Volle bibliografiese besonderhede:

Titel: Om te mag twyfel. ‘n Gelowige se reis

Outeur: Julian Müller

Datum: 2011

Uitgewer: Tafelberg

Paginae: 194

ISBN 978-0-624-04962-3

Prys: R150

 

Oorsig

‘Twyfel’ en ‘gelowige’, twee woorde wat in die titel van die boek gebruik word, lyk oënskynlik asof hulle mekaar weerspreek. Maar in sy jongste boek probeer Julian Müller presies hierdie twee woorde ten nouste met mekaar in verband bring: veral gelowige mense twyfel. Hyself dien as voorbeeld. Reeds in die Inleiding tot sy werk, dui hy aan dat hy iets van ‘n outobiografie aanpak. Dis egter nie ‘n sistematiese uiteensetting van sy lewensverhaal nie. Veel eerder nooi hy die leser uit om saam met hom op sy geloofsreis te gaan en om by sekere beslissende momente stil te staan en na te dink oor wat gebeur het.

   Die boek het as’t ware twee gedeeltes: van hoofstuk 1-5 vertel Müller sy persoonlike verhaal, en vanaf hoofstuk 6-9 maak hy meer algemene opmerkings oor geloof, God en hoe ‘n mens voorstelle van God in ‘n moderne wetenskaplike wêreld kan integreer sonder om jou geloof prys te gee. 

   Metafories vir Müller se persoonlike geloofsreis is die verhaaltjie van ‘n Vendaseun en sy vier honde wat op ‘n soektog na heuning gegaan het – drie van die honde was sterk en gesond, die vierde ene lam. Die seun loop van kraal tot kraal op soek na beter dinge, maar aan die einde van sy reis, as hy by die beste moontlikheid uitkom, word sy lewe bedreig. Uiteindelik is dit nie die drie sterk honde wat hom red nie, maar die lam hond. ‘n Verhaal dus met ‘n verrassende wending aan die einde! So beskryf Müller ook sy geloofsreis: in nie een van die ‘krale’ kry hy wat hy soek nie, en ook sy geloofstorie vertel van die ‘redding van die lam hond’.    

   Müller se eerste ‘kraal’ is die ‘kraal’ van geloofsekerheid. In sy grootwordjare jare was geloofsekerheid een van die belangrikste eienskappe vir ‘n goeie Christen. Dit pla hom ‘n bietjie dat hy nooit daardie ‘beloofde gevoel van godsaligheid’ (p 30) ervaar nie, maar die eerste pynlike skok kom met die afsterwe van jong Albertus Engelbrecht wat hyself, as jong teologiestudent  geroepe gevoel het om gesond te bid (p 31-32). Vir die eerste keer begin hy ernstig nadink oor godsdienstige skemas van oorsaak/gevolg, beloning/straf, gebed, gebedsverhoring en natuurlik die nabyheid of afwesigheid van God. Hy kom tot die besef dat die geloofstaal waarin God tradisioneel vasgevang word, ‘n mens natuurlik veilig laat voel, maar dat jy daardie God verloor wanneer jy voor die onbeantwoordbare vrae van die lewe te staan kom. Van hierdie ‘kraal’ moet hy aanbeweeg.

   Vervolgens kom hy in die kraal van ‘boeregeloof’ – oftewel die polities-godsdienstige kader van die Afrikaner tussen die sewentiger en negentigerjare van die vorige eeu. Hier voel hy homself toenemend ontuis. Hy beskryf etlike voorvalle wat daartoe bydra waarom hy homself eers geleidelik maar dan taamlik beslis van die Broederbond, die Nasionale Party en die ‘Afrikanergeloof’ gedistansieer het. Laasgenoemde was die moeilikste. Op bladsy 58 skryf hy: Onder ‘Afrikanergeloof’ verstaan ek ‘n tradisionele geloof in ‘n teïstiese God wat die Afrikaner uitverkies het met ‘n heilige roeping in Afrika. Dis ‘n geloof wat ons as Afrikaners in ‘n spesiale soort witbroodjie-verhouding met God geplaas het. Hy laat blyk ‘n teleurstelling dat, ten spyte van ‘n veranderde politieke bestel in die Suid Afrikaanse samelewing, die NG Kerk weinige sigbare blyke daarvan toon. Alles lyk nog net soos dertig jaar gelede. Daar is nie plek vir ‘n kerk wat apartheid vir alle praktiese doeleiendes laat voortleef en selfs (on)bewustelik versterk nie. ‘n Kerk wat institusionele apartheid lankal afgesweer het, behoort meer doelgerig programme in te stel om dit ook op gemeentevlak sigbaar te maak (p 63). Dit is ook ‘n ‘kraal’ wat hy moet verlaat.

   In Müller se derde ‘kraal’ ontdek hy sy finale ontnugtering met kerklike sekuriteit. Aanvanklik het hy in die kerk geborge gevoel soos ‘n passasier op ‘n groot skip. Maar in die winter van 2005 is hy en twee kollegas deur ‘n vyfdejaar-teologiestudent van dwaalleer aangekla (p 71). Alhoewel Müller en sy kollegas deur hul onderskeie ringe onskuldig bevind en die student geskors is, was dit ‘n uitmergelende proses vir die drie professore wat onuitwisbare letsels op elkeen gelaat het. Dit was veral die fundamentalistiese teologiese uitgangspunte wat ‘n onproblematiese ‘ja’ of ‘nee’ as antwoorde op uiters komplekse sake verwag – in Müller se geval, Jesus se  opstanding en die leë graf. Dit word die toetssteen vir ware geloof. Maar volgens Müller hou geloof in die opstanding van Jesus veel meer in as ‘n blote uitspraak oor ‘n leë graf. Hoe dieper ‘n mens oor die misterie van die opstandingsgebeure nadink, hoe minder woorde het jy om dit te beskryf … Om die belydenis van die opstanding wat ons gelowig maar stamelend uitspreek, tot ‘n ja of nee oor ‘n leë graf te vervlak, is om die belydenis self leeg te maak. Geloof in die opstanding van Jesus mag nie tot ‘n enkele formule of een enkele manier van verstaan gereduseer word nie. Wat my betref, bely jy die opstanding of jy doen dit nie. Enige kwalifikasies wat bygevoeg word, maak die belydenis nie ryker nie, maar armer (p 78). Gedurende hierdie tyd kry Müller heelwat ondersteuning van vriende en kollegas, maar terselfdertyd ervaar hy snydende en beledigende aantygings wat ook in die media en die pers aan die groot klok gehang word. Dit laat hom besef die geborgenheid wat hy aanvanklik gevoel het, is nie vergelykbaar met ‘n passasierskip nie, maar ‘n blote illusie van veiligheid wat ‘n mens op ‘n kragtige Yamaha 1100 cc-motorfiets ervaar. Nog ‘n ‘kraal’ wat hy liefs moet verlaat.     

   En net toe hy dink dat die saak finaal afgehandel is, dat sy en sy kollegas se onskuld finaal bewys is, word hulle en ander kollegas by die teologiese fakulteit van die Universiteit van Pretoria deur ‘n vernietigende DVD geteiken (p 96-98). Hulle is op videokamera afgeneem – per geleentheid selfs met goedkeuring – maar die finale produk het die brokkies en stukkies op so ‘n wyse aanmekaar gelas dat die professore heeltemal buite konteks aangehaal en dus volkome misverstaan is. Die DVD het al die argumente wat in die ring se ondersoek voor my kop gegooi is, weer opgerakel. Dit was egter tien keer meer vernietigend omdat dit die wêreld ingestuur is en as die waarheid verkoop is … Die DVD is na elke Afrikaanse predikant in die land gepos. Dit is in boekwinkels verkoop en op die platteland selfs in tuisnywerhede (p 97). In Müller se verhaal, is dit ‘n lewensbedreigende ‘kraal’. Hierdie negatiewe propaganda wat nou weer opnuut met mag en mening deur die media en die pers gedryf word, was vernietigend, en het die ou fundamentalistiese versus liberale teologiese debatte weer opnuut laat opvlam – en nie altyd op volwasse wyse nie! Müller is ten gunste van debat, maar die aard van so ‘n gesprek moet wees … indringend en krities, maar respekvol en daarom sonder persoonlike aanvalle en beledigings (p 106).     

   Is daar in Müller se geval, soos ‘n die verhaal van die Venda-seun ook ‘n lam hond wat tot sy redding kom? Hy is versigtig vir ‘n ‘ja’ of ‘n ‘nee’, want sy ‘redding’ mag oor ‘n paar jaar anders lyk. Tog waag hy die volgende: Ironies genoeg was dit [die onverwagte oord waaruit sy redding kom] uit dieselfde oord as waar my naam soveel skade opgedoen het: die media en veral die pers … Die einste media waarin ek soveel negatiewe publisiteit ontvang het, het nuwe deure oopgemaak. Vandag is ek in die bevoorregte posisie dat ek kan skryf en my bydraes word gepubliseer, in elk geval veel meer as vroeër in my lewe (p 108).

   Die res van die boek, vanaf hoofstuk 6, word aan voorstellings of beelde van God gewy. Hoe ‘n mens God vir jouself voorstel, hang ten nouste saam met die wêreld waarin jy leef. Ons interpretasie van God word binne ‘n bepaalde konteks gevorm. Daarom sukkel baie mense wat in ‘n moderne wêreld leef waar alles wetenskaplik verklaar kan word, om ‘n Godsbeeld te aanvaar wat vanuit ‘n antieke wêreldbeeld spruit. ‘n Voorstelling van God wat nie sin maak in die wêreld waarin ‘n mens leef nie, veroorsaak twyfel by baie denkende mense en daarom raak hulle vervreem van godsdiens. Daar is ‘n bepaalde verhouding tussen geloof en verstand (p 119) wat roep om kritiese bevraagtekening oor God, die Bybel, verhale oor die skepping, wonderwerke en dies meer. Dít, reken Müller, is gesonde skeptisisme wat ook Bybelwetenskaplike navorsing bevorder en daartoe bydra dat die oorspronklike bedoeling van tekste verstaan en in ag geneem word. Dit is die vrugte van verligte denke. Godsdienstige verdonkering, daarenteen, tree in wanneer die spanning tussen die wetenskaplike en antieke wêrelde ontken word, wanneer alles wat in Bybel geskryf staan, onkrities en letterlik aanvaar word, en wanneer die teodisee-vraagstuk ‘n positiewe antwoord bied vir diegene in wie se guns dit val. Hierdie tipe verdonkering neem veral afmetings aan in die evangelies-fundamentalistiese en charismatiese suksesgodsdiens bewegings. Binne die onderskeid verligting/verdonkering, lê ook die onderskeid geloof/bygeloof. Wat is die verskil? Vir Müller lê dit hierin: Wanneer geloof ‘n eie geïsoleerde bestaan los van die verstand begin voer, word dit bygeloof (p 122).

   Die teodisee-vraagstuk lê alle mense – gelowig of nie – na aan die hart: waarom gebeur slegte goed met goeie mense? Waarom ongeneeslike siekte? Waarom voortydige dood? Waar is God in oomblikke van krisis? Antwoorde op hierdie moeilike vraag hang ook ten nouste saam met ‘n mens se godsbegrip. God as werkende Mag en Agent is by die meeste Christene ingeprent (p 132), ‘n teologie wat Müller tipeer as ‘n teologie óp die lyntjie en óp die middel (p136). Dis ‘n teologie waar sekere dinge óf reg, óf verkeerd is. Uiteindelik vervlak so ‘n teologie tot oorvereenvoudige slagspreuke in aanloklike verpakkings, juis vanweë die eenvoud wat jou maar weereens oproep om aan jou oortuigings vas te hou en sodoende ‘n ruimte te skep waar daar nie vrae en onsekerhede is nie (p 138). Müller stel ‘n ander soort teologie voor, en hy noem dit ‘n tussenin- of duskantteologie. Dit is ‘n teologie verby die fundamentele, maar duskant die relativistiese; duskant die reglynigheid van ortodoksie en tussenin sekerheid en angs. Dit is ‘n teologie duskant reg en verkeerd; kontekstueel en by mense (p 137).                        

   Hoe lyk so ‘n teologie? Ons tradisionele voorstelling van God, noem Müller ‘n teïstiese Godsbeeld. Dit is ‘n wese met bonatuurlike magte wat buite die wêreld woon en wat by magte is om op wonderbaarlike wuse in die verloop van gebeure in te gryp. Dit doen Hy deur mense te straf of te seën – in antwoorde op gebede en uit eie beweging soos Hy wil (p 151). Hierdie Godsbeeld dateer egter uit die voorwetenskaplike drielaag wêreldbeeld’ noem en is nie meer geloofwaardig nie, want sedert Copernicus, Galileo en Darwin het hierdie voorstelling van die wêreld inmekaar getuimel.  Müller wil egter nie afstand doen van God of die Christelike geloof nie – inteendeel! Hy wil poog om God op ‘n eerlike manier te integreer met nuwe begrip en ervaring van die wêreld (p 153). Daarom stel hy ‘n panenteïstiese beskouing voor. Dit beteken: God is in alles en alles is in God (p 160). So ‘n siening beweeg weg van ‘n transendete teïstiese voorstelling van God, en is ook anders as panteïsme waarvolgens God alles is. Ek voel aangetrokke tot ‘n panenteïstiese verstaan van God omdat dit uiting gee aan die postteïsme in terme van die verhouding tussen God en die skepping. Waar die panteïsme (alles is God) nie genoeg ruimte laat vir die misterie van die Skeppergod wat in ons Christelike geloof so sentraal staan nie, soek die panenteïsme daarenteen na ‘n meer geheimnisvolle verhouding tussen God en die skepping (p 161). Die feit dat ek ‘n postteïstiese en panenteïstiese Godsbeskouing verdedig, is nie ‘n aanval op die Christelike geloof nie. Dit is eerder ‘n eerlike poging om saam met ander Christene van vandag, wat deurdrenk is van ‘n moderne wêreldbeeld, ‘n nuwe greep op die geloof te probeer vind (p 162).

   Die uiteinde van die storie is om God as Reisgenoot in ‘n mens se lewensverhaal te beskou. God is nie die oorsaak of doel van wat langs die pad gebeur nie, maar Hy is deel van die proses. Dit beteken dat die Bybel ook nie die finale sê in alle aangeleenthede het nie, maar dat tekste herinterpreteer word, en nuut en anders oorvertel word vir die tyd waarin ons vandag leef. En dan word dit ‘n verrassende proses van herontdekking. Ook gebed raak anders. Dis nie meer ‘n blote ritueel nie, en ook nie ‘n manier om God te manipuleer of te oorreed nie. Gebed word ‘n oefening waardeur jy toelaat dat God jou insluit en omsluit … Om te bid, is om daarvan bewus te word dat ek in God is, deur God is, op God gerig is en God oral en in alles verwag (p 170).

   Heel gepas sluit die boek af met ‘n paar gebede in postteïstiese taal.

 

Opmerkings

Die boek is vanuit ‘n baie persoonlike standpunt geskryf. Dit is Julian Müller se persoonlike belewenisse en persoonlike krisisse wat hy met die leser deel. En hy is reg dat godsdienstige sisteme wat God en mense in skemas wil indwing, geloofsverwarring veroorsaak en selfs vernietigend kan wees. Ek vind sy teïstiese Godsbeeld tog ‘n bietjie kras: miskien is dit so dat dit ook die voorstelling is wat die oorgrote meerderheid Christene van God het, maar – en dit sê Müller self (pp 160, 167) – die Bybel het meer nie-teïstiese verwysings na God as wat ‘n mens dink. Byvoorbeeld, wanneer Ou Israel op verskillende maniere oor God praat – Vader, Moeder, Koning, Regter, Kryger, en nog baie ander maniere – was dit nooit bedoel om God in ‘n skema in te dwing nie. Hierdie Godsbeelde word gevorm namate Israel sy geskiedenis interpreteer, maar van ‘n teologiese uitgangspunt. Met ander woorde, op ‘n geloofsreis word God op verskillende maniere voorgestel, en die voorstelle wissel, van ‘n liefdevolle versorgende ouer (Esegiël 16:6-14) tot Job (3-31) wat in woede sy vuis bal teen ‘n God wat nie in sy lyding ingryp nie. Hierdie paradoksale Godsbeelde staan langs mekaar en die een probeer nie die ander verkeerd bewys nie, juis omdat die lewe en die mens se verhouding met God paradoksaal is.

   Elke greep na ‘n absolute waarheid is ‘n volslae mislukking. Die tragedie van ‘n soeke na ‘n vaste geloof, is die poging om ‘n greep op die waarheid en op God te kry, en wanneer dit misluk, twyfel ‘n mens. My vraag aan Müller sou wees: Gaan ‘n panenteïstiese voorstelling van God hierdie twyfel verminder, selfs oplos? Is panenteïsme nie maar ook net ‘n brose Godsbegrip van die mens nie? Of moet ‘n mens maar met die broosheid, die gebrokenheid van menswees en al die twyfel saamleef?

Share this / Deel hierdie: