Wit Donderdag – of MaundyThursday, soos dit in Engels bekend staan. Wat beteken dit? Die Reformatoriese tradisie het nie gevestigde gebruike rondom lydenstyd nie. Hierdie sewe weke voor Pase word wel herdenk, maar in ons kerke is dit ‘n tyd van ‘opsionele’ toewyding.

Deesdae probeer ons die simboliek op verskillende maniere in die liturgie terugbring. In baie gemeentes speel kerse ‘n groot rol. Elke Sondag word ‘n volgende kers aangesteek om die gemeente daaraan te herinner dat ons nog ‘n week nader aan Goeie Vrydag is.

          Ons maak ook baie van die kleur pers. Pers is die kleur van lydenstyd. Die liturg hang ‘n pers band om, en moedig die gemeente aan om elke Sondag iets aan te trek wat pers is – ‘n rok, ‘n hemp, ‘n das, of selfs net ‘n strikkie in die hare.

          Ander gemeentes stroop die kerk – letterlik. Elke Sondag word iets uitgedra, van die kanselkleed tot die kerkbanke.

          Maar dit gebeur net elke Sondag. Gedurende die res van week, gaan ons aan, doen die meeste van ons nie iets wat buite ons normale patroon val nie.

          In die Ortodokse en Rooms Katolieke Kerke is dit anders. Lydenstyd is die tydperk waarin ‘n mens ook op fisieke wyse met die lyding van Christus identifiseer. Daar word van allerlei lekkernye afgesien. Die Ortodokse kerke volg byvoorbeeld ‘n streng vegetariese dieet: nie net vleis nie, maar alle dierprodukte word uitgeskakel en peulgroentes is die hoofbestanddeel op die spyskaart.  

Die laaste lydensweek, die week waarin Goeie Vrydag val, is ‘n week van besondere toewyding. Dit is ‘n baie ou gebruik, en die vroeë kerk het hierdie week intens beleef. Dionysius Alexandrinus (ca 260 nC) verwys na ses vasdae voor Pase. Tot Donderdag, die vyfde dag, mag jy nie wyn, vleis of olyfolie gebruik nie. Vrydag en Saterdag bereik die vas ‘n hoogtepunt. Jy mag niks eet of drink nie.

In die jare 381-385 (nC) het Egeria (Aetheria), ‘n pelgrimstog na die Heilige Land onderneem en in haar reisverhaal verslag gedoen van wat sy gesien het. Sy was diep aangegryp deur die Christene se doen en late in Palestina en Klein-Asië gedurende hierdie laaste week van Lydenstyd. Sy skryf dat talle godsdienstige pelgrims na Jerusalem stroom om in hierdie laaste week voor Pase Christus se lyding as’t ware te laat herleef. Op Palm-Sondag wuif hulle takke. Daarna vas hulle. Aan die einde van die tyd is daar ‘n groot optog vanaf die Olyfberg na die stad.           

          Wit Donderdag, die dag voor Goeie Vrydag is steeds ‘n besondere dag in die  Rooms Katolieke, Oosters Ortodokse en Anglikaanse kerke. Dit is die inleiding van die Paas-Triduum, of Heilige Triduum. In Latyn beteken Triduum ‘n tydperk van drie dae. Die Paas-Triduum het betrekking op die drie dae van Jesus se dood tot sy opstanding. Hierdie heilige drie-dag periode strek oor Goeie Vrydag, Stil Saterdag en Paas Sondag.

Wit-Donderdag is die vooraand hiervan, die vooraand van Jesus se kruisiging. Vier gebeure word herdenk: Jesus was die voete van sy dissipels; die misterie van die eucharistie; Jesus ly in Getsemane; Judas Iskariot verraai Hom. In die Roomse en Ortodokse kerke word ‘n wit doek simbolies oor die altaar gegooi. Maar die Engelse naam vir hierdie dag, Maundy Thursday, is nogal veelseggend. Maundy is afgelei van die Middel-Engelse Oud-Franse woord mandé – wat teruggevoer word na  die Latynse mandatum. Dit is die eerste van Jesus se woorde: Mandatum novum do vobis ut diligatis invicem sicut dilexi vos. [Johannes 13:34 – ‘n Nuwe gebod gee ek julle, dat julle mekaar moet liefhê soos Ek julle liefgehad het.]

Share this / Deel hierdie: