Volle bibliografiese besonderhede: Tiemeyer, L-S 2006. Priestly Rites and Prophetic Rage. Post-Exilic Prophetic Critique of the Priesthood. Tübingen: Mohr Siebeck.

 

Die profete-korpus in die Ou Testament is boeke vol spanning. Hulle verwys deurgaans na ‘n plofbare situasie, voor en na die ballingskap toe JHWH se volk Hom op verskillende wyses teleurgestel en selfs verraai het. Veral die post-eksiliese literatuur lewer felle kritiek teen die priesterkorps van die dag. Tiemeyer se boek ondersoek die aard van hierdie spanning in diepte. Sy neem hoofsaaklik vier boeke as uitgangspunt: Trito-Jesaja, Haggai, Sagaria 1-8 en Maleagi.

 

Haar inleidingshoofstuk gee ‘n oorsig oor die navorsingsgeskiedenis wat reeds oor die onderwerp gedoen is. Sy begin by Jesaja 56-66 en vra die volgende: Hoe het andere die breuk in die gemeenskap verstaan? Was dit spanning tussen die teruggekeerde ballinge en die Samaritane (bv Duhm), is hier dalk moontlike sprake van ‘n verdeling tussen die Fariseërs en die Sadduseërs (bv Holtzmann ea), is die volgelinge van die profete in konflik met die priesters (Blenkinsopp ea), of was dit ‘n post-eksiliese konflik tussen twee priesterpartye: die Sadokiete wat vanuit die ballingskap teruggekeer het en die Leviete, wat in die land agtergebly en met ander godsdienstige entoesiaste hul kragte saamgesnoer het (bv Hanson)? Vervolgens beweeg sy na Haggai en Sagaria 1-8 en ondersoek navorsing wat die spanning in die gemeenskap probeer verklaar.

 

Hoe doen sy dit?

 

Die sterk punt van haar navorsing is haar baie deeglike eksegese. Haar vertrekpunt is die Hebreeuse teks. Sy identifiseer die literêre samehang van elke perikoop, ondersoek die redaksiegeskiedenis, dui aan wat problematies kan wees en ook hoe ander eksegete dit probeer verklaar het. Waar van toepassing, verwys sy na ander tekste binne die Masoretiese Teks, die Septuaginta, die Peshitta, Qumran, apokriewe boeke en die Targum.

 

Een van die belangrikste verskille tussen Tiemeyer en haar voorgangers, is dat sy ‘n minder skerp verdeling tussen die pre- en post-eksiliese priesters waarneem. Die post-eksiliese priesterskap word soms gesien as ‘n ortodokse leierskap, gesuiwer en gelouter deur die vernietiging van die tempel en die lyding van die ballingskap. Hul voorgangers se godsdienstige dwaling was vir die ramp verantwoordelik: hulle is anders. Wanneer Tiemeyer haar tekste analiseer, kom sy tot die slotsom dat die priesters voor en na die ballingskap eintlik nie so radikaal van mekaar verskil nie. In plaas van ‘n voor- en na- verdeling, verkies Tiemeyer om ‘n band van voor tot na die ballingskap deur te trek en te wys op die ooreenkomste wat daar bestaan in die denke van Trito-jesaja, Haggai, Sagaria 1-8 en Maleagi.        

 

Verder wys sy op die wanopvatting van die tradisionele teenstelling: profeet teenoor priester, profetiese kritiek teen priesterlike praktyk. ‘n Hele paar van die profete wat so heftig te velde teen die priesters uitvaar, was self ook priesters – soos Jeremia, Esegiël en Sagaria 1-8. Priesters waag dit dus om in die stem van ‘n profeet hul mede-priesters te kritiseer. In plaas van profeet teen priester, is hierdie stemme eerder ‘n oproep na ‘n vernuwing of hervorming binne eie geledere. Ook is dit nie altyd slegs die priesters wat gekritiseer word nie, dikwels word die leiers en ook die mense binne die Judese gemeenskap ook aangespreek en gewys op wanpraktyke en die vernietigende gevolge daarvan.  

 

Wat is vernaamste oortredinge?

 

Godsdienstige wanpraktyke staan waarskynlik bo-aan die lys. Dit het te make met afgodediens, ontheiliging van die tempel, aanvaarding van tweederangse offerandes en omkoopgeld, minagting van die reinheidswette, onreinheid met betrekking tot die kultus en kultiese rites, ensovoorts.

 

Hierdie kultiese, morele en godsdienstige verval is dikwels die resultaat van die priesters en volksleiers se ondertrouery met volksvreemde vroue. Post-eksilies word ondertrouery skynbaar ‘n veel groter probleem as pre-eksilies, soos die boeke Esra en Nehemia aandui. Waarom was dit dan so verkeerd? Die gevaar was dat ‘n groter lojaliteit teenoor die ‘skoonfamilie’ ontwikkel, om watter rede ook al – polities, finansieel, religieus – en dat die betrokke man toenemend volksvreemd raak. Aangetrokkenheid tot vreemde gode en gebruike kon lei tot ‘n soort godsdienstige sinkretisme wat die JHWH godsdiens se suiwerheid gevaarlik bedreig.       

 

Sosiale onreg, om die minderbevoorregtes in die samelewing uit te buit en te onderdruk, word ook aangespreek. Nie net die priesters staan skuldig nie, maar ook die leiers van die volk.

 

Verder versuim die priesters ‘n belangrike taak. Benewens die rol wat hulle in die kultus speel, is dit ook hul verantwoordelikheid om die mense te onderrig. Nie net toon hulle ‘n gebrek aan kennis en daardeur ‘n onvermoë om te onderrig nie, hulle lei die mense boonop op ‘n dwaalspoor deur die verkeerde soort onderrig.

 

Hierdie oortredinge is nie nuut nie – alle aanklagte wat teen die post-eksiliese priesters en volksleiers gerig word, kan ook van hul voorgangers gesê word.

 

Wanneer Tiemeyer uiteindelik die drade saamtrek, is dit hoofsaaklik Hanson by wie sy aansluit maar in ‘n sin ook van wie sy radikaal verskil.

 

Hanson maak ‘n onderskeid tussen die Sadokiete, die priesters wat uit die ballingskap teruggekeer het en die Leviete wat in die land agtergebly het. Tussen die twee groepe was daar spanning namate die Sadokiete hulself as die godsdienstige leiers van die volk probeer regverdig het, en die Leviete toenemend uit die kultus en die tempel probeer verdring het.

 

Tiemeyer sien dit anders. Die priesterdom in Jerusalem was nie hoofsaaklik diegene wat uit die ballingskap teruggekeer het nie, maar dit was ‘n goeie mengsel tussen die teruggekeerdes en die agtergeblewenes. Die spanning lê dus eerder op ‘n ander vlak: ‘n groep wat JHWH reg dien en sy wil doen, en andere wat ‘n sinkretistiese godsdiens beoefen.

 

Verder sien Hanson ook ‘n teenstelling tussen die profetiese uitsprake van Haggai en Sagaria 1-8, en die van Trito-jesaja. Haggai en Sagaria voorsien dat die tempel herbou gaan word, die volk en die priesterdom gesuiwer, en dat ‘n ortodokse kultus weer aan die orde gaan kom.  Daarenteen lyk dit asof Jesaja met sy universele visie uiteindelik moed verloor met ‘n Judese priesterdom en die kultus en tempel by Jerusalem.

 

Vir Tiemeyer is daar geen teenstelling in hierdie profetiese uitsprake nie. Volgens haar is Jesaja nie noodwendig negatief oor die tempel en die kultus nie, of godsdienstige toewyding aanvaarbaar is of nie, is afhanklik van die gesindheid en houding van die aanbidder. Dit beteken ‘n kultus waar daar geen plek vir afgode of sinkretistiese rites is nie. Jesaja se kritiek is nie teen die tempel nie, maar teen diegene wat skynheilig of onder valse voorwendsels daar aanbid. Sy toon ‘n chronologiese ontwikkeling in Trito-jesaja aan (chronologies in tyd gesproke, maar nie hoe die onderskeie perikope op mekaar volg nie): eers word ‘n gesuiwerde Judese priesterdom in die vooruitsig gestel (61:6); dan ‘n priesterdom wat ook proseliete insluit (56:1-8), en uiteindelik ‘n priesterdom wat selfs bestaan uit heidene wat tot geloof kom (66:21).

 

Die genoemde profete, Haggai, Sagaria 1-8 en – toon net soos Jesaja ‘n misnoë met die gedrag van die priesters, hul optrede in die tempel en hul houding teenoor God. Haggai en Sagaria sluit veral aan by Jesaja 56:9-59:21 en 65:1-66:17 – die jare 520 – die herbou van die tempel. Waar Jesaja fokus op die manier waarop die priesters JHWH aanbid en hul optrede in die tempel, kyk Haggai en Sagaria na die kultiese en rituele aspekte – ook wat met rein en onrein te make het.

 

Wanneer die situasie versleg, as dit blyk dat daar min of geen verbetering in die gedrag van die priesters is nie, hoop die profete op ‘n beter toekoms, op ‘n veranderde priesterdom. Hulle hoop almal op ‘n verbetering, maar hul verwagting vir die toekoms is anders. Waar Haggai, Sagaria en Maleagi hoop op ‘n herstel van die bestaande priesterdom, voorsien Jesaja ‘n radikaal getransformeerde toekomstige priesterdom wat volke van oor hele wêreld insluit.     

 

Vir Tiemeyer beteken verskillende profetiese perspektiewe op ‘n situasie nie noodwendig dat die profetiese uitsprake teenoor mekaar staan nie. Binne die wyer konteks van post-eksiliese profesie, sluit hulle by mekaar aan en staan  binne dieselfde profetiese tradisie.

 

Hierdie boek bied verrykende insigte op die post-eksiliese Judese gemeenskap, bevat ‘n rykdom materiaal vir preekstof, en is bo alles ‘n skitterende voorbeeld van hoe eksegese gedoen behoort te word!

Share this / Deel hierdie: