Wanneer ons die evangelie onder woorde bring, het ons geen keuse as om gewone taal te gebruik nie – die einste taal wat as ’t ware besmet is met die verwronge aannames en waardeoordele van sondige mense soos ons. Dit geld reeds die taal van die Bybel waardeur ons telkens weer die evangelie hoor: Die apostoliese getuienis is deurspek met begrippe wat aan die Joodse en Romeins-imperiale kultuur ontleen is. Woorde soos “Here”, “koninkryk”, “offer”.

 

Maar hoe revolusionêr word hierdie woorde nie gebruik nie! Hulle word op hul kop gekeer, ’n teenoorgestelde betekenis gegee, oop gebreek soos ou sakke waarin nuwe wyn gegiet word. Die Heer word dan die een wat dien, die koninkryk regeer deur ’n opstandeling, offers lewegewend.

 

Wat van die begrippe wat óns openbare diskoers domineer? “Transformasie”, “regstellende aksie”, “bemagtiging”. Kom ons in die kerk ons roeping na as ons die betekenis van hierdie woorde op gesigwaarde as vanselfsprekend aanvaar en dan bloot ’n standpunt (instemmend of afwysend) daaroor formuleer? Of moet ons nuwe wyn in daardie woorde giet? Durf ons sulke woorde gebruik op ’n manier wat aanstoot gee? Is ’n kerk wat nié met haar taal (en haar manier van doen!) aanstoot gee nie dalk soos daardie profete wat “vrede” sê as daar geen vrede is nie?

 

Dis so aanloklik om aan die profetiese hervorming, die “reformering”, van taal, waartoe ons geroep is, te ontsnap (soos die klaende Jeremia so graag sou wou doen!). Enersyds deur ons nie met die openbare diskoers te bemoei nie, maar in ’n individuele, vergeestelikte godsdiens op te gaan. Andersyds deur met groot entoesiasme aan die nasionale projek deel te neem en die taal van dié projek net so te gebruik om ’n plekkie, ’n “bydrae”, vir die kerk as “faith based organisation” binne die groter projek af te baken.

 

Watter een van hierdie twee vorme van ontrouheid ons verkies, sal dan afhang van hoe ons polities teenoor die ou en nuwe bedeling onderskeidelik voel. Maar het ons dan nog die evangelie nodig?

 

Die Bybel praat ook van transformasie – van die “nuwe skepping” wat ons word wanneer die Gees van Christus ons eers beetkry. Nie net individueel nie, maar ook – eintlik primêr – in die gemeenskap van gelowiges. Ons kan Breyten Breytenbach se frase “saam mekaar anders maak” (op sy beurt aan Jan Rabie se Die groot andersmaak ontleen) hiervoor gebruik en dit sodoende ’n nuwe betekenis gee. Maar Bybelse transformasie is nog radikaler, want dit gaan nie net oor ons mense nie, maar oor “’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde”.

 

Wat ons dikwels as transformasie beskryf, is nie té radikaal nie. Dis eerder nie naastenby radikaal genoeg nie. Het transformasie plaasgevind as die buit herverdeel, die sitplekke gereorganiseer, ou scores ge-settle is? Is transformasie ’n saak van strategie, van siniese politieke maneuvrering, of behels dit bekering, metanoia, omkering (in albei betekenisse)? Kan ons transformasie van die staat verwag, of van die korporatiewe wêreld? Is ons geloof in hulle dan só sterk?

 

Transformasie gebeur juis wanneer ons die “owerhede en magte” op hul plek sit, hulle “de-sakraliseer” (Kwame Bediako), hulle hul beskeie taak – om orde te handhaaf en die swakke teen die sterke te beskerm – laat verrig, hokaai roep wanneer hulle hul grense oorskry deur heil te wil bring. So hou transformasie ook oordeel, en daardeur genade, in. Dit gaan – soos die Kwakers dit dikwels stel – oor “die waarheid praat teenoor mag”.

 

So lank as wat ons ingenome met ons nasionale projek is, of met ons private projekkies wat niks aan die wêreld rondom ons verander nie – solank ons hierdie banale luidendesimbaaltaal besig – moet ons nie transformasie, kollektief óf individueel, verwag nie.

Hierdie artikel het in Kerkbode verskyn.

Share this / Deel hierdie: