Elke elektroniese nuutjie het ‘n vreemde teologiese uitsig of twee gebaar.  Net onder Afrikaanse geledere al is die aankoms van rolprente toentertyd soms as satanskuns afgemaak. Toe televisie in die 1970’s sy laat opwagting in Suid-Afrika gemaak het, was daar ‘n paar preke waarin die kwessie oor hoe almal dan nou die wederkoms terselfdertyd sou kon sien, opgelos is: ons sou dit op TV sien gebeur. Oor die internet en godsdiens is al heelwat sinnighede en onsinnighede kwytgeraak. Maar nog nie dié een nie – half tong in die kies, toegegee; maar ook nie heeltemal vergesog nie. Boonop iets wat pas by die opstandingstema. Naamlik: ongeag en onafhanklik van die manier waarop gelowiges oor hulle opstanding dink, gaan heelwat van ons dalk nadoods opstaan op ‘n manier wat ons nie wil nie, maar waaroor ons geen beheer gaan hê nie – elektronies, en argeologies.

Daar is ‘n horde sensitiwiteite waaraan argeologiese werk moet aandag gee, wat insluit: hoe word die mense wat opgegrawe word, hanteer. Die Tutankahmun-uitstalling tans in Gauteng, so interessant as wat dit is, laat ‘n mens met ‘n ongemaklike nagevoel, maar hoe sal ék daaroor voel as mý lyf eeue na my heengaan die wêreld vol rondgaan, vir ‘n ieder wat wil om nuuskierig daarna te kom loer. Die Saartjie Baartman-debat enkele jare gelede het ook hierdie tipe lyk-skouing bevraagteken. Die vraag nou, in ons e-era, raak egter meer intens, en meer persoonlik:  is elkeen van ons nie dalk ‘n potensiële slagoffer van so ‘n ongevraagde voyeurisme in die toekoms nie?

Die prentjie is nie moeilik om te skets nie. Dit is 20 of 100 of 2 000 jaar na jou heengaan. Jou elektroniese voetspore lê steeds die hele web-wêreld vol: die artikels wat jy op teo.co.za gelees het; die boeke wat jy van e-boekwinkels af bestel het; foto’s van jou wat op watter sosiale netwerke ookal verskyn het, met of sonder jou wete; die laatnag flirt-sms wat jy aan jou eggenoot gestuur het; en vele, vele meer. Onopgeleide, eties-ongeïnteresseerde gebruikers van die elektroniese media van daardie toekomstyd begin ‘n speelse oefening – ‘n stokperdjie, dalk: kies ‘n figuur uit die verlede, en met apparatuur wat ons vandag onsself nie eens kan verbeel nie, herskep elektronies daardie figuur se lewe.

Soos die geluk of die ongeluk dit wil hê, kies daardie persoon jou. Binne dae, of ure, of minute, word jou lewe opgesom en uitgebeeld vir die hele wêreld om te sien. Iets wat ‘n invloedryke politikus of filosoof of skrywer dalk te wagte kan wees, dat die toekoms in hulle belang sal stel, val jou te beurt – jy, wat ‘n verwagting van privaatheid het, dat jou menswees joune sal wees, en dié wat naby jou leef s’n, om binne ‘n generasie na jou dood in die niet van die mensgeskiedenis te verdwyn, soos dit hoort. Die anonimiteit van R.I.P. Maar nee: ‘n stokperdjie-e-argeoloog ontbloot jou lewe, en nie net vir ‘n kleindorpsmuseum waar min besoekersoë gly oor ‘n kiekie en ‘n brief of wat van jou nie. Ongevraagd, word jou e-posse en WhatsApp-boodskappe en webreise, al wat interessant of sappig mag wees vir oormôre se loerbroer-oë, op ‘n internasionale e-verhoog uitgestal. Gebeur so iets ín jou leeftyd, kan jy nog met ‘n kwaai brief wat regstappe dreig jou privaatheid half terugwin. Maar wie tree vir jou in ‘n eeu of ‘n millennium na jou afsterwe? Jou lewe is ongevraagd herverwek. Iemand het jou elektronies laat opstaan uit die vergetelheid van die dood.  Vir grinnike, vermaak, of selfs net vae interessantheid besigtig mense alles en nog wat van jou. Jy staan kaal voor die oordeel van toekomsvreemdelinge, soos ‘n mummie sonder toedraailappe. 

R.I.P.?

Hoe verhoed ‘n mens so iets? Sal ‘n paragrafie iewers op ‘n webblad waarin jy alle e-argeologie van jou menswees verbied, enige toekomstige dra-krag hê? Sal ‘n onttrekking aan die ê-wêreld in ‘n tipe elektroniese kloosterlewe – sou dit hoegenaamd moontlik wees – jou so ‘n lot spaar?

Die opstanding uit die dood is nog altyd deel van die Christelike genade-teologie.

Sal ‘n ánder tipe opstanding, elektronies-gemedieerd, genádeloos wees?

Share this / Deel hierdie: