Die kerk se pad vanaf die begin tot vandag toe is verstommend. Hoe het dit gebeur dat ‘n klein groepie in ‘n afgeleë en moeilike Romeinse provinsie in die eerste eeu die boodskap van Jesus van Nasaret so verinnerlik en uitgeleef het dat dit na 310 staatsgodsdiens geword het. Volgens die Duitse kerkhistorikus, Adolf von Harnack, was eenvoud ‘n belangrike rede hiervoor. Mense wat deur die evangelie geroer is, kon in eenvoudige woorde dié ervaring verwoord. Geen teologiese opgesmuktheid nie, maar eenvoudige woorde waarmee hulle hulle geloof kon bely geloof (Von Harnack 1924:110-124). In Rome moes dopelinge net sê ‘Ek glo in God, die Vader en in Jesus Christus en die Heilige Gees’. Verder moes hulle net die vergewing van sondes, die wedersopstanding van die liggaam, die ewige lewe, ensovoorts bely. Doodeenvoudige woorde wat die geloof helder en duidelik verwoord het.

Dalk is daar ook nog ‘n ander rede vir die kerk se groei en voortbestaan: die vermoë om die verlede altyd nader te bring, dit te herleef, en dit altyd nuut en eksistensieel te interpreteer en te herinterpreteer. Om die krag hiervan te verstaan, let ons eers op die opkoms van die historiese bewussyn aan die einde van agtiende eeu en die ewige gesukkel om die geskiedenis vas te vat en te beskryf (vgl Barash 2003:1-65).

 

Die verlede is weg

Aan die einde van die agtiende eeu het die westerse mens al hoe meer ‘n breuk met die geskiedenis beleef. Die Franse Rewousie van 1789 en die daaropvolgende gebeure was so ingrypend dat die hede nie meer as ‘n voortsetting van die verlede ervaar is nie. Te veel het net verander en die verlede en hede kon net nie meer bymekaarkom nie. Anders gestel: die kloof tussen gister en vandag was so groot dat van die ‘pastness of the past’ gepraat is (vgl Thiselton 1980:1-110).
          Deel van hierdie dissonansie met die verlede was ook die ontdekking dat historiese gebeure ontoeganklik is. Elke gebeurtenis (sêmaar die lewe van Abraham) het ‘n baie spesifieke individuele moment gehad wat eie aan die lewe en tyd van Abraham was, maar wat weg is en wat ons nie kan vasvat nie (Derrida 1997:102-107). Kortom: al wil ons hoe graag die historiese Abraham ontmoet en sy wêreld binnestap, kan ons nie. Al wat ons ervaar, is ‘n gevoel van verlies aan historiese werklikheid (Le Roux 1999:477-486).
Volgens die Franse filosoof Jacques Derrida is hierdie verlies so erg dat ons ewiglik daaroor kan rou en ween. Dit is ‘n verlies wat nooit weer omgekeer kan word nie en daarom die oorheersende gevoel van rou. Omdat die verlies absoluut is, is die rou ook absoluut. Niks kan daaraan gedoen word nie. Ons kan net ‘huil oor die onvervangbare verlies en (ons) eie onmag ten opsigte daarvan, oor die (vuur-)as wat die singuliere as getuie van haar vlugtige aanwesigheid agtergelaat het’ (Goosen 1998:70).  


‘n Ander omgang met die verlede

Alhoewel Israel hierdie gevoel nie kon verwoord nie, moes hulle tog ook op ‘n manier hierdie afstand, die kloof tussen ‘toe’ en ‘nou’ ervaar het. Die skrywers van die Ou Testament het ook nie oor ‘oorspronklike’ bronne beskik nie. Met ander woorde, daar was nie oorspronklike bronne oor die lewe en werk van byvoorbeeld Abraham nie en daar was ook geen manier om die historiese Abraham te kon ‘ken’ nie. Vir baie het dit teologiese armoede beteken. Omdat Abraham nie histories ‘gevat’ kan word nie, is die Ou Testament bloot as ‘n storieboek beskou. Mooi stories vir kinders voor slapenstyd.

Israel het egter ‘n merkwaardige omkeerstrategie gehad: daar is nie gepoog om Abraham binne ‘n bepaalde tyd te verstaan nie, maar om hom vanuit hulle eie tyd sin en betekenis te gee. In elke era in Israel se geskiedenis is Abraham nuut geïnterpreteer. Nie die presiese historiese feite nie want dit het hulle nie geken nie, maar die voortdurende ontdekking van nuwe geloofsdimensies in die figuur van Abraham.

Die soeke na ‘n historiese minimum in die lewe van Abraham is dus eintlik sinloos. Dit is onmoontlik om ‘n minimum aantal historiese feite te kry en dit is ook onnodig. Ons moet eerder na die maksimum teologiese betekenis soek.

Maar om na die afstand tussen ‘toe’ en ‘nou’ terug te keer: Israel het telkens probeer om hulle gisters in hulle eie tyd in te trek; om die verlede relevant vir die hier en die nou te maak. En daarin het die krag van hulle historiese verstaan gelê (vgl Perdue 2005:1-24).

 

‘n Eietydse interpretasie

Deur die gawe van verbeelding moes Israel hulle so in die verlede inleef dat hulle alles weer herbeleef het.  ‘n Voorbeeld hiervan is die herbelewing van die uittog tydens pase. Die verlede is so intens herleef dat die ‘toe’ en ‘nou’ as ‘t ware saamgeval het. In Egipte het die  ‘Egiptenaars … die lewe vir hulle bitter gemaak deur swaar werk met klei … en deur … werk in die lande’ en dít moes Israel as ‘t ware telkens weer binne-in hulle-self her-ervaar het (Eks 1:14). Tydens pase moes Israel alles weer so intens beleef dat hulle die tamheid, uitputting en kragloosheid van hulle voorvaders binne-in hulle-self gevoel het. Eeue na die uittog was hierdie herinnering nog so sterk en teenwoordig in hulle dat mense in die eerste persoon meervoud daaroor gepraat het: ‘Ons was in Egipte … die Here het ons … bevry toe Hy voor ons oë tekens … gedoen het’ (Dt 6:20-22). Israel se herinnering was so intens dat dit die veraf-gebeure as ‘t ware nadergetrek het.  

Deur die geloof, die herinnering en die verbeelding het verskillende mense van verskillende tye in die geskiedenis één geword en het die ervaring van voorgeslagte die geloofsgoed van almal geword. Dít is waarom die Ou Testament ’n boek van eindelose herinterpretasie is. Dit wat gister en eergister gebeur het, moes telkens deur die herinnering nadergebring, verinnig en herbeleef word. Anders gesê: dit moes telkens in nuwe kontekste nuut en anders verstaan word. Sonder dié herinterpretasies het die geloof gekwyn en is die groot gebeure van die verlede gou vergeet.

Hierdie eietydse belewing van die verlede en die voortdurende proses van herinterpretasie was ‘n merkwaardige manier om die historiese afstand te oorkom; om die verskriklike gaping tussen hede en verlede met ryke teologiese interpretasies te vul.

 

Die goue draad loop deur

Israel se eksistensiële omgang met die verlede was ook deel van die vroeë kerk se verstaan van die geskiedenis. So was pase in die vroeë kerk ook ’n tyd van intense herinnering en herbelewing. Die gebeure by die kruis en die opstanding was nie bloot veraf gebeure nie, maar het deur die herinnering lewend geword en is intens herbeleef. Elke Sondag het die ‘ingewydes’, die wat klaar gekatkiseer het, of soos ons dit noem: ‘voorgestel en aangeneem’ is, aan die einde van die diens die eucharistie, die nagmaal gevier en ’n kenmerk hiervan was die intense ervaring van Christus se teenwoordigheid. Paasfees was eintlik dan net ‘n intensifering, ‘n verdieping van die weeklikse prediking en viering van die eucharistie (Lies 2005:83-107).

‘n Baie bekende voorbeeld van so ‘n verdiepte ervaring kry ons in een van die heel vroegste reisbeskrywings na Palestina en Jerusalem. Dit is deur ‘n Spaanse non in die vierde eeu met die naam van Aetheria geskryf. Sy vertel van die historiese plekke (volgens vierde-eeuse siening) wat hulle in Jerusalem besoek het. Bybelgedeeltes wat na dié plekke verwys, is hardop voorgelees, dan is daar gebid en gesing en weer verder getrek. Skuins voor pase in die jaar 381 het hulle in Jerusalem aangekom en vir Aetheria was alles oorweldigend. Sy het ’n jaar of twee daar gebly, het deel van die gemeente geword en ook oor haar ervaringe beskryf (Le Roux 1976:26-44). 
       

Aangrypend is haar vertelling oor die plekke rondom Jerusalem wat hulle die week voor pase besoek het (Aetheria, Peregrinatio, 46). Al die plekke wat Jesus ook tydens daardie dae voor pase besoek het, het hulle aangedoen. By elke plek het hulle eers die betrokke gedeeltes in die evangelies gelees, stil geword en aan Jesus se lyding teruggedink; al sy pyn is herbeleef en hulle het dit hulle eie gemaak het. So aangrypend was dit dat hulle kort-kort in trane was. So intens was hierdie herinnering en herbelewenis dat hulle voortdurend deur intense emosies oorweldig is. Tydens daardie laaste week het Jesus deur die herinnering naby aan hulle gekom en het hulle Hom eksistensieel ervaar (Aetheria, Peregrinatio, 27). 


Tussen die paasgebeure in die eerste eeu en Aetheria se tyd was daar geen afgryslike afgrond nie. Dit is met die herbelewenis van die oorspronklike gebeure en nuwe interpretasies daarvan gevul.

 

Slot

Deur geloof, herinnering en verbeelding is die verlede híér en nóú weer beleef; het mense uit verskillende ‘tydsones’ één geword en het die ervaring van voorgeslagte die geloofsgoed van almal geword. Ons kan dit ook so stel: die geskiedenis was vir Israel en die vroeë kerk soos ‘n fyn membraan waardeur hulle in die verlede ‘ingekyk’ het en daardeur versterk is.

En dit is ook wat pase ons aanmoedig om te doen.

Bronnelys

  • · Aetheria. Peregrinatio ad loca sancta. CSEL 39. 

  • · Altaner, B 1951. Patrologie. Freiburg: Verlag Herder.
  • · Barash, J A 2003. Martin Heidegger and the problem of historical meaning. New York: Fordham University Press.
  • · Caputo, J 1997. The prayers and tears of Jacques Derrida. Indianapolis: Indiana University Press.
  • · Caputo, J D & Scanlon, M J 1999. Introduction: Apology for the impossible: Religion and postmodern, in J D Caputo & M J Scanlon (eds), God, gift, and postmodernism. Bloomington: Indiana University Press. (Kindle e-book, locations 24-283).
  • · Caputo, J D & Scanlon, M J 2005. Introduction: The postmodern Augustine, in J D Caputo & M J Scanlon (eds), Augustine and postmodernism. Confessions and Circumfession. Bloomington: Indiana University Press. (Kindle e-book, locations 1-283).
  • · Caputo, J D 2005. Shedding tears beyond being, in J D Caputo & M J Scanlon (eds), Augustine and postmodernism. Confessions and Circumfession. Bloomington: Indiana University Press. (Kindle e-book, locations 1595-1962).
  • · Derrida, J 1997. Limited Inc. Evanston, Illinois: Northwestern University Press.
  • · Drobner, H R 1994. Lehrbuch der Patrologie.  Freiburg: Herder.
  • · Gadamer, H G 1990. Wahrheit und Methode. Tübingen: JCB Mohr.
  • · Goosen, D 1998.  Verlies, rou en affirmasie: Dekonstruksie en die gebeure. Fragmente 1, 54-79.
  • · Grondin, J., 1994, Der Sinn für Hermeneutik, J C B Mohr, Tübingen.
  • · Körtner, H.J., 2006, Einführung in die theologische Hermeneutik, Wissenschaftliche Buchgesellschaft, Darmstadt.
  • · Le Roux, J H 1976. Die paasbeskouing van Gaudentius van Brixia. Pretoria: Unisa.
  • · Le Roux, J H 1999. Israel’s past and the feeling of loss. Or: Deconstructing the “minimum” of the “minimalists” even further. OTE 11/3, 477-486.
  • · Le Roux, J.H., 2004. Augustine, Gadamer and the Psalms, in D.J. Human & C.J.A. Vos (eds.), Psalms and liturgy, pp. 123–130,  T&T Clark, New York.
  • · Lies, L 2005. Mysterium fidei. Würzburg: Echter Verlag.
  • · Markschies, C 1995. Arbeitsbuch Kirchengeschichte. Tübingen: JCB Mohr (Paul Siebeck).
  • · Markschies, C 2006. Das Antike Christentum. München: C H Beck.
  • · Perdue, L G 2005. Reconstructing Old Testament theology. Minneapolis: Fortress Press.
  • · Reventlow, H G 1994.  Epochen der Bibelauslegung. München: C.H. Beck.
  • · Schoeman, M 1998. Kritiek en die krisis van representasie. Fragmente 1, 95-104.
Share this / Deel hierdie: