Onder redaksie van Jurie le Roux en Eckart Otto het daar einde 2007 ’n boek by T&T Clark, New York verskyn: ‘South African perspectives on the Pentateuch between synchrony and diachrony’. Dit bevat lesings wat by ProPent 2005 gelewer is en weerspieël ‘ons’ denke oor sinkronie, diakronie en die Pentateug. Hierdie werk moet ook met ’n ander ‘ProPent-publikasie’ saamgelees word: Eckart Otto en Jurie le Roux, 2005. A Critical Study of the Pentateuch. An encounter between Europe and Africa. Miinster: LIT Verlag.

Tipies van die Suid-Afrikaanse Bybelwetenskap van die afgelope amper veertig jaar is teoretiese besinning. Soms was dit dalk te erg, maar dit was ’n noodsaaklike en selfs logiese stap in ons wetenskaplike nadenke oor Bybelverstaan. Vanweë hierdie voortdurende besinning oor metode asook die baie gepraat en geskryf daaroor het ons tot ’n groter klaarheid oor teks en konteks gegroei. En die woorde ‘sinkronie’ en ‘diakronie’ is die merkers wat die roete op hierdie padkaart aandui.

Gerda de Villiers het in haar hoofstuk die pad wat dié twee terme geloop het, beskryf. Volgens haar het alles by De Saussure, die Russiese Formalisme en veral die vriendskap tussen Roman Jakobson en Claude Levi Strauss begin. Alphonso Groenewald het die aard van die probleem met uitgebreide en waardevolle bronnelyste verder toegelig en Christo Lombaard het gepleit dat ’n diakroniese en sinkroniese lees van ’n teks altyd in gesprek met mekaar moet verkeer. Louis Jonker het weer die waarde van ’n multi-benadering tot die teks beklemtoon en sy hoofstuk, ‘Reading the Pentateuch with both eyes open’, genoem. Sakkie Spangenberg het daarop gewys dat ’n sinkroniese benadering geensins die groot insigte van die Pentateugnavorsing sedert Julius Wellhausen kan bemiddel nie.

In die bydraes van Hans Ulrich Steymans en Piet Venter word ons met die waarde sowel as die beperkthede van ’n diakroniese benadering gekonfronteer. En tog kan dit ook nie ontbeer word nie. Hans Ulrich het vir intertekstualiteit gekies omdat dit beide sinkronie en diakronie verreken, en hy het dit aan die hand van die seënwoorde in Genesis 49 en Deuteronomium 33 geïllustreer. Piet het weer ’n apokaliptiese teks (1 Henog 45:1-57:3) gebruik en aangetoon dat diakronie sy waarde het, maar dat dit as ‘t ware sy plek moet ken. Volgens hom moet ons apokaliptiese tekste as narratiewe materiaal lees en dié benadering hou ook vir die Pentateugnavorsing groot waarde in. Frances Klopper het die sinkronie-diakronie-debat aan die hand van ikonografiese materiaal uit die sewende en sesde eeue vC toegelig. Volgens haar het alle artefakte ook ’n sinkroniese en ’n diakroniese dimensie wat albei ontgin moet word.

Eben Scheffler het weer op die koningskritiek in Deuteronomium 17:14-20 gefokus en op die interafhanklikheid van sinkronie en diakronie gewys. Belangrik is sy punt dat alle historiese ondersoek op uitstekende eksegese gebaseer moet wees. Jaco Gericke het oor die werklikheid buite die Pentateugteks gepraat. Anders gestel: Verwys die Pentateug na werklikhede buite die teks of bestaan en leef die groot historiese gebeure (soos die uittog) slegs binne-in die verhaal-werklikheid?

Daar is ook twee baie belangrike hoofstukke van Eckart Otto. Vir die eerste keer is sy skerp insigte oor die ontstaan, inhoud en teologie van die Pentateug in Engels beskikbaar. Vir Otto is die Pentateugkritiek belangrik want daardeur hoor ons weer die stemme in die Pentateug asook die Ou Testament. In die verstaan van die Pentateug gaan dit nie soseer oor diakronie of sinkronie nie, maar oor die merkers wat die finale redakteurs self binne-in die teks vir ons gelos het. Dít is wat ons moet kan raaksien sodat ons die Pentateugstemme kan raakhoor.

Uit die boek sal dit hopelik blyk dat die spanning van derig of wat jaar gelede toe heftig oor sinkronie en diakronie gedebatteer is, sy skerpte verloor het. Beide staan nie meer so skerp krities teenoor mekaar nie. Beide se waarde en gebreke word op verskillende maniere besef en in die daaglikse wetenskaplike omgang met die Pentateug verreken.

Die inhoudsopgawe (hieronder) gee ’n goeie beeld van die uiteenlopende temas, maar lees ’n mens egter die onderskeie hoofstukke blyk ’n paar tipiese Pro Pent-kenmerke: die Pentateugkritiek van die afgelope twee honderd jaar is onmisbaar; Pentateugteorie is onontbeerlik, maar alles draai om die ‘praktiese’ waarde daarvan; deeglike teksstudie (sinkronies sowel as diakronies) vorm die begin en einde van alle wetenskaplike arbeid in verband met die Pentateug.

  • Jurie le Roux: Setting the Scene – the Battle of the Signs
  • Eckart Otto: A Hidden Truth Behind the Text or the Truth of the Text. At a Turning Point of Biblical Scholarship Two Hundred Years after De Wette’s dissertatio critico exegetica
  • Eckart Otto: Give us Back our Voices! The Pivotal Meaning of Pentateuch Research for a History of Israelite and Jewish Religion and Society
  • Gerda de Villiers: Methodology and Exegesis: the Tools – and What they are Designed for
  • Christo Lombaard: Old Testament Between Diachrony and Synchrony: Two Reasons for Favouring the Former
  • Hans Ulrich Steymans: The Blessings in Genesis 49 and Deuteronomy 33: Awareness of Intertextuality
  • Louis Jonker: Reading the Pentateuch with Both our Eyes open. On Reading Biblical Texts Multidimensionally
  • Alphonso Groenewald: Changing paradigms: Old Testament Scholarship between Synchrony and Diachrony
  • Eben Scheffler: Criticism of Government: Deuteronomy 17:14–20 between (and beyond) Synchrony and Diachrony
  • Izak Spangenberg: Will Synchronic Research into the Pentateuch keep the Scientific Study of the Old Testament alive in the Republic of South Africa?
  • Jaco W Gericke: Synchrony, Diachrony and Reality: The Anti-Realist Ontological Implications of Theological Pluralism in the Pentateuch
  • Frances Klopper: Iconographical Evidence for a Theory on Astral Worship in Seventh and Sixth century Judah
  • Pieter Venter: Synchrony and Diachrony in Apocalyptic Studies
Share this / Deel hierdie: