[Hierdie is ‘n artikel wat reeds in 2005 op die ou webblad van teo.co.za verskyn het.]

Gedurende Januarie en Februarie vanjaar het die baie bekende Britse regisseur en skrywer, Richard Eyre, ‘n reeks programme oor die Britse teater op een van die BBC-kanale aangebied. Dit was ‘n aangrypende aanbieding en het ‘n mens jaloers op die krag van die Britse teater gemaak. Geslagte se dramaturge het die wêreld vir gewone mense oopgeskryf en hulle probleme lewensgroot op die verhoog gestalte laat kry. Dramas oor brandende sake (soos sinloosheid, politieke mag, sosiale probleme, ens.) is vreesloos aan die orde gestel en selfs onder groot druk opgevoer.

Teater doen iets aan ‘n mens
Opvallend in Eyre se program was die enorme emosies en kragte wat die teater losmaak. Mense word so deur die gebeure op die verhoog ingeslurp dat hulle lewens en standpunte radikaal verander word. Dié invloed op die teaterganger word mooi deur Hans-George Gadamer se siening van die tragedie geïllustreer.

In die ontwikkeling van sy denke oor die tragedie het Gadamer baie nou by Aristoteles aangesluit (Gadamer 1990:133-139). Volgens hom het Aristoteles nie abstrak daaroor gepraat nie, maar verstommend konkreet. Hy wat Aristoteles was, was veral in die effek van die tragedie op die toeskouer geïnteresseerd (vgl Gadamer 1993b:143-155). Anders gestel: Wat het met die toeskouer gebeur terwyl hy/sy daarna gesit en staar het. Deur ‘n proses van herkenning en herbelewenis het die kykers één geword met dít wat hulle gesien het. Meer nog: hulle het hulself in die karakters/ akteurs herken en hulle eie omstandighede in al die gebeure op die verhoog raakgesien. Wat dus met die karakters/akteurs gebeur, het eintlik met hulle, die toeskouers gebeur. In en deur die tragiese figure op die verhoog het elkeen sy/haar eie angste en vrese op ‘n intense manier beleef (vgl Gadamer 1993a:296-304).

Wie na ‘n tragedie gekyk het, het dus nie op ‘n afstand gesit nie, maar is onmiddellik deur die saak gegryp en daardeur oorrompel. Gadamer gebruik twee woorde om hierdie ‘Wirkung’ van die tragedie te beskryf: ‘eleos’ en ‘fobos’. Beide woorde dui nie net op die blote emosies van jammerte en angs nie. Dit vertel eerder hoe die toeskouer deur die gebeure op die verhoog oorrompel en weggevoer is. ‘Eleos’ was ‘n narigheid wat die kyker oorweldig het wanneer menslike ellende in die opvoering uitgebeeld is. Insgelyks was ‘fobos’ die koue rillings langs die ruggraat wanneer iemand in die tragedie onafwendbaar op sy einde afgestuur het. Omdat die toeskouer magteloos moes toekyk, is hy deur ‘n angsgevoel oormeester. Kortom: in die meelewing met en die gegryp wees deur die gebeure het die kyker ‘n ‘ekstasis’ ervaar. En dié ‘ekstasis’ was ‘n soort reiniging waardeur elkeen hom-/haarself weer self gevind het. Deur herkenning en herbelewenis het die teaterganger dus tot innerlike rus gekom. (Gadamer 1990:119-122).

Sonder die teater is die kerk arm
Eyre se program het een saak oor en oor beklemtoon: geen gemeenskap kan sonder die teater nie. Sedert die Grieke het dit ‘n onmisbare deel van menswees en die gemeenskapslewe geword. Dit is in die teater dat ‘n gemeenskap met sy eie swakhede en probleme gekonfronteer word en dit is hierdie konfrontasie wat mense verander en hulle anders na die lewe laat kyk. Dít was ook die rede waarom die teater oorleef het.

Toe Edward Munch oor die gevaar van die kamera en die foto vir sy skilderkuns uitgevra is, was hy geensins benoud nie. Solank die kamera, die film en die foto nie tussen hemel en hel kan reis nie, het dit geen bedreiging gevorm nie. Slegs met die kwas op die palet kan hemel en hel en ‘n hele wêreld tussenin verbeeld word. Geen kamera of rekenaar kan dus ooit sover soos ‘n skilderstuk reis nie. En dít is presies ook waarom die teater oorleef het. Dit neem die kyker na plekke waar ander kunsvorme nie kan nie. Dit neem jou na die verste plekke binne-in jouself en maak nuwe wêrelde oop (vgl Gadamer 1993c:94-142).

En dít is waarom die kerk die teater moet ernstig neem. In die groot dramas van die afgelope eeu is die kerk en sy waardes grondliggend bevraagteken. So het die bekende Britse dramaturg David Hare se 1990-drama, ‘Racing Demon’, die ‘Church of England’ krities ontleed. Hy begin die drama met ‘n aangrypende kort monoloog. Eerwaarde Lionel Espy is op sy knieë in gebed en sy gemoed is vol oor God se afwesigheid in die gemeente. Soveel mense het Hom nodig, maar Hy is net nie daar nie en die eerwaarde se frustrasie ken geen perke nie:

God where are you? I wish you would talk to me. God. It isn’t just me. There’s a general feeling. This is what people are saying in the parish. They want to know where you are. The joke wears thin. You must see that. You never say anything. All right, people expect that, it’s understood. But the people also think, I didn’t realize when he said nothing, he really did mean absolutely nothing at all. You see, I tell you, it is this perpetual absence – yes? – this not being here – it’s that – I mean let’s be honest – it’s just beginning to get some of us down. You know? Is that unreasonable? There are an awful lot of people in a very bad way. And they need something beside silence. God. Do you understand? (Hare 1996:1).

In dié woorde moet die kerk tog sy grootste probleem kan herken en hanteer. Gewone gemeentemense worstel ook met God se afwesigheid en dit was dramaturge soos Hare wat dié mense se gemoed aangrypend verwoord het. En hoe antwoord die kerk hierop? Dit beteken ten minste dat die kerk ook eers deur die teater ingetrek en op lang reise geneem moet word.

Bibliografie
Gadamer, H-G 1990. Wahrheit und Methode . Tübingen: JCB Mohr (Paul Siebeck).
Gadamer, H-G 1993a (1954). Über die Festlichkeit des Theaters, Gesammelte Werke8. Tübingen: JCB Mohr (Paul Siebeck), 296-304.
Gadamer, H-G 1993b (1964/1978). Ästetische und religiöse Erfarung, Gesammelte Werke8.Tübingen: JCB Mohr (Paul Siebeck), 143-155.
Gadamer, H-G 1993c (1974). Die Aktualität des Schönen. Kunst als Spiel, Symbol und Fest. Gesammelte Werk 8. Tübingen: JCB Mohr (Paul Siebeck), 94-142.
Gadamer, H-G, 1976. Seminar: Philosophische Hermeneutik. Frankfurt: Suhrkamp.
Hare, D 1996 (1990). Racing Demon . London: Faber & Faber.

Share this / Deel hierdie: