Humor is ‘n snaakse ding. Nie almal kan ‘n grap vat nie, en nog minder kan ‘n grap vertel – hoeveel keer moet ‘n mens maar ‘n beleefde klankie uitgiggel vir ‘n kongresspreker of gasprediker wie se talente êrens elders as by grapmaak lê? By sommige plekke is humor op ‘n manier gevaarlik. Dit is ‘n goue reël in die reklamewêreld: bly weg van geloofsake. Die kontroversie is die sous nie werd nie (soos wat Johannesburge padpredikant-advertensieborde verlede jaar weer bewys het). Ewe raar is die geleentheid waar ‘n mens godsdiens en grappies durf meng. Min, mín gelowiges sien ‘n skalkse Jesus-kwinkslag nie as galgehumor nie – in cowboy-taal, ‘Them’s hangin’ words…’. Figuurlik gesproke.

Om by cowboy-stories te bly: ‘n kurkdroë poging in The High Chaparral van 1970s-televisie kan dalk nog gaan:

‘Where in the Bible do you find something about baseball?’

‘In the beginning…’

Maar probeer met ‘n ander drama-genre iets ligs kwytraak, en dit is net ‘n diepgelowige geselskap wat oor dié een kan skater:

‘Wat het Jesus gesê toe Hy uit die graf gestap het?’

‘Ta-dah!’

Vir die meeste Christene, is geloofsgrappe taboe.

Met omtrent net sinode- en kinderdiensstaaltjies se goedige oulikheid wat darem nie aanstoot gee nie.

Al kan mense buite geloofskringe so ‘n houding soms afmaak as witgepleisterde hoogheiligheid, lê die waarheid nader aan ‘n nederige heiligheidsin: vir baie gelowiges is alles te make met God, wat insluit Bybel en kerk en sakrament, sakraal. Eerder te veel respek vir hierdie sake as te familiêr. Die ‘vrees van die Here’ is nou wel nie banggeit nie, maar dit vra darem erkentlikheid teenoor die die Allerhoogste. Heiligskennis kan geen heil bring nie. Van dié lag kom huil.

Die vraag is egter, waar lê die punt dat ‘n godsdiensgrap militêre-tipe optrede ontlok? 7 Januarie sal dalk van nou af altyd Charlie Hebdo-dag in Parys wees…

Ons hoef ook nie allergerus te dink, maar daardie was darem Muslim-ekstremiste nie. Soos wat die plaaslike mediadebatte in die nadraai van die 7 Januarie kwinkslagdoodslag gewys het: sommige ‘goeie Christenmense’ verklaar hulleself eweneens bereid tot moord ter wille van die eer van God. Vergeet naasteliefde; vyandsliefde; lydende knegskap – dié handjievol Rambo-Christene het die skoot (weliswaar ánders) hoog deur…

Talle Muslim-leiers en -openbare intellektuele het hulle in woord en daad teen die jagseisoen op spotprenttekenaars uitgespreek. In media-kringe sou die reg tot vrye spraak altyd die hoofantwoord wees – soos dit hoort, en soos ons dit vanuit geloofskringe ook behoort te verwoord. ‘Te veel vrye spraak’ en ‘verregaande‘ sal altyd ‘n geldige persoonlike opinie wees, maar mag nooit ‘n geldende openbare norm word nie: die skokmag van kuns om selfs die onbehoorlike te bevra, die wasmasjien van die medianetwerke om vuil wasgoed in die openbaar te was, die profetiese stem om die regte ding reguit te sê, die beperking op die mag van iemand om te durf sê ‘Moenie sê nie’, lê alles as uitvloeisels van onder meer die Christelike gedagte-erfenis in demokratise samelewings. Die subtiliteit of brutaliteit van beide satire en spotprente is deel van die openbare kommunikasiemiddele wat die mens teen mags- en sinsvergryp beskerm. Die lag en die traan staan hierin teenoor mekaar.

Dit, binne ver/Westerse samelewings.

Wat 7 Januarie getoon het, is dat ons hier met ‘n botsing van kulture te make het. Dit is deel van die kontinentale drywing wat kru uitstu op verskillende maniere – driftig genoeg om met net afkortings al aan ons bekend te wees, soos 9/11 of ISIS; kragtig genoeg dat hierdie stryd nie maklik in ons leeftyd ten einde sal loop nie.

Waar laat dit ons?

1. Stilte weens godsdienstige onderdukking – dié kan ons nie:

2. Die vryheid van die mens teenoor ander mense, instellings en die staat is ‘n te dure, duursame erfenis om te laat vaar.

3. Die gruwel van oorlog kan nooit gelate aanvaar word nie.

4. Om blindoog die bevolkingsterreur wat organisasies soos ISIS pleeg, te aanvaar, sou onvergeeflik wees.Waar laat dit ons?

Hoe moet, en/of kán, ons maak?

Ons het nóg die tyd om stadig te dink, nóg die luukse om niks, alkante toe, te doen nie: soos ons hier sit, is mense besig om die gelag te betaal…

En dit is lankal nie meer snaaks nie.

Bibliografie

Lombaard, C 2011. Biblical Spirituality and human rights. Old Testament Essays 24/1, 74-93.

Lombaard, C & Froneman, J 2011. ’n Kritiese evaluering van godsdienstige verwysings in berigte oor misdaad en ongelukke in Beeld en Rapport. Litnet Akademies 8/1, 166-184.

Lombaard, C. 2002. The god of journalism is dead. Objectivity, subjectivity and the press.   Pretoria: MP Publications.

Otto, E 2009. The departure and return of God: Secularization and theologization in Judaism, in: Joas, H & Wiegandt, K (eds) Secularization and the world religions. Liverpool: Liverpool University Press, 77-107.

Otto, E 2004. ‘Wer wenig im Leben hat, soll viel im Recht haben’. Die kulturhistorische Bedeutung der Hebräischen Bibel für eine moderne Sozialethik, in: Levinson, B & Otto, E (eds) Recht und Ethik im Alten Testament (Altes Testament und Moderne, 13). Münster: LIT Verlag, 181-188.

Otto, E 2002. Gottes recht als Menschenrecht. Rechts- und literaturhistorische Studien zum Deuteronomium (Beihefte zur Zeitschrift für altorientalische und biblische Rechtsgeschichte, 2). Wiesbaden: Harrassowitz Verlag.

Van der Ven, H 2010. Human rights or religious rules? Leiden: Brill.

Van der Ven, HA, Dreyer, JS & Pieterse, Hennie JC 2004. Is there a God of human rights? The complex relationship between human rights and religion. A South African case. Leiden: Brill.

Share this / Deel hierdie: