Genesis 15:1-15

‘Hoe sal ek weet of dat ek dit sal besit, Here my God?’, vra Abram aan God.

In die Hervormde Kerk leer jong katkisante van ‘n vroeë ouderdom dat geloof in God uit twee aspekte bestaan: kennis en vertroue. Wanneer belydenis van geloof afgelê word, is dít een die dinge, trouens dalk die belangrikste stuk ‘kennis’ wat van ‘n katkisant verwag word. Die Heidelberge – die naam van die Heidelbergse Kategismus waarmee ek in die Kerk grootgeword het – se eksistensië eerste vraag is immers: ‘Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?’ Die antwoord op die vraag is ‘kennis’, ‘n lys van dinge wat ons ‘weet’ ons enigste troos is. In my kerktradisie was kennis van die Kategismus deel van die verpligte leerwerk wat deel van die Kortbegrip was – iets wat elke katkisant, dus lidmaat van die Kerk, moes ‘weet’.

Dinge wat ons ‘weet’ vir ons ‘troos’ sal gee is – dit is die essensie van geloof. En ‘geloof’, volgens die Heidelbergse Kategismus se Vraag en Antwoord 21, ís ‘kennis’ en ‘vertroue’. Dit kan beteken dat ek alles wat aan my deur God oor God geopenbaar is, vir ‘waar’ sal aanvaar. Hoe maklik klink die geloofsbelydenis om uit te spreek. Maar hoe vreeslik moeilik om te internaliseer. En daagliks te leef. Hoe aanvaar mens sommer alles ‘in geloof’ – hoe ‘weet’ jy iets oor God ‘vas’ en ‘seker’?

Vriend (en kollega) Danie du Toit van Paarl het eendag hierdie moeilike saak in gebed uitgespreek. Hy het gebid: ‘Here, ons weet dat u in die skepping teenwoordig is. Ons wens dat u in die skepping teenwoordig is. En tog kom ons dit ook vra.’ Dit is die eerlikste geloofsbelydenis wat ek nog ooit gehoor het.

Bertrand Russel, by monde van die Ou Testamentikus Ferdinand Deist, het van nagdissipels gepraat – mense wat moeilik glo. Daar is mense wat ‘maklik’ glo. Ek het hulle nog altyd beny. Ek dink hulle en God het ‘n spesiale vertrouensverhouding. My eie geloof het eerder die ‘nagdissipel’-roete gevolg. Nie omdat ek nie die ‘kennis’ wat ek van God het, ‘vertrou’ nie, maar omdat dit wat ek dink ek van God weet, deur my oë gesien, nie ooreenstem met wat ek daagliks met my eie oë sien nie.

Wat sien ek met my eie oë? In die toneelstuk, ‘Die Klaagliedere van dominee Tienie Benadie’, opgevoer deur die Afrikaanse akteur, Frank Opperman, beskryf hy die situasie van die kerk in die algemeen. Die werk van ‘n predikant spesifiek. En alhoewel jy baie daaroor lag, wil jy net soveel daaroor huil. Want die werklikheid waarin die kerk, Kerk, moet wees, laat mens huil. Nie net oor misdaad en armoede en die aardbol wat stadigaan besig is om te sterf nie. Dit ook.

Maar waaroor mens jou hart wil uithuil en tot God wil uitroep is oor onreg… en hoekom mense skynbaar (deur ons oë gesien), toegelaat word om soveel skade aan te rig. Wat mens wil laat huil en saam met die klippe laat uitroep, is die geknoei van mense – juis ook in die Kerk. En al wat ek dan sien is mense wat met geknoei wegkom. Wat beteken die geloofsbelydenis in God waarmee ek grootgeword dan? Ek sukkel om te sien hoe die dinge waarvan ek ‘seker’ is, die inhoud van my geloof in God, ‘werklikheid’ sal word: die onreg is te veel, dit vat te lank, en in my leeftyd sal ek nie die ontvanger van God se genade kan wees nie en nie die getuie van geregtigheid (justice) wees nie. Want ek sukkel om God se volgehoue teenwoordigheid, soos God belowe, raak te sien.

As ek dit sê, bevind ek myself in goeie geselskap. Abram is geheel en al moedeloos. Dalk dra hy hierdie moedeloosheid stil in hom rond. Maar dit breek tog uit. Want God se belofte oor ‘n nageslag talm om in vervulling te gaan. God het belowe sy nageslag sal so baie wees soos die hemelruim se sterre. Hy het op ‘n stadium vir God geglo – ons lees dat Abram in die Here geglo het nadat die belofte gemaak is en dat God dit goedgevind het dat Abram volgens die wil van die Here gehandel het (vers 6).

Tog, ten spyte van sy geloof, stel Abram ‘n sekerheidsvraag: ‘Hoe sal ek weet, Here?’ Hier sal ons dalk dink dat Abram sy geloof verloën het. Maar dalk vra hy eintlik ter versterking van sy geloof na meer en groter sekerheid. Want dit gaan daaroor dat hy, op die entjie pad wat hy reeds met die Here geloop het, homself in sy swakheid leer ken het as iemand wat telkens maar weer twyfel. En hy spreek in desperaatheid die wens uit om iets van God se weë, God se paaie, op hierdie punt te wete kan kom.

Want die verwesenliking van die belofte sou omtrent 400 jaar lank duur. Nogal ‘n ver ompad. ‘n Ompad wat vreeslike draaie loop: van Sigem af, na Dotan toe en toe na Egipte. Van mense wat biologies te oud was om kinders te hê, deur broederafguns met Josef, leuens aan Jakob en slawerny in Egitpe. Hierdie ompaaie het gelyk asof alles verongeluk sal word. Jakob se kinders spat uiteen. Daar kom hongersnood in die land. Wie sou ooit kon dink, ‘sien’, ‘weet’, ‘glo’, ‘vertrou’ dat God se belofte aan Abram verwesenlik sal word, dat Jakob, tog op die ou einde al twaalf sy seuns by sy sterfbed sou kon seën?

As ‘n mens ‘n lang ompad, ‘n vreeslike stryd, ‘n groot geveg of ‘n pad besaai met struikelblokke agter jou het, dan is mens soms versigtig-optimisties as jy met jou aankoms anderkant die ompad, die stryd, die geveg en die struikelblokke gelukgewens word. Juis omdat dit ‘n lang uitgerekte proses was, omdat daar steeds baie onsekerheid aan verbonde is en omdat jy nie regtig weet hoe die pad vorentoe lyk nie. Daar is soms ‘n benoudheid dat die pad wat voorlê presies dieselfde gaan wees as die een wat agter lê. En wat dan? Hoe sal ek weet, Here? Hoe kan ek glo?

Miskien kan ons iets leer uit die grootsheid van die beeld wat gebruik word om Abram se nageslag mee te vergelyk: die hoeveelheid sterre aan die hemel. Wat ‘n futiele onderneming sou ons dink: die hoeveelheid sterre kan nie getel word nie en met ons altyd uitkringende verstaan van die heelal weet ons sterre se lig neem lank om ons te bereik en dit wat ons kan sien, is net ‘n fraksie van die lig, want daar is vreeslik baie lig, baie sterre, wat ons nog nie eens bereik het. En selfs dan weet ons slegs gedeeltelik, want ons kennis oor ‘n ‘ruimte’ wat aanhou ‘groei’ is nooit ‘voltooi’ nie.

En juis daarin lê miskien die essensie van geloof: ons moet nie probeer om die sterre te tel nie, maar ons moet ook nie moed verloor omdat ons dink dit is onmoontlik om hulle te tel nie. Nee, eerder verwonder staan oor die ontelbare moontlikhede waarna ons opkyk. Die grootsheid van geloof wat bly ontvou soos die lig laaang afstande aflê om ons te bereik. Net omdat ons dit nie kan sien nie, beteken nie dit is nie daar nie. Wat Abram moes leer, en ons ook, is die kuns om op die weg met God se beloftes te leef.

Of die ompaaie na die bestemming so bedink is deur God soos God aan Abram openbaar het, en of dit die gevolg van menslike geknoei is, soos met die verkoop van Josef en die leuens aan Jakob – God hou deurgaans die bestemming in sig. Want God alleen kan oor al die kronkels in die pad die oog op die regte horison hou. En vir hulle wat vertrou, vir my ook, is daar hierdie sekerheid: God is met my onderweg na ‘n bestemming. Ten spyte van alle ander probleme en ompaaie.

Maar dit is nie iets wat eensklaps ‘geweet’ kan word nie. Dit is ‘n ‘ontvouende’ weet (die lewenswysheid van Wilhelm Jordaan het my onlangs weer hieraan herinner): dit is ‘n sekerheid wat oor tyd kom en soms gaan en dan weer kom. Dit laat my toe om altyd soekend met verwondering nuwe geloofsinhoud te ontdek.

Abram vra: Hoe sal ek weet, Here? Ek, Tanya, weet nie of ek sal weet nie. Abram het nie geweet nie – dis hoekom hy gevra het. Eeue gelede het die filosoof Sokrates ‘n soortgelyke belydenis gemaak – hy weet dat hy nie weet nie, en dít, het hy geglo, is wysheid. Dalk is dit geloof. Dalk is geloof die poging (die vertroue) om met die beloftes van God (kennis) saam te leef. Die Herder lei mens na water waar daar vrede is, bely Dawid. Ons glo dit. Ons wens dit. En tog vra ons dit ook: ‘Lig ons tog voor, Heer, dis nie dat ons begeer, om ver te sien nie, net stap vir stap, o Heer’. Ek het dus nie ‘n vaste sekerheid nie. Maar ek het ‘n vaste gebed.  

Wat geloof kan moontlik maak is ‘n aanhoudende en voortdurende gebed. Die gebed ís geloof. Die psalmdigter van psalm 143 het lank terug in gebed aan sy geloof uitdrukking gegee. Dit is ‘n gebed tot God vir ‘n pad saam met God. Aan die ‘einde’ van ‘n kronkelpad, maar aan die begin van ‘n nuwe, onseker-hoopvol pad, is dit ook my gebed tot God vir ‘n pad saam met God vir myself, vir die Kerk, vir ons almal:

‘Antwoord my tog gou, Here

ek is heeltemaal gedaan.

Moet tog nie van my af wegkyk

dat ek word soos dié wat sterwe nie.

Laat my elke môre u liefde ondervind,

want in u stel ek my vertroue.

Wys my die pad wat ek moet loop,

want my hoop is op u gevestig.

Red my van my vyande, Here, want by u skuil ek.

Leer my om u wil te doen,

Want u is my God!

Laat u goeie Gees

my op ‘n gelyk pad lei.

Ter wille van u Naam, Here, laat my lewe.

U is regverdig, red my uit die nood’.

Amen