Inleiding

Godsdienstige gemeenskappe se jaarkalender word deur feeste gekenmerk. Dit gaan om méér as blote vreugde of pret wat momenteel daarop gerig is om van sorge te vergeet en jouself oor te gee aan plesier. Godsdienstige feeste is by uitstek feeste van herinnering. Tydens godsdienstige feesgeleenthede dink die mense nie slegs aan hulself nie, maar aan die interaksie tussen God/gode en mens, of herroep oomblikke toe die bonatuurlike op die natuurlike sfeer ingebreek het. Godsdienstige feeste bind ‘n gemeenskap aan mekaar, en struktureer die liturgiese jaar. In hierdie teo-bydrae gaan ek die belangrikste feeste van Ou Israel bespreek.       

 

Jaarlikse feeste

Die oudste feeskalender is in Eksodus 23:14-17 opgeteken. Drie feeste is jaarliks verpligtend: die fees van die ongesuurde brode (v 15), die fees van die oes (v 16), en die fees van die insameling (ook v 16). Slegs die eerste fees, die fees van die ongesuurde brode het ‘n spesifieke tydsbepaling: in die maand ‘Abib’: op ons kalender is dit iewers tussen Julie en Augustus. Aanduidings vir die laaste fees, die fees van die insameling is vaag, behalwe dat dit ‘teen die einde van die jaar’ moet plaasvind, vermoedelik dus die herfsseisoen, net voor die winter, en daarom kan die ‘insameling’ moontlik verband hou met oeste van die wingerd en ander boomvrugte. Hierdie vroegste feeste het almal ‘n landboukundige oorsprong, en het waarskynlik oor die hele Ou Israel in die vorm van pelgrimstogte na die verskillende heiligdomme van elke streek plaasgevind.

 

‘n Nuwe interpretasie

In Deuteronomium 16 word hierdie drie feeste in groter detail bespreek, maar subtiele veranderinge het ingetree. Sedert Deuteronomium 12 is daar slegs een sentrale plek waar al die feeste gevier moet word – Jerusalem. En die feeste kry ook nuwe name. Die fees van ongesuurde brode word ook die ‘paasfees’ genoem; die oesfees is die ‘fees van weke’, die oes van die insameling word as die huttefees gevier. Die eerste en laaste feeste duur sewe dae lank, en die middelste fees sewe weke lank.

          Lees ‘n mens Levitikus 23, raak jy egter heeltemal verward. Benewens die drie hooffeeste, word die Sabbat, die sewende dag van die week ook as ‘n fees gereken, maar in die vorm van ‘n gewyde rusdag. Die paasfees begin ‘n dag voor die fees van die ongesuurde brood: eersgenoemde begin op die veertiende dag van die eerste maand (v 5), en laasgenoemde op die vyftiende van dieselfde maand (v 6). Onmiddellik wil ‘n mens vra, maar is hier sprake van een of twee feeste? En watter fees duur sewe dae lank? Word die paasfees net ‘n dag lank gevier en die fees van ongesuurde brode sewe dae lank?

          Wanneer die Israeliete in die beloofde land aankom, moet hulle die oesfees vier (v 10). Hierdie fees begin na afloop van die fees van die ongesuurde brode – of paasfees. Dit duur ‘n volle sewe weke en sluit ‘n vyftigste dag in, ‘n dag ná die sewende Sabbat. En nou is dit ook nie slegs graanoffers wat gebring word nie, maar ook verskillende diere- en wynoffers (vv 12, 13, 17-20).

          In die sewende maand gebeur daar baie dinge. Die eerste dag is ‘n rusdag wat met die geblaas van ‘n ramshoring aangekondig word (v 23); die tiende dag is ‘n versoendag wat as ‘n vasdag gevier word (v 26); op die vyftiende dag begin die huttefees (v 33), op dieselfde dag wanneer die vrugte-oes ingesamel word (v 39) en duur sewe dae lank. Vir sewe dae lank moet alle gebore Israeliete in hutte woon. Die rede word verstrek: ‘Die doel daarmee is dat julle nageslag moet weet dat Ek die Israeliete in hutte laat woon het toe Ek hulle uit Egipte laat trek het’ (v 43). Hierdie fees word ook die fees van die Here genoem.

          Hoe moet ‘n mens dit verstaan?

          In die na-eksiliese tyd het die priesterskrywers die drie belangrike landboufeeste by Israel se geskiedenis ingebed, presies aangedui hoe lank elke fees moet duur, en dit met tipiese priesterlike handelinge en bykomende vas- en gewyde feesdae omraam. Die offers word aansienlik meer, en daar is ‘n bykomende aspek, naamlik dié van boetedoening en versoening. Nou word die fees van die ongesuurde brode ook die paasfees, ter herinnering aan die uittog en die Here se magtige daad van bevryding. Die huttefees, of die fees van insameling word, soos reeds aangdui, geassosieer met Israel se omswerwinge in die woestyn.  Die fees van weke, sewe weke en ‘n vyftigste dag, val in die tyd, ‘Presies drie maande na hulle uittog uit Egipte …’ (Eks 19:1) toe die Here sy gebooie aangekondig het en met Israel ‘n verbond geskuit het. Die feesvreugde van die landbou-oeste het nie verdwyn nie, maar word nuut geïnterpreteer om Israel se geskiedenis vas te lê: die geskiedenis van ‘n uitverkore volk en die gawe van die Tora.

 

Maandelikse en weeklikse feeste

Buiten hierdie drie jaarlikse feeste, het Ou Israel ook ander feeste meer dikwels en op ‘n gereelde basis gevier. Nuwemaansfeeste en Sabbatsfeeste word dikwels saam genoem (vgl bv Jes 1:13; Hos 2:10). Al die Ou Nabye Oosterse volke het groot ontsag vir die maan gehad, en ook die maan as ‘n god aanbid. Assirië en Babilonië het hom as Su-en (of Sîn) geken, en in Kanaän was hy Yarikh, dieselfde woord as vir ‘maan’. Die oneindige siklus van die maan wat van sekelmaan tot volmaan groei, en geleidelik weer verdwyn, maar dan weer verskyn, was vir hulle ‘n simbool van die ewigheid van tyd, van lig wat donker word en weer lig, van lewe na dood en nuwe lewe. Verder het dit hulle ook aan die natuurlike siklus van geboorte, groei, aftakeling en dood herinner.

Vir Ou Israel was die maan natuurlik iets wat deur die Here God geskape is, maar net soos hul Ou Nabye Oosterse bure, het hulle volgens die maan tydgehou en hul kalender was ook ‘n maankalender. Nuwemaansfeeste is in private wonings gevier (vgl 1 Sam 20:5, 18, 24), of by die tempel (Num 28:11-15), en was ‘n vaste instelling in die tyd voor sowel as na die Ballingskap. Die nuwemaansfees van die sewende maand het ‘n besondere betekenis en moet met trompetgeskal aangekondig word (vgl Num 29:1 [OV]). Heelwaarskynlik het die latere Judese nuwejaarsdag hieruit ontwikkel.

          Die herkoms van die sabbat is nog moeiliker na te speur. Vir die Babiloniërs was die sewende die veertiende, die een en twintigste en agt en twintigste dae van die maand ‘n ‘rusdag’. Dit was egter nie goeie vreedsame dae nie, maar dae van onheil, en daarom mag niemand nie, nóg koning, nóg priesters, nóg volk, enigiets op hierdie dae gedoen het. Dit was nie wenslik om gekookte kos te eet, offers te bring, skoon klere aan te trek of selfs mense te genees nie, want bose magte kon enige tyd kon toeslaan. Aan die ander kant probeer sommige geleerdes ‘n verband lê tussen die Akkadiese woord shapattu en ‘sabbat’. Shapattu is die middelste dag van die maand, die dag van die volmaan, en dit was ‘n dag vir ‘die hart van die gode om tot rus te kom’. Dit dui ook ‘n besliste draaipunt in die siklus van die maan aan, ‘n vaste punt in die tyd.    

Nogtans kan dit nie met sekerheid gesê word dat Ou Israel se sabbat by enige van hierdie twee Ou Nabye Oosterse feeste aansluit nie. Dit is ook baie moeilik om vas te stel of die sabbatviering voor die ballingskap ‘n vaste weeklikse instelling was, soos  die Dekaloog (Eksod 20:10; Deut 5:14) dit beskryf.

Ná die ballingskap egter, het Israel se rusdag ‘n besondere betekenis gekry. Nie omdat dit ‘n rusdag as sodanig was nie – al die buurvolke het soortgelyke dae gehad, hetsy aangenaam of vreesaanjaend – Israel se weeklikse rusdag was heilig, omdat dit hulle aan die Verbondsgod verbind. Die Eksodus-teks put inspirasie uit die Priesterlike skeppingsverhaal: nadat God die eerste van sy magtige dade voltooi het, die skepping, het Hy self die sewende dag as rusdag ingestel en dit geheilig (Gen 2:2-3). Dit is ook die eerste teken van verbond tussen God en mens. So skryf Esegiël (20:12): ‘Ek het ook my sabbatte aan hulle gegee om vir hulle ‘n teken te wees tussen hulle en My, en sodat hulle sou weet dat Ek, die Here hulle geheilig het.’

Deteronomium verbind die sabbat met God se magtige dade van verlossing en Israel se heilsgeskiedenis. Die sabbatdag is ‘n dag van herinnering aan die tyd toe Israel slawe in Egipte was, en hoe God hulle ‘deur sy groot krag en met magtige dade’ (Deut 5:15) hulle daaruit bevry het.                            

          Vir Israel kry die sabbat dus ‘n teologiese betekenis. Dit is ‘n heilige teken van die Verbond, ‘n dag wat die Here self ingestel het, en daarom volledig aan Hom gewy moet word.

 

Slot

Die ander twee feeste wat die Jode vandag nog vier, is purim en chanukkah. Dit is egter feeste wat uit die Hellenistiese tyd dateer en het ‘n nasionalistiese eerder as ‘n godsdienstige strekking. Al die ander feeste is feeste met ‘n antieke oorsprong, hetsy uit die wêreld van die landbou, of gebaseer op die antieke maanklender om die vaste tye af te meet. Maar dit het nie so gebly nie. Gedurende of net na die ballingskap is hierdie feeste nuut geïnterpreteer om by Israel se heilsgeskiedenis en teologie aan te knoop. So het ou feeste ‘n nuwe betekenis gekry, betekenis wat sin gee aan Israel se geskiedenis en godsdiens.       

 

Bronne:

     De Vaux, Roland 1988. Ancient Israel. Its Life and Instituttions. London: Darton, Longman & Todd.

     Kratz, Reinhard G 2006. Fest. Paginae 184-186 in Berlejung, A & Frevel C (reds), Handbuch theologischer Grundbegriffe zum Alten und Neuen Testament.
Schmidt, Brian B 1999. Moon. Paginae 585-593 in Becking, B et al (reds), Dictionary of Deities and   Demons in the Bible. Leiden: Bril.

Share this / Deel hierdie: