Een van die vroeg-kerklike vierings wat weer op ons agendas beland het vandat die kerklike jaar weer in die onlangse verlede onder die vergrootglas gekom het, is Stil Saterdag. Dit val tussen Goeie Vrydag en Opstandingsondag en deur groter aandag aan hierdie dag te skenk, kan ons die paasnaweek met groter betekenis vier.

 

Alhoewel dit reeds teen die tweede eeu na die Jesusgebeure gebruiklik was om ná die viering van die gebeure rondom die kruisiging op die Sabbat voor Paassondag te vas en ‘n nagwaak te hou totdat dit in die vroeë ure op die Sondagoggend afgesluit word met ‘n eucharistieviering, het die afsonderlike viering van Goeie Vrydag en Opstandingsondag tot ‘n versplintering van die sogenaamde “sacratissimum tridium crucifixi, septuli, suscitati”, soos wat Augustinus dit genoem het, gelei.

 

Die aard van die vieringe wat oor die jare heen met die dag gepaard gegaan het, hou deurgaans verband met die teologiese beklemtoninge wat daaraan verleen is. In die begin van die tweede eeu is begin om die vas op die Sabbat te verleng en te koppel aan die gebruiklike vas op die Vrydag. Hierdie dae is veral as voorbereidende vasdae vir die voornemende dopelinge ingerig. Die viering het na afloop van die vas bestaan uit ‘n nagwaak en ‘n daaropvolgende herdenking van die dag self. Hierdie tridium is reeds aan die begin van die derde eeu in Egipte en Sirië as ‘n eenheid beskou as ‘n driedaglange herdenking van Christus se oorgang van dood tot opstanding. Teen die einde van die vierde eeu is hierdie drie dae saam met die res van die “Groot Lydensweek” wyd gevier.

 

Reeds teen die tweede eeu is die doop jaarliks tydens die paasvieringe bedien. Hippolitus (Trad. Ap. XX) skryf (c. 217) dat die dopelinge op Vrydag en Saterdag gevas het en dan ‘n nagwaak gehou het: “…  Those who are to be baptized should be instructed to bathe and wash themselves on the Thursday … . Those who are to receive baptism shall fast on the Friday.  On the Saturday those who are to receive baptism shall be gathered in one place at the bishop’s decision”  (vertaling van Cumming 1976:17). Met hanekraai, op die uur van die opstanding op Paassondag, is hulle in die water gedoop en het hulle saam met Christus opgestaan uit die dood.

 

Gedurende die paasnag, wat die as ‘t ware die skarnierpunt van die paasfeesvieringe was, is daar knielend gebid, boeteliedere gesing en uit die Ou Testament gelees. Die beslissende oomblik was daar waar, ná die waak en vas, met die breek van die dag oorgegaan is na die vreugde oor die opstanding. Van hierdie moment af is daar nie meer knielend nie, maar staande gebid en is die boetesange met jubelsange vervang. Verskeie gebruike het met die verloop van tyd rondom hierdie vieringe gedurende die Groot Heilige Week ontstaan en ontwikkel. In 1955 is talle hiervan deur pous Pius XII hervorm. Sommiges daarvan verskyn ook in verskeie Protestantse diensboeke (White 2002:58-59).

 

In ‘n poging om die vraag na wát op Stil Saterdag gevier word en hoe dit ingerig behoort te word, is die vroeë tekste belangrik. Dit is opvallend dat Markus in sy evangelie aan sy lesers lesings voorsien vir hulle vieringe vanaf Palmsondag tot Goeie Vrydag (Markus 11:1-16:8; sien 11:1; 11:12; 11:20; 14:1;15:1), maar dan – met die Sabbat – ‘n breuk het (15:42, 16:1) en voortgaan met Opstandingsondag (16:2-8).  (Markus 11:1-16:8; sien 11:1; 11:12; 11:20; 14:1;15:1; 15:42, 16:1; 16:2). Oor elkeen van hierdie dae skryf hy uitvoerig, behalwe oor die Sabbat (Stil / Treur- / Heilige Saterdag). Matteus (27:51-66), Lukas (23:46-56) en Johannes (19:30-42) skryf meer oor wat gebeur het vandat Jesus gesterf het tot met die opstanding.

 

Op die sabbatdag het die dissipels “gerus, soos die gebod bepaal” (Luk 23:56), terwyl Jesus “na die geeste in die gevangenis gegaan en daar sy oorwinning aangekondig” het (1 Petr 3:19). Dit is daarom te verstane dat daar in verskeie kringe geglo is dat Jesus tydens die nagwaak voor Paasfees sou terugkeer om die finale bevryding aan te kondig met sy wederkoms. Petrus skryf verder: “Daarom is die evangelie immers ook verkondig aan dié wat nou dood is sodat, hoewel hulle as mense onder die oordeel was om na die liggaam te sterwe, hulle na die gees sou lewe soos God lewe” (1 Petr 4:6). Volgens die tradisie het Jesus in die hel – of Hades of Sheool – ingegaan om almal wat regverdig gelewe het maar onregverdig gesterf het (nes hy!) te bevry.

 

In die “Epistula Apostolorum” (middel tweede eeu) sê Jesus glo dat hy neergedaal het en o.a. met Abraham, Isak en Jakob gepraat het, aan hulle geproklameer het dat hulle die hemel maar kon binnegaan en hulle ook laat doop het. Langs hierdie weg word die doop op die Sondag ook aan die bod gebring.

 

Volgens Augustinus is dit as die kerk se verantwoordelikheid beskou om die dae waarop die Here gekruisig is, in die graf gelê het en opgestaan het, te onderhou: “Note, therefore, the three sacred days of His Crucifixion, Burial and Resurrection … . Since it is clear from the Gospel on what days the Lord was crucified and rested in the tomb and rose again, there is added, through the councils of the fathers, the requirement of retaining those same days, and the whole Christian world is convinced that the pasch should be celebrated in that way” (vertaling van Parsons 1951:284).

 

Dát ons die dag saam met die Vrydag en Sondag as belangrik behoort te beskou en behoort te vier, is duidelik. Oor hóé ons dit kan doen, sal nog baie nagedink moet word. In hierdie nadenke behoort ons te vra na wat ons deur ons handelinge op hierdie dag wil kommunikeer. Ons kan baie leer uit die maniere waarop die dag deur ander strominge in die christendom ingeklee word. Aangesien ons in die gereformeerde tradisie egter ander beklemtoninge en invalshoeke het as wat byvoorbeeld die Rooms Katolieke, Ortodokse en ander tradisies het, moet ons versigtig wees om nie hulle gebruike bloot in Afrikaans te vertaal en te wil implementeer nie.

 

Nóg ‘n erediens, naas die dienste op Donderdag (nagmaal in die aand), Vrydag en Sondag, is waarskynlik nie nodig nie. ‘n Nagwaak ook nie. Indien dit wel bygebring word, moet enige sweem van wettiesheid en voorwaardelikheid baie bewustelik teengewerk word. Tydens ‘n diens of nagwaak op hierdie dag kan gefokus word op lig, Woord, water en die nagmaal. Skrifgedeeltes wat in leesroosters verskyn met die oog op die vieringe op Stil Saterdag, is: Psalm 31:1-4, 15-16; Job 14:1-4; Klaagliedere 3:1-9, 19-24; Matteus 27:57-66; Johannes 19:38-42 en 1 Petrus 4:1-8.

 

In die lig daarvan dat die Bybelse Paasfees vroeg ‘n gesinsfees was, kan gesinne aangemoedig word om tuis ten minste ‘n kers te laat brand. Dit kan dien as simbool van die lig wat nooit uitgedoof kan word nie, al lyk dinge ook al hoe donker. Skrifgedeeltes wat op hierdie dag (en ook die res van die Groot Heilige Week en Paasfees) gelees word, kan reeds voor die aanbreek van die skoolvakansie voorsien word.

 

Waar gemeentes vertroud is met ikone en fresco’s, kan die wat met hierdie moment in Christus se lewe verband hou (byvoorbeeld die Anastasis) vooraf behandel word sodat dit op dié dag in lidmate se handel en wandel geïntegreer kan word. Dit is hierin opmerklik dat Jesus nooit alleen uitgebeeld word nie, maar altyd as deel van ‘n groep mense.

 

Met Stil Saterdag kommunikeer ons dat die koninkryk van God reeds aangebreek hét en dat nie eens die hekke van Hades dit kon terughou nie (Matt 16:18). Daarom oordink en bespreek ons nie net God se groot dade op dié dag nie, maar ook die doop. Ons kan nie genoeg daaraan herinner word dat ons gedoop is nie en ons moet die betekenis daarvan en die waarde wat onsself daaraan toeken bedink, bespreek en uitleef.

 

Bronnelys

– Augustinus, Epistolorum LV.24

– Egeria Itinerarium, XXX-XXXVIII

– Hippolitus, Traditio Apostolica XX

– Bothma, G.  2004. ‘n Prakties-Teologiese ondersoek na die kerklike jaar in die prediking van die Nederduitse Gereformeerde Kerk. PhD-verhandeling, Universiteit van Pretoria. Pretoria.

– Cumming, G J  1976.  Hippolytus: A Text for Students.  Bramcote: Grove Books

– Parsons, W  1951.  Fathers of the Church, XII. Letters.  New York.

– Wilkinson, J  1971.  Egerias’s Travels, xxx, 1, xxx, 2, Translation, 132-133.  London: SPCK Press.

Share this / Deel hierdie: