In Israel se gemoed was daar veral een gebeurtenis wat bo al die ander uitgestaan het. ’n Soort van ’n basiservaring wat belangriker nog as die skepping, die verkiesing of die verbond was. En dít was die swaarkry in Egipte en die uittog. Vergelyk ’n mens die aantal verwysings in die Pentateug na die uittog is dit oorweldigend meer as enige ander gebeurtenis. Dít was by uitnemendheid die daad waardeur God sy toegeneentheid en erbarming teenoor Israel bewys het.

 

‘n Verhaal wat nog altyd boei

Dit is opvallend hoe sentraal die Moses-uittog-verhaal in die Pentateug staan. So asof dit die brandpunt van al die ander verhale in die Pentateug (of die boeke Genesis, Eksodus, Levitikus, Numeri en Deuteronomium) vorm. Vergelyk ons dit byvoorbeeld met die voorafgaande verhale oor die aartsvaders Abraham, Isak en Jakob (en ook Josef) in Genesis 12-50 word die andersheid duidelik. Die aartsvaders beweeg eintlik nie buite die grense van die boek Genesis nie; dit is asof hulle net in Genesis ‘geleef’ het; asof hulle selfs ‘n bietjie tussen al die ander boeke wegraak want buite Genesis word nie veel oor die aartsvaders gesê nie.

Daarenteen lê die spatsels van die uittog oral oor die hele Ou Testament versprei. Trouens, een van die mees fundamentele uitsprake in die Ou Testament is juis dat God Israel uit Egipte gelei het. In Egipte het Hy sy groot dade met Israel begin en dáár het Hy hulle sy eiendom gemaak (Hos 11:1). Dié gebeurtenis was so oorrompelend dat dit elke faset van Israel se lewe omvou en deursuur het. Israel se lewenstyl en sy houding teenoor ander is deur die uittoggebeure gemotiveer. Hulle moes op die sabbat rus want hulle was self slawe in Egipte en hulle moes vir die vreemdelinge omgee ‘want jy was self ‘n vreemdeling in Egipte’ (Dt 5:15; 10:19).

In die historiese terugblikke of geloofsbelydenisse (of credo’s) in Deuteronomium 26:8; 6:21-23 en Josua 24:6,7 draai alles rondom die uittoggebeure. Israel het baie in Egipte geword, veel gely en toe het God hulle uitgelei. Hoe geweldig dié gebeure was, blyk ook uit die unieke manier waarop elkeen van hierdie terugblikke die basiese gegewe uitbrei en beskryf (Dt 26:8; 6:21-23; Jos 24:6,7). In die een geval word die woorde ‘magtige dade’ en ‘kragtige groot dade’, ‘tekens’ en ‘wonders’ gebruik en het die gebeure groot ‘vrees ingeboesem’ (Dt 26:7). Elders weer val die klem op die gebeure by die see. God het dit tussen Israel en die Egiptenaars laat donker word en die see oor hulle laat kom (Jos 24:6-7). Kortom: die verhaal van die uittog uit Egipte het die spilpunt geword waar om die hele Pentateug draai.

 

Menslike broosheid en God se erbarming

Die uittog (of die redding dan) het by God se erbarming begin. Voor die groot drama in Egipte het God egter iets belangrik gesê: ‘Ek het die ellende van my volk in Egipte duidelik gesien en hulle noodkrete oor die slawedrywers gehoor. Ek het hulle lyding ter harte geneem’ (Eks 3:7). God se erbarming was die beginpunt en woorde soos ‘sien’ en ‘hoor’ en ‘dink’ (of ‘ter harte neem’) help ons om God se betrokkenheid te verstaan. As God iemand gesien of gehoor het, was Hy bý die persoon. In Egipte was God dus naby aan hulle wat gely het want hy het hulle gesien, gehoor en aan hulle gedink. In Psalm 136 word dié gedagte ook mooi verwoord: ‘Hy het … aan ons gedink in ons vernedering’ (vs 23). Toe hulle verleë was en die probleme onoorkomelik gelyk het, het God aan hulle gedink. Hy het toe so naby gekom en sy teenwoordigheid was so ‘n werklikheid dat die psalmskrywer dit uitgejubel het: ‘Aan sy liefde is daar geen einde nie’ (vs 23). Vooraf is dus eers vir Moses gesê dat God naby was aan diegene wat in Egipte gely het.

Belangrik is dat die verhaal van Moses in Egipte, die uittog en God se erbarming binne die brose strukture van menswees gestalte gekry het. God red nie hulle siele nie, maar het met hulpelose mense en hulle totale lewenswerklikheid gewerk. En dié broosheid is ‘n tema wat reeds  in die Pentateug en die Ou Testament se begin vermeld word. Dít is iets wat die totale mens insluit en nie net die siel nie.

Dit kan ook nie anders nie want ‘n mens is maar net van die bogrond van die aarde gemaak; vir sy voortbestaan is hy van die aarde afhanklik; hy is nie gemaak om ooit alles te ken nie; hy kan nie in absolute terme dink nie; hy leef nie vir altyd nie en keer weer na die aarde terug. Nooit kan ‘n mens sy beperkthede oorskry nie want daarvoor is hy te broos (Gen 2). Soos die psalmskrywer sou sê: ‘Hy is soos gras wat in die môre afgesny word: in die môre is dit nog groen, maar dit word afgesny en teen die aand is dit verlep en dit verdroog’ (Ps 90:5-6). So is die mens dan. Hy is ‘n uiters beperkte wese wat net binne die klein grense van sy menswees kan bestaan. Vanweë sy broosheid kan hy swaarkry, ellende, eensaamheid, hartseer, verlange nie vermy nie. En dié  gebeure kan ‘n mens aftakel en vernietig.

Dít is wat in Egipte gebeur het en daarom het God hulle uit hulle totale brose (sosio-politieke) konteks gered. Voordat dit egter gebeur het, is eers van God se erbarmende liefde in Eksodus 3:7 vertel. Dít was die beginpunt van alles.

 

Herinnering aan gister

Dit wat God in Egipte en die woestyn gedoen het, moes dus nooit vergeet word nie. Israel moes voortdurend daaraan teruggedink het en deur die herinnering versterk word. Eeue later het die profeet Hosea nog dié gebeure onthou en op ‘n besondere manier verstaan. In ‘n gedeelte wat ‘n kykie in God se hart gee, laat hy Israel se volksbestaan in Egipte begin; by God se liefde in Egipte: ‘Toe Israel nog ‘n kind was, het Ek hom al liefgehad, en Ek het hom, my seun, uit Egipte geroep’ (Hos 11:1). En toe Hosea besef het dat Israel se einde naby was, het die hoop geleef dat die woestyntyd as ‘t ware weer sou gebeur want volgens hom was dit ‘n besondere tyd: ‘Tog sal Ek weer begin om haar die hof te maak. Ek sal haar na die woestyn toe bring en mooi dinge vir haar sê … Dan sal sy weer my liefde beantwoord soos toe sy jonk was, soos toe sy uit Egipte getrek het’ (Hos 2:14).

Om te sorg dat Israel nooit sou vergeet nie, is die uittog as ‘t ware ware in hulle historiese herinnering ingeskryf. Deur middel van iets soos die credo of die belydenis in Deuteronomum 26:5-11 is gesorg dat Israel altyd sou onthou. Om hulle te help, is die uittogherinnering in ‘n bepaalde vorm met ‘n mooi struktuurtjie gegiet. Eers was daar ’n proloog: ‘My vader was ’n Arameër (dit is Jakob) wat van plek tot plek getrek het. Hy het na Egipte toe gegaan’. Dan volg die beskrywing van die nood: ‘Die Egiptenaars het ons sleg behandel. Hulle het ons verdruk en ons harde werk laat doen’. Vervolgens is daar ’n hulpgeroep, ‘Ons het na die Here die God van ons voorvaders om hulp geroep’, gevolg deur ’n mededeling dat Hy geluister en gesien het: ‘ … Hy het ons gehoor … en ons ellende …  raakgesien’. En dan word God se redding beskryf: ‘Die Here het ons uit Egipte laat wegtrek … Hy het ons in hierdie plek gebring en hierdie land aan ons gegee’. Ten slotte volg ’n daad van dankbaarheid: ‘Dit is die rede waarom ek nou die eerste opbrengs van die land … gebring het’.  

Deuteronomium 26:5-11 is nie ‘n blote historiese relaas nie, maar iets wat deur die geloof telkens weer ’n nuwe betekenis gekry het. God het in sy erbarming gehoor, gesien en aan die wat ly gedink, en Israel moes dit nooit vergeet nie. En die credo sou hulle daaraan herinner.

 

Paasfees was ‘n tyd van herinnering

Paasfees was ‘n manier om vergeet te keer. Elke paasfees en elke stukkie feesvreugde moes help dat Israel nie vergeet nie en dat ‘die maand Abib’ en die ‘nag … (wat) die Here … jou uit Egipte laat trek het’, altyd in die herinnering sou leef (Dt 16:1). So moes die ongesuurde brood se bitter smaak hulle tydens pase aan kromrug arbeiders in die warm sand herinner het.  

Deur die gawe van verbeelding moes elkeen hom/haar so in die situasie inleef dat hulle alles weer herbeleef is. Die ‘Egiptenaars … het die lewe vir hulle bitter gemaak deur swaar werk met klei … en deur … werk in die lande’ en dít moes Israel as ‘t ware telkens weer binne-in hulle-self herbeleef het (Eks 1:14). Tydens paasfees moes Israel alles weer so intens beleef dat hulle die tamheid, uitputting en kragloosheid van hulle voorvaders binne-in hulle-self gevoel het. Eeue na die uittog was hierdie herinnering nog so sterk dat mense in die eerste persoon meervoud daaroor gepraat het: ‘Ons was in Egipte … die Here het ons … bevry toe Hy voor ons oë tekens … gedoen het’ (Dt 6:20-22). Israel se herinnering was so intens dat dit die veraf-gebeure as ‘t ware nadergetrek het.  

Deur die geloof, die herinnering en die verbeelding is die lyding in Egipte híér en nóú weer beleef; het mense uit verskillende ‘tydsones’ één geword en het die ervaring van voorgeslagte die geloofsgoed van almal geword. Onlosmaaklik aan dié herbelewenis was ‘n gevoel van blydskap gekoppel. Volgens Deuteronomium het God se teenwoordigheid die groot verskil gemaak. In elke terugdink is sy nabyheid opnuut ervaar en daarom is ook uitdruklik gesê: ‘jy (moet) bly wees in die teenwoordigheid van die Here’ (Eks 16:14). Die woorde ‘blydskap’ en ‘teenwoordigheid van God’ kom nogal meermale in Deuteronomium asook ander plekke in die Ou Testament voor. Daar was iets in dié teenwoordigheid wat mense geroer en verander het.

 

’n Slotwoord

Vandag se Paasvieringe bind ons aan voorgeslagte. Bind ons aan die mense van die Ou Testament, die vroeë kerk, die middeleeue asook die gelowiges van alle tye. Mag dié verbondenheid asook ons herinnering en herbelewing van daardie gebeure in Egipte en Jerusalem vir ons almal nuwe betekenis kry. 

 

Boekelys

Ankersmit, F 1990. De Navel van de Geschiedenis. Groningen: Historische Uitgeverij.

Ankersmit, F 1993. De historische ervaring. Groningen: Historische Uitgeverij.

Ankersmit, F 2007. De sublieme historische ervaring. Groningen: Historische Uitgeverij.

Collingwood, R G 1994. The Idea of History. Oxford: University Press.

Gadamer, H-G 1990. Hermeneutik I. Wahrheit und Methode. Tübingen: J. C. B. Mohr (Paul Siebeck).

Gaudentius. Sermones. MPL 20. 

Grondin, J 2002. Gadamer’s basic understanding of understanding, in Dostal, R J (red), The Cambridge companion to Gadamer. Cambridge: Cambridge University Press.

Noth, M 1972. A history of Pentateuchal traditions. Englewood Cliffs, N J: Prentice Hall.

Otto, E 2000. Das Deuteronomium im Pentateuch und Hexateuch. Tübingen: J C B Mohr (Paul Siebeck). 

Schmid, K 1999. Erzväter und Exodus. Neukirchen–Vluyn: Neukirchener Verlag. 

Von Rad, G 1958. Theologie des Alten Testament. München: Chr Kaiser Verlag.  

Von Rad, G 1971. Das formgeschichtliche Problem des Hexateuch, in Gesammelte Studien zum Alten Testament. München: Chr Kaiser Verlag. 

Westermann, C 1978. Theologie des Alten Testaments in Grundzügen. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht.

Share this / Deel hierdie: