Inleiding
Die Christendom het sy wortels in Pase. Die vier evangelies verskil aansienlik in meerdere of mindere detail, maar nogtans is hulle dit hieroor eens: Jesus het saam met sy dissipels die Joodse pasgamaaltyd gevier en net daarna is Hy gevange geneem en tot ‘n kruisdood veroordeel. Baie vroeg is die pasga-simboliek op Jesus oorgedra: byvoorbeeld, in 1 Korintiërs 5:7 verwys Paulus na Hom as die ‘paaslam’. En voor die einde van die eerste eeu skryf die drie sinoptiese evangelies dat Jesus die brood en wyn van die pasga op Homself van toepassing maak: die brood is sy liggaam wat gebreek word, die wyn is sy bloed wat vergiet word (vgl Matt 26:26-29; Mark14:22-24; Luk 22:19-20). Maar of die Christelike paasfees onmiddellik die Joodse pasga vervang het, is onseker.

‘n Nuwe interpretasie
Paulus was waarskynlik die eerste om die raamwerk van die Joodse pasga te gebruik en dit Christologies te interpreteer. Die duidelikste voorbeeld hiervan is in 1 Korintiërs 11:17-26 waar hy die gemeente aanspreek oor wangedrag tydens gemeenskaplike maaltye. Hier is egter nie sprake van ‘n paasfees nie, veel eerder het die gebeure betrekking op ‘n soort ‘nagmaal’ wat op ‘n gereelde basis gevier is. Verder het die vroeë Christene ook weekliks vroeg op ‘n Sondagoggend bymekaar gekom om Jesus se opstanding te herdenk. En, omdat die vroegste Christene Jode was, sou ‘n mens kon aanneem dat hulle vir die eerste paar jaar na Jesus se dood sou aanhou om die Joodse pasga te vier. Vir die heidene wat later tot die Christendom sou bekeer, het die eksodus-gebeure van die Joodse pasga nie veel beteken nie, en daarom moes dit nuut en met die klem op Christus vertolk word.

Melito van Sardis
Die vroegste getuienis van ‘n Christelike paasfeesviering, is ‘n homilie van Melito, biskop van Sardis. Dit staan bekend as Peri Pascha – ‘Oor Pasga,’ en dateer uit omstreeks 160-170 (vry vertaal uit http://en.wikipedia.org/wiki/Paschal_mystery#cite_note-5)
Verstaan daarom, geliefde
hoe is dit, nuut, en oud,
ewig en tydelik,
verganklik en onverganklik
sterflik en onsterflik,
hierdie misterie van die Pasga
oud volgens Wet;
maar nuut volgens Woord;
tydelik volgens vorm,
ewig weens genade;
verganklik as geslagte lam
onverganklik as die lewende Heer;
sterflik in aardse graf,
onsterflik in opstanding uit die dood.
          Sover afgelei kan word, is paasfees teen Melito se tyd ‘n jaarlikse Christelike fees wat op dieselfde tyd as die Joodse pasga gevier word – dit wil sê, 14/15 Nisan. Maar omdat die Christendom in die tweede eeu nog grotendeels onwettig was, was dit ‘n nagtelike fees. Die sogenaamde ‘paasnagwaak’, die vroegste vorm van paasfeesvieringe het sy ontstaan in hierdie tyd, en Melito het sy paasfees-homilie waarskynlik tydens ‘n nagwaak voorgedra.

Konstantyn en Nicea
Reeds voor die tyd van biskop Melito van Sardis, het Christene egter onder mekaar verskil oor die datum wanneer paasfees gevier moet word. Sommige – soos Melito self – het gereken dit moet op dieselfde datum as die Joodse pasga val. Ander weer wou juis die Christelike gebruik handhaaf wat Jesus se opstanding op ‘n Sondag vier, en het daarom gereken dat paasfees ook liewers op ‘n Sondag gevier moet word, Sondag die naaste aan 14/15 Nisan.
In 312 bekeer Konstantyn homself tot die Christendom en wen ‘n beslissende slag teen sy aartsopponent Maxentius. Hy word alleenheerser oor die magtige Romeinse Ryk, sy nuwe godsdiens word staatsgodsdiens, en hy is summier voorsitter by die eerste  ekumeniese konsilie van die Christendom, Nicea in 325. Die Christelike kerk bestaan slegs ‘n paar eeue, maar is reeds skerp verdeeld oor ‘n hele aantal sake waaroor konsensus verkry moet word. Benewens Arius se ‘dwaalleer’, verskyn die datum vir paasfees ook op die agenda. Om dinge verder te kompliseer – of dalk juis te vergemaklik – is daar twee jaarkalenders in omloop: die Joodse kalender en die Romeinse kalender. Die besluit word geneem: Konstantyn verklaar dat paasfees die heiligste dag van die Christendom is, en daarom moet almal orals dit op dieselfde dag vier. Verder is dit belangrik om volkome onafhanklik van die Joodse kalender te wees, en die datum sal dus volgens ‘n vaste tyd in die Romeinse (nou Christelike) kalender bepaal word. Ongelukkig, in sy beslissende uitspraak teen 14 Nisan, gee Konstantyn as rede dat die Christene liefs niks met die Jode te doene moet hê nie, omdat hul ‘hande besoedel en hul siele bevlek’ is … en hier lê die eerste wortels van Christelike anti-semitisme …

Die doop
In die loop van die vierde eeu word dit toenemend duidelik dat paasfees ook ‘n belangrike doopgeleentheid is. Daar is drie afsonderlike tradisies wat daarop dui.
In Egipte het gemeentes vanaf 6 Januarie – Epifanie – begin vas ter voorbereiding vir die doop van nuwe bekeerlinge. Die vasperiode het verband gehou met Jesus se vas in die woestyn net na afloop van sy eie doop – dit het nie regstreeks met pase verband gehou nie.
Ook in Rome was ‘n vastydperk van drie weke gebruiklik vir diegene wat hulself vir die doop moes voorberei.
Dieselfde tradisie het in Noord-Afrika, maar ook elders voorgekom.
Mettertyd het dieselfde tradisie uit verskillende oorde ‘n nuwe betekenis gekry: ‘n vasgestelde tydperk van veertig dae se vas voordat paasfees aanbreek.

Om Jesus te volg
Uiteindelik sou dit Jesus se laaste week op aarde wees wat Christene veral aangryp. In Jerusalem waar alles gebeur het, het mense besondere waarde geheg aan die plekke wat in die Nuwe Testament aangedui word, en dit as ‘heilig’ beskou. Hulle het saamgekom, gesing en gebid. Op hierdie vroeë stadium is die gebeure nog nie gedramatiseer nie, die prosessie het direk van die Olyfberg na Getsemane beweeg en daar gebede gedoen by wat hulle as oorblyfsels van die kruis beskou het. Daar was egter geen dramatiese opvoering van die kruisgebeure nie. Die doel was om sakramentele tyd en plek te identifiseer as ‘n manier om toegang tot die Christelike misterieë te kry.
Jesus se laaste week op aarde is eers later dramaties ‘opgevoer’, met ‘n klemverskuiwing. Nou was die doel eerder pastoraal van aard, naamlik om die Bybelse verhale vir die gemeenskap lewendig te maak. En veral in die Middeleeue was hierdie dramatiese opvoerings uiters populêr en het groot skares getrek. Mettertyd het die laaste week van Jesus se lewe bekend gestaan as die ‘Heilige Week’ met die hoogtepunt, die ‘triduum’ – die drie dae wat met die avondmaal begin en eindig met die viering van die opstanding eindig.
Die voorafgaande vastydperk van veertig dae het ook teen hierdie tyd ‘n ander betekenis gekry. Die doop was nie meer waarop alles afgestuur het nie, maar Christus. ‘n Tydperk van soberheid, berou en vas bring die gelowige in kontak met die lewe, die lyding en die dood van Christus, maar eindig saam met Hom in die vreugde van die opstanding.

Die liturgiese jaar
Teen die einde van die vierde eeu het die kerklike liturgiese jaar ‘n vaste vorm begin aanneem. Epifanie op 6 Januarie was vroeë kerklike fees. Later sou die Oostelike kerke en dié in Noord Afrika dit koppel aan Jesus se geboorte- en doopdatum; vir die kerke in die Weste was dit die datum waarop die Wyse Manne die Kind Jesus besoek het. Hierna volg die vasgestelde die tydperk van veertig dae se vas met die oog op paasfees, en die vereenselwiging met Jesus se lewe en sy lyding. Die vroeë kerk het ook sedert die tweede eeu pinkster gevier, want paasfees kyk uiteraard vooruit na pinkster. Tydens die vierde eeu het die donker tyd van vas en onthouding met Paassondag tot ‘n einde gekom en die hoogtepunt was die vreugde dat Jesus werklik opgestaan het. Direk hierna het vyftig dae van vrolikheid tot by pinkster gevolg. Gedurende hierdie tyd is dit verbode om te vas of te kniel wanneer ‘n mens bid. In die loop van die vierde eeu het die Westelike kerke ook ‘n geboortedatum vir Jesus vasgestel: 25 Desember. Spesiale heilige dae vir die apostels is hierby toegevoeg, maar spoedig het die martelare ook bygekom.
Interessant genoeg, die vroegste en eerste gebruik rondom paasfees, die paasnagwaak, het sedert die sewende eeu in onbruik geraak. Die kerklui het dit gerieflik van die Saterdagnag tot die Saterdagoggend agteruitgeskuif. Die drama van die paaskers wat in die donker skyn, het in die helder daglig verlore geraak – en daarmee saam die oorspronklike misterie van pase.

Die Reformasie
En toe kom die Reformasie van die sestiende eeu en rig ‘n hewige protes teen die gebruike, die rituele en die strukture van die bestaande Christelike kerk. ‘n Pleidooi word gemaak om na die sober wortels van die vroeë kerk, die oorspronklike bedoeling van die Christendom terug te keer. Beelde, ikone, heiliges, martelare en tradisies van seremoniële aanbidding verdwyn. Al wat oorbly, is die bepaling van die mees betekenisvolle dae in die Christelike liturgiese jaar, en enkele toepaslike Skrifgedeeltes. In die Protestantse liturgie word geen palms op Palmsondag geswaai nie, en geen as op Aswoensdag op gemeentelede se voorkoppe gesmeer nie. Paassondag is ‘n Sondag soos elke ander Sondag in die jaar, behalwe dat die Skriflesing op die een of ander wyse met die Paasgebeure verband hou.

Paasfees in die een en twintigste eeu
Iets het verlore geraak. Sedert die laaste dekades van die vorige eeu probeer Protestantse kerke om weer iets van die gees van die vroeë tradisies vas te vang. Baie gemeentes brand weekliks ‘n kers tydens die veertig dae wat paasfees voorafgaan. Daar is ook geleenthede vir stil gebed by die kerk of in ‘n kapel. Sommige kerke word seremonieel weekliks leeggedra, en individue weerhou hulself doelbewus van sekere lekkernye – hetsy soethappies, drank, vleis of iets dergelyks. Gemeentes wat ‘n kruis op Goeie Vrydag gaan plant en dit Paassondag gaan haal, is nie meer ‘n vreemde verskynsel nie, dit gebeur landwyd.

Slot
Vandag is die paasnaweek vir baie mense ‘n welkome wegbreektyd in ‘n alte besige skedule. Uit gewoonte sal sommige gelowiges na die naaste kerk in die omgewing gaan, maar sonder dat hy of sy deel aan daardie gemeente se aanloop tot die paasgebeure gehad het. Is dit realisties om te verwag dat die ‘heilige tyd’ in moderne gemeentes herstel kan word? Bied die reeks kleurvolle liturgiese gebeure nie maar net ‘n spyskaart vir gemeentelde waaruit hulle kan kies waarvan hulle hou – of nie?
Die misterie van pase het saam met die nagwaak verlore geraak. Geen predikant vandag gaan ‘n hele gemeente oortuig om ‘n hele nag in stilte in ‘n donker kerk deur te bring nie.
Dit is die harde werklikheid.

 

Bronne

  • ·         Bradshaw, Paul F 1999. ‘Easter in the Christian Tradition.’ Paginae 1-7 in Passover and Easter. Origins and History to Modern Times. Reds Paul F Branshaw en Lawrence A Hoffman. Indiana: University of Notre Dame Press.
  • ·         Kratz, Reinhard G 2006. ‘Abendmahl/Euchriste.’ Paginae 73-74 in Handbuch theologischer Grundbegrifffe zum Alten und Neuen Testament. Hrsg Angelika Berlejung en Christian Frevel. Darmstadt: Wissenschaftliche Buchgesellschaft.

·         Todd, Richard 1988. ‘Konstantyn en die Christelike Ryk.’ Paginae 130-155 in Die Geskiedenis van die Christendom. Reds Tim Dowley e.a.. Kaapstad: Struik.

Share this / Deel hierdie: