Lukas vertel die opstandingsgebeure (24:1-4) in vier episodes. Eers is daar die vroue wat by die leë graf aangekom het, maar hulle ‘het nie geweet wat om daarvan te dink nie’ (Luk 24:4). Skielik staan daar twee manne met blink klere wat sê, ‘Waarom soek julle die Lewende by die dooies?’ (Luk 24:5). Die vroue het dit toe vir die elf ander dissipels gesê wat dit as ‘onsin’ afgemaak het (Luk 24:11). En tog was die vroue se saak sterker as wat die dissipels gemeen het. Behalwe vir die leë graf en die twee manne het Jesus ook al (volgens die twee manne) in Galilea na sy kruisiging en opstanding verwys. Dít was ‘een onweerlegbaar bewijs voor het feit der verrijzenis’ (Keulers 1951:291).

In die tweede episode hardloop Petrus na die graf en sien dieselfde as die vroue. Interessant dat net Petrus gaan terwyl ons in Johannes 20:3-10 ‘n ander weergawe vind. Hiervolgens het Petrus sowel as Johannes na die graf gehardloop, maar Johannes was vinniger en fikser en het eerste by die graf gekom. Hy het nie ingegaan nie, maar Petrus het wel (Joh 20:6). Van Johannes word gesê dat hy dit ‘gesien en geglo’ het (20:8). Lukas sê egter dat Petrus ‘vol verwondering’ oor alles was. Dit was nog nie dat Petrus geglo het nie; hy was eerder ‘n bietjie verbaas en het hom oor alles verwonder (Greijdanus 1941:1174).

In die derde episode word die verhaal van die Emmausgangers vertel, maar eers let ons op die vierde (Luk 24:36-49): Jesus se verskyning tussen die dissipels. Terwyl die dissipels nog so oor alles praat, is Jesus meteens tussen hulle. Hulle het egter ‘geweldig geskrik en bang geword’ en gedink ‘hulle sien ‘n gees’ (Luk 24:37), maar Jesus het hulle gerusgestel. Hy het hulle sy hande en voete gewys en hulle selfs uitgenooi om aan Hom te vat. Die dissipels was bly, maar ook bangerig en ‘kon nog (nie) glo nie’. Jesus gaan toe verder en vra iets om te eet. Belangrik is dan die woorde: ‘Hy het dit gevat en voor hulle oë geëet’ (Luk 24:42) (Kremer 1988:243-247).

Ons weet nie hoe Jesus se opstandingsliggaam gelyk het of hoe dit was nie. Dit is ook nie nodig nie. Vir die dissipels was dit genoeg om Jesus tussen hulle te sien en te voel; om te sien hoe Hy ‘’n stuk gebakte vis’ met sy hande vat en dit ‘voor hulle oë’ eet want dít het die werklikheid van sy opstanding beklemtoon (Rengstorff 1969:287). Vanaf die weergawe van die vroue word ‘fisiese’ dinge genoem: die graf was leeg, sy liggaam was weg, Petrus het net die doeke gesien, die Emmausgangers beleef die teenwoordigheid van die opgestane Heer, die dissipels sien en vat aan Hom en hulle hoor sy stem en woorde. Met hierdie vertellinge probeer Lukas sê dat Jesus se opstanding so ‘n realiteit was dat die mense duidelik kon sien dat die graf leeg was en dat hulle selfs aan Hom kon gevat het (vgl Grundmann 1974:438-448).

Daar is egter ‘n band tussen Lukas se opstandingsverhale en ons en die brug is die verhaal van die Emmausgangers. Anders gesê: deur middel van die Emmauservaring word gelowiges van alle eeue aan mekaar vasgemaak.

Brandende woorde

In Emmausverhaal beskryf Lukas wat met Kleopas en ’n onbekende reisgenoot gebeur het. Hulle was van Jerusalem na Emmaus op pad en hulle was moedeloos. Jesus is gekruisig en tot nog toe het niks gebeur nie. Voor hulle uit Jerusalem weg is, het hulle waarskynlik ook al van die vroue verneem dat die graf leeg was, maar verder was daar niks nie.

Iets wonderlik het toe plaasgevind. Terwyl hulle nog so stap, het Jesus skielik saam met hulle geloop. Hulle het Hom egter nie herken nie. Ontsteld het hulle Hom van die naweek se gebeure in Jerusalem vertel (Luk 24:19-24). Jesus het geluister en toe begin om die Ou Testament vir hulle uit te lê. Naby Emmaus maak Jesus asof Hy wil verder loop en dan dring die Emmausgangers by Hom aan om oor te bly. Die aand by die ete neem Hy die brood en nadat Hy dit gebreek het, het die Emmausgangers Hom herken. Skielik verdwyn Hy weer. Hulle sê toe vir mekaar: ‘Het ons hart nie warm geword toe Hy met ons op die pad gepraat en vir ons die Skrif (die Ou Testament) uitgelê nie’ (Luk 24:32).

Nie die hele Ou Testament soos ons dit vandag ken nie. Dalk net ‘Moses’ (die Pentateug) en die profete. Jesus het die Ou Testament so uitgelê dat Kleopas-hulle se harte brandende geword het. Hulle is so deur die Ou Testament gegryp dat hulle ‘n innerlike warmte ervaar het. Hulle het die Ou Testament se boodskap so intens ervaar dat ‘n diepe blydskap hulle oorweldig het.

Jeremia het ook van brandende woorde gepraat (Van Selms 1974). Vir hom was die taak van ’n profeet ondraaglik en in die beginjare het hy met God se opdragte gesukkel. God se woorde het egter in hom soos ‘n vuur gebrand en daarom moes hy dit ‘uitgekry’ het. God se woorde was soos warm kole wat hom binnekant verteer het en daarom het hy weer begin preek. Dit was ‘soos ‘n hamer waarmee klippe stukkend gebreek word’ (Jer 23:29).

God se brandende woorde binne-in Jeremia het iets aan hom gedoen. Dit het hom sterk gemaak, getroos en krag gegee. Opvallend is dat Jeremia vanaf ‘n gegewe oomblik hom nie meer verset het nie. Uiters moeilike tye sou nog voorlê, maar Jeremia het sonder kla van God se vuurwoorde geleef en vertel. Iets soos by die Emmausgangers het dalk ook met hom gebeur. Ongemerk het God se warm woorde binne-in hom sy hart gelukkig gemaak en hom nuwe krag gegee.

Emmaus se betekenis

Wat sê dit binne die geheel van die evangelie? Waarskynlik was Lukas se gemeente baie arm. Boonop het die Romeinse oorheersers dit nie makliker gemaak nie. Die ergste was dat die wederkoms nie gebeur het nie. Jesus het nie gekom nie en hulle moes sonder sy fisiese teenwoordigheid leef. Was alles nou verlore? Volgens Lukas hoegenaamd nie. Sy gemeente kon Christus se nabyheid steeds nog beleef deur twee dinge te doen. Een was om uit die Ou Testament te leef. Indien hulle uit die Ou Testament sou leef, sou hulle Hom ervaar. Wie die Ou Testament verinnerlik, sou God se teenwoordigheid ervaar. Dit is natuurlik nie ‘n tipiese Nuwe Testamentiese gedagte. In die Ou Testament word dit ook al gesê. In Psalm 1 word groot vreugde aan die lees van die destydse skrifte gekopper: ‘Dit gaan goed met die mens … wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink’ (Ps 1:1-2) (Hossfeld & Zenger 1993:45-49). Wie die woorde van die Ou Testament in sy hart bewaar, is ‘n gelukkige mens. Die ander manier was om die eucharistie (of dan die nagmaal) te vier. In die viering daarvan is die Opgestane Christus ervaar. Dit was so ’n intense ervaring dat dit mense hoop en krag gegee het.

Om dus in die harde eerste eeuse wêreld te kon oorleef, moes die Lukasgemeente uit die Ou Testament leef en die teenwoordigheid van Christus in die eucharistie (of nagmaal) ervaar.

Die Emmauservaring is voortgeleef

Sonder die Ou Testament en eucharistie (of nagmaal) sou die gelowiges van die vroeë kerk dalk nie kon voortbestaan nie. Telkens wanneer die eucharistie (of nagmaal) gevier is, is die lyding en opstanding van Christus herbeleef en intens ervaar.

Die gebeure by die kruis en die opstanding was nie blote gebeure nie, maar het deur die herinnering lewend geword en is intens herbeleef. Elke Sondag het die ‘ingewydes’, die wat klaar gekatkiseer het, of soos ons dit noem: ‘voorgestel en aangeneem’ is, aan die einde van die diens die eucharistie, die nagmaal gevier en ’n kenmerk hiervan was die intense ervaring van Christus se teenwoordigheid. In die vierde eeu het Gaudentius van Brixia selfs gesê die brood en wyn was die waarborg van Christus se nabyheid (‘pignus suae praesentiae’). En wanneer die tekens as‘t ware in sy teenwoordigheid gebruik is, is iets van die kruis en opstanding se misterie ervaar en verstaan (Gaudentius Sermo I).

Paasfees was ‘n intensifering, ‘n verdieping van die weeklikse prediking en viering van die eucharistie (Lies 2005:83-107). ’n Baie bekende voorbeeld van so ‘n verdiepte ervaring kry ons in een van die heel vroegste reisbeskrywings na Palestina en Jerusalem. Dit is deur ‘n Spaanse non in die vierde eeu met die naam van Aetheria geskryf. Sy vertel van die historiese plekke (volgens vierde-eeuse siening) wat hulle besoek het. Bybelgedeeltes wat na dié plekke verwys, is hardop voorgelees, dan is daar gebid en gesing en weer verder getrek. Skuins voor pase in die jaar 381 het hulle in Jerusalem aangekom en vir Aetheria was alles oorweldigend. Sy het ’n jaar of twee daar gebly, het deel van die gemeente geword en ook oor haar ervaringe beskryf (Le Roux 1976:26-44).

Aangrypend is haar vertelling oor die plekke rondom Jerusalem wat hulle die week voor pase besoek het (Aetheria, Peregrinatio, 46). Al die plekke wat Jesus ook tydens daardie dae voor pase besoek het, het hulle aangedoen. By elke plek het hulle eers die betrokke gedeeltes in die evangelies gelees, stil geword en aan Jesus se lyding teruggedink; al sy pyn is herbeleef en hulle het dit hulle eie gemaak het. So aangrypend was dit dat hulle kort-kort in trane was. So intens was hierdie herinnering en herbelewenis dat hulle voortdurend deur intense emosies oorweldig is. Tydens daardie laaste week het Jesus deur die herinnering naby aan hulle gekom en het hulle Hom eksistensieel ervaar (Aetheria, Peregrinatio, 27).

Die ewige band

Die Emmauservaring bind ons aan die vroeë kerk, die middeleeue asook die gelowiges van alle tye. Telkens wanneer ons ons in die Ou Testament/Bybel verloor en God se teenwoordigheid ervaar, word ons deel met die Emmausgangers van alle eeue. Telkens wanneer ons die nagmaal vier, beleef ons weer sy kruising, lyding en opstanding; help die herinnering (en verbeelding) ons om dit wat ver is nader te bring en weer te beleef; word ons onlosmaaklik deel van die kerk van alle eeue.

Miskien kan ons dit ook met ’n stukkie uit die geskiedenis van die hermeneutiek illustreer. In die negentiende eeu is veel van die woorde ‘verklaar’ en ‘verstaan’ en ons taak (as teoloë) gemaak. Wat doen ons met ’n teks? Verklaar ons dit of probeer ons dit verstaan. Uiteindelik is gesê dat die natuurwetenskaplikes verklaar en ons verstaan. Maar wat verstaan ons? Die taal, die grammatika, die struktuur, die sogenaamde historiese feite of wat ook al? Dít ook, maar daar is ook iets anders. ’n Teks is ’n uitdrukking van die lewe, ’n lewenswêreld, egte lewenservaringe en verstaan beteken dan om (’n teks soos Luk 24:1-49) se lewenswêreld te ontdek, die egte geloofservaringe van destydse gelowiges toe te eien en binne-in ons te her te beleef, weer te beleef.

Só gesien, groei die Jesusgebeure in betekenis en beleef ons elke keer die Emmausgangers se ontmoeting met Hom.

Bibliografie

· Aetheria. Peregrinatio ad loca sancta. CSEL 39.

· Altaner, B 1951. Patrologie. Freiburg: Verlag Herder.

· Ankersmit, F 1990. De Navel van de Geschiedenis. Groningen: Historische Uitgeverij.

· Ankersmit, F 2007. De sublieme historische ervaring. Groningen: Historische Uitgeverij.

· Bakhuizen van den Brink, J N 1965. Handboek der kerkgeschiedenis. Den Haag: Bert Bakker.

· Collingwood, R G 1994. The Idea of History. Oxford: University Press.

· Cyrillus Hierosolymitanus. Procatechesis I. MPG 33, col 332-333.

· Daniélou, J 1977. The origins of Latin Christianity. London: Darton, Longman & Todd.

· Dassmann, E 1999. Kirchengeschichte II/2. Stuttgart: Kohlhammer.

· Drobner, H R 1994. Lehrbuch der Patrologie. Freiburg: Herder.

· Gaudentius. Sermo I. MPL 20, col 845-848.

· Greijdanus, S 1941. Het Heilige Evangelie naar beschrijving van Lucas, II. Amsterdam: H A van Bottenburg.

· Grundmann, Wysheid 1974. Das Evangelium nach Lukas. Evangelische Verlag: Berlin.

· Hossfeld, F-L & Zenger, E 1993. Die Psalmen, I. Würzburg. Echter Verlag.

· Keulers, J 1951. De Evangeliën volgens Marcus en Lucas. J J Romen & Zonen: Roermond en Maaseik.

· Kremer, J 1988. Lukasevangelium. Würzburg: Echter Verlag.

· Le Roux, J H 1976. Die paasbeskouing van Gaudentius van Brixia. Pretoria: Unisa.

· Lies, L 2005. Mysterium fidei. Würzburg: Echter Verlag.

· Markschies, C 2006. Das Antike Christentum. München: C H Beck.

· Mulder, H 1988. Lucas, II. J H Kok: Kampen.

· Rengstorff, K H 1969. Das Evangelium nach Lukas. Vandenhoeck & Ruprecht: Göttingen.

· Van Selms, A 1974. Jeremia, II. Nijkerk: Callenbach.

Share this / Deel hierdie: