Inleiding

Mite ontlok verskillende reaksies by verskillende mense. Daar is diegene wat heeltemal negatief reageer: mites is vergesogte en nikssegende wolhaarstories. Mite is sinoniem met leuen. Ander is meer verdraagsaam en beskou mites as ‘n ietwat kinderlike verstaan van die werklikheid. Antieke samelewings het mites vertel om natuurlike verskynsels te beskryf wat hulle nie verstaan het nie – mites is dus primitiewe wetenskap, as jy wil. Dan kan ‘n mens ook mites vanuit ‘n wetenskaplike hoek beskou – sosiologies, psigologies, antropologies, teologies, literêr ensovoorts. Só ‘n wetenskaplike benadering bekyk die mite as verskynsel, en bepaal die aard en funksie daarvan binne ‘n spesifieke vakgebied.

 

Mite deur die eeue

Die woord mite is afkomstig van die Griekse mythos, en verwys bloot na ‘n verhaal wat hardop voorgedra word. Dit kan binne enige konteks wees, ‘n openbare diskoers, gesprek, spreuk, verhaal, selfs die plot van ‘n drama. Later sou die Sofiste ‘n skerper onderskeid tref tussen mythos en logos, laasgenoemde dra die betekenis van ‘feitelik’, ‘histories’, en eersgenoemde die teenoorgestelde – ‘onhistories’ en ‘onwerklik’. Teen Plato se tyd val mites ongetwyfeld in die kategorie van ‘godekaperjolle’ en hyself verwys daarna as ‘poëtiese metafoor’.

          Die skrywers van die Nuwe Testament was ook nie juis positief teenoor mites nie. Mites het gehoort by die heidenvolke soos die Grieke en die Romeine, alles is blote verdigsels en versinsels (vgl bv 1Tim1:4; 1Tim 4:7; 2Tim 2:4). Vroeë Christen apologete het Jesus se goddelikheid met ‘n amper omgekeerde soort logika probeer verdedig: juis omdat Hy on-legendaries, on-mitologies en 100% histories was, moes Hy goddelik wees! So het die Christendom in die Weste die oorhand gekry, en word mites vandag steeds grotendeels gelyk gestel aan bygeloof en valshede.

          Tydens die Renaissance wel ‘n brandende belangstelling op in die antieke en klassieke kulture, veral in die Griekse en Romeinse wêreld. Baie skilders en beeldhouers gebruik dan ook mitologiese figure prominent in hul kuns. Die moderne studie oor mites kom egter op dreef tydens die Aufklärung. Met die opkoms van die kritiese filosofie waar die menslike rede voorop staan, ontwikkel ook die konsep dat godsdiens  evolusionêr ontwikkel: dit begin by ‘n primitiewe bygeloof, gaan oor na ‘n geloof in ‘n ‘geopenbaarde’ godsdiens en eindig uiteindelik in rasionele denke. Selfs die Kerk wat nie met die kritiese filosofie van die Aufklärung kon saamstem nie, het wel aanvaar dat die Christendom, as geopenbaarde godsdiens verder gevorderd was en verby die vlak van mites beweeg het. Mites is dus primitiewe bygeloof.

          Maar daar was iemand wat anders gedink het. Die Italiaanse filosoof, Giambattista Vico het gereken dat mites van binne-af, vanuit die mens se diepste wese spruit. Deur hul verbeelding eerder as hul rede te gebruik, het die voegste mense die ware antwoorde op die heel basiese menslike dilemmas gegee. Al was dit nie-redelik en pre-wetenskaplik, kan ‘n mens nie sommer sê mites is onwaar nie. Inteendeel! Hierdie siening van Vico het die Romantici van die volgende eeu sterk beïnvloed en hulle koppel mites aan die spirituele dimensie van menwees. ‘n Mens moenie probeer om ‘n mite tot logika of geskiedenis te reduseer nie, net soos musiek of kuns ‘n eie genre het, so het mites ook en as dit in rasionele terme omgeskakel word, gaan iets kosbaars verlore.

 

Mite en religie vandag

Tans bestaan daar geen duidelikheid oor mites nie. Soos ek reeds genoem het,  mites word binne onderskeie wetenskaplike studieterreine ondersoek, elk met ‘n eie invalshoek. Die oorheersende konsep is egter steeds dat mites leuens is. Heftige emosies word veral opgeroep as die term mite op die Bybel betrek word. Mite kom teenoor waarheid te staan, en as jy iets in die Bybel ‘n mite noem, tas jy die gesag van die Skrif aan.

          In sy hoofstuk met die titel, Die mens, en veral die skrywer, op soek na die lewende mite maak Etienne Leroux (1980) ‘n paar belangrike opmerkings. ‘Mite is nie sinoniem met onwaarheid nie;’ skryf hy op bladsy 11, ‘andersom, ‘n lewende mite kan ook ‘n lewende waarheid wees.’ Die Nederlandse dagblad Trouw het gedurende die afgelope week ‘n kort artikel oor Ernst Cassirer geplaas waarin hy min of meer hiermee saamstem. Ons hele bestaan is deurdrenk van mites, sonder dat ons dit besef – in die kombuis, op die sportveld, op bykans elke lewensterrein.

          Mites het ‘n ongelooflike krag – aldus Leroux en Cassirer.        

          Ons lewe in ‘n wêreld waar ons graag alles wil ontmasker vir wat dit is. Ons wil graag die waarheid in pag hê. En ons kan. Niks is daar wat vir ons verborge hoef te wees nie. Maar wat gebeur wanneer die mens sy mites vernietig? Vir Leroux (:18), as ‘n mens se simbole en mites dood is, lei dit ‘tot allerhande neuroses en selfs psigoses … en totale ontwrigting, selfs demoniese besetenheid deur ismes aan die kant van die gemeenskap’.                  

          Is dit nie die gevaar wat ons loop as ons die mites uit ons godsdiens wil haal nie? As ons religie met dogma en ismes wil omhels? As ons met groot sekerheid kan weet wat die waarheid is, veral die waarheid oor God? Godsdiens, religie is immers deurdrenk van mites, nie mites in die sin van valshede of versinsels nie, maar mites as ‘n manier om ‘n werklikheid te beleef wat veel groter as onsself is. Leroux (:23) stel dit baie sterk: deur mites dring die mens deur tot die bron, ervaar die mens die goddelike in sy absolute nabyheid. Maar jy kan nooit ‘n houvas daarop kry nie, die werklike nukleus van die mite, die simbole is vir ewig vir ons verborge. Juis die verborgenheid van simbole hou die mite lewend.

          As ons die mite uit ons godsdiens ban, as ons God met ons sekerhede kan verstaan, is die simbool nie meer verborge nie, en het religie gesterf. Dan lewe ons inderdaad in ‘n godsdiens-besete wêreld…     

 

Bronne:

  • Batto, BF 1992. Mythmaking in the Biblical tradition: Slaying the dragon. Louisville, KY: Westminster/John Knox.
  • Groenewald, A 2006. Mythology, poetry and theology in HTS 62(3), 909 – 924.
  • Jordaan, AM 2004. Mites rondom Afrikaans. Ongepubliseerde proefskrif: Universiteit van Pretoria.
  • Leroux, E 1980. Tussengebied. Johannesburg: Perskor.
  • Trouw/Meer: met-mythes-leven-we-ook-als-we-dat-niet-beseffen
Share this / Deel hierdie: