Human, D (ed.) 2007. Psalms and mythology. New York / London: T&T Clark (LHB/OTS 462).

Gedurende Augustus 2005 (25-26ste) het ‘n seminaar oor die Psalms by die Universiteit van Pretoria plaasgevind. Die tema van die seminaar was die “Psalms en Mitologie”. Die seminaar staan onder leiding van prof Dirk Human en staan bekend as ProPsalm (Projek Psalmstudies). Die doel van hierdie projek is om die studie van die Psalms in die algemeen hier in Suid-Afrika te bevorder, maar ook om die kontak tussen Ou-Testamentici van Suid-Afrika, Afrika en Europa te bevorder. Bekende Ou-Testamentici van beide kontinente het aan hierdie seminaar deelgeneem en hierdie boek is die resultaat van die hierdie byeenkoms.

Die eerste twee bydraes dien as ‘n algemene inleiding met betrekking tot die bespreking van mite en mitologie – in die Hebreeuse Bybel in die algemeen, maar meer spesifiek hoe dit in die Psalter funksioneer. Dit het duidelik geword dat bybelse tekste teen die agtergrond van ‘n mitiese wêreldbeeld ontstaan en geskryf is. Hierdie tekste is geskryf in ‘n taal wat deur dr Flip Schutte as “mite” beskryf word. Hy stel dus voor dat “mite” as ‘n paradigma gesien moet word waarmee antieke tekste gelees kan word (“Myth as paradigm to read a text”). Volgens dr Alphonso Groenewald moet mite gesien word as ‘n belangrike teologiese medium en integrale deel van die bybelse tradisie. Mite is dus een van die antieke genres waarin die bybelse outeurs hulle tekste geskep het. In hulle teologisering oor Jahwe het hulle van die genre van “mite” gebruik gemaak (“From myth to theological language”).

Prof Eckart Otto (“Myth and Hebrew ethics in the Psalms”) argumenteer dat die Hebreeuse monolatrie en monoteїsme van die laat pre- en post-eksiliese tyd ‘n bydrae gelewer het om die konsepte van antieke magiese etiek te ontgroei ten gunste van ‘n geїnternaliseerde waarde-oriëntasie. Alhoewel die Pentateug die hoofbron van studie met die oog op die “Hebreeuse etiek” is, is die Psalms ‘n belangrike bron vir die spesifieke karakter hiervan. Dr Jaco Gericke (“YHWH unlimited: Theo-mythology in the Psalms and realism vs non-realism in philosophy of religion”) beskryf verskillende ontologiese perspektiewe wat in Psalm-navorsing funksioneer en maak van die studiegebied godsdiensfilosofie gebruik as ‘n hulpmiddel.

Volgens prof Phil Botha (“Intertextuality and the interpretation of Psalm 1”) open die diskussies oor Psalm 1 en 2 die weg vir die verstaan van mitologiese motiewe in die Psalter. Hy bespreek verder die betekenis van Tora in Psalm 1, spesifiek met die oog op die struktuur van Psalm 1 self, asook met die oog op ander intertekstuele kontekste binne die Hebreeuse Bybel. Dr Emmanuel Osue (“Theological-mythological viewpoints on divine sonship in Genesis 6 and Psalm 2”) bespreek die teologiese en mitologiese beskouinge rakende die motief van goddelike seunskap soos dit uitgebeeld word in Genesis 6:1-9 en in Psalm 2:1-12. Hy fokus op die ooreenkomste en verskille betreffende hierdie motief in hierdie twee tekste.

Die versameling van Asaf-tekste dien as ‘n belangrike sub-groep met betrekking tot die studie van mitologie in die Psalter. Volgens dr Gerlinde Baumann (“Psalm 74: Myth as the source of hope in the times of devastation”) is mitologie ‘n belangrike strategie in die teks van Psalm 74, waarvolgens die outeur(s) in ‘n tyd van hopeloosheid ‘n boodskap van hoop skryf. Psalm 77 word gewoonlik as ‘n klag van die individu beskryf waarin God se reddende handelinge in ‘n tyd van krisis weer herroep word. Dr Beat Weber (“‘They saw you, the waters – they trembled’ (Psalm 77:17b): the function of mytho-poetic language in the context of Psalm 77”) gee ‘n nuwe perspektief op die inhoud van die teks. Hy fokus op die retoriese funksie van die mities-poëtiese taal wat in hierdie teks voorkom.

Prof Hans-Ulrich Steymans (“Harry Potters’ preservation and Horus’ protective power: the semiotic of the Horus-stelae and the semantic of Psalm 91:13”) fokus op die bydrae van antieke ikonografie, die dekodering van ikonografie asook die dekodering van anktieke tekste. Psalm 93 is een van die bekendste Jahwe-Malak (Jahwe is Koning)-Psalms (Pss 93-100). In hierdie bydrae fokus prof Dirk Human (“Psalm 93: Yahweh robed in majesty and mightier than the great waters”) op die rol van mite, asook hoe die mitologiese beskrywing van Jahwe se koningskap ‘n bydrae lewer tot die teks se teologiese verstaan.

Die beskrywing van twee “Pelgrimsliedere” moet ook in hierdie lig verstaan word. Dr Leonard Maré (“Some remarks on Yahweh’s protection against mythological powers in Psalm 121”) bespreek die funksie van Psalm 121 binne die konteks van die pelgrimsliedere. Dit is ‘n gedig wat vertroue in Jahwe wil bevestig te midde van die vyande, wat deur middel van mitologiese taal voorgestel. Prof Gert Prinsloo (“Historical reality and mythological metaphor in Psalm 124”) fokus ook op die pelgrimsliedere: Psalm 124 is een van slegs drie tekste binne hierdie groep psalms wat van skeppingsterminologie gebruik maak. Die ervaring om van God vervreemd te raak, word deur middel van die water-motief voorgestel.

Die laaste drie bydraes in hierdie boek fokus op die funksionering en toepassing van mitologiese motiewe in die groter korpus van poëtiese tekste binne die Hebreeuse Bybel. Prof Paul Kruger (“Symbolic inversion in death: some examples from the Old Testament and the Ancient Near Eastern world”) fokus op die konsep “lewe na die dood”, asook die groter Ou-Nabye Oosterse konteks hiervan. Volgens dr Marius Nel (“Myth and Daniel 7”) kan die mens per sae gesien word as skepper van mites en mitologie. Deur middel van mites/mitologie probeer die mens sin aan sy/haar bestaan gee in ‘n wêreld waarin hy/sy uitgelewer voel aan magte en kragte waaroor die mens geen beheer het nie. Laastens verduidelik dr Liswanisu Kamuwanga (“Sacral kingship and myth in Africa”) hoe die koning binne die Afrika-konteks soms as ‘n goddelike figuur en as verteenwoordiger van die god(e) gesien word. Hy skets verder ooreenkomste tussen die idee van koningskap in Afrika en in Israel. In sy bespreking gee hy aandag aan die Hebreeuse Psalms, en hulle voorstelling van koningskap.

Die Fakulteit Teologie van die Universiteit Pretoria is trots op die leidinggewende rol wat prof Dirk Human speel met betrekking tot hierdie projek wat ‘n groot bydrae lewer tot die studie van die Psalms hier in Suid-Afrika. Deur middel van hierdie internasionale publikasie, waarvan hy die redakteur is, word die internasionale profiel van die Fakulteit Teologie ook verder versterk en uitgebou.

Share this / Deel hierdie: