Dít is die verhouding tusen Ou Testament en Nuwe Testament. Ons kan hierdie verhouding maar net nie reg verwoord nie. Iets ontglip ons telkens. Van die kerk se begin was die Ou Testament belangrik. Dit het die vroeë Christene gehelp om die Jesusgebeure te begryp, hulleself te verstaan, hulle geloof te versterk, hulle andersheid te verwoord, hulle teologie te begrond, hulle teenoor die Jode en die gnostici te oriënteer en hulle plek binne die wêreld te bepaal. Daar is egter nooit presies gesê hoe die verhouding tussen Ou en Nuwe Testament verstaan en verklaar moet word nie. Oor die eeue is met uitdrukkinge soos ‘wet en evangelie’, ‘belofte en vervulling’ en ‘voorlopig en finaal’ gewoeker, maar dit was te min, te ontoereikend. Telkens wanneer dié verhouding in sulke woorde of uitdrukkings saamgevat word, word meer verloor as gewen. Die verhouding Ou en Nuwe Testament is net te gekompliseerd om in ’n enkele ‘formule’ vasgevang of verklaar te word. Sulke pogings verskraal eerder die Ou Testament se grootsheid en vroom ‘formules’ misken sy teologiese diepte.

Ons weet daar is ’n verhouding tussen beide testamente want ons ervaar dit elke dag, maar ons kan nie presies sê hoe nie. Ons kan egter veel leer uit die manier waarop ander daaroor geskryf het. Volgens Augustinus moes die probleem ons eerder tot harde eksegetiese studie dryf en om eers God se liefde in die teks te vind. Elke teks wil egter iets sê. En hierdie ‘iets’ is die liefde. Liefde tot God en die naaste. Wie dit nie in die teks vind nie, verstaan dit nie. Wie nie hierdie tweekantige liefde (vir God en mens) in ‘n Skrifgedeelte kan ontdek nie, moet weer van vooraf begin. Hieroor was Augustinus nogal baie beslis: Skrifondersoek sonder liefde is nutteloos. Volgens ’n Engelse vertaling : ‘So anyone who thinks that he has understood the divine scriptures or any part of them, but cannot by his understanding build up this double love of God and neighbour, has not yet succeeded in understanding them’ (De doctr.chr. I,36,40; Green 1995:49). Al is ’n mens se eksegese hoe verkeerd, maar dit is nogtans in die liefde vir God en die medemens gedrenk, is dit beter as ’n kille, liefdelose verklaring van die Skrif (De doctr.chr. I,36,41). Elke teks het daarom slegs een tema: liefde vir God en die naaste. En waneer die eksegeet nie hierdie liefde belig en dit self kan uitleef nie, was alles nutteloos. ’n Blote wetenskaplike uitleg sonder liefde was vir Augustinus onmoontlik (Bonner 1989:548).

Ons kan dit ook aan die hand van sy onderskeiding tussen ‘gebruik’ en ‘geniet’ verduidelik (Van Oort 1995:119-122). Om iets te geniet, is om al ons aandag daarop te fokus en daaraan vas te hou. Om iets te gebruik, is om dit vir die een of ander doel aan te wend. Augustinus pas dit dan op God en die Bybel toe: die enigste ‘objek’ wat ons in die lewe moet geniet en waaraan ons moet vashou, is God; om hierdie genot te kan ervaar, is die Bybel noodsaaklik; dit is die instrument aan die hand waarvan ons God kan geniet; deur die Bybel ‘te gebruik’, word Hy ervaar en word die liefde (vir God en mens) ontdek (De docrina christiana, I,35,36,39,40). En van alles wat ‘n mens in hierdie lewe kan geniet, is die Vader, die Seun en die Heilige Gees die hoogste: ‘These three have the same eternal nature, the same unchangeableness, the same majesty, the same power. In the Father there is unity, in the Son equality, and the Holy Spirit a harmony of unity and equality. And the three are all one because of the Father, all equal because of the Son, and all in harmony because of the Holy Spirit’ (De doctr.chr. I,4,4; Green 1995:17).

Dié siening word verder uitgebrei in Augustinus ‘totus Christus’-gedagte wat ’n interessante blik op die verhouding Ou Testament en Nuwe Testament bied. ‘n Mens sien dit veral in sy gebruik van die ‘totus Christus’ in die verklaring van die psalms. Augustinus se klem op die ‘totus Christus’ , die ‘hele Christus’ is nou nog besonder waardevol. Hiervolgens het die psalms nie net oor Christus gepraat nie, maar ook oor sy hele liggaam (of die kerk). Volgens Augustinus wou Christus nooit sonder die kerk, sonder ons wees nie en daarom het die psalms nie net op Christus betrekking nie, maar ook op al die gelowiges wat daaruit lees; die gelowige se verbondenheid met Christus veroorsaak dat die enkele individu ook in die Christologiese uitleg tot sy reg moet kom. Nog anders gestel: die psalms vertel nie net van Christus nie, maar ook van die kerk, van die individuele gelowige; die liggaam van Christus, die kerk is by hierdie Christus van die psalms inbegrepe en daarom kon die gelowige elke psalm toe-eien (vgl Augustinus, In Johannis, 1,1-5). Soos wat die aardse Jesus deur sy liggaam op die aarde was, so is die verrese Heer deur ons in die wêreld: ‘Wij zijn niet met Christus verenigd “alsof” wij zijn lichaam waren, maar wij behoren werkelijk tot Christus omdat zijn leven het onze geworden is’ (Van Bavel 1970:93).

Help Augustinus ons? Dalk nie, maar dit bied ’n wonderlike perspektief waarmee ons lank oor kan nadink.

 

Bronnelys

  • Ackroyd, P R & Evans, C F 1989. The Cambridge history of the Bible.Cambridge: Cambridge University Press,541-563.
  • Augustinus, A 1956. Enarrationes in psalmos. Corpus Christianorum, Corpus Latina, 38. Turnhout: Typographi Brepols editores pontificii.
  • Augustinus, A 1968. De trinitate. Corpus Christianorum, Corpus Latina, 50-50A. Turnhout: Typographi Brepols editores pontificii.
  • Augustinus, A 1995. De doctrina Christiana, in Green, 1-293.
  • Bonner, G 1989. Augustine as Biblical scholar’, in Ackroyd & Evans (eds), 548.
  • Coxe, A C 1974. Introduction, in Schaff (ed), i-iii.
  • Green, R P H 1995. Augustine – De doctrina Christiana. Oxford: Clarendon Press.
  • Lemaire, A & Saebo, M (eds),Congress Volume. Supplements to Vetus Testamentum, 80; Leiden: Brill.
  • Mühlenberg, E 1998. Augustin.RGG1, 959-967.
  • Pelican, J 1971.The Christian tradition. Chicago: University Press.
  • Reventlow, H G 1994. Epochen der Bibelauslegung. München: C.H. Beck.
  • Rutten, T 2005. Augustinus en de spiritualiteit van de Psalmen, in P van Geest & J van Oort,Augustiniana Neerlandica. Peters: Leuven,113-130.
  • Van  Bavel, T 2005. ‘Wij moeten leren het onuitspreekbare op onuitsprekelijke wijze te zien’, in P van Geest & J van Oort,Augustiniana Neerlandica. Peters: Leuven, 165-185.
  • Van der Meer, F 1957.Augustinus de zielzorger. Utrecht: Het Spectrum.
  • Van Oort, J 1995. Jeruzalem en Babylon.  Zoetermeer: Uitgeverij Boekcentrum.
  • Von Balthasar, H U 1936. Aurelius Augustinus – Über die Psalmen. Leipzig: Jakob Hegner.
  • Wright, D F 1996. Augustine: His exegesis and hermeneutics, in Saebo, M (ed),Hebrew Bible/ Old Testament. The history of interpretation. Göttingen: V&R.

 

Share this / Deel hierdie: