Met goeie bedoelings – die weg na die hel, volgens die ou spreekwoord – word nuwe goed ontwerp. Tegnologie. Een van dié kenmerke wat ons méns maak; wat ons spesie se oorlewing help verseker het – soos spiespunte en meslemme en hoede en kastrolle. Dan die bybedoelings – die wense en luste wat veroorsaak dat die mens nuwe tegnologie aangryp vir ander redes as waarvoor dit oorspronklik ontwerp is. Byvoorbeeld: kameras en rolprente en selfone se reusesprong-gemeenskapsaanvaarding het telkens heelwat te make gehad daarmee dat kaal lywe se prikkelende realiteit beter as ooit vantevore wulps-realisties vasgevang, en weer en weergegee kon word. Dan die nadele. Onvoorsiend, meestal, omdat sekere mense met mening geld kon maak uit dié nuwigheid.  Die stoom-enjin, om een so ‘n geval te noem, bedoel vir gemak en spoed, lei tot fabrieksvol arm arbeiders en vervuilde lug en longe. Elke voordeel bring mee die moontlikheid van nadeel. Die verontmensliking van die mens – “’n weinig minder gemaak as ’n goddelike wese” (Psalm 8:6, Ou Afrikaanse Vertaling) – word ‘n herhalende tema by denkers soos Kierkegaard oor die massamedia of Marx oor die ekonomiese masjienerie.

Laasgenoemde uitdraai vind ons selfs met een van die mees produktiewe uitvindsels ooit van die mens: papier. Ligter en goedkoper as klip of leer, verhef papier die reeds magtige skribbels van skrif tot iets amper goddeliks: dit kom omtrent orals voor, en maak omtrent alles moontlik – van origami-kuns en Shakespeare-toneelstukke tot biblioteke vol wetenskap of kinderfoto’s op die yskas. Maar dan, ‘n magtige nadeel: daardie uiterste verontmensliking, waardeur jou jý-wees tot nikswees omgestoot word, as jy nie gepapier is nie.

Eers ‘n relatief onskuldige voorbeeld. Iets wat my twee maal op twee verskillende kontinente oorgekom het. Op reis, is die hotelverblyf reeds maande voor die tyd bespreek; weke voor die vertrektyd bevestig; ‘n paar dae voor die aankoms, herbevestig.  Die aanmelding. Die ontvangsklerk wat sê, Nee, géén bespreking is gemaak nie. Naam en van gespel, korrek en verkeerd; die besprekingsisteem wys niks. Die relaas van die besprekingsgeskiedenis, van die begin af tot die bevestigings, help net mooi niks. Niemand glo my nie. Gaan kry maar ‘n ander blyplek, word ek die deur gewys. Dan maar met ‘n frustrasiesug die moeite doen: die reuse reistas se ingewande indelf en deurdolwe, tot iewers die uitdrukke  van die besprekingsgeskiedenis hulle weg vind my hande in. Papiere! Die oorhandiging. Die klerk se blitslees; miskien ‘n sekonde lank. Dan die uitdrukkingslose ritueel van inteken, die kamersleutel ontvang, en die tas die laaste ent van dié been van die reis saamsukkel.  En die ontnugtering van die stadige gewaarwording: ék is nie geglo nie, maar die papier wel. ‘n Mens sal donkernag ‘n vreemde stad ingestuur word, sonder die geringste gewetenslas; ‘n stukkie dooie boom, dít open die deure.

Erger, veel meer ontnugterend en vernederend, is wanneer die staat met reusemag op die individu se menslikheid beslag lê, en dit net deur ‘n paar velletjies papier. Die geskiedenis van “jou pampiere”, die identiteitsdokument en die paspoort en die visum, begin dalk met gemakliker nasiestaatsadministrasie, tot voordeel van die burgery. Gou, egter, skop die sanksiemoontlikhede van die al hoe magtiger staat in, tot waar ons onsself bevind sedert die Eerste Wêreldoorlog: dat “jou pampiere” gebruik word om op gerieflikheidsgrense vreemdelinge uit te hou en eie mense tuis te hou.  Geografiese dwang.

So word papier ‘n skrikwekkende magsinstrument: het jy die bladsytjies wat die plaaslike owerheid se amptenary wil sien, word jy redelik in vrede gelaat. Het jy sulke bladsytjies nié, laat die staat sy volle mag op jou los: mans (tradisioneel, maar deesdae minder eksklusief) met wapens dreig om jou pyn aan te doen, want die staat sê hulle mag nou maar. Jou pampiere is immers nie reg nie. Nou mag jou vryheid jou ontneem word. Polisie, doeane en soldate, almal met ‘n doodsinstrument op die heup of oor die skouer of – behoede ons – in die hand,  oorrompel jou en sluit jou, in slegte gevalle, in ‘n kamerhok toe. Tref jy dit nog slegter, dat jy jou kamerhok sonder keuse deel met moordenaars en ander geweldenaars met wie jy nou op papier (of eintlik: juis sonder jou papiere) summier vereenselwig word, word goed jou daar aangedoen waaroor jy lewenslank nog nagmerries sal hê.

Maar daaroor word die staat niks aangedoen nie.

Selfs in gevalle met manier ekstreme lyflike gevolge, soos dat jy gewoon toegang tot of uitgang uit ‘n plek belet word, is die staatsmag ewe onewe. Jou kom en jou gaan, of jou vryheid vir ‘n korter of langer tyd, word volledig bepaal deur stukkies papier.  Papier word die regverdiging vir ‘n ingrype op jou menswees. Papier word die orakel wat die staat bemagtig tot optrede, altyd met die dreigement van geweld (óf pyn óf dood). Voor dié driedelige sameswering tussen wetgewers en hulle gewapende eksekuteurs en die legitimerende paar gram bedrukte folio kan die mens nie bly staan nie.

Hierdie verinnewerende onmag van die individu teen die bemiddelde mag van bloot ‘n gebinde klein boekie kan nie raakgeskryf word nie. Die belewenis daarvan is te intens. Weens blote papier, die wat jy het en die wat jy nie het nie, kan alles jou ontneem word. Ongenaakbaar sal die gewapende amptenary teen jou optree, of nie, op grond van ‘n paar bladsytjies. Primêr tel nie jy as méns nie. Die stomme bladsye tel die meeste. Al bely al die betrokkenes universele menseregte, in daardie oomblik van ontmoeting tussen individu en amptenaar (ironies genoeg ook mens, maar in daardie oomblik ‘n kille instrument; dalk soos ‘n lem of ‘n stoom-enjin; ontvorm) is jou menswees ondergeskik aan papier.

So word papier tot vampier, wat ons mensewaarde in al sy essensie opslurp: jy is net wat jou dokumente sê jy is. Dat jy méns is – “’n weinig minder gemaak as ’n goddelike wese”; dat ek ék is, verdwyn tot onbenulligheid. Ek is ‘n nul, op kontrak.  Die papier word alles, en die administrateurs daarvan ‘n volledige diktatuur.

Vreemd dat ons dit verdra…

Wie van ons het dié mag oor ons lewens aan ‘n regering oorhandig? – Ons is maar daarin gebore, en toe, sagkens-sosiaal, daartoe geïndoktrineer.

Maar: “Vertrou nie op prinse, op die mensekind, by wie geen heil is nie” (Psalm 146:3, Ou Afrikaanse Vertaling).

Teologies kan steunargumente hiervoor maklik gemaak word. Soos: die ganse wêreld behoort aan God; wie is die mens dan nou om grense te staan en trek? Of: Christene bedien almal en orals; die geloof deurbreek alle grense. Die teologiese argumente om maar net, sommer-so, by owerheidsregulasies in te val, is as kalekoningsklede ontmasker, en nie net weens ontnugtering en sinisme nie. Om die vyfde gebod op ‘n rekbank te strek sodat sorg vir ouers ook sou beteken dat die landsregering gejabaas moet word, word lank reeds as eksegetiese foltering van daardie teks erken. Om die positiewe Calvinistiese Godsgehoorsaamheidsrefleks gelyk te stel aan staatsgehoorsaamheid ook, was blote staatskerklike selfregverdiging; daarvan het die liberaal-demokratiese idee van die skeiding tussen kerk en staat ons, Godsgenadiglik,  bevry.

Anders gestel: wie het dan nou die staat nodig om in God te glo?

Mer keerklik: hoekom sou ons op grond van swak Bybeluitleg die nasiestaat wou regverdig, of die magsmisgrype daarvan wou verdra?

Onder die historiese impulse tot die heel vroegste Bybelgeskrifte lê juis die ondermyning van politieke mag, ten gunste van beide die geloof in God en die ingeskape vryheid van die mens voor God, sonder die politieke hoof as heilsbemiddelaar.

Prakties gesproke, word die (selfregverdigende) aandrang deur state op grense reeds ‘n ruk lank deur reuse-maatskappye as belemmerend omseil, as onnodig ondermyn,  en as kontra-produktief uitgekalwe. Vanuit sommige politieke – en sekere geloofsoorde word sulke “multi-nationals” dikwels gedemoniseer. Hoewel nie sondeloos nie, is die globaliserende realiteit van sulke besighede egter dat die nasiestaat nie byhou met hoe die wêreld ontwikkel nie. Hoewel hierdie reuse-maatskappye dalk nog seremonieel die knie buig deur minstens sommige staatsvorms in te vul, doen die al hoe groter strome immigrante dit nie.  Mense gáán net.

Die onregverdigbare mag wat aan papiere gekoppel is om by die gerieflikheidsgrense vreemdes uit en eies in te hou, kan dalk een-een op ‘n mens afgeforseer word. Die massas duld dit egter nie. Súlke “profetiese ongeduld” en masse maak die mens weer meer werd as papier. Juis omdat die dapper stappers die driedelige sameswering van hierbo om menswaardigheidsredes ignoreer. Dalk, dalk word sulke immigrante nog op ‘n manier ons pelgrimsleiers na ‘n meer menslike toekoms.

Share this / Deel hierdie: