Tim Attwell, 2015. Rediscovering God. Making sense in a broken world. Betty’s Bay: Cingela.

(Ook beskikbaar in Kindle-formaat.)

‘n Verrassende fonds – die laaste kopie wat langs die kasregister lê in ‘n tweedehandse boekwinkel tussen Kleinmond se hawe-winkels; uitgegee deur ‘n mikro-uitgewery; geskryf deur ‘n naam wat ‘n klokkie oor amper twee dekades heen lui. Tim Attwell, Metodiste-predikant wat ek in Johannesburg leer ken het en wie se medemenslikheid my altyd aangestaan het. Daarom koop ek die winkel se laaste Rediscovering God. Ek beveel dit egter aan vir ‘n heeltemal ander rede: hier vind ‘n mens deurleefde geloof. Êrens, ver-weg, gebaseer op veral die Britse en Duitse denke die afgelope eeue oor of God bestaan al dan nie, is Attwell se geloof kinderlik in dié opsig dat dit nie deur rasionele argumente oorwoeker word nie, maar steeds ook nie daarby verbygaan nie. Eweneens die natuurwetenskaplike verklarings van die lewe. Hier is geen stryd rondom God versus natuur nie. Beide ís maar net, en kan gewoon aanvaar word.  En dáár begin alles… Geloof is “a fundamental disposition of confidence, hope, love, freedom to enquire and by which to engage creatively with life”.  Vanuit hierdie ongewroegde, gewoon deurleefde egtheid kan ander, meer menslik-fundantele kwessies rondom geloof-en-lewe met soveel meer insig benader word.

Dele van die boek het as SAfm radio-uitsendings ontstaan. Bepeinsings is dalk die regte manier op hierdie 29 kort oordenkings en nabetragtings, na aan ‘n BBC tipe radio-styl, te beskryf.  Daar is dikwels iets meesleurends aan hierdie aanpak, waarin die inhoud deur die verteltrant lewend gemaak word. Staaltjies illustreer ‘n waarheid; nie ‘n swaar waarheid wat ewig op ‘n mens rus nie, maar ‘n momentele insig: iets waarmee jou gemoed vir ‘n wyle kan meegaan. Daar is teologie; daar is Bybelverse; daar is lewensinsigte; daar is staaltjies.  Wysheid, dié – volks, maar geraffineerd-deurdag, soos wat insigte dalk in die Bybelse Spreuke- en Jakobus-boeke tot stand gekom het. Nie wysgeite, soos wat ‘n televisie-aanbieder dit in ‘n oomblik sou opmaak nie, maar raakvat wat grondvat.  Eenvoudig. Tog, diep. Lig. Tog, nie liggewig nie. Sinvolle sinsoeke, om intellektueel tot in jou binnegoed toe te geniet, soos ‘n sluk goeie wyn wat jou vir ‘n paar oomblikke die wêreld anders laat ervaar.

“I’ll have to order more”, sê die kassier na ons ‘n paar woorde gewissel het oor dié boekie.  Ek verstaan hoekom.

Bibliografie

Attwell, T 2015. Rediscovering God. Making sense in a broken world. Betty’s Bay: Cingela.