2015. Jan Assmann. Die Revolution der Alten Welt. Darmstadt: Wissenschaftliche Buchgesellschaft.

Die tweede boek in die Hebreeuse Bybel, Eksodus, vertel van die magtige dade van een God en sy volk. Vir Assmann is ‘een God’ – monoteïsme – die religieuse narratief van die eksodusgebeure. Hy meen dat die vertellinge oor die uittog ook die basis vorm van die heilsgeskiedenis van die drie groot monoteïstiese godsdienste in die wêreld: Judaïsme, Islam en die Christendom. Maar nie net in godsdiens nie, ook in kuns en letterkunde het hierdie verhaal op verskillende maniere neerslag gevind.

Assmann benader die ‘eksodus’ vanuit verskillende perspektiewe. Wanneer het die geskiedenis ontstaan? Watter Egiptiese en ou Nabye Oosterse parallelle is daar? Wat is dit egter wat radikaal nuut en anders aan die eksodus-vertelling is? Hierdie vrae word dan aan die hand van die jongste argeologiese en bybelwetenskaplike navorsing ondersoek. Assmann begelei die leser stap vir stap vanaf die verre verlede tot by die hede terwyl hy verduidelik hoe die verhaal van die eksodus die basisdokument vir ‘n nuwe godsdiens geword het. Gerda de Villiers

2015. Konrad Schmid, Is there theology in the Hebew Bible. Eisenbrauns: Indiana.

Hierdie is die vertaling van Schmid se boek, Gibt es Theologie im Alten Testament? Zum Theologiebegriff in der alttestamentlichen Wissenschaft, wat in 2013 by Theologischer Verlag, Zurich verskyn het. Dit is ‘n uitstekende boek wat in net meer as 150 bladsye die probleme in verband met die Ou Testament en teologie verduidelik. Die groot vraag is natuurlik of ons wel van ‘n teologie van die Ou Testament kan praat. Daar is talle probleme daaraan verbonde want die woord ‘teologie’ het oor die eeue verskillende dinge beteken en in ‘n belangrike historiese oorsig verduidelik Schmid hoe moeilik dit uiteindelik is om van ‘n ‘teologie van die Ou Testament’ te praat. Hieronder verduidelik ons dit aan die hand van een periode in die teologiegeskiedenis.

Met die opkoms van die histories-kritiese metode in die sewentiende eeu het die noue band tussen die Bybel (en in besonder die Ou Testament) ‘n probleem geword. Luther en Calvyn se interpretasie van die Bybel kon nie meer gehandhaaf word nie. Die historiese kritiek het die afstand nog groter gemaak. Wat Luther of Calvyn oor die Ou Testament gesê het, was te min of dalk nie heeltemal reg nie. Anders gesê: die Ou Testament het baie meer en vele dinge anders gesê as wat die Reformatore gemeen het. Gevolglik het die Ortodoksie se gemaklike koppeling tussen eksegese en dogmatiek, die teks en die sistematisering van die Ou Testament se inhoud skielik ‘n probleem geword en die Bybelse of Ou-Testamentiese teologie het meer en meer onafhanklik van die dogmatiek geword.

In 1787 het Johann Philipp Gabler sy intreerede aan die Universiteit van Altdorf gelewer en dié rede het beroemd geword. Gabler word nie eintlik in die teologiegeskiedenis onthou nie, maar sy intreerede het ‘n enorme invloed op die skeiding van, maar ook onderskeiding tussen Bybelwetenskap en dogmatiek uitgeoefen. Opvallend is dat die onderskeid vir Gabler geen probleem was nie want dit was eie aan die aard van elkeen. ‘n Bybelse of dan Ou-Testamentiese teologie was ‘n historiese dissipline wat die teologie van die Bybelskrywers wou verwoord terwyl dogmatiek ‘n eietydse besinning oor die Bybelse teks was. Hy was nie teen dogmatiek gekant nie en het daarom verder tussen ‘n ‘ware’ en ‘n ‘suiwere’ Bybelse teologie onderskei. Eersgenoemde was ‘n poging om die Ou Testament binne ‘n historiese konteks te verstaan terwyl laasgenoemde die tydlose boodskap van die Ou Testament vir vandag se mense relevant moes maak. Dié onderskeiding was ‘n poging om die dogmatiek tog nog aan die Bybel te bind, maar ook die verskil in benadering te beklemtoon. Uiteindelik het Bybelse teologie en dogmatiek hulle eie paaie begin loop. Die historiese kritiek het baie gevestigde dogmatiese sieninge of vernietig of verskraal wat die afsonderlikheid en onafhanklikheid van elke vak verder beklemtoon het.

Dinge het egter nog verder versleg: die historiese kritiek het ook aangetoon dat daar nie net een stem in die Ou Testament is nie, maar vele wat ook van mekaar verskil. En: selfs die verhouding tussen die Ou en Nuwe Testament is so geproblematiseer dat die een kwalik as die finale vervulling van die ander gesien kon word.

Hierdie ontwikkeling het daartoe gelei dat ‘n Bybelse teologie nie eintlik meer moontlik was nie want die Ou Testament is mettertyd los van die Nuwe Testament verstaan en is daar gepoog om afsonderlike ‘n teologieë van sowel die Ou Testament as die Nuwe Testament te skryf. Volgens Schmid was die verbrokkeling van ‘n Bybelse teologie, wat die eenheid en samehang van die Bybelse boodskap wou beskryf, geweldig belangrik vir ons verstaan van die begrip ‘teologie’ want ‘teologie’ het vir die eerste keer ‘veelvoud’ geïmpliseer. Daar is nie net een samebindende teologie in die Bybel nie maar meerdere teologieë elkeen met sy eie stem. Dié gebeure se gevolge was verreikend: ‘After establishing this distinction, no fundamental obstacles stood in the way of the further pluralization of theology that then unfolded over the course of the twentieth and the beginning of twenty-first centuries’ (Schmid 2015:15).

In die negentiende eeu het die Ou-Testamentiese wetenskap het ‘n meer historiese meer ‘histories geword. Dit was eintlik onafwendbaar want in die negentiende eeu was verstaan en geskiedenis baie nou gekoppel. ‘n Mens het eers iets begryp indien jy die historiese wording of ontstaan daarvan asook die groei daarvan begryp het. Dié siening het ook die verstaan van die Ou en die Nuwe Testament ingrypend beïnvloed want kennis van die historiese wording van die Ou Testament was nou nodig om ‘n teks, ‘n hoofstuk en boeke soos Genesis en Jesaja te verstaan. Die ontstaan van die godsdiens-historiese skool asook die ontdekking van die Ou Nabye Oosterse geskrifte asook die oopmaak van dié groot kultuurwêreld het die historiese verstaan van die Ou Testament net meer en meer beklemtoon. Twee dinge het hieruit voortgevloei: historiese verstaan van die Ou Testament en die fokus op die godsdiens van Israel. Schmid verduidelik dan hoe dié twee perspektiewe die Ou-Testamentiese wetenskap radikaal gevorm het.

Konrad Schmid se werk is onontbeerlik vir enige een wat in die teologie in die algemeen, maar veral in ‘n teologie van die Ou Testament belangstel. Geen teologie is maklik nie en moet met groot omsigtigheid benader word, maar Schmid se boek kan ‘n mens baie help om nuut oor teologie in die Ou Testament na te dink. Jurie le Roux

 2014. Holger Sonnabend. Götterwelten. Die Religionen der Antieke. Darmstadt: Wissenschaftliche Buchgesellschaft.

Religie in die antieke wêreld was die spil waarom alles gedraai het. Holger Sonnabend neem verskillende antieke kulture onder die loep: die Sumeriërs, Babiloniërs, antieke Jodedom, Egiptenaars, Grieke, Romeine, Kelte, Germane tot by die Christendom. Hy wys op die die belangrikste religieuse tradisies en beklemtoon daardie aspekte wat elkeen uniek maak. Terselfdertyd kom hy tot die verrassende ontdekking dat daar sekere elemente is wat alle religieë in gemeen het. Die boek is ryklik geïllustreer met pragtige afbeeldings in kleur van die kuns, beeldhouwerk en argitektuur van die antieke beskawings en hul gode. So word hierdie wêreld ook vir die hedendaagse leser toeganklik. Gerda de Villiers

2013. Philip R Davies & Thomas Römer. Writing the Bible. Scribes, Sribalism and Script. Acumen: Durham.

Daar is volgens die skrywers ‘n groeiende belangstelling in die ‘tekstualiteit’ of die ‘skrifwording’ van die Hebreeuse Ou Testament en die verband tussen mondelinge oorleweringe en dít wat uiteindelik neergeskryf is. ‘n Probleem wat nou hiermee saamhang, is die identiteit en funksie van die antieke skrywers. Slegs ‘n baie klein groepie kon lees en skryf en anders as in die Nuwe Testament word die skrywers in die Ou Testament nie genoem nie. En sedert Sokrates en Plato was skriftelike dokumente was nie altyd so hoog geag nie want mondelinge oorlewering was baie belangriker. Selfs in die derde eeu van die Christelike jaartelling was iemand soos Origenes (185-254) negatief oor die neerskryf van sy denke. Hy skryf byvoorbeeld aan iemand dat hy lank oor die neerskryf van sy teologie getwyfel het: ‘… I was hesitant for a long time, knowing the danger of not only speaking of holy things but, far more, of writing of them and leaving one’s work for posterity’ (190 – my kursivering). Met behulp van inligting uit die biblioteek van Ugarit, Egipte en Mesopotamië help Davies en Römer se boek ons om iets van die moeilike pad ‘tekstualiteit’ te verstaan. Behalwe Davies en Römer het Adrian Curtis, Dominique Jaillard, Diana V Edelman, Christophe Nihan, Jean-Daniel Macchi, Walter J Housten, George J Brooke, Charlotte Touati, Clair Clivas, Frédéric Amsler en Eric Junod ook hooftukke tot die boek bygedrae. Jurie le Roux

 2013. Diana V Edelman en Ehud ben Zvi, Remembring Biblical figures in the late Persian and early Hellenistic periods. Oxford: Oxford University Press.

Dié boek handel oor sosiale of kulturele herinnering en hoe Israel haar verlede onthou het. Volgens Edelman funksioneer sosiale herinnering soos ‘n kaart (‘social maps’) wat die geheue en herinnering so op die verlede rig dat sekere dinge vergeet en ander weer onthou word. Sosiale herinnering fokus op gebeure in die verlede wat vir mense belangrik was en wat hulle met ‘n spesifieke inhoud en betekenis gevul het. Of soos Edelman dit stel: ‘Put simply, social memory “identifies a group, giving it a sense of its past and defining its aspirations for the future” usually giving voice to collective experience’ (xii – aanhaling van Fentriss & Wickham). Verskeie outeurs het Israel se herinnering belig deur op figure soos Abraham (Ben Zvi), Jakob (Heckl), Moses (Thomas Römer), Aäron (Guillaume), Josua ( Knauf), Saul (Davies), Salomo (Lemche), Hiskia (Becking), Sanherib (Hobson), Manasse (Handy), Josia (Blenkinsopp), Nebukadneser (Stökl), Nabonidus ( Newsom), Kores (Mitchell), Tamar (Amit), Rut (Brenner), Isebel (Walsh), Jesaja (Ben Zvi), Jeremia (Leuchter) en Esegiëi (Nihan) te fokus. Die boek word afgesluit met ‘n hoofstuk oor kognitiewe teorie en kultuur en taal (Aaron). Wat dié boek interessant maak, is die verstaan van Israel se verlede vanuit die perspektief van sosiale herinnering wat nuwe dimensies op die geskiedenis open. Jurie le Roux

Share this / Deel hierdie: