Tussen kerk en universiteit, geloof en rede, praktyk en teorie sal daar altyd spanning bestaan. En dit is ook goed so. Dié spanning is geen nuwe ding of tipies van ons tyd nie: dit kom van ver af; van die opkoms van die universiteitswese in die Middeleeue en die klooster se kritiese reaksie daarop.

Aan die begin van die twaalfde eeu was die kerk in Europa stewig gevestig en het daar ‘n groter dors na kennis en geleerdheid ontstaan. Aan hierdie begeerte is toe op ‘n besondere manier gestalte gegee. Skole, kerkskole is gestig waar mense hulle ongestoord aan die wetenskap kon gewy het. Die belangrikste was Sint Victor, ‘n Augustynse klooster in Parys en een van dié skool se roemryke ‘professore’, Hugo of Hugo van St Victor, het ‘n heel nuwe siening van die wetenskap gehad. Volgens hom moes die jong priesters hulle volledig aan geleerdheid, ook ‘sekulere geleerdheid’, gewy het. So kon kennis van die natuurwetenskappe hulle byvoorbeeld help om hulle wêreld beter te verstaan en dié insigte kon weer tot ‘n dieper nadenke oor God en ‘n kontemplasie van die werklikheid lei. Volgens Hugo moes die priesters alles bestudeer alhoewel hulle eers later die sin daarvan sou verstaan. Hy was vol lof vir die destydse kurrikulum en vakke, die sogenaamde ‘vrye kunste’ of ‘artes liberales’; die ‘trivium’ (grammatika, retorika en dialektiek) asook die ‘quadtrivium’ (rekenkunde, musiek, geometrie en astronomie). Deur harde studie en die verinnerliking van hierdie vakke kon, so het Hugo geglo, God se beeld in die mens herstel word.

Uit die kerkskool het die universiteit gegroei. In ongeveer 1170 het die Paryse universiteit onstaan en dit het dit het die deeglike wetenskapsbeoefening van St Victor voortgesit. Die ontstaan van die Middeleeuse universiteite was ‘n grootse gebeurtenis in die westers geskiedenis. Dit het die Middeleeuse samelewing radikaal verander. Mense het al hoe meer van ‘n groter wêreld bewus geword, het meer vertroue in hulle eie denkvermoë ontwikkel en het meer krities-wetenskaplik met die Bybel en die wêreld omgegaan.

‘n Groot impuls tot die Middeleeuse wetenskap was die herontdekking en die verinnerliking van Aristoteles se werke. Werke wat eeue lank deur Moslems bewaar, in Latyn vertaal en van kommentaar voorsien is. Behalwe Aristoteles is ook ander Griekse werke soos dié van Ptolemeus, wat baie gewild geword het, intens bestudeer. Aristoteles se heldere verstaan van die wetenskap se taak, sy vertroue in die mens se rede om die wêreld te verstaan en sy reëls vir die wetenskaplike diskoers het geleerdes aan die begin van die dertiende eeu tot groter, dieper wetenskaplike studie aangemoedig. Aristoteles het so in belangrikheid gegroei dat na hom as ‘Die filosoof’ verwys is.

En die wonderlike is dat alles as ‘t ware ware in die skoot en aan die boesem van die kerk gebeur het. Op ‘n heel unieke wyse het die kerk die groot ondersteuner, borg en beskermer van wetenskaplike kennis en intellektuele vorming geword. Deur middel van die kerk is die Middeleeuse mens se intellek geslyp en het die destydse wetenskap ‘n besondere diepte bereik. Deur die kerk se toedoen het universiteite ontstaan en het die wetenskap gedy. Al dié bemoeienis met die wetenskap het die kerk ook verander. Dit het meer wêrelds geword in die sin dat dit uit eeue lange afsondering getree en die sekulêre wetenskap en kennis omhels het; so omhels het dat hierdie kennis die kerk gehelp het om krities oor haarself na te dink.

          En ‘n uitstekende voorbeeld van ‘n teoloog wat ‘n tipiese universiteitsgeleerde was, was Petrus Abelardus (1079-1142) – sy verhouding met Héloise sou hom later beroemd maak, maar ook groot pyn veroorsaak het. Met sy skerp analitiese gees en die insigte van Aristoteles het hy diep oor die teologie nagedink. Hy was ‘n meester in die formulering van kritiese vrae waarvoor daar nie eintlik antwoorde was nie. Hy was so aggressief in die formulering van die vrae en so krities in sy denke dat soms gemeen is dat hy die geloofswaarhede van sy tyd omvergegooi het. In sy boek, ‘Sic et Non’ (‘Ja en Nee’), het hy ‘n hele aantal uitsprake van die vroeë kerkvaders langs mekaar geplaas en gewys hoe dit mekaar weerspreek. Abelardus wou nooit die geloof ondermyn nie, maar het al hoe meer die klem op die pluraliteit, die veelkantigheid van die waarheid geplaas; hy wou die geloof krities bestudeer en wys hoe die rede, die verstand ‘n mens kan help om God en die teologie beter te verstaan. Sy standpunte sou hom egter nog groot probleme besorg. 

Teenoor die universiteitsteologie het dié van die klooster gestaan. In die klooster is ander soort vroomheid aangetref. Nooit kan die waarde van die klooster oorskat word nie want in die donkerste tye van die kerkgeskiedenis het dít die afsondering gebied en die ruimte geskep waar die gees en die intellek ontwikkel kon word; waar belangrike geskrifte oorgeskryf en bestudeer kon word. In die klooster is ‘n baie tipiese spiritualiteit, Skrifbenadering en teologie ontwikkel. Meditasie, kontemplasie, mistieke ervaringe, die vorming van die verstand om geestelike waarhede raak te sien en ‘n ‘n afkeer aan enige intellektuele vorming was so tipies van baie kloosters in die Middeleeue. In die klooster is universiteitskennis nie altyd waardeer nie en is die wetenskap nie altyd omhels nie. En hierdie spanning tussen klooster en universiteit was soms ondraaglik en hiervan was Bernardus van Clairvaux (1090-1153) ‘n goeie voorbeeld.

Bernardus was nie ‘n maklike man nie en boonop was daar iets dubbelkantig aan hom. Aan die eenkant was hy die mistikus, maar ook iemand met ‘n dors na mag. Hy kon wonderlik oor die mistieke band tussen die siel en God praat, maar was ook deel van die twaalfde-eeuse harde staatspolitiek. Verder kon hy ongenaakbaar en onbarmhartig teenoor sy vyande optree en as daar een was wat Bernardus se toorn gevoel het, was dit juis Abelardus. Bernardus kon hom nie verduur nie, het hom verketter en aangekla. En die kern van Bernardus se probleem was juis die spanning tussen klooster en universiteit. Hy was konserwatief en het gemeen dat die kloosterspiritualiteit van meer waarde was as die dinge wat die jong priester op universiteit geleer het; dat die gevoel en wil vir die jong novice in die klooster belangriker was as die universiteit se voortdurende klem op die rede en die vorming daarvan; dat die direkte mistieke ervaring van God vir die jong kloosterling soveel meer as intellektuele vorming aan die universiteit beteken het. Kortom: Bernardus was bekommerd dat die geloof voor die rede sal swig en dat wetenskaplike kennis die geloof sou doodmaak. 

Bernardus se verset sien ‘n mens ook in sy kommentaar op Hooglied. Vir die Middeleeuse mistici was dié boek nogal belangrik en toe Bernardus sy kommentaar geskryf het, was daar reeds ten minste honderd kommentare of fragmente op Hooglied bekend. Sy interpretasie, en dit moet ons hom ter ere gee, was ook ‘n nuwe kyk op die mistiek: nooit het die siel in God ‘opgelos’ nie en is die bruid in Hooglied op die siel (en nie die kerk of Mariavereerders nie) betrek. Volgens sy bruidsmistiek is die liefde tot Christus as ‘n huwelik beskryf; ‘n huweliksverhouding tussen die bruidegom (Christus) en die bruid (die siel). Vir die Bernardus was hierdie mistieke, geestelike, praktiese kloosterteologie baie dieper, ryker, voller as die universiteit en die wetenskap. En toe hy op ‘n keer van universiteitskant krities gekonfronteer is, was sy antwoord gewoon dat hy Hooglied geestelik-en-affektiief (of gevoelsmatig) uitgelê het en klaar!

Spanning tussen geloof en rede, praktyk en kritiese wetenskap is as ‘t ware in enige teologie of universiteitsteologie ingebou. Dít gaan nooit opgelos word nie en dit moet ook nie. Daar moet altyd gesprek en besinning hieroor wees en nooit moet kerk en teologie hulle eie paaie loop nie. Hulle is aanmekaar verbonde. En hoe ‘n mens nou ook al die spanning in die Middeleeue verstaan, die kerk se byna onverbreeklike band met wetenskap, kennis, geleerdheid is eintlik wondermooi en van die wonderlikste teologie het juis in hierdie wetenskaplike dampkring ontstaan. In die elfde eeu het Anselmus 1033-1109), die aartsbiskop van Kantelberg, aangrypend op die noue band tussen geloof en rede gewys. Geloof roep om die rede; roep om  verduideliking, wetenskaplike verstaan. En wanneer die geloof redelik verstaan word, is daar intense blydskap. Dit is waarom Anselmus gesê dat wanneer ons geen poging aanwend om te verstaan wat ons glo nie, is dit growwe nalatigheid.

          En dít moet altyd kerk en fakulteit se ideaal wees.

Share this / Deel hierdie: