Teologie en herinnering sluit mekaar nie uit nie. Herinnering voed die teologie en die teologie leef van herinnering. Koue, kliniese of objektief-historiese feite (in soverre dit bestaan) is teologies onbruikbaar; dit sê nog niks nie; is soos klippe in die maag waaraan ’n mens jou dooddra. Herinnering maak die eeue egter korter, bind ons in groot historiese werelde in, laat ons met gister en eergister se mense een word, help ons om sin en betekenis in die lang pad tussen gister en vandag te vind, en help ons om soms (net soms) te voel asof ons aan die verlede raak.

Pase in die vroeë kerk: Dít was ’n tyd van herinnering en intense herbelewing. Die gebeure by die kruis en die opstanding was nie blote gebeure nie, maar het deur die herinnering lewend geword en is intens herbeleef. Elke Sondag het die ‘ingewydes’, die wat klaar gekatkiseer het, of soos ons dit noem: ‘voorgestel en aangeneem’ is, aan die einde van die diens die eucharistie, die nagmaal gevier en ’n kenmerk hiervan was die intense ervaring van Christus se teenwoordigheid. In die vierde eeu het Gaudentius van Brixia selfs gesê die brood en wyn was die waarborg van Christus se nabyheid (‘pignus suae praesentiae’). En wanneer die tekens as‘t ware in sy teenwoordigheid gebruik is, is iets van die kruis en opstanding se misterie ervaar en verstaan.

‘n Voorbeeld uit die vierde eeu: Een van die heel vroegste reisbeskrywings na die ‘heilige land’ is van ’n Spaanse non in die vierde eeu met die naam van Aetheria. Dié reis het nogal waagmoed gekos, maar was tog ook opwindend. Historiese plekke (volgens vierde-eeuse siening) is besoek, Bybelgedeeltes wat na dié plekke verwys, is hardop voorgelees, dan is daar gebid en gesing en weer verder getrek. Skuins voor pase in die jaar 381 het hulle in Jerusalem aangekom en vir Aetheria was alles oorweldigend. Sy het ’n jaar of twee daar gebly, het deel van die gemeente geword en ook oor haar ervaringe beskryf.
Aangrypend is haar vertelling oor die plekke rondom Jerusalem wat hulle die week voor pase besoek het. Al die plekke wat Jesus ook tydens daardie dae voor pase besoek het, het hulle aangedoen. By elke plek het hulle eers die betrokke gedeeltes in die evangelies gelees, stil geword en aan Jesus se lyding teruggedink; al sy pyn is herbeleef en hulle het dit hulle eie gemaak het. So aangrypend was dit dat hulle kort-kort in trane was. So intens was hierdie herinnering en herbelewenis dat hulle voortdurend deur intense emosies oorweldig is. Tydens daardie laaste week het Jesus deur die herinnering naby aan hulle gekom en het hulle Hom eksistensieel ervaar.

Alles het by Israel begin: Israel het ook die herinnering geken. Intens geken. Dit kon ook nie anders nie want hulle geloof is op die geskiedenis, of liewer, God se groot dade in hulle verlede, gebou. Dit wat God vir hulle by die see, by Sinai, in die woestyn en tydens intog gedoen het, moes hulle nooit vergeet nie. In die herinnering moes dit altyd weer oordink, toegeëien en herbeleef word. Daar is ’n pragtige voorbeeld van dié soort herinnering in Deuteronomum (26:5-11). Dit vertel van ’n Israeliet wat die eerstelinge van sy oes in ’n mandjie gepak en vir die priester gebring het. Nadat hy dit oorhandig het, het hy ’n kort weergawe van Israel se geskiedenis op gesê
Dit is ’n kort stukkie, maar met ’n mooi struktuurtjie. Eers is daar ’n proloog: ‘My vader was ’n Arameër (dit is Jakob) wat van plek tot plek getrek het. Hy het na Egipte toe gegaan’. Dan volg die beskrywing van die nood: ‘Die Egiptenaars het ons sleg behandel. Hulle het ons verdruk en ons harde werk laat doen’. Vervolgens is daar ’n hulpgeroep, ‘Ons het na die Here die God van ons voorvaders om hulp geroep’, gevolg deur ’n mededeling dat Hy geluister en gesien het: ‘ … Hy het ons gehoor … en ons ellende …  raakgesien’. En dan word God se redding beskryf: ‘Die Here het ons uit Egipte laat wegtrek … Hy het ons in hierdie plek gebring en hierdie land aan ons gegee’. Ten slotte volg ’n daad van dankbaarheid: ‘Dit is die rede waarom ek nou die eerste opbrengs van die land … gebring het’.
Deuteronomium 26:5-11 was waarskynlik ’n baie vroeë geloofsbelydenis waarin God se groot dade in die verlede bely is. Dade wat Israel gevorm het, inhoud aan hulle geloof gegee het en elke dag versterk het. Dit was nie blote historiese feite nie, maar iets wat deur die geloof telkens weer ’n nuwe betekenis gekry het. Uit God se historiese dade het dit geblyk dat Hy mense hoor om hulp roep, sien as hulle ly en help uit fisiese en geestelike nood. En daarom was die herinnering belangrik.

Feeste help om te onthou: In Israel se gemoed was daar veral een gebeurtenis wat bo al die ander uitgestaan het. ’n Soort van ’n basiservaring wat belangriker nog as die skepping, die verkiesing of die verbond was. En dít was die gebeure by die see (Eks 14). Vergelyk ’n mens die aantal verwysings in die Pentateug na die uittog is dit oorweldigend meer as enige ander gebeurtenis. Alles het gestaan of geval by die uittog (en ook die woestynervaring)! Dít was by uitnemendheid die daad waardeur God sy toegeneentheid en erbarming teenoor Israel bewys het.
Baie eeue later het Hosea dit só gestel: ‘Toe Israel nog ‘n kind was, het Ek hom al liefgehad, en Ek het hom, my seun, uit Egipte geroep’ (Hos 11:1). En as die profeet teen die middel van die agste eeu radeloos met die Noordryk was en geen hoop meer gehad het nie, het hy na die woestyntyd terugverlang. Dit was dalk dít die mooiste tyd in Israel se geskiedenis en daarom moes hulle weer terug woestyn toe want daar sou hulle God weer leer ken: ‘Tog sal Ek weer begin om haar die hof te maak. Ek sal haar na die woestyn toe bring en mooi dinge vir haar sê’ (Hos 2:13).
En hoe Israel dié gebeure altyd onthou het, was deur feeste. Volgens Deuteronomium was daar drie groot feeste (Paasfees, fees van die weke en huttefees) wat in Jerusalem gevier is en waarheen ‘al jou mans’ moes optrek (Dt 16:16). Tydens die Paasfees is die verhaal van die uittog oorvertel en moes almal weer die verhaal hulle eie maak. Uitdruklik word dit ook gesê: ‘Onthou die maand Abib … ’ (Dt 16:1). Veral die paasbrood het hulle ver laat terugdink: ‘Dit is brood wat herinner aan jou swaarkry … jy moet jou lewe lank dink aan die dag waarop jy uit Egipte weg is’ (Dt 6:3). En dié terugdink was so oorrompelend dat hulle opnuut die angs en bevryding van die voorgeslagte beleef het.

Om jou in herinnering te verloor: Feeste was dus ‘n manier om vergeet te keer. Israel is uit Egipte gelei, maar dié gebeurtenis kon maklik vervaag. Latere geslagte kon so maklik dié verhaal vergeet en uit hulle geheue ban. Elke feesviering en elke stukkie feesvreugde het dus gehelp dat Israel nie vergeet nie en dat ‘die maand Abib’ en die ‘nag … (wat) die Here … jou uit Egipte laat trek het’, altyd in die herinnering sou leef (Dt 16:1). So moes die ongesuurde brood se bitter smaak hulle tydens Pase aan kromrug arbeiders in die warm sand herinner het.
By die fees moes hulle hulle dus in die herinnering verloor het. Deur die gawe van verbeelding moes elkeen hom/haar so in die situasie inleef dat hulle alles weer herbeleef het. Die ‘Egiptenaars … het die lewe vir hulle bitter gemaak deur swaar werk met klei … en deur … werk in die lande’ en dít moes Israel as ‘t ware telkens weer binne-in hulle-self her-ervaar het (Eks 1:14). By die fees moes Israel alles weer so intens beleef dat hulle die tamheid, uitputting en kragloosheid van hulle voorvaders binne-in hulle-self gevoel het. Eeue na die uittog was hierdie herinnering nog so sterk dat mense in die eerste persoon meervoud daaroor gepraat het: ‘Ons was in Egipte … die Here het ons … bevry toe Hy voor ons oë tekens … gedoen het’ (Dt 6:20-22). Israel se herinnering was so intens dat dit die veraf-gebeure as ‘t ware nadergetrek het.
Deur die geloof, die herinnering en die verbeelding het verskillende mense van verskillende tye één geword en het die ervaring van voorgeslagte die geloofsgoed van almal geword. Dít is waarom die Ou Testament ’n boek van eindelose herinterpretasie is. Dit wat gister en eergister gebeur het, moes telkens deur die herinnering nadergebring, verinnig en herbeleef word. Anders gesê: dit moes telkens in nuwe kontekste nuut en anders verstaan word. Sonder dié herinnering en herinterpretasies het die geloof gekwyn en is die groot gebeure van die verlede gou vergeet.

Herinnering en blydskap: Onlosmaaklik vas aan dié herinnering was ‘n gevoel van vreugde. In Deuteronomium het God se teenwoordigheid die groot verskil gemaak. In elke terugdink is sy nabyheid opnuut ervaar en daarom is ook uitdruklik gesê: ‘jy (moet) bly wees in die teenwoordigheid van die Here’ (Eks 16:14). Die woorde ‘blydskap’ en ‘teenwoordigheid van God’ kom nogal meermale in Deuteronomium asook ander plekke in die Ou Testament voor. Daar was iets in dié teenwoordigheid wat mense geroer en verander het. Miskien was dit ‘n krag, ‘n warmte of net ‘n allesoorheersende gevoel van geluk.

’n Slotwoord
Vandag se Paasvieringe bind ons aan die voorgeslagte. Bind ons aan die mense van die Ou Testament, die vroeë kerk, die middeleeue asook die gelowiges van alle tye. Mag dié verbondenheid asook ons herinnering en herbelewing van daardie gebeure in Egipte en Jerusalem vir ons almal nuwe betekenis kry.
Miskien kan ons dit ook met ’n stukkie uit die geskiedenis van die hermeneutiek illustreer. In die negentiende eeu is veel van die woorde ‘verklaar’ en ‘verstaan’ en ons taak (as teoloë) gemaak. Wat doen ons met ’n teks? Verklaar ons dit of probeer ons dit verstaan. Uiteindelik is gesê dat die natuurwetenskaplikes verklaar en ons verstaan. Maar wat verstaan ons? Die taal, die grammatika, die struktuur of wat ook al? Dít ook, maar daar is ook iets anders. ’n Teks is gesien as ’n uitdrukking van die lewe, ’n lewenswêreld, egte lewenservaringe en verstaan beteken dan om (die betrokke teks) se lewenswêreld te ontdek, die egte lewenservaringe van destydse mense toe te eien en binne-in ons te her te beleef, weer te beleef.
Só gesien, help die herinnering (en verbeelding) ons om dit wat ver is nader te bring en weer te beleef. En word teologie op ’n gegewe oomblik herinnering.

Bibliografie
Aetheria. Peregrinatio ad loca sancta. CSEL 39.
Ankersmit, F 1990. De Navel van de Geschiedenis. Groningen: Historische Uitgeverij.
Ankersmit, F 1993. De historische ervaring. Groningen: Historische Uitgeverij.
Ankersmit, F 2007. De sublieme historische ervaring. Groningen: Historische Uitgeverij.
Collingwood, R G 1994. The Idea of History. Oxford: University Press.
Gadamer, H-G 1990. Hermeneutik I. Wahrheit und Methode. Tübingen: J. C. B. Mohr (Paul Siebeck).
Gaudentius. Sermones. MPL 20.
Grondin, J 2002. Gadamer’s basic understanding of understanding, in Dostal, R J (red), The Cambridge companion to Gadamer. Cambridge: Cambridge University Press.
Noth, M 1972. A history of Pentateuchal traditions. Englewood Cliffs, N J: Prentice Hall.
Otto, E 2000. Das Deuteronomium im Pentateuch und Hexateuch. Tübingen: J C B Mohr (Paul Siebeck).
Schmid, K 1999. Erzväter und Exodus. Neukirchen–Vluyn: Neukirchener Verlag.
Von Rad, G 1958. Theologie des Alten Testament. München: Chr Kaiser Verlag.
Von Rad, G 1971. Das formgeschichtliche Problem des Hexateuch, in Gesammelte Studien zum Alten Testament. München: Chr Kaiser Verlag.
Westermann, C 1978. Theologie des Alten Testaments in Grundzügen. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht.
Zenger, E (red) 2005. Einleitung in das Alte Testament. Stuttgart: W. Kohlhammer.

Share this / Deel hierdie: