Die Agterhuis. Dagboekbriewe 12 Junie 1942 – 1 Augustus 1944

[Uit die oorspronklike Nederlands vertaal en ingelei deur Lina Spies.]

 

“O ja, ek wil nie soos die meeste mense vir niks geleef het nie. Ek wil nuttig wees of vreugde gee vir die mense wat om my leef en my tog nie ken nie, ek wil voortlewe, ook ná my dood!”

So skryf Anne Frank in Die Agterhuis, een van die mees gelese boeke ter wêreld. In hierdie dagboek vertel die tienderjarige Anne die boeiende verhaal van die Duits-Joodse gesin Frank wat tydens die Tweede Wêreldoorlog in Amsterdam vir die Duitse besetters moes wegkruip. Die dagboek doen ook op aangrypende wyse verslag van die gewaarwordinge en gevoelens van ‘n jong meisie in uiters moeilike omstandighede.

Danksy hierdie vertaling van die bekende digteres en literator prof Lina Spies, kan Anne Frank nou ook vir die Afrikaanse leser in hierdie dagboek voortleef. Vir die eerste keer kan die Afrikaanse vertaling van dié beroemdste dagboek uit die Tweede Wêreldoorlog staan langs die tallose vertalings waarin dit verskyn het sedert die eerste publikasie darvan in 1947 in die oorspronklike Nederlands onder die titel Het Achterhuis.

In die “Inleiding” stel Spies dit dat die vertaling van die Anne Frank-dagboek die vervulling is van ‘n lewensideaal (p. 8). Sy maak dit duidelik dat haar ideaal om die dagboek te vertaal, ten nouste saamhang met haar digterskap wat in erns by die dagboek van Anne Frank begin het. Reeds as student het sy die film gesien wat gebaseer was op die boek. Dit, tesame met die verhoor van Adolf Eichmann in Jerusalem in 1961, was die stimulus vir haar eerste gedig “Vir Anne Frank van Het Achterhuis”:

 

Hulle onthou die gaskamers, Auschwitz,

as van lyke, onsigbaar vervoer deur eensame riviere,

die meisie in haar sabbatrok,

wat in die dodeput afstort,

die vrou wat met sekslose sekerheid besef,

uit haar vervloekte bloed sal ‘n kind

die nuwe, vrye wêreld nooit weer vind …

 

Maar in die agterhuis was veel

menslikheid: Mevrou van Daan,

prikkelbaar-bevrees, vervelig-verwaand,

‘n moeder se subtiele verset,

omdat haar kind die vader liewer het …

 

En tog moes jy jou jong

ontwaking leer verstaan – alleen.

En wat het al jou vroulikheid gebaat?

Jy moes die laaste toevlug deel

vir nog ‘n Jood se veiligheid –

tandarts Dussel jou ongewenste kamermaat.

 

Toe het jy jou na hom gekeer:

blou agter ‘n berookte ruit en ‘n gordynde raam

het helder in sy oë kom leef …

maar die natuur verdra geen surrogaat –

jy het geweet, te lig bevind. Weer

moes Peter maar vir Mouschi streel

en vir ‘n troos het jy seisoenverward

pinksterrose en bloudruifies in een droom verbeel.

 

Meer as Jood of Christen het jy geweet

die mens se gees oorwin as hy

elke dag sy aartappels met vreugde eet.

 

(Uit: Digby Vergenoeg, 1971, Human & Rousseau, Kaapstad)

 

Nadat die Grüne Polizei op 4 Augustus 1944 hulle inval in die Agterhuis gedoen het, loop Anne se spoor na die deurgangskamp Westerbork in Drente, en van daar na Auschwitz waar sy vergassing vrygespring het. Uiteindelik sterf sy gebroke na liggaam en gees in die kamp van Bergen-Belsen, in die laaste instansie nie as ‘n slagoffer van ontbering en tifus nie, maar van die berekende moord wat die Holocaust (of Sjoa) in wese was (p. 10).

Ongeveer sestig jaar na die verskyning van die eerste Het Achterhuis skryf Spies – ‘n nie-Joodse vrou – die inleiding tot die eerste Afrikaanse vertaling van dié beroemde dagboek. Waarom dan ‘n vertaling in Afrikaans, die taal wat so nou verwant is aan Anne se geliefde Nederlands? Ons kan tog immers almal Nederlands lees? Of ook Engels – waarin ‘n aantal versies reeds verskyn het? Spies stel dit dat dit vir haar ‘n lewenstaak geword het om ook die Afrikaanse publiek in hulle moedertaal van ‘n goeie vertaling te voorsien. Sy wil egter beklemtoon dat Anne geen wonderkind, heldin of martelaar was nie, maar ‘n gewone tienermeisie; begaafd, maar gewoon. Die tragiese lê egter daarin dat ‘n gewone meisie moes sterf net omdat sy ‘n Jodin was. Dis juis deur middel van Anne Frank dat ‘n gesig gegee word aan die gesiglose sesmiljoen Jode wat berekend uitgewis is.

Deur middel van die publikasie van hierdie dagboek word die ideale wat Anne in haar dagboek uitgespreek het, uitgedra in die hoop op ‘n beter wêreld. Dis waar dat Anne se stem mense geroer en geïnspireer het, maar dis net so waar dat sy hulle ook bewus gemaak het van die kwaad, dat sy die liefde bely het in die aangesig van die haat en die goedheid van die mens in die aangesig van sy boosheid. In laaste instansie moet ons haar vader – Otto Frank – dankbaar wees vir die publikasie van sy dogter se dagboek. Daardeur het hy geweier om Anne prys te gee aan ‘n anonieme dood in Bergen- Belsen.

 

Wat die tema van die Holocaust betref, kan u ook die volgende verwante artikel lees:

In die skadu van Auschwitz – Lina Spies

 

 

Anne Frank – Die Agterhuis is verkrygbaar by Protea Boekehuis

Tel.nr: (012) 362-5683 / 362-3444 / 362-6073

Epos: protea@intekom.co.za

Prys: R140-00

 

Of dit kan ook aanlyn bestel word by Kalahari.net (R119-00).

Share this / Deel hierdie: