God se liefde vir wegloopmense

Hosea is ‘n vreemde kêrel in die Bybel. Eintlik is dit meer sy huwelik wat so vreemd is. God verwag van hom om met ‘n prostituut te trou en keer op keer na haar terug te gaan. So word Hosea en sy vrou en kinders beeld van God se verhouding met sy bruid – met ons. Ons beur die heeltyd weg en God trek ons elke keer weer terug na Hom toe.

Kan ons regtig sê dat God altyd getrou bly en getrou sal bly? Hierdie is – soos Cas Vos se vorige boeke – nie ‘n boek met maklike, kitsklaar antwoorde op moeilike vrae nie. Dit is ‘n boek wat saam met jou by jou kombuistafel wil gaan sit en kopkrap oor die krapperighede van die lewe. Wat Hoe kan Ek jou laat los? so spesiaal maak, is die feit dat ‘n woordkunstenaar/digter/profeet van ons dag as’t ware die woordkunstenaar/digter/profeet van eeue gelede op die bladsye ontmoet.

Hier is ‘n proesel: “Teen alle verwagtinge in maak God bemoeienis met ons. Dis wat die woord genade beteken: sonder dat ons iets verdien, draai God na ons toe. En omdat Hy na ons toe terugkeer, mag Hy van ons vra en verwag dat ons na Hom toe moet terugkeer. Die terugkeer is nie na ‘n God toe nie, maar na jou God toe. Hy is die een wat ons uit ons waansin en ellende gered het. Hy het dit gedoen deur self ons skuld aan die vloekhout te dra. Dit is net genade en liefde wat dit kan doen”.

Hoe kan Ek jou laat los? is by LuxVerbi-Bm beskikbaar (R99-95).
Of aanlyn by Kalahari.net (R89-96).

Share this / Deel hierdie: