Nuwe boeke:  Ligdans. Depressie-vegters se verhale van hoop deur Jeanne Els, 2008.

 

Uitgewer: Wellington: Lux Verbi.BM. 224 bladsye. Prys onbekend.

 

Resensent: Dr G Bothma

 

Jeanne Els is ‘n vryskut-joernalis, skrywer en redakteur, wat al onder andere vir die koerant Die Burger en die tydskrifte Huisgenoot en Sarie gewerk het. In hierdie boek vertel sy van haar stryd teen depressie en slaag sy om haar lesers in te lig en insig te ontwikkel omtrent hierdie siekte. Die boek is baie goed geskryf en lees maklik, maar is beslis meer as bloot ligte leesstof. Die inligting wat in die boek weergegee word is akkuraat en relevant en dit word baie sensitief aangebied.

Baie van die mites wat rondom die siekte bestaan word in die boek hokgeslaan en dit behoort ook tot die ontstigmatisering daarvan by te dra. Die verhale van bekende Suid-Afrikaners – wat op ‘n empatiese wyse bygewerk word – sal lesers hiermee help en hulle ook iets van die vele dimensies van depressie help verstaan. Heelwat lesers sal sekerlik verras wees om te lees dat sprankelende persone soos o.a. David Kramer, Deirdre Barnard-Visser, Amor Bekker en Vuyelva Booi (Alyce in die televisiereeks Sewende Laan), met depressie saamleef. Hulle vertellings en die naamlys van beroemde depressie-vegters (‘n soveel mooier woord as depressielyers!) wat in die boek opgeneem is, sal waarskynlik help dat meer mense heeltemal anders oor depressie begin dink.

Verskillende vorme van depressie, maniere waarop dit beveg kan word en wenke vir mense wat met depressie-vegters saamleef, word op ‘n manier beskryf wat hoop bring en hulp verleen. Die boek behoort mense wat moontlik nog nie besef dat hulle alreeds met depressie saamleef nie te help om so te doen en dan iets daaraan te wil doen. Dit behoort ook mense te help om makliker, sonder vooroordeel of stigma en ingelig te begin saampraat oor ‘n siekte, wat in ons tyd en omgewing al hoe meer slagoffers opeis.

Die bydraes wat die professionele persone, insluitende ‘n mediese dokter, ‘n sielkundige en ‘n psigiater, ook daarin lewer, verhoog die waarde van die boek. Die beskrywing van terminologie wat in gesprekke oor depressie en die behandeling daarvan opduik, doen dieselfde. Die name van boeke oor depressie en die behandeling, wat deur van die persone wie se verhale vertel word, aanbeveel is en die telefoonnommers en adresse van webruimtes op die internet, waarby daar vir hulp aangeklop en verder gelees kan word, is uiters nuttig. Toe hierdie resensie geskryf is, was hierdie nommers en verwysings almal in werking.

Ligdans is ‘n boek wat gelees en gebêre behoort te word. Dit word met groot vrymoedigheid aanbeveel vir predikante, studente én ander lesers. Die boek is ook in Engels beskikbaar as Towards the light.

Share this / Deel hierdie: