Meer as 10 jaar gelede, op 1 Februarie 1999 het ek die opdrag gehad om ‘n referaat te lewer by die opening van die Fakulteit Teologie, Universiteit van Pretoria. Die titel was “’n Nuwe millennium: Uitdagings vir die kerk”. Ek het gepraat oor twee geloofstale of twee maniere van glo: Die dogmaties-korrekte manier en aan die ander kant die poetiese verbeeldingstaal.

In die afgelope 10 jaar was daar bemoedigende tekens van die versterking van die tweede taal om daarmee die ontoeganklikheid van God en die misterie van geloof uit te druk. Terselfdertyd is dit verstommend om te sien hoedat georganiseerde godsdiens die ou “taal” ten alle koste wil beskerm en instand hou. Daar is weerstande teen die aanleer ‘n nuwe geloofstaal en nog erger weerstande teen ‘n teologie wat so ‘n taal wil bevorder.

In genoemde toespraak het ek verwys na ‘n paradigmaskuif en dit verduidelik aan die hand van die twee bordspeletjies Scrabble en Balderdash.

Scrabble is ‘n spel van woordbou. Elke speler kry ‘n aantal houtblokkies met letters daarop. Met hierdie letters, wat elk weer ‘n waarde het, moet woorde gebou word. Die wenner is die persoon wat met vernuftige aansluiting by die bestaande woorde op die bord, die meeste woorde met die hoogste letterwaarde kan bou. Dit is ‘n spel van reg en verkeerd. Die spelreëls van die betrokke taal geld en daarby moet letterlik gehou word. Die spelers kan net van bestaande, erkende woorde gebruik maak en is nie vry om nuwe woorde te skep nie.

Balderdash is ‘n perd van ‘n ander kleur. Dit is ook ‘n woordspeletjie, maar op die kartondoos word dit geadverteer as die “Hilarious bluffing game”! Dit werk heeltemal anders met woorde en plaas die klem eerder op die kreatiewe benutting van woorde en taal as op die korrekte gebruik van taal. In hierdie geval trek ‘n speler ‘n kaartjie waarop daar ‘n vreemde woord geskryf staan. Op dieselfde kaartjie word ‘n betekenis vir die woord op aangebied. Die woord, sonder die betekenis word uitgelees en al die spelers spring dadelik aan die werk om hulle eie defenisies of betekenisse te skryf.  Al die bydraes word geskommel met die “werklike” betekenis. Dit word voorgelees in willekeurige volgorde. Nou moet elkeen kies watter is die regte een. Jy verdien nie alleen punte indien jy die kaartjie se betekenis kies nie, maar ook vir die hoeveelheid persone wat jou betekenis as die regte een gekies het.

Waar dit in Scrabble gaan oor die vernuftige benutting van bestaande woorde, gaan dit in Balderdash oor ‘n vernuftige verbeelding en oor interpersoonlike vaardighede wat maak dat ander persone jou aanbod aantreklik vind. Dit is twee speletjies wat van woorde gebruik maak, maar op heeltemal verskillende maniere. Dit verteenwoordig twee paradigmas, twee maniere van dink en omgaan met die werklikheid. Albei het meriete. Die een daag jou uit om kreatief te wees met die gegewene. Jy moet binne die vasgestelde reëls beweeg en met wenkombinasies vorendag kom. Die ander daag jou uit om verbeeldingryk te wees en nuwe betekenisse te konstrueer wat in ‘n bepaalde konteks oortuigend is. Die klem val hier minder op korrektheid en meer op verbeeldingryke interaksie.

Neem ‘n mens nou hierdie twee bordspeletjies as metafore van twee verskillende geloofstale,  is daar nie twyfel nie dat die hedendaagse mens al hoe meer gemaklik is met Balderdash. ‘n Scrabble-tipe geloof vind nie meer inslag nie. Daar het ‘n nuwe verstaanswêreld ontwikkel. Ons konstrueer nou ons wêreld veel meer met verbeelding en moontlikhede as met vasgelegde waarhede en strukture. Geloof wat stol in vaste formules spreek ons nie meer aan nie, terwyl die ontwykende ervaring van die swygende God ons al meer aanspreek.

Paradokse en die misteries van die lewe is nie meer so bedreigend nie. In die vorige era, wat meer op die Scrabble-paradigma gebaseer was, moes alles helder en duidelik uitgeklaar wees. Daarvolgens glo jy reg of verkeerd, waar of vals. Daarteenoor, dink mense nou meer in die Balderdash-taal en daarvolgens is daar meervoudige moontlikhede en ons word uitgedaag om kreatief om te gaan met die oorgelewerde tradisie.

Phil Streeter stel dit onverbeterlik in sy gedig “The mutilation of mystery”:

How tragically inevitable that a

melting awareness of the mysterious,

great hushed unaswerables and

awe-struck inexplicables,

Become re-cast into

crystalised codes,

solidified institutions and

petrified dogma.

That established systems of belief become

intellectual obsessions

Demanding docile submission instead of

drunken delight,

Obedience rather that romance.

Ought-ness rather than is-ness.

Adherence to rather than freedom to become.

Hierdie behoefte aan “freedom to become” is waarskynlik die krag agter beide die hedendaagse godsdienstige oplewing en die golf van ontkerkliking wat parallel daarmee plaasvind. Die tyd vir vasgeledgde en onveranderlike waarhede is eenvouding verby. Daarom verdwyn sommige uit die kerk omdat hulle dit as eng, bekrompe en kortsigtig belewe. Ander gee hulleself oor aan ‘n ander soort godsdienstigheid as wat in die tradisionele kerke gevind word.  Die behoefte aan die “drunken delight”, die “romance” en die “is-ness” van godsdienstige belewenis kom onkeerbaar sterk na vore. G’n wonder dat die charismatiese godsdiens asook die evangeliese entoesiasme hand-oor-hand toeneem nie.

En voel myself nie tuis by een van bogenoemde groepe nie. Want ek bly daarvan oortuig dat die Balderdash-geloofstaal die beste gepraat word waar Scrabble ook steeds in omloop is. Laat ek verduidelik: Vernuwing maak net sin indien dit die resultaat is van ‘n kritiese bevraagtekening en voortgaande diskussie met die ou tradisie van geloof.  By wyse van spreke moet ‘n mens eers Scrabble baasraak, voordat jy Balderdash kan geniet.  Dit beteken dat jy eers gemaklik moet wees in die ou tradisionele geloofstaal, voordat jy kan begin saampraat in die koor van nuwe moontlikhede.

Dit is  juis binne die gevestigde kerklike omgewing met sy vaste belydenisse en liturgiese rituele en simbole waar daar sinvol met ‘n nuwe “taal” geëksperimenteer kan word. Die alternatiewe wegbreekgroepe is na my mening liturgies te kaalgestroop om enigsins ‘n bydrae te lewer tot die ontwikkeling van hierdie nuwe taal.

Dit is op sigself paradoksaal, dat mense soms juis binne die vaste strukture die “vryheid om te word” ervaar. In ‘n ou kerkgebou met toring en kansel, in ruimtes wat deurdrenk is van teïstiese godskonsepte, kan mense op hulle beste uitgedaag word om op ‘n post-teïstiese manier te glo. Dit is immers juis in gesprek met ons geloofstradisie wat ons in staat is om skuiwe te maak in ons geloofsdenke en –taal. Daarom is dit betekenisvol dat vele van die vernuwende teologiese denkers steeds ‘n kerklike verbondenheid handhaaf. Kritiese denkers wat ou dogmas en geloofsuitsprake bevraagteken, sit Sondae in die kerk en beaam die klassieke ou geloofsformules probleemloos saam met die gemeente.

Dit beteken egter nie dat die ou taal probleemloos is nie! Ons kan nie meer die taal vir ons geloof gebruik wat die mense wat in ‘n voor-wetenskaplike wêreld geleef het, gebruik het nie. Ons kan nie anders as om ‘n groter huiwering te hê oor verskynsels wat vir hulle volledig binne die raamwerk van moontlikhede geval het nie. Bo-natuurlike verskynsels word anders beoordeel deur mense wat deurdrenk is met ‘n wetenskaplike wêreldbeeld as deur mense in die pre-moderne era.  Daarom moet ons soek na woorde en taal wat vandag se geloof sinvol uitdruk, maar ons moet dit doen in piëteit en lojaliteit aan die oorgelewerde geloofstradisie.  Ons is nie ‘n eerste geslag gelowiges nie. Ons bou voort op eeue.

Share this / Deel hierdie: