Spreuke 1:1-3:

… Wat kry die mens vir sy geswoeg, sy geswoeg in hierdie wêreld? Geslagte kom en geslagte gaan…

Jakobus 4:14:

… Julle is maar ‘n damp wat ‘n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn…

***

Sy verskyn net een keer, op bladsy 18, in ‘n uitstekende boek oor die vriendskap wat tussen die rock-ster Franse skrywer-filosowe Camus en Satre eers groei en dan breek (Aronson 2004). Sy maak daar ‘n bulgeveg na, speels, tussen skilders en skrywers van allerlei soorte by ‘n partytjie van kunstiges. Dis 1944; ‘n Parys lente. Maar. 1907 tot 1997.

Sy het die grootste deel van die vorige eeu beleef.  En sy het gelééf. As fotograaf het sy naam gemaak.  Haar gene het gestam uit Zagreb en Cognac; haar spore het gelê in Buenos Aires en Barcelona en Londen. Haar foto’s is uitgestal en bewonder; haar kamera-tegnieke is oorgeneem en verder geneem deur andere. Deur bekendes, soos Picasso. “Haar” Pablo. Al was hy “hare” net vir enkele jare, tussen ander minaresse deur, sodat dit mettertyd haar hart verskeur het. Só, dat Picasso net aan haar kon dink as ‘n vrou in trane. Sy het alleen gaan bly in ‘n huis wat hy haar gegee het, en in die geheim geskilder hoe hy haar geleer het. Sy, wat hom die fynkuns van fotografie wysgemaak het, en wat sy skilderye weer en weer op film vasgelê het, sodat hy beter en beter sy Guernica kon optower.  Daardie magtige skildery, ‘n muur vol protes teen oorlog wat nou nog jou asem wegslaan in die Reina Sofia-museum in Madrid. Sy’s dus dáár, Maar. Binne ín Guernica in. Maar jy sien haar nooit nie. Die verlore muse en tegnikus en lover en mens – alles van haar raak weg. Net weg.

Wie van ons weet van Maar?

‘n Mens vind haar maar per ongeluk, op ‘n bladsy 18, een keer raakgelees. En besef stadig, en altyd steeds deels, hoe haar menswees anoniem iewers jou menswees aangevul het. Subtiel weggekruip agter ‘n meesterkunswerk; die fluistering agter ‘n obskure kamerategniek.

Beroemd en berug in haar eie tyd, maar ook net vir ‘n tyd…

Na haar dood eers word haar jare se skilderkuns in haar geslote huis ontdek: die wêreld sien ‘n nuwe kant van haar, waar sy wou dit versteek. En steeds word haar kuns, haar kamera, haar lewe meestal bekyk deur die Picasso-bril.

Tot dié bril ook sal donker raak.

Dora Maar.

Eintlik: Henriette Theodora Markovitch.

1907 tot 1997.

Maar ampertjies nooit nie.