Uit: Die knetterende woord (1990)

 

Hoe haas die voet hoe gloei die bloed

hoe hardloop hulle want dis alles waar

hoe hardloop hulle soos hy beloof het

hoe hardloop hulle Hom tegemoet

 

Matteus 28:8-10. Hulle het toe haastig van die graf af weggegaan, bang maar baie bly, en hulle het gehardloop om dit aan die dissipels te vertel. Skielik het Jesus daar voor die vroue gestaan en hulle gegroet. Hulle het nader gekom, sy voete gegryp en Hom aanbid.

 

Paasondag. Jesus het opgestaan. Die gebeure wat in Matteus 28:8-10 beskryf word, omvorm Sheila Cussons tot ‘n kort, maar besondere treffende gedig.

Hoe haas die voet hoe gloei die bloed … Alhoewel dit hier om Paassondag gaan, word die kruisgebeure sterk in herinnering geroep: die spykers deur Jesus se voete, sy bloed wat ter wille van die mensdom gevloei het. Hierdie vermoede word versterk deurdat voet in die enkelvoud gebruik word – in die res van die gedig word daar van hulle gepraat. Die eerste versreël gryp dus nog terug na die kruisiging, maar op Paassondag word die tragedie van voet en bloed getransformeer tot opwinding, tot blydskap.

‘n Mens kan egter ook nie help om hier iets persoonliks van die digter self in te lees nie: Cussons se eie verminking, amper sonder voete, en baie bloed wat gevloei het. Is dit dalk syself wat haas? Maar ook haar eie tragedie is omvorm. Nie sleepvoet en met bloedverlies nie, maar met ‘n haastige voet en gloeiende bloed is sy op pad iewers heen.

Hoe hardloop hulle… … Die voet word nou voete. Hulle hardloop. Die gedagte van haas, van dringendheid word geïntensifeer deurdat hierdie sinsnede in die volgende drie versreëls herhaaldelik vooropgestel word. Diegene wat hardloop, is waarskynlik die vroue waarvan die Matteus-evangelie vertel. Hulle het pas angswekkende, maar wonderbaarlike gebeure aanskou: daar was ‘n geweldige aardbewing, ‘n engel van die Here het van die hemel afgekom en die klip van Jesus se graf weggerol. Die graf was leeg, en die engel het die vroue opdrag gegee om aan die dissipels te gaan vertel dat Jesus uit die dood opgewek is. Al hierdie gebeure, vat Cussons in enkele woorde saam: want dit is alles waar. Dít is die rede vir die haas.  

Alles wat waar is, het egter nie slegs betrekking op die leë graf nie, maar hou ten nouste verband met soos hy beloof het. Die beloftes van Jesus se lyding, sy kruisiging en opstanding word gegee in Matteus 16:21; 17:9-23; en 20:19. Op verskillende wyses vertel die aardse Jesus aan sy dissipels dat hy baie gaan ly, dat hy doodgemaak gaan word, maar dat hy na drie dae uit die dood uit opgewek gaan word. Dus, waarheid en belofte omvat Jesus se ganse lydensgeskiedenis.

Die ontknoping van die gedig kom egter in die laaste versreël: hoe hardloop hulle Hom tegemoet. In die tweede en derde versreëls hardloop hulle want dis alles waar soos hy beloof het, die hy is ‘n menslike hy, hy is Jesus, die mens wat hulle geken, vertrou en geglo het. Nou hardloop hulle Hom tegemoet – die opgestane, getransformeerde Here wie se voete hulle gryp en Hom aanbid. In hierdie laaste versreël doen Cussons egter meer as om die woorde van die evangelieskrywer in digterlike taal om te skakel. In die evangelie ontmoet Jesus die vroue op pad, en daarna gaan hulle weg om vir die dissipels te sê dat hulle Hom by Galilea sal sien. Cussons se gedig spreek van ‘n dringendheid, ‘n haas wat toenemend intens raak, en uiteindelik ‘n klimaks bereik in ‘n persoonlike ontmoeting met die getransformeerde Christus.

Vir Cussons, die digter, die mistikus, gaan dit dus nie om wat letterlik histories gebeur het nie. Vir haar word die beloftes wat die aardse Jesus gemaak het, op ‘n vreemde wyse waar. Saam met die vroue van die evangelie haas ook haar verminkte voet na Hom, hulle word ons, smagtend na ‘n persoonlike ontmoeting met die getransformeerde Christus. En daarmee saam kom die hoop, die versugting om self deur hierdie ontmoeting getransformeer te word.

Share this / Deel hierdie: