Inleiding

Water is nie net net ‘n bron van lewe nie, maar ook van dood. Dit is die lewenssituasie waarin ons ons vandag wêreldwyd bevind. Dit kan omskrywe word met die aanduiding van “om stroomaf te lewe” aangesien dit ons afhanklikheid van water sowel as ons verantwoordelik-heid ten opsigte daarvan beklemtoon. Waterskaarste, besoedeling en onvoldoende sanitasie maak die vanselfsprekende betekenis en beskikbaarheid van water as bron van lewe onvanselfsprekend. Maar water het ook ‘n belangrike simboliese betekenis in religieë, veral ook in die Christelike geloof. Watter teologiese implikasies hou dit vir ons in wanneer ons enersyds God bely as skepper en gewer van lewe en andersyds hierdie lewe nou bedreig word deur allerlei menslike bedrywighede (bv industrialisasie) of gebrek aan bedrywighede (bv ontbrekende sanitasie) waarin die beskikbaarheid van vars water geensins meer ‘n vanselfsprekendheid is nie. Kortweg gestel is dit die vraag na die eksistensieël-teologiese betekenis van water. Om die vraag te antwoord word gewys op die eietydse toespitsing op die belangrikheid van water wêreldwyd, die geloofsbeklemtoning van water en wat dit beteken om stroomaf te lewe.

Water is lewe en dood

Water is lewe sê Christiana Peppard in haar inleidende paragraaf in haar studie oor vars water en Rooms-Katolieke sosiale denke. Sy noem water die “lifeblood for ecological systems and embodied creatures” en die “vital matrix of creation” (Peppard 2012:325). Water is noodsaaklik en uniek. Die ontbreek of skaarste van water hou bedreiging of dood vir alle lewe in. So byvoorbeeld is veilige drinkwater noodsaaklik vir alle lewende wesens. Ten spyte van ernstige pogings wêreldwyd om veilige drinkwater te verseker vir meer mense, is daar vandag nog ongeveer een biljoen mense wat nie toegang het tot veilige drinkwater nie. Terselfdertyd het ongeveer 2.6 biljoen mense nie toegang tot voldoende sanitasie nie. Daar is wêreldwyd ‘n direkte korrelasie tussen toegang tot veilige drinkwater en mense se ekonomiese status en vermoëns. Ook speel water ‘n beduidende rol op allerlei wyses in die wêreldekonomie. Ongeveer 70% van die vars water wat deur die mens gebruik word, word in die landbousektor verbruik. Daar word beweer dat teen 2025 meer as die helfte van die wêreld se bevolking waarskynlik watergebrek in die gesig gaan staar. Saam met die dreigende watergebrek kom die verskriklike toedrag van sake dat waterbesoedeling en gebrek aan sanitasie amper twee miljoen kinders se dood jaarliks veroorsaak. Op hierdie wyse word die huidige patrone en gevangenisse van armoede wêreldwyd voorgesit en versterk. In 2030 sal in enkele ontwikkelende streke die aanvraag na water die aanbod met 50% oorskry. Dit maak van water – sonder enige vrees vir teenspraak – die belangrikste natuurlike element waarna die mens met groot verantwoordelikheid sal moet omsien. Ook in Suid-Afrika as waterarm land waar – so word bereken – die aanvraag die aanbod teen 2025 sal oorskry. Die aanbod van water word egter verder onder enorme druk geplaas deur die vraag na die kwaliteit van water (dit is, vars, drinkbare water) as gevolg van toename in besoedeling en die vernietiging van opvangsgebiede (byvoorbeeld deur verstedeliking, opdam van riviere, vernietiging van vleilande – om slegs ‘n paar te noem). Die groot probleem is ons oud en onbetroubare infrastruktuur volgens Marius Claassen (Akwatiese ekoloog, WNNR). Met 8% van ons land wat 50% van ons water voorsien, sal ons intelligent en strategies na ons waterprobleem moet kyk. Veral omdat – aldus die Europeuse Unie se verslag oor water in Suid-Afrika – daarop gewys het dat slegs 5% van gevaarlike afval word korrek hanteer (Thelwell 2014). Behalwe hierdie bestuurskrisis, is waarskynlik is een van die ander belangrikste risikofaktore suurwater afskomstig van ons mynbedrywighede. Die lys van bewese en moontlike mediese implikasies is skrikwekkend. Ons kan dus nie anders as om hierdie toedrag van watersake met die grootste lewenserns op te neem vir die vermyding van dreigende ekologiese en sosiale ineenstortinge nie. Die wyse waarop dit ernstig opgeneem sal moet word, sal multi-dissiplinêr en holisties moet wees.

Reeds in 2009 het die Suid-Afrikaanse sistematiese teoloog Steve De Gruchy (2010) in sy voordrag “Water and Spirit” treffend gewys op die dubbele gevaar wat water inhou nie net ten opsigte van skaarste nie, maar ook deur siektes soos cholera (in verwysing na cholera epidemie wat Zimbabwe in 2008-9 getref het). Daarom – voer hy aan – moet ons weer besin oor water en sprituliteit (“gees”) want water het nou vir iets gestaan wat dit vroeër nie was nie: dood. Vroeër lewe, maar nou ook dood! Water is in alle religieë van die wêreld van sentrale belang en in almal ‘n spirituele simbool van beide lewe en dood. Water word religieus byvoorbeeld met reiniging en spirituele krag geïdentifiseer. In die beskrywing “om stroomaf te lewe” kan enersyds en andersyds die konkrete en spirituele belang van water saamgevoeg word.

Om stroomaf te lewe

Die verantwoordelikheid vir vars water en sanitasie is nie alleen die van regerings en munisipaliteite nie. Van hierdie krisis wat die ganse aarde bedreig en menslike voortbestaan op die spel plaas, moet teologiese nadenke van die 21ste eeu ‘n gespesialiseerde gespreksgenoot van die betrokke rolspelers word. Dit sou my eerste passievolle pleidooi aan teologiese nadenke wees om by die interdissiplinêre diskoers betrokke te raak. Wat en waar sou ‘n sinvolle en werklikheidsbetrokke teologiese invalshoek tot hierdie uiters dringende gesprek wees? De Gruchy (2009a) help ons:

‘This link between economy and ecology is usually missing from our theological models. Liberation theologies focus on the Exodus tradition, and are concerned with economics and poverty. Creation theologies focus on the Genesis tradition, and are concerned with ecology and the environment. Isolated from the each other, these theologies miss the fact that “we all live downstream”. We need to find a theological vision that integrates them’.

De Gruchy (2009a;2009b) noem sy teologiese integrerende visie die Jordaan Perspektief waarin verantwoordelikheid ten opsigte van die mens en aarde, en ook ekonomie en ekologie gehandhaaf word. Sy visie gee konkrete inhoud aan die vroëre Entebbe Verklaring (2007) in Uganda waarin gestel word:

‘As churches and faith based organisations we affirm water as the cradle and source of life, an expression of God’s grace in perpetuity for the whole of creation. We are called to exercise responsible stewardship for this unique trust, and to preserve and share it for the benefit of humanity and all creation. Further we share the following convictions: that access to water is a fundamental human right, that the protection and control of water resources is a central public responsibility, and that water must not be treated as a commodity but as an essential social good for the present and future generations. We recognise water as a sacred gift of God’ (WCC 2007.

Hoe verwoord ons dan interdissiplinêr en holisties hierdie ‘sacred gift of God’?

God as gewer van lewe het in die 21ste eeu vanuit hermeneuties-kontekstuele insigte by wyse van waterspreke ‘n halwe waarheid geword. Sonder water is daardie lewe net nie meer moontlik nie. Verdermeer: Die fonteine wat volgens nuwe testamentiese perspektiewe (vgl Jak 3:11-12) nie uit dieselfde oog vars en brak water laat opborrel nie, het inderdaad by wyse van metaforiese spreke die sosiaal-ekonomiese en politieke fonteine van lewe (vars) en dood (brak) geword. Water – die uniekheid en beskikbaarheid daarvan – het by uitnemendheid die antropologiese dimensies van menswaardigheid, sosiale geregtigheid en die integriteit van die skepping opnuut as menslike verantwoordelikheid na vore gebring. Dit is die teologiese verwoording en die positiewe aanvaarding van die sosiaal-etiese implikasie van Matt 25:35 waar gestel word: ‘Ek was dors, en julle het My iets gegee om te drink’

Lewe as gawe van God soos deur Christene bely en die noodsaaklikheid van water vir die realisering van juis hierdie lewe maak van die beskikbaarheid en toegang tot vars water ‘n menslike reg. Water is beslis nie deel van ons lewens net om deur ‘n paar bevoorregte lande, regerings, of instansies misbruik of uitgebuit te word nie. Daarom sal grootskaalse kommodifisering van water teengestaan moet word vanuit Christelik sosiaal-etiese oorweginge. Dit beteken eenvoudig dat diegene wat dit die minste kan bekostig (armes) mag nie uitgebuit word om ten duurste daarvoor te moet betaal nie. Dit geld ook vir industrialisasie wat nie ongestoord toegelaat kan word om uit te brei sonder dat die omgewingsimplikasies noukeurig nagegaan word nie. Dat moontlike besoedeling van omgewingswater nie toegelaat mag word nie. Bo alles moet die menslike omgewing sowel as alle ander lewende wesens (flora en fauna) hulle regmatige eko-sistemiese plek behou sonder grootskaalse versteuringe. Op hierdie wyse sal menslike voortbestaan nie ten koste van hulle leefomgewings bevorder word nie. Anders kortweg gestel: Die boek van die natuur – naas die boek van die skriftuur soos gestel in die belydenisskrifte – moet opnuut weer haar regmatige skeppingsplek en stem inneem. En die mens moet haar opdrag tot versorging van en omgee vir die skepping as verantwoordelikheid opnuut weer ernstig neem. Holisties ernstig neem, dit wil sê, met verdiskontering terselfdertyd van sosiaal-ekonomiese, politieke en teologiese dimensies. Op hierdie wyse is – benewens toegang tot vars water as reg – ook voldoende sanitasie ‘n onvermydelike vereiste van die handhawing van menswaardigheid en die spesifieke voorkoming van moontlike siektetoestande wat by gebrek aan voldoende sanitasie mag ontstaan. Kru kortweg getel in die lig van die voorafgaande: Die dors na God en dors na water en sanitasie moet kontekstueel-eksistensieel saamgelees en bedink word. Saamgelees en bedink begin by die stelling: Ons lewe stroomaf (Tara Lohan).

Deur evolusie het alle lewe uit water ontstaan. Daar is net een stroom water. Net een! Van hierdie een stroom water is alle lewe afhanklik. In hierdie opsig lewe ons almal saam stroomaf. Alle lewe is stroomaf lewe. Water vloei deur ons menslike liggame. Dieselfde water vloei deur die diere, insekte en plante van die aarde. Vloei deur ons riviere. Verdamp die lug in, word wolke, kondenseer en voed deur reënwater alle lewe. Dieselfde water vloei ook deur ons netwerke van sanitasie. Daar is geen lewe buite om hierdie watersiklus moontlik nie. Net so is onder andere teologiese nadenke ‘n getuie en (uit)draer van die spirituele stroom van religiositeit waardeur die mensdom nie haar volle betekenis kan ontgin of waarde van menswees voor God kan ontsluit nie. Vanuit hierdie perspektief gesien moet ons wat dus stroomaf lewe, bewustelik stroomop dink sodat die invloedryke markmeganismes van ekonomiese sisteme en politieke magsbelange blywend krities ontmasker sal word ter wille van die Een wie ons bely as die Gewer van alle lewe, en ter wille van die weerloses en magteloses wat nie toegang tot vars water ontneem of uitgebuit mag word nie. Op hierdie metafories-kontekstuele wyse vloei die dors na God, toegang tot vars water, voldoende sanitasie en geregtigheid alles konstruktief ineen, en waar dit ‘n werklikheid gemaak word, is dit verkwikkend soos lentereën wat die grond verkwik (vgl Hos 6:3) en lewe laat voortspruit en onderhou.

Bibliografie

ARHAP 2006. African Religious Health Assets Programme (ARHAP). Appreciating Assets: The contribution of religion to universal access in Africa. Report for the World Health Organisation. Cape Town: ARHAP.

https://www.arhap.uct.ac.za/pub_WHO2006.php (Besoek 22 Maart 2015)

De Gruchy, Steve     2009a. Dealing with our own sewage: A Jordan River perspective. Ecumenical Water Network.

http://water.oikoumene.org/en/whatwedo/seven-weeks-for-water/past/2009-water-and-justice/dealing-with-our-own-sewage-a-jordan-river-perspective (Besoek 22 Maart 2015)

De Gruchy, Steve 2009b. Dealing with our own sewage: Spirituality and ethics in a sustainable agenda. Journal of Theology in South Africa 134, 53-65

De Gruchy, Steve 2010. Water and Spirit: Theology in a time of cholera. The Ecumenical Review 62 (2) 188–201. DOI: 10.1111/j.1758-6623.2010.00057.

DWA 2012. Department of Water Affairs (DWA). National State of Water Resources Report 2011/12.

https://www.dwaf.gov.za/Groundwater/documents/2011-12 (Besoek 22 Maart 2015)

Ferris, Margaret H 2006. When the Well Runs Dry: An Exploration of Water Conservation and Blue Theology. Reconstruction: Studies in Contemporary Culture 6 (3) http://reconstruction.eserver.org/Issues/063/ferris.shtml (Besoek 22 Maart 2015)

Fourie, Willem 2013. Social ethics in South Africa: Initiating a dialogue between its relevance and current status. HTS Teologiese Studies/Theological Studies 69 (1) Art. #1978. http://dx.doi.org/10.4102/ hts.v69i1.

HDR 2006. Human Development Report (HDR). Beyond scarcity: Power, poverty and the global water crisis.

http://www.undp.org/content/dam/undp/library/corporate/HDR/2006-Beyondscarcity-Power-poverty-and-the-global-water-crisis.pdf (Besoek 21 Maart 2015)

Kauffman, Sjef et al[1] 2014. Green Water Credits – exploring its potential to enhance ecosystem services by reducing soil erosion in the Upper Tana basin, Kenya. International Journal of Biodiversity Science, Ecosystem Services & Management. DOI: 10.1080/21513732.2014.890670 (Besoek 21 Maart 2015)

Kok, Kobus 2014. “Oikodome”. Perspektiewe op konstante konstruksie (bou), genesing, restourasie, rekonsiliasie, vrede, versoening en die transendering van grense. Ongepubliseerde voordrag by teologiese navorsingsdag van die Fakulteit Teologie, Universiteit van Pretoria. Sept 2014.

Kok, Kobus 2015. The radicality of Early Christian oikodome: A theology that edifies insiders ánd outsiders. Ongepubliseerde voordrag by Oikodome symposium, Okt 2015, Universiteit van Pretoria.

Le Roux, CE et al[2] 2015. Water footprints – the strory of fruit and vegetables. The Water Wheel 14 (2) 22-26. http://www.wrc.org.za/Attachments/11124 (Besoek 29 Mei 2015)

Murray, Montagu 2015. Water, navorsing en Nova Instituut. Persoonlike epos aan my gedateer 29 Mei 2015

Pearce, Fred 2007. When the rivers run dry: what happens when our water runs out? London: Transworld

Patenaude William L 2014. Justice and Fresh Water. Interview with Dr Peppard. Catholic World Report, 21 March 2014.

http://www.catholicworldreport.com/Item/3018/justice_and_fresh_water.aspx (Besoek op 23 Maart 2015)

Peppard, Christiana Z 2012. Fresh Water and Catholic Social Teaching: A Vital Nexus. Journal of Catholic Social Thought 9 (2) 325-351.

Pepparrd, Christiana Z 2014. Just Water: Theology, Ethics, and the Global Water Crisis. Maryknoll: Orbis Books.

Rothfeder, Jeffrey 2004. Every Drop for sale: our desperate battle over water in a world about to run out. New York: Penguin.

Thelwell, Emma 2014. South Africa’s looming water disaster. News24 2014-11-03. http://www.arc.agric.za/Agricultural (Besoek 21 Maart 2015)

Water 2015. Wikipedia.https://en.wikipedia.org/wiki/Water (Besoek 20 Maart 2015)

Waterwise 2015. Water sanitation in South Africa. Rand Water. http://www.waterwise.co.za/site/water/environment/situation.html (Besoek 20 Mrt 2015)

WCC 2007. World Council of Churches: Statement of the Conference “Churches for Water in Africa”, 21-25 May 2007, Entebbe, Uganda.

http://www.oikoumene.org/en/folder/documents-pdf/EWN_Entebbe_Statement.pdf

[1] Die ander mede-outeurs van Green Water Credits is Peter Droogers, Johannes Hununk, Boniface Mwaniki, Fred Muchena, Patrick Gicheru, Prem Bindrabin, Davies Onduru, Rudolph Cleveringa en Johan Bouma.

[2] Die ander twee outeurs van van Water Footprints is Michael van der Laan en Mark Gush.

Share this / Deel hierdie: