nuwigheid’ dat alle broeders vergewe word (Tertullianus IV.16.1-17); die ‘nuwe daad’ wat daarin bestaan het dat die sabbat afgeskaf is (Tertullianus IV.12.1-4).

Kortom: iets radikaal nuut het in Christus aangebreek. So rakikaal dat die band met die Ou Testament gesny móés word. So nuut dat geen kontinuïteit met die Ou Testament enigsins meer moontlik was nie: ‘Any continuity or sequence (ordo) was unnecassary, for the coming of Christ had been sudden and immediate. The keynote of the teaching of Christ had been its newness … The ineffable newness of the gospel would be fundamentally compromised if it were represented as having already been present in the Jewish Scriptures’ (Pelikan 1971:78).

Hierdie gedagte kan nie genoeg beklemtoon word nie. Marcion se uiteindelike verwerping van die Ou Testament was ook die gevolg van sy ervaring van God se genade en die totale nuutheid wat in Christus ‘n werklikheid geword het. Vanweë hierdie nuutheid kon die Ou Testament nou eenmaal net nie meer behou word nie. 

 

Pasop vir die Ou Testament se god

Wanneer die god van die Ou Testament met die goeie God van die Nuwe Testament vergelyk word, blyk sy radikale andersheid. Hy was ‘n god van geregtigheid volgens die wet. Alles moes volgens sy wil geskied het. Soos ‘n tipiese antieke despoot moes sy wette in die Ou Testament streng nagekom word. Hierdie god se ego is deur eerbied en respek gestreel. Volkome onderworpenheid en ‘n slaafse navolging van sy wil was belangrik. Alle ontrouheid en oortredings is swaar gestraf. Die god van die Ou Testament was dus streng en het absolute trou vereis (Von Harnack 1964:299-302).

Hierdie God het ook bepaalde gebreke gehad (Origenes, Contra Celsum VI.53). Jaloesie was een. Hy het geen ander gode en  godsdienste geduld nie en sy navolgers moes Hom alleen dien. Hy was ook nie alwetend nie: hy het nie geweet waar Adam en Eva na die sondeval was nie. Hy was selfsugtig: hy het nie van kompetisie gehou nie en daarom is ander gode nie geduld nie. Sy goedheid was begrensd: hy het net sy eie mense gehelp en dan ook net diegene wat aan sy wette getrou was. Hy was swak en inkompetent: hy kon nie ‘n beter mensetipe gemaak of die bose uit hierdie lewe weggeruim het nie (vgl Tertullianus II.16.5-6). Hy was naywerig: hy het die eerste mense van die boom van die lewe af weggehou en sommige van sy aanbidders bo ander voorgetrek (Von Harnack 1990:69-71). Kortom: ‘Thus: the God of the Old Testament was righteous and even holy but compared to the God of the gospel inferior, second-rate and mediocre (Von Harnack 1990:69).

Mense het ook die skeppergod se ‘boosheid’ en andersheid in hulle daaglikse lewe ervaar (Nowak 2001:228-232). Hy het hulle geboelie terwyl hulle weerloos teen hom was. Hy het hulle geïntimideer en sy eie mense geterroriseer. Volgens Marcion kon ‘n mens dit ook daarin sien dat hy die mens doelbewus so swak, broos en verganklik gemaak dat hy nie die versoeking in die tuin kon weerstaan het nie; dat hy toegelaat het dat die mens uiteindelik alles verloor het; dat hy die mens weerloos aan siektes uitgelewer het; dat hy sonde, die dood en die bose in hierdie wêreld geduld het; dat hy talle rampe en ellendes oor goeie mense laat kom het; dat hy graag gestraf het; dat sy ongenaakbaarheid, wreedheid, oorlogswoede en bloeddorstigheid uit talle voorbeelde geblyk het; dat hy kinders vir die misdade van hulle ouers gestraf het; dat hy toegelaat het dat skuldiges ongestraf bly terwyl goeie mense moes ly (Von Harnack 1990:69) .

Kortom: die god van die Ou Testament was ‘n onderdrukker, ‘n intimideerder en ‘n folteraar. In die hele proses het die mens ‘n patetiese figuur geword. Hy het hulpeloos-klein voor die aanslae van die lewe gestaan. Die feit dat daar ooit ‘n mens ontstaan of geword het, was ‘n fout. ‘n Enorme fout waarvoor die skeppergod alleen verantwoordelik was. Deur sy toedoen het die daaglikse bestaan van die mens ‘n enorme tragedie geword (Von Harnack 1990:73).

 

‘n Kort nawoord

Marcion was nie heeltemal die teologiese booswig wat ons van hom gemaak het nie. Hy is wel deur die kerk in die tweede eeu verwerp en dit was inderdaad baie belangrik vir die Ou Testament se voortbestaan, maar daar is tog iets in Marcion wat ons nou nog aanspreek. Iets wat hy baie hard gestel het, maar wat ons nou nog moet besighou. En dit is plek van die Ou Testament in die lig van die Nuwe Testament se boodskap. Hierop is nog nooit afdoende geantwoord nie en dit sal altyd ‘n teologiese tameletjie bly, maar wanneer ons by die negentiende en twintigstigte eeue kom, sal  Marcion se problematiek op sy kop gekeer word. Dan sal ons sien dat die Ou Testament op sy eie kan staan en in sy eie unieke en partikuliere konteks verstaan kan word.

 

 

Adam, A 1965. Lehrbuch der Dogmengeschichte. Gütersloh: Gerd Mohn.

Aland, B 1992. Marcion. TRE 22, 89-101.

Altaner, B 1951. Patrologie. Freiburg: Verlag Herder.

Bakhuizen van den Brink, J N 1965. Handboek der kerkgeschiedenis. Den Haag: Bert Bakker.

Borret, M 1976. Contra Celsum. Paris: Les Éditions du Cerf. (Sources Chrétiennes)

Braun, R 1990. Tertullien. Contre Marcion, I. Paris: Les Éditions du Cerf. (Sources Chrétiennes)

Braun, R 1991. Tertullien. Contre Marcion, II. Paris: Les Éditions du Cerf. (Sources Chrétiennes)

Braun, R 1994. Tertullien. Contre Marcion, III. Paris: Les Éditions du Cerf. (Sources Chrétiennes)

Braun, R 2001. Tertullien. Contre Marcion, IV. Paris: Les Éditions du Cerf. (Sources Chrétiennes)

Clabeaux, J J 1989. A lost edition of the letters of Paul. Washington: The Catholic Biblical Association of America.

Daniélou, J 1977. The origins of Latin Christianity. London: Darton, Longman & Todd.

Drobner, H R 1994. Lehrbuch der Patrologie. Freiburg: Herder.

Frend, W H C 1984. The rise of Christianity. London: Darton, Longman & Todd.

Gangolf, G 2001. Harnack, Rade und Troeltsch, in Nowak & Oexle 2001, 85-102.

Graf Reventlow, H & Farmer, W (reds) 1995. Biblical studies and the shifting of paradigms.Sheffield: Academic Press.

Graf Reventlow, H 1995. The role of the Old Testament in the German liberal Protestant theology of the nineteenth century, in Graf Reventlow & Farmer (reds), 132-148.

Gunkel, H 1926/1927. The ‘Historical Movement’ in the study of religion. ExpTimes 38, 532-536.

Hayes, J H & Prussner, F C 1985. Old Testament theology. London: SCM.

Hoffmann, R J 1982. Marcion: on the restitution of Christianity. California: Scholars Press.

Koetschau, P 1913. Die Griechischen Christlichen Schriftsteller der ersten drei Jahrhunderte. Berlin.

Le Roux, J H 1997. Our historical heritage. OTE 10/3, 401-423.

Markschies, C 2001. Adolf von Harnack als Neutestamentler, in Nowak & Oexle 2001, 365-395.

Meijering, E P 1985. Die Hellenisierung des Christentums im Urteil Adolf von Harnacks. Amsterdam: North-Holland Publishing Company.

Meijering, E P 1986. F C Baur als Patristiker. Amsterdam: J C Gieben.

Merk, O 1984. Gabler, Johann Philipp (1753-1826). TRE 12, 1-3.

Nowak, K 2001.Theologie, Philologie und Geschichte, in Nowak & Oexle 2001, 189-237

Origenes, Contra Celsum. SC 227, in Borret.

Origenes, De Principiis. GCS 22, in Koetschau.

Pelikan, J 1971. The emergence of the catholic tradition. Chicago: University of Chicago Press.

Rendtorff, T 2001. Adolf von Harnack und die Theologie, in Nowak & Oexle 2001, 397-417.

Ruddies, H 2001. Evagelium und Kultur, in Nowak & Oexle 2001, 103-126.

Rumscheidt, M 1989. Adolf von Harnack. Liberal theology at its height. Glasgow: Collins Publishers.

Schütz, W 1984. Der Christliche Gottesdienst bei Origenes. Stuttgart: Calwer Verlag.

Seeberg, R 1965. Lehrbuch der Dogmengeschichte. Darmstadt: WBG.

Tertullianus, Adversus Marcionem, I. SC 365, in Braun 1990.

Tertullianus, Adversus Marcionem, II. SC 368, in Braun 1991.

Tertullianus, Adversus Marcionem, III. SC 399, in Braun 1994.

Tertullianus, Adversus Marcionem, IV. SC 456, in Braun 2001.

Von Harnack, A 1964. Lehrbuch der Dogmengeschicte. Darmstadt: WBG.

Von Harnack, A 1990. Marcion. The Gospel of the alien God. Durham: The Labyrinth Press.

Zenger, E (red) 1998. Einleitung in das Alte Testament. Stuttgart: W. Kohlhammer.

Zenger, E 1998. Heilige Schrift der Juden und der Christen, in Zenger (red) 1998, 12-35.

Share this / Deel hierdie: