In die deurlees van Willie van der Merwe se intreerede aan die Fakulteit van Teologie en Filosofie van die Vrije Universiteit van Amsterdam, Nederland het die titel van ‘n bekende suid-afrikaanse teoloog se boek oor hermeneutiek spontaan by my opgekom: Neem, lees! So het ek sy intreerede ervaar: Amper eucharisties-kognitief. Kon met gewydheid saamdink. As teks kom dit uitnodigend oor. Uitnodigend  om saam te lees en saam te dink maar ook om saam te voel hoe die verstand die (sin)psalms van die hart besing. Maar besing (lees indrink!) op so wyse dat ons weerloosheid elke oomblik voor oë en hart sal bly. Dat die uiteindelik totaliserende illusie ontmasker kan word van die menslike subjek wat meen om die werklikheid en die geskiedenis met sy / haar instrumentele rede te beheers en te deurgrond. Ook die teenstaan van die sogenaamde immanentisering van die transendente. Na my oordeel is dit die besondere insigtelike bydrae van Willie in sy intreerede. Dit moet gehoor, gesien en gevoel word. Veral juis dit sal na my oordeel in die suid-afrikaanse teologies-kerklike debat gehoor en verstaan moet word. Dat kerk en teologie die totaliserende balk in die eie oog sal raaksien. Die geweld sal raaksien van die wyse waarop hulle dikwels met die (benoeming / formulering) van die werklikheid mee omgaan. Maar terug na Willie se teks.

 

Tekstueel deurkruis hy denk- en gevoelsmatig die (filosofies-teologiese) paaie tussen Athene en Jerusalem wat vergelyk kan word met ‘n “liquid tapestry of breathtaking complexity” (Brümmer). Geen vinnige, haastige en afgehandelde woorde pas meer op hierdie paaie wat op uiteenlopende wyses bedink en bereis is deur soveel deur die eeue heen. Verblindend word die infinitief van menswees onder soekende oë geneem op hierdie paaie. Op ‘n kenotiese wyse word die geskenk van ‘n eskatologie van transendensie gevier as sinbeleweing. Sinbelewing as invulling deur verwagtinge, bedoelinge wat meer bedoel as wat in die bedoelinge waarneembaar is sodat ‘n voortdurende,  verstommende en verrassende surplus van die infinitief van die sin van die Syn self ons aangryp en meevoer. In kort: om die oorweldigende infinitief van menswees sinbelewend in te drink. Om tot by hierdie verwoording deur Willie te kom het ek besonders gevind.

 

Sy teks prut veral aan die filosofies-teologiese denke van Richard Kearney, Jean-Luc Marion, Emmanuel Levinas – en ook aan ‘n gelaagdheid van ander denkers, ook vroeër denkers soos Anselmus by wie hy bewustelik aansluiting vind. Ook hy wil soos Anselmus ondersoekende denke aanwakker om tot beter begrip te kan kom. Nou soek hy na ‘n geloofwaardige interpretasie van die Christelike geloof in ‘n postgesekulariseerde kultuur. Sy eie dialekties-kontekstuele posisie tussen Teologie en Filosofie neem hy in helder daglig in met die selfbeskrywing van ‘n orientasie aan die beoefening van Westerse godsdienfilosofie. Te dig is sy tekstuele tapestrie om aan die geheel aandag te skenk. Te veel om alles te noem wat ek gulsig kon indrink. Daarom slegs enkele opmerkinge.

 

Verbeel ek my of is die na-smaak van die indrink van sy teks die van Eurosentrisme Light. Hierdie vraag moet nie verkeerd gehoor en verstaan word nie. Dit word nie bedoel as goedkoop beskuldiging of ligtelike afwysing nie. Daarvoor het ek te veel respek vir die diepgang en kognitiewe netheid van Willie se weldeurdagte hartsgang. Dit is ook nie ‘n vlak beskuldiging van menslike onsensitiwiteit nie. My vraag kom van elders af. Kom vanaf die aard van die verwoording van “ons” weerloosheid, ons reis, ons (kenotiese) soeke na sinbelewing. Kom ek noem dit die semanties-eksistensiële totaliserende aanspraakmatigheid. Daarmee bedoel ek die wyse waarop die infinitief van menswees beskrywe word en in die beskrywing daarvan, tog maar ‘n sterk universele (namens almal) karakter aanneem – en die laaste plek waar ek dit verwag is aan ‘n Dept van Godsdiensfilosofie aan ‘n Universiteit. Dit is nie dat pluralisme nie erken word nie. Nee, inteendeel. Veel klem word gelê op veelgestaltigheid. My punt is: word dit dan ook die veelgestaltige taal en samespel van die infinitiewe, of moet dit alles deur die tregter wat skynbaar insigtelik sondermeer benoem word as die “outentiekheid van menslike moontlikhede” geartikuleer word. Dan is daar tog ‘n kortsluiting en tekortkoming van die infinitief wees en die saamspe(e)l van infinitiewe. Kan – mag – ‘n leerstoel van Godsdiensfilosofie aan ‘n Universiteit in ‘n geglobaliseerde werklikheidservaring met sy pluralistiese markplein nog hierdie – namens almal – eksistensiële versugting (die infinitief) vaspen? Heel plat anders gesê: Nie ‘n leerstoel verwelkom nie, maar by wyse van spreke eerder ‘n leerbank (selfs riempiesbank) sodat daar genoeg plek sal wees juis vir al die ander (“versugtingstale”) waarvan Willie praat (in verwysing na Levinas). Deel nie ook hierdie besondere verwoording van die infinitief van menswees wat heel glad “outentiekheid” genoem word nie subtiel in ‘n gesofistikeerde hermeneutiek van totaliseringsdenke, en so dus van geweld nie? Ek vra net. En terloop: kan Levinas se gesig van die ander (wat kwantitatief gesproke regtig na my oordeel maar “more of the same” is) my werklik laat met die gelaat van Transendensie wat kwalitatief  my juis sprakeloos laat!  En sommer net nog ‘n laaste vinnige opmerking: Interessant dat wanneer Willie in sy slot paragraaf van “egte transendensie” praat, van die onmoontlike moontlikheid (Kearney) praat, verwys hy na die Christelike belydenis van die opstanding van Christus, sy wederkoms, die opstanding van die vlees en ewige lewe, dan ontbreek enige verwysing na juis dit wat die Christelike boodskap (en dus transendensie) in die grond geplant het, nl die kruis. Teologies kan die een nie sonder die ander nie!

 

Ongeag hierdie paar laaste opmerkinge oor Willie se teks wil ek graag hardop fluister: Neem, lees, dink en drink vanuit ‘n diepsinnige tekstuele fontein!

Share this / Deel hierdie: