Op 10 September 2015 het Wits die ontdekking van ’Homo naledi’ aangekondig. Klaarblyklik het hierdie familiegroep doelbewus hulle dooies in grafkamers begrawe en daarmee is die idee ondermyn dat dié gedrag slegs by mense gevind kan word. Dié gebeure het Wits weer in die sentrum geplaas, maar vir sommige het dit eerder die spanning tussen geloof en natuurwetenskap beklemtoon. Waar pas ’Homo Naledi’ in die skeppingsverhale of die res van die Ou Testament of die Bybel in? Die antwoord is eenvoudig: Nêrens nie en dit is ook nie nodig dat dit êrens hoef in te pas nie. Teologie (en die Bybelwetenkap) is anders en hierdie andersheid moet ons ook begryp.

Die ontdekking van Homo Naledi het ook weer die ou spanning tussen die natuur- en geesteswetenskappe sedert die negentiende eeu (en ook daarvoor) beklemtoon. Die opkoms van die natuurwetenskappe was nogal traumaties vir die geesteswetenskappe asook die teologie en die geloof. Eeue lank was die Bybel die basis vir nadenke oor die natuur en skielik was dit nie meer nodig nie. Dit was soos ‘n skulp wat oopgegaan en ‘n pragtige blom het verskyn wat nooit weer na die skulp sou terugkeer nie. Die blom, die natuurwetenskappe sou voortaan los van die skulp en op sy eie bestaan.

Dit was ‘n skok waarvan die geesteswetenskappe asook teologie en kerk dalk nog nooit heeltemal herstel het nie. Eers was daar pogings om die nuwe insigte te ondermyn, maar dit was nie suksesvol nie. Oor die algemeen was en is teoloë nie toegerus om met gesag hieroor te praat nie en daarom moet ons ook nie met natuurwetenskaplikes probeer kompeteer nie. Tans word egter baie moeite gedoen om natuurwetenskaplike insigte eerder te omarm en vir die teologie vrugbaar te maak (vgl veral Danie Veldsman se 2014-intreerede – Le Roux 2014).

In die negentiende eeu is ‘n ander weg gevolg deur die beklemtoning van die natuur- en geesteswetenskappe se andersheid. Albei verteenwoordig twee afsonderlike denkhandelinge en wetenskapsvorme. In die negentiende eeu het veral Wilhelm Dilthey deur middel van twee begrippe ‘Erklärung’ of ‘verklaring’ en ‘Verstehen’ of ‘verstaan’ inhoud aan dié verskille probeer gee. Die natuurwetenskappe verklaar die (eksterne) wêreld soos wat ons dit waarneem en word met behulp van onder andere die wiskunde algemene wette geformuleer. In die geesteswetenskappe probeer ons die lewe wat ons leef verstaan; probeer ons die lewe soos ander mense dit in die geskiedenis geleef het, begryp (Sharff 2013:122-142). Uiteraard is die spanning tussen teologie en natuurwetenskappe nie hiermee opgelos nie.

Het ons iets misgekyk

Die vraag is natuurlik of teologie en kerk nie dikwels iets misgekyk het nie. Iemand het mooi gepraat van ‘die poëtiese struktuur van ons wêreld en die heelal’ (Hallyn 1993) en dít het kerk en teologie nie altyd raakgesien nie. En soos hieronder sal blyk, het natuurwetenskaplikes intensief waargeneem, verklaar en in kreatiewe oomblikke iets van hierdie poëtiese struktuur gesien en beskryf. En die digterlike element in die skepping het veral in die simmetrie wat alles bymekaarhou, gelê: ‘ … beauty does not consist in the elements, but in the symmetry of the parts’ (Hallyn 1993:97). Opvallend van die vroeëre natuurwetenskaplikes was die konteks waarbinne hulle geleef en gewerk het. Dit was asof hulle kreatiewe leefwêreld hulle gehelp het om nuut te dink en die aarde en heelal se skoonheid nuut te verstaan.

Die Renaissance is byvoorbeeld gekenmerk deur die klem op die individu, sy vermoëns en sy vryheid. Elkeen kon onbelemmerd studeer en veral die natuurwetenskap het hom al hoe meer aan die kerk ontworstel. Iemand soos Leonardo da Vinci (1452-1519) het hierdie Renaissance-gees mooi verspersoonlik. Volgens hom kon die mens sonder kerk en Bybel die natuur bestudeer, empiriese waarnemings maak, eksperimenteer en uiteindelik met behulp van die wiskunde geldige natuurwetenskaplike uitsprake maak.

Nicolaus Kopernikus (1473-43) het ook hierdie rustelose drang na studie en ondersoek gehad en hy sou letterlik die wêreld omkeer. Hy het ook gemeen dat deur harde werk, noukeurige waarnemings en fyn wiskundige analises die mens inderdaad die diepste geheimenisse van die natuur kan ken en beskryf. En vir Kopernikus was die hemelligame sy invalshoek. Hoe kon ‘n mens die skynbaar onlogiese bewegings van hemelliggame verstaan? Volgens die wetenskap en Ptolemeïse wêreldbeeld van sy tyd was alles baie eenvoudig: die aarde was plat en die son en die ander hemelliggame het om die aarde gedraai. Dit was eintlik so ‘n wonderlike teorie wat soveel gemoedsrus verskaf het: die aarde, die mens het die middelpunt van God se heelal gevorm en alles (son, maan, sterre) het om die mens en sy wêreld gedraai. En natuurlik het die kerk dit ondersteun.

Dié siening het Kopernikus egter onrustig gemaak. Dit kon sy probleme nie oplos nie, sy vrae oor die son nie beantwoord nie en hy het daarom aangehou om na te vors en dieper te delf. Uiteindelik het hy die son anders verstaan en dít het ‘n omwenteling veroorsaak. Dit is nie die son wat om ons draai nie, maar ons om die son; die aarde staan nie vas nie, maar dit draai op sy eie as om die son; die aarde beweeg en skep valslik die indruk asof ons stilstaan en dit slegs die son en maan is wat beweeg.

Die idee van ‘n bewegende aarde het gemoedere omgekrap. ‘n Mens kan dit verstaan. Ons sou ook so gevoel het. Trouens, Kopernikus het ook hierdie spanning aangevoel en daarom wou hy nooit sy groot werk, De Revolutionibus, publiseer nie. Eers aan die einde van sy lewe het hy ‘n vriend toegelaat om die manuskrip van Pole na ‘n Duitse uitgewer te neem. In die voorwoord dra hy die boek aan die pous op en sê dat hy maar altyd versigtig was om die volle konsekwensies van sy insigte bekend te stel. Op sy sterfbed is daar uiteindelik ‘n uitgawe van sy boek aan hom gegee.

Al hierdie pogings het tot ‘n totaal ander verstaan van ons aarde en sy plek in die heelal gelei, maar kerk en teologie kon dit aanvanklik moeilik verteer

‘n Ongeduld met nuwe denke

Skerp was die Protestantse reaksie. Veral dié van Luther en Calvyn. Vir Luther was Kopernikus bloot ‘n beginner, ‘n amateur wat nie veel geweet het nie en wat tevergeefs probeer het om die ganse natuurwetenskap van sy dag om te keer. Calvyn (van alles mense) was ook vol kritiek en het die onbeweeglikheid van die aarde en sy vaste fondamente beklemtoon. Kopernikus se insigte was maar (volgens Calvyn) gebrekkig en dit sou nooit die Bybelse waarhede oor die onbeweeglike aarde kon vervang nie. So erg was die verset dat Osiander, die uitgewer van De Revolutionibus en ook ‘n Protestant, sonder Kopernikus se medewete iets by die Voorwoord gevoeg het: Kopernikus se sieninge was ‘n blote teorie en nog geen vaste waarheid nie.

Osiander se woorde het die boek se publikasie moontlik gemaak, maar gou is Kopernikus verketter en sy beskouinge verbode verklaar. Arme Giordano Bruno sou in 1600 met sy lewe daarvoor betaal. Hy het Kopernikus se denke uitgebrei, maar toe het die kerk hom aangekla en veroordeel. En die woorde van die regter-kardinaal was nogal tipies van die tyd: ‘Giordano Bruno, ons is lief vir jou en daarom gaan jy môreoggend op die brandstapel sterf. Op dié manier kan ons jou kosbare siel van al die Kopernikaanse onsin red’. Teen die tyd dat Galileo (1564-1642) gewerk en geskryf het, het die kerk ongeduldiger en mense soos Galileo banger geword.

Dit is dan die amper tragiese verhaal van die kerk en die natuurwetenskaplikes. Hulle kon mekaar nie vind nie en die natuurwetenskap het sy eie pad begin loop. Natuurwetenskaplikes het nie meer die kerk en die Bybel vir hulle werk nodig geag nie. Met die opkoms van die wiskunde en baie verfynde wetenskaplike metodes kon wetenskaplikes sonder Bybelse insigte die natuur se geheime ontrafel en beskryf. Vir die kerk was dit dalk ‘n groter slag as wat ons dink want daardeur is sy mag en invloed net nog verder ingekort. Terwyl die kerk begin kwyn het, het die natuurwetenskap ons wêreld triomfantelik begin verower en verander.

Daar is ook ‘n ander verstaan moontlik

Die indrukwekkende opkoms van die natuurwetenskap het nie die einde van die teologie se pad beteken nie. Dit het eintlik die moontlikheid geopen om anders en meer eksistensieel oor die natuur te praat. Dit het die moontlikheid geskep om baie meer noulettend te luister na wat die Ou Testament oor die skepping sê. Sodoende hoef niemand met die natuurwetenskaplikes te stry nie en kan daar eerder op die Ou Testament se eie skeppingsteologie gefokus word. Ter illustrasie verwys ons na Jesaja 40.

In verse 12-26 praat Deutero-Jesaja of die profeet van die ballingskap (waarvan ‘n mens in Jes 40-55 lees) oor die grootsheid van God as skepper. Dié verse word egter aan albei kante deur twee gedeeltes, verse 1-11 en 27-31, omring wat aan die skeppingsverse (vss 12-26) ‘n besondere betekenis gee. Verse 1-11 en 27-31 vertel van God se enorme erbarming en die skeppingsverse (vss 12-26) beklemtoon dat die almagtige Skeppergod sy deernis en sy beloftes in die lewens van die ballinge waar kán maak.

In al die klaagsange oor die val van Jerusalem word die gebrek aan troos spesifiek vermeld. Klaagliedere begin sommer met Jerusalem wat ‘geen trooster onder al haar liefhebbers (het) nie’ (Klg 1:2 – Ou Vertaling). Op ‘n stadium ‘praat’ Jerusalem self ook en sê dat sy ween ‘want ver van my is die trooster wat my (moet) verkwik’ (Klg 1:16 – OV). Jeremia weer het gehoop op die dag dat God Jerusalem ‘se rou in vreugde (sal) verander en (sal) troos’ (Jer 31:13). Deutero-Jesaja begin egter met troos: ‘Troos, troos my volk, sê julle God’ (Jes 40:1 – OV). En ‘troos’ beteken veel meer as net ‘n vae medelye of simpatie van God. Dit beteken eerder dat God nabygekom en hulle getroos het soos wat ‘n pa sy kind troos.

Volgens 26-31 het die ballinge híéroor getwyfel. Volgens hulle het hulle reg by God verbygegaan. God sien hulle nie meer raak nie, Hy gee ook nie meer eintlik vir hulle om nie en so het hulle reg ongemerk by Hom verbygegaan. Die profeet beklemtoon dan dat God inderdaad nuwe krag gee. Met dieselfde krag waarmee Hy die wêreld gemaak het, versterk Hy die vermoeide en gee Hy die moedeloses hoop. Dié wat opsien na Hom gee Hy nuwe krag. Hy help dié wat net nie meer verder kan nie, om aan te hou; Hy maak hulle soos arende wat teen die hoogtes en die winde inbeur.

Hoe sou hulle dit kon glo? Die funksie van 12-26 is dan om te beklemtoon dat die Skeppergod dit kán doen. Moeiteloos het Hy die aarde se waters getem en met die een hand teen die ander die hemelkoepel afgemeet. Al die aarde se grond het Hy netjies met ‘n maatemmer opgevang en toe die gewig neergeskryf. Met ‘n skaal het Hy weer vasgestel hoe swaar elke berg en heuwel was. Soos ‘n ware ambagsman het God alles gemeet, gepas en toe elke deeltjie van die skepping op sy regte plek neergesit. Die almagtige kán dus iets vir mense doen. God kán hulle uit ballingskap uitlei en Hy kán hulle troos. God se troos is eg, is ‘n werklikheid omdat Hy, die Skeppergod dit kán doen.

Verse 12-26 se skeppingsteologie is toe mooi tussen 1-11 en 27-31 ingewig. Vir die ballinge het die skeppingsgedagte veel beteken. Dit het hulle getroos en ook bemoedig. Dit het hulle hoop gegee dat die ballingskap ook tot ‘n einde sal kom en dat ‘n nuwe toekoms op hulle wag.

‘n Slotwoord

Die Ou Testament/Bybel verskaf nie natuurwetenskaplike kennis nie en die teologie se oë en ore is ook nie so geskool om die skepping se misterie te ontsluit nie. Om Dilthey na te volg: die Ou-Testamentiese Wetenskap moet eerder poog om Israel se verstaan van die skepping te begryp. Dit sal nie ‘n verklaring van die skepping wees nie, maar ‘n ander verstaan daarvan. ‘n Soort verstaan wat natuurwetenskaplikes dalk ook miskyk: ‘n begrip van die skepping wat mense onder andere troos en moed vir die lewe gee.

Bronnelys

  • Beuken, W 1986. Jesaja, IIA. Nijkerk: Callenbach.
  • Foucault, M 2002. The archaelogoy of knowledge. London: Routledge.
  • Foucault, M 2009. The order of things. London: Routledge.
  • Gadamer, H-G 1990. Wahrheit und Methode. Tübingen: JCB Mohr.
  • Kraus, H-J 1956. Geschichte der historisch-kritischen Erforschung des Alten Testaments. Neukirchen: Neukirchener.
  • Le Roux, J H 2014. Danie Veldsman se intreerede: http://teo.co.za/danie-veldsman-se-intreerede-jurie-le-roux.
  • Losee, J A historical introduction to the philosophy of science. Oxford: University Press.
  • Oberman, H A 1988. Mens tussen God en duivel. Kampen: J H kok.
  • Reventlow, H G 1997. Epochen der Bibelauslegung, III. München: C. H. Beck’sche Verlagsbuchhandlung.
  • SaebØ, M 2008. From the Renaissance to the Enlightenment, in: SaebØ, M (red), Hebrew Bible/ Old Testament. The history of its interpretation, II. Gottingen: Vandenhoeck & Ruprecht, 21-48.
  • Scharff, R. C., 2013, ‘Becoming a philosopher: What Heidegger learned from Dilthey, 1919–25, British Journal for the History of Philosophy, 21/1, 122-142. To link to this article http://dx.doi.org/10.1080/09608788.2012.689753
  • Tarnas, R 2000. The passion of the western mind. London: Pimlico.

 

Share this / Deel hierdie: